God sal vir jou sorg

2021-05-18
Job 10:12 ABA

Daar is geen kuur vir pyn van die verlede soos huidige begeerte nie. Wanneer die verlange na iets kragtig genoeg is, kan dit die pyn van die verlede uitwis, wat jou in staat stel om weer met hernude energie en doelgerigtheid op te staan. As jy enige vrou vra of die pyn van kindergeboorte die moeite werd was, is die kans goed dat sy dit weer sal doen net om die vreugde van ‘n baba in haar arms weer te kan ervaar.

Miskien het jy ‘n tragedie ervaar wat jou onverskillig teenoor die toekoms gelaat het, of ‘n gebroke hart wat jou van pyn laat steier het. Die vrees om seer te kry kan baie groot wees; ‘n kind wat gebrand het vrees die vlamme. Jy kan egter nie die res van jou lewe in vrees leef nie. Job het sy gesondheid, sy rykdom en al sy kinders in ‘n enkele dag verloor. Hoe het hy daardeur gekom? Hy het gesê: ‘…U het vir my gedoen wat U moes doen, U het vir my gesorg.’

God is nog nie klaar met jou nie. Hy sal vir jou sorg! Job se verhaal eindig met die volgende woorde: ‘…die Here het hom twee keer soveel gegee as wat hy voorheen gehad het’ (Job 42:10 NLV). God kan dieselfde vir jou doen. Hou moed – Hy het ‘n beter toekoms vir jou in gedagte: ‘As jy net jou hart aan Hom wil wy en jou hande lig in gebed! Raak ontslae van jou sondes. Los alle ongeregtigheid agter jou. Dan sal jou gesig verhelder in onskuld. Jy sal sterk wees en vry van angs. Jy sal jou swaarkry vergeet. Dit sal wees soos water onderdeur ‘n brug’ (Job 11:13-16 NLV).

Sielskos: Heb 9:1-11:16; Mark 9:38-50; Ps 75; Spr 11:23

Moenie jou gawe verkleineer nie

2021-05-17
Efesiërs 3:20 NLV

Die volgende keer wat jy ‘n groot eikeboom sien, herinner jouself daaraan dat hy as ‘n klein akker begin het. Dit wat jy kan bied mag dalk klein lyk, maar wanneer God dit seën, kan dit groei.

In 1912 het dr Russell Conwell, ‘n pastoor van die Grace Baptist Kerk in Philadelphia, die verhaal van ‘n Sondagskoolleerder genaamd Hattie May Wiatt vertel. Omdat hulle so baie gemeentelede was, het dr Conwell aan Hattie May genoem dat hy graag ‘n kerkgebou wou hê wat groot genoeg was om al die gemeentelede te akkomodeer. Toe Hattie May siek geword het en gesterf het, is Conwell gevra om by haar begrafnis te preek. Die dogtertjie se ma het hom vertel dat Hattie May haar geld gespaar het om te help met die bou van ‘n groter kerk. In Hattie se beursie was daar sewe-en-vyftig sent. Conwell het die sente geneem en hulle uitgestal en ‘verkoop.’ Met die wins daarvan, is ‘n nabygeleë huis aangekoop vir die kindervleuel van die kerk. Mense is deur Hattie se storie geïnspireer, meer geld is ingesamel en uit haar sewe-en-vyftig sent is die Temple Baptiste Kerk, Temple Universiteit en die Good Samaritan Hospitaal uiteindelik gebou.

Miskien voel jy dat jou gawes, jou tyd, jou talente en jou inspanning te klein is om ‘n verskil te maak. As jy dit egter aan God oorgee en Hom vra om dit te seën, sal jy agterkom dat Hy ‘n groot wiskundige en ‘n wonderlike vermenigvuldiger is. Hy kan jou woorde, jou pogings en jou hulpbronne neem en hulle ver bo enigiets wat jy jouself kan indink, vermeerder. ‘Hy moet geprys word – Hy wat mag het om deur die krag wat in ons werk, oneindig meer te doen as wat ons vra of dink om te vra.’

Sielskos: Lev 23:15-22; Hand 2:1-18

Dryf jou vrees uit

2021-05-16
1 Johannes 4:18 AFR83

Jy sal verras wees om te weet hoeveel mense, selfs suksesvolle mense, elke dag met onuitgesproke vrese worstel. Miskien is jy een van hulle. Die Bybel sê: ‘Want God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing’ (2 Timoteus 1:7 AFR53). As ons vrese dus nie van God af kom nie, waar kom hulle dan vandaan?

Van verskeie bronne af: 1) Die manier waarop jy geprogrammeer is in jou grootwordjare. 2) ‘n Daaglikse oordosis nuus, 90 persent daarvan wat negatief is. 3) Satan.

Die punt is, jou vrese kom nie van God af nie. Die eerste stap om jou vrese te oorkom, is om die ware bron daarvan vas te stel. God het jou ‘n magtige wapen gegee om hulle te oorwin: ‘…volmaakte liefde verdryf vrees …’ Jy sê: ‘Miskien as ek God volmaak lief gehad het, sou ek nie so bang gewees het nie.’ Nee, nou span jy die wa voor die perd in. Jy kan soveel probeer as wat jy wil, maar jy sal nooit God volmaak kan liefhê nie.

Daar is net een volmaakte liefde en dit is sy liefde vir jou. Dis onvoorwaardelik; gekoop en betaal deur Jesus Christus wat vir jou aan die kruis gesterf het. Wanneer jy ‘n openbaring van die onverdiende liefde, genade en guns wat God teenoor jou voel, ervaar, sal jy kan opstaan en alle vrees, angs, skuld, veroordeling en bekommernisse kan verdryf.

God se liefde vir jou is nie op jou optrede gebaseer nie, maar op Christus s’n. Wanneer jy jou vertroue in Christus se optrede, in plaas van jou eie, plaas, is jy God se kind (sien Efesiërs 1:5). Wanneer jy die versekering daarvan het, weet jy dat jy ook die mag het om al jou vrese te verdryf.

Sielskos: Eks 17:1-7; Joh 4:1-42

Wees lief vir die mense van wie jy nie hou nie

2021-05-15
Efesiërs 1:5 NLV

God beveel ons in die Bybel om vir mekaar lief te wees. Interessant genoeg beveel Hy ons nie om van mekaar te hou nie. Dis ‘n goeie ding, omdat jy vir iemand kan lief wees, terwyl jy nie van sekere dinge van hulle hou nie.

Paulus skryf: ‘…ons is God se handewerk…’ (Efesiërs 2:10 NLV). Die woord ‘handewerk’ kom van die Griekse woord ‘poiéma’ af, waarvan ons die woord ‘poësie’ kry. Poësie is ‘n gediversifiseerde en kreatiewe kunsvorm; dit kom in baie vorme voor. Dis hoekom die Bybel sê dat God deur verskillende mense op verskillende maniere werk (sien 1 Korintiërs 12:6). Hy gebruik alle soorte mense, insluitend die mense waarvan ons dalk nie hou nie of nie saam mee wil werk nie. ‘Elkeen van ons ontvang ‘n manifestasie van die Gees om die gemeente te bevoordeel’ (1 Korintiërs 12:7 NLV), en dis ons verantwoordelikheid om dit te ontdek en dit te ontwikkel. ‘om God se mense toe te rus vir die werk wat hulle in sy diens moet doen’ (Efesiërs 4:12 NLV).

Die frase ‘toe te rus’ is ook interessant. Dit kom van ‘n mediese term in die oorspronklike Grieks af. Dokters het dit gebruik om die proses om ‘n gebreekte been te heg, te beskryf.

Stop en kyk vandag om jou. Het jy al ooit so baie gebroke harte, gebroke huise, gebroke drome en gebroke lewens gesien? God gebruik ons om mekaar te dien, vir mekaar lief te wees, mekaar te eer en mekaar se laste te dra. As jy mooi daaroor dink, is die kerk God se hospitaal vir alles wat ons makeer. Wanneer jy dit in gedagte hou, sal dit jou help om met diegene wat jy nie noodwendig van hou nie, oor die weg te kom en hulle lief te hê.

Sielskos: Heb 5-8; Mark 9:30-37; Ps 18:30-50; Spr 11:22

Kweek ‘n bewustheid van God se teenwoordigheid

2021-05-14
Genesis 28:16 NLV

Jakob het sy lewe in die vinnige baan geleef, besigheidstransaksies beklink en baie geld gemaak, anders as Dawid wat rustig sy skape in die veld opgepas het. Let egter op wat elkeen van hulle oor God gesê het. “Toe Jakob wakker word, sê hy: ‘Sowaar! Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie geweet nie!'” Aan die ander kant, het Dawid gesê: ‘Ek prys die Here wat my insig gