Hy soek werkers

2026-04-02
Matteus 9:38 NLV

Toe Martin Luther die werk begin het wat tot die Groot Hervorming gelei het, het sy vriend Myconius gesê: ‘Ek kan die beste help net waar ek is. Ek sal hier bly en bid terwyl jy jouself inspan.’ Een nag het Myconius egter gedroom en gehoor hoe Jesus vir hom sê: ‘Volg My.’ Jesus het hom na ‘n bergtop gelei en ooswaarts gewys. Myconius het gekyk en ‘n vlakte gesien wat met duisende en duisende skape besaai was en een man wat probeer het om hulle aan te keer. Myconius het die man as sy vriend, Martin Luther, herken. Die Verlosser het toe weswaarts gewys en Myconius het ‘n groot mielieland gesien, met slegs een werker wat die land moes oes. Die eensame arbeider was duidelik uitgeput, maar hy het volgehou. Myconius het die werker as Martin Luther herken.

‘Dit is nie genoeg dat ek net bid nie,’ het hy gesê toe hy wakker word. ‘Die skape moet opgepas word en die mielieland moet geoes word. Hier is ek; stuur my.’ Hy het dadelik na Luther gaan soek en aangebied om vrywillig, in watter hoedanigheid Luther ook al verlang, te dien.

Die Bybel sê: “Toe Jesus na die baie mense kyk, het Hy ontroerd geraak oor hulle seerkry en weerloosheid… Daarop sê Hy vir sy dissipels: ‘Die oes is groot, maar die werkers wat dit moet insamel, is so bitter min. Hierdie oes is die Here s’n. Vra Hom dan om werkers vir sy oesland te voorsien.'”

Die enigste ‘gebedsversoek’ wat Jesus ooit gemaak het, was vir werkers om die oes in te samel. Hy roep jou om een van hulle te wees.

Sielskos: Jer 25-27; Luk 23:1-25; Ps 72:1-11; Spr 9:1-6

Moenie jouself met ander vergelyk nie

2026-04-01
Job 32:8 NLV

Elihu het skielik in Job 32 sy stem laat hoor. Dit is duidelik dat hy die hele tyd teenwoordig was, maar hy het stilgebly omdat hy geglo het dat Elifas, Bildad en Sofar ouer en wyser as hy was. ‘…Ek is nog jonk, en julle is al oud. Daarom was ek bang. Ek wou nie waag om te sê wat ek dink nie’ (Job 32:6 NLV).

Nadat hy die lang en betekenislose argumente van Job se drie ouer vriende aangehoor het, het Elihu skielik die moed gekry om te praat: ‘Dit is die gees in die mens wat die mens insig gee, die asem wat van die Almagtige kom. Maar soms het bejaardes nie begrip nie… Luister daarom na my mening. Ek sal julle sê wat ek dink’ (Job 32:8-10 NLV). Hy het toe vir die volgende ses hoofstukke onophoudelik gepraat. Hy het homself nie meer as minderwaardig teenoor die ander beskou nie.

Gevoelens van minderwaardigheid duik op wanneer jy jouself met ander vergelyk. Jy kan ook na die ander uiterste gaan en met ‘n gevoel van meerderwaardigheid opeindig. Daarom moet jy nooit jouself met ander mense vergelyk nie.

Het jy al ooit so onvoldoende gevoel dat jy eerder stilgebly het en geweier het om te praat, al het jy ‘n waardevolle gedagte of idee gehad? Jy moet besef dat dit nie jou vermoë is wat jou sukses bepaal nie, maar ‘die asem wat van die Almagtige kom,’ wat jou insig gee. Die geheim tot sukses is om daagliks op God se krag te steun om jou in staat te stel om daardie sukses te bereik. Wanneer jy van hierdie waarheid oortuig is, sal jy nuwe vlakke van risiko en verantwoordelikheid kan aanpak, sonder om mislukking te vrees.

Sielskos: Deut 16:1-8; Luk 22:39-71; Matt 26:17-28

Dra God se koningsheerskappy uit

2026-03-31
Matteus 6:10 NLV

Elke keer wanneer jy konflik met iemand het, maar na hulle toe gaan en versoening en vergifnis vra – breek God se koninkryk in hierdie wêreld aan. Elke keer wanneer jy geld aan iemand wat honger of haweloos of arm is gee – breek die koninkryk in hierdie wêreld aan. Elke keer wat iemand ‘n verslawing met God se hulp probeer oorkom en bereid is om hulp by ‘n liefdevolle gemeenskap te kry – breek die koninkryk in hierdie wêreld aan. Elke keer as ‘n ouer wat aan sy of haar werk verslaaf is besluit om op te hou om hul werk te verafgod, hul lewe te herrangskik en die gesin wat aan hulle toevertrou is, te begin liefhê en versorg – breek die koninkryk in die hierdie wêreld aan. Elke keer wat jy iemand insluit wat eensaam is, elke keer as jy iemand aanmoedig wat ontmoedig is, elke keer wat jy iemand wat van die pad afdwaal uitdaag en elke keer wanneer jy die behoeftiges dien – breek die koninkryk van God in hierdie wêreld aan.

Jesus het ons geleer om te bid: ‘Laat u koningsheerskappy spoedig kom. Laat u wil hier op aarde uitgevoer word soos in die hemel.’ Let op dat Hy nie vir ons gesê het om te bid: ‘Kry my hier uit sodat ek na God se koninkryk kan gaan!’ nie. Sy gebed was: ‘Laat die hemelse dinge aarde toe kom. Laat dinge hier onder, in my lewe, verloop soos hulle daar bo in die hemel verloop.’

Die antwoord op hierdie gebed begin by jou persoonlik: jou liggaam, jou verstand, jou denkwyses, ens. Dan versprei dit na jou werkplek, jou familie, jou buurt, jou kerk en jou invloedsfeer. Dit alles begin deur jouself hierdie vraag af te vra: ‘Waar wil ek God se teenwoordigheid en krag in my wêreld sien aanbreek?

Sielskos: Jer 22-24; Luk 22:1-38; Ps 6; Spr 8:34-36

Jy is ‘n rentmeester

2026-03-30
1 Kronieke 29:14 NLV

Toe die volk van Israel offers gebring het om die tempel te bou, het Dawid gesê: ‘…Alles in die hemel en op die aarde behoort aan U, Here… Rykdom en eer kom van U alleen… Alles wat ons het, kom van U af, en ons gee vir U net dit wat U reeds vir ons gegee het!’ (verse 11-12, 14 NLV).

Stel jou vir ‘n oomblik voor dat jy daarvoor verantwoordelik is om iemand anders se geld weg te gee. Jy mag dit nie spandeer nie; jy mag net besluit waarheen dit moet gaan. ‘n Mens sal dit geniet om so ‘n filantroop te wees! Wie sou dit nie geniet om ‘n lewenslyn te wees vir diegene wat dit werklik nodig het nie? Sou jy nie ‘n bietjie rustiger slaap as jy weet dat jy ‘n verskil in die wêreld gemaak het nie?

Dit is die situasie waarin jy jou as rentmeester oor dit wat God aan jou toevertrou het, bevind. Aan jou is iemand anders se geld en die geleentheid om te besluit waarheen dit moet gaan, gegee. Die enigste iets wat tussen jou en ongebreidelde vreugde staan, is om daardie werklikheid te omhels en jouself in die werk van God se koninkryk op aarde te stort.

‘n Boer koop nie saad om dit te eet of te bêre nie. Hy besluit waar om dit te plant. Eers nadat die saad onherroeplik in die grond geplant is, word ‘n oes teruggegee. Dit is hoe vreugde verwesenlik word. Net anderkant die vrees wat jou vrygewigheid demp, wag ‘n oes van vreugde. Daarom het Paulus geskryf: ‘…munt dan nou ook uit in hierdie liefdeswerk’ (2 Korintiërs 8:7 NLV).

