2021-05-12
2 Timoteus 1:6 ABA
Tensy jy jou entoesiasme behou, kan die lewe jou neerdruk. ‘n Werk wat jou eens op ‘n tyd uitgedaag het, word eentonig; ‘n verhouding wat jou opgewonde gemaak het, raak afgesaag en die daaglikse wandel met God wat jou eens op ‘n tyd geïnspireer het, voel deesdae of jy net deur die bewegings gaan. Die woord entoesiasme, kom van ‘n Griekse woord af wat ‘besit en geïnspireer deur God’ beteken.
Hoe bly jy egter geïnspireerd? Net soos die Israeliete elke oggend vars manna bymekaar gemaak het, so het jy ‘n daaglikse ingieting van God se Woord en God se Gees, nodig. Paulus het die Christene in Rome uitgedaag: ‘…wees entoesiasties; wees werklik diensbaar vir die Here’ (Romeine 12:11 NLV). So ook die gelowiges in Galasië: ‘Dit is goed om baie vir ‘n goeie saak te doen…’ (Galasiërs 4:18 NLV).
In plaas daarvan om dus oor die dinge waarvan jy nie hou nie te kla, besef dat die teenwoordigheid en krag van God binne-in jou woon en sit dus ‘n glimlag op jou gesig en ‘n wip in jou stap. Onthou van wie se koninkryk jy ‘n burger is. God s’n! Die skrywer Sheldon Vanauken sê: ‘Die beste argument vir Christenskap is Christene: hulle vreudge, hulle sekerheid en hulle volledigheid. Die grootste argument teen Christenskap is egter ook Christene – wanneer hulle somber, vreugdeloos, selfsugtig, selfvoldaan, eng en onderdrukkend is.’
Dawid vertel vir ons dat God hom uit ‘n put van wanhoop getel het, sy voete op vaste grond gesit het en vir hom ‘n nuwe lied gegee het (sien Psalm 40:1-3). Het Hy nie ook al dieselfde vir jou gedoen nie? Wys dan entoesiasme!
Sielskos: Jona 1-4; Mark 8:27-38; Ps 62; Spr 11:15
2021-05-11
2 Kronieke 7:14 NLV
Winston Churchill het glo gesê: ‘Diegene wat nie uit die geskiedenis leer nie, is gedoem om dit te herhaal.’ Kyk na ons hedendaagse samelewing; sien ons die toestande wat die val van baie groot samelewings vooraf gegaan het, is in plek.
Jy vra: ‘Kan ons nasie gered word?’ Ja! God het vir Abraham gesê dat indien hy so min as tien geregtige mense in die land kon vind, sou Hy Sodom en Gomorra van die oordeel gespaar het. ‘n Geregtige minderheid kan ons land nog red. Hoe? Deur gebed! God het gesê: ‘Wanneer die volk wat my Naam dra, hulle verootmoedig en bid, en My weer soek en hulle afkeer van hulle bose lewens, sal Ek in die hemel hoor en hulle vergewe en hulle land gesond maak.’
Daar is vier belangrike voorwaardes wat in hierdie Skrifgedeelte genoem word: a) ‘Wanneer die volk wat my Naam dra.’ Die toekoms van ons nasie rus nie in die hande van bankiere, nuuslesers of politici nie, maar vierkantig in die hande van God se verloste mense. b) ‘Hulle verootmoedig en bid, en My weer soek.’ God, wat niemand se goedkeuring of magtiging nodig het om op te tree nie, belowe om te beweeg wanneer sy mense na Hom toe draai en sy aangesig soek. c) ‘Hulle afkeer van hulle bose lewens.’ In plaas daarvan om te kla wat met die samelewing verkeerd is, beveel God sy mense om hulle eie harte te ondersoek en reg te maak wat verkeerd is. Wanneer hulle dit doen, belowe Hy: d) ‘Sal Ek in die hemel hoor en hulle vergewe en hulle land gesond maak.’
Dit is ons verantwoordelikheid, nie hulle s’n nie! Dis nie te laat nie. Ons nasie kan gered word as ons bid en God met ons hele hart soek.
Sielskos: Num 34-36; Mark 8:14-26; Ps 57; Spr 11:14
2021-05-10
Hebreërs 2:11 NLV
Elke familie het geheime. ‘n Neef met ‘n misdaadrekord, of ‘n pa wat sy familie verlaat het, of ‘n ouma wat met ‘n kollega weggeloop het. Jy mag dalk verbaas wees om te hoor dat Jesus ook nie uit die perfekte familie gekom het nie. Die Bybel gee die details van Jesus se stamboom weer – wat ‘n paar vreemde karakters insluit! Daar is ‘n prostituut genaamd Ragab, asook ‘n witboordjie krimineel genaamd Jakob wat sy broer en skoonpa misbruik het om ryk te word. Wat van koning Dawid? Een dag skryf hy die Psalms, die volgende dag verlei hy die vrou van een van sy offisiere. Die lys gaan aan en die Skrif hou rekord daarvan om jou twee belangrike waarhede te wys:
1) Jy is nie uniek nie. As jou familieboom beskadigde vrugte het, wil Jesus vir jou laat weet dat Hy ook al in jou posisie was! Sommige kundiges vermoed dat Maria vir Jesus en sy sibbe alleen grootgemaak het, omdat daar geen melding van Josef se betrokkenheid by Jesus se volwasse lewe gemaak word nie. Jesus was nie skaam vir sy voorsate nie – en Hy is ook nie vir jou skaam nie.
2) Jesus kyk nie na jou verlede om jou toekoms te bepaal nie. In sy oë troef geestelike DNS, genetiese DNS! Die Bybel sê: ‘Daarom – iemand wat aan Christus verbind is, is ‘n nuwe skepping. Die ou dinge is verby, kyk, die nuwe is hier! Hierdie hele nuwe werklikheid kom van God af, wat ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening gegee het’ (2 Korintiërs 5:17-18 NLV).
Moet dus nie bang wees om ander mense te vertel wat Jesus vir jou gedoen het; en wat Hy vir hulle sal doen wanneer hulle hul vertroue in Hom plaas, nie.
Sielskos: Num 32:25-33:56; Mark 8:1-13; Ps 44:17-26; Spr 11:12-13
2021-05-09
Matteus 26:73 NLV
Die woorde wat jy spreek, sal jou elke keer weggee. Een nag is Jesus gearresteer en al sy dissipels het uitmekaar gespat, maar Petrus het naby gebly om te kan sien wat gebeur – maar nie naby genoeg om met Hom geïdentifiseer te word nie. Die Bybel sê: ‘Nog ‘n klein rukkie later kom sê dié wat daar rondstaan vir Petrus: ‘Jy is definitief een van hulle; jou aksent verklap jou.’ Daarop het Petrus hewig begin vloek en gesê: ‘Ek sweer voor God, ek ken hierdie man hoegenaamd nie!’ Onmiddellik het die haan begin kraai. Skielik het Jesus se woorde deur Petrus se gedagtes geflits: ‘Voordat die haan kraai, sal jy drie maal ontken dat jy my dissipel is.’ Daarop het hy buitentoe gegaan en hartstogtelik gehuil’ (verse 73-75 NLV). Na daardie episode het niemand Petrus daarvan beskuldig dat hy ‘n volgeling van Jesus is nie!
Is dit nie interessant hoe ‘n gevloekery in enige taal die vermoë het om ander mense die kwaliteit van jou verhouding met Christus te laat bevraagteken nie? Jou woorde het die mag om mense op te bou of hulle af te breek, om hulle nader aan Christus te bring of om hulle weg te dryf.
Met dit in gedagte, is hier twee Skrifgedeeltes wat jy moet onderstreep en gereeld aan moet dink: 1) ‘Met woorde wat altyd vriendelik en sinvol is, moet julle gereed staan om die regte antwoord vir elke mens te gee’ (Kolossense 4:6 NLV). 2) ‘Moenie enige vuil taal gebruik nie. Gebruik eerder die regte, opbouende woorde wat nodig is om dié wat luister, te bevoordeel’ (Efesiërs 4:29 NLV).
Bid vandag die volgende gebed: ‘Vader, mag die woorde wat ek vandag spreek, eer aan die naam van Jesus bring en ander mense na Hom toe lei. In sy Naam bid ek dit, amen.’
Sielskos: Deut 9:13-29; Luk 4:1-13
2021-05-08
Matteus 25:23 NLV
Om sukses in die lewe te behaal, moet jy ‘n dik vel hê om kritiek te kan hanteer. As jy, byvoorbeeld, vir ‘n maat bid om jou lewe mee te deel, moet jy jouself afvra of jy vir die opoffering en verantwoordelikheid wat met die huwelik gepaardgaan, bereid is. Is jy stabiel? Is jy onselfsugtig? Is jy volwasse genoeg om vir ‘n gesin te voorsien?
As jy byvoorbeeld vir God vra om jou besigheid uit te brei, moet jy jouself afvra of jy reeds uitstekende diens aan jou bestaande kliënte verskaf. Iemand het een keer geskerts: “‘n Pou wat op sy vere rus, is net nog ‘n kalkoen!”
Soms is ons op die idee van sukses verlief, sonder dat ons al die ware koste van sukses bereken het. Dis ‘n goeie ding dat God nie alles wat ons voor vra, outomaties vir ons gee nie. Dikwels wil ons iets hê, omdat dit in iemand anders se lewe goed lyk. God weet egter in sy wysheid dat dit ons op die oomblik sal seermaak, omdat ons nie volwasse genoeg is om dit te hanteer nie.
God toets ons met dit wat ons het, om sodoende ons konsekwentheid en krag te ontwikkel. Hy let op hoe ons die druk wat met die seëninge gepaard gaan wat ons reeds van Hom ontvang het, hanteer. Hy wil ons op ‘n plek bring waar ons gepanser teen teenspoed is; ‘n plek waar ons al geleer het om die Gewer meer as sy gawes te waardeer. Wanneer ons daardie punt bereik, sal ons Hom hoor sê: ‘…In die kleine het jy jou betroubaar bewys. Daarom gaan ek nog baie groter verantwoordelikhede aan jou toevertrou. Kom vier saam met my fees’ (vers 23 NLV).
Daardie woorde sal alles wat jy moes deurmaak, die moeite werd maak.
Sielskos: Num 30:1-32:24; Mark 7:24-37; Ps 44:9-16; Spr 11:10-11
2021-05-07
Johannes 4:35 NLV
Jesus het gesê: ‘Sê julle dan nie: ‘Daar is nog vier maande voor die oes nie? Ek sê nou vir julle, kyk na die landerye; hulle vertoon reeds wit van die oes.’
Vandag het iemand naby aan jou ‘n desperate behoefte aan God se liefde. Jy mag dalk die enigste Christen wees wat hulle ooit sal ontmoet – of vandag sal ontmoet. As jy hulle dus nie van Christus vertel nie, wie sal dan? Oor die algemeen, is daar vyf redes hoekom ons nie meer dikwels ons geloof deel nie.
1) Ons dink dis die dominee se werk om dit te doen (sien Handelinge 1:8).
2) Ons is nie seker oor ons eie verlossing nie (sien 1 Johannes 5:13).
3) Ons is bang vir verwerping (sien Lukas 12:8-9).
4) Ons het nog nooit persoonlike verantwoordelikheid geneem om te leer hoe om ons geloof te deel nie (sien 1 Petrus 3:15).
5) Ons liefde vir Christus het koud geword (sien Openbaring 2:4-5).
Josh McDowell vertel van ‘n korporatiewe baas wat daarvan gehou het om bestuurders ontspanne te laat voel, hulle dan vas in die oë te kyk en hulle oor hulle doel in die lewe uit te vra. Een dag, nadat hy vir ‘n ruk lank met ‘n man genaamd Bob gesels het, het hy oorgeleun, hom in die oë gekyk en gevra: ‘En wat is jou doel in die lewe?’ Sonder om te aarsel het Bob geantwoord: ‘Om hemel toe te gaan en soveel mense as moontlik saam met my te neem.’ Die baas het gesê: ‘Vir die eerste keer in my loopbaan was ek sprakeloos.’
Vandag mag iemand se ewige lewe op jou gewilligheid om God se liefde met hulle te deel, rus. Dis jou Godgegewe opdrag – vertel hulle dus van Jesus.
Sielskos: Num 27-29; Mark 7:14-23; Ps 44:1-8; Spr 11:9