Sielskos: Jer 18-21; Luk 21:34-38; Ps 31; Spr 8:32-33

Wees tevrede

2026-03-29
Hebreërs 13:5 NLV

Mense wat gelukkig was toe hulle hul klere by tweedehandse winkels gekoop het, bly gewoonlik gelukkig sodra hulle ontwerpersklere kan bekostig. Diegene wat nie gelukkig was nie, is steeds dieselfde ongelukkige mense as toe hulle arm was; hulle trek net beter aan. Om te leer hoe om tevrede te wees met wat jy het en om daarvoor dankbaar te voel, moet jy ‘n begrip van dit wat geld kan en nie kan doen nie, hê.

Daar is dinge in die lewe waarop jy nie ‘n prys kan plaas nie: goeie gesondheid, ‘n familie wat jou liefhet, die ondersteuning van ‘n jarelange vriendskap, die gevoel van prestasie wanneer jy sien dat jou harde werk vrugte afwerp. Jy kan nie hierdie ‘besittings’ in terme van kontant waardeer nie. As jy dink jy het niks om voor dankbaar te wees nie, dink aan die geluid van jou kind se lag, die gebreek van die see wanneer golwe die strand tref, die onvoorwaardelike groet wat jy elke dag van jou troeteldier ontvang en die drukkie van ‘n vriend wat jy lank nie gesien het nie. Hierdie items is van onskatbare waarde en het niks met aandele of winste te doen nie.

Wanneer jy alles in die lewe begin tel, kom jy agter dat die beste dinge gratis is. As jy nie met jou finansiële situasie gelukkig is nie, moet jy stappe neem om dit te verander. Dis wysheid en goeie rentmeesterskap. Voordat jy dit egter kan doen, moet jy ‘n oudit van jou persoonlike bates doen. Ja, dit kan opwindend wees om die voorspoed van sukses te geniet. Jy moet egter onthou om ook die skoonheid van die lewe te waardeer – dis gratis. Dit sal vir jou vervulling op ‘n manier wat geld en dinge nooit kan doen nie, bring.

Sielskos: Matt 21:1-16; Ps 118:19-29

Die agtste Saligspreking

2026-03-28
Matteus 5:10 NLV

Jesus het gesê: ‘Gelukkig is dié wat vervolg word ter wille van wat voor God reg is, want hulle het deel aan sy koninkryk. Gelukkig is julle wanneer julle bespot en vervolg word en allerhande leuens oor julle versprei word omdat julle my dissipels is. Wees bly, ja, jubel daaroor, want God sal julle ryklik daarvoor beloon…’ (verse 10-12 NLV).

Om ter wille van geregtigheid vervolg te word, is om te leef soos Jesus geleef het – met sy karakter, sy motiewe, sy gehoorsaamheid, sy vertroue in die Vader en sy reinheid van hart. Dit is om ‘n vredemaker te wees, om te honger en te dors na wat reg is, om jou rug op sonde te draai en ‘n fontein van barmhartigheid te wees. As jy so leef, sal jy vervolg word, net soos Jesus vervolg is.

Jesus het die waarheid gepraat, die waarheid geleef en was bereid om vir die waarheid te sterf. Hy het nooit probeer om ‘n bakleiery te begin nie, maar Hy het elke keer wanneer die waarheid uitgedaag is, daarvoor opgestaan. Hy het ook belowe dat wanneer jy om dieselfde redes as Hy beledig en mishandel word, jy die koninkryk van die hemel sal ontvang, mits jy getrou bly. Jy sal dus ‘n beloning in die hemel hê en jy sal geestelike gesag in die koninkryk van die hemel ontvang.

Die lyding wat jy hier op aarde mag ondervind, is slegs tydelike verwerping, belediging of mishandeling. Wat jy egter in die hemel verkry, sal ewig en glorieryk wees. Die Bybel sê: ‘Ek weet vir seker dat ons huidige lyding hoegenaamd nie vergelyk kan word met die heerlikheid waarmee God ons gaan verras nie’ (Romeine 8:18 NLV).

Sielskos: Jer 14-17; Luk 21:25-33; Ps 69:19-36; Spr 8:30-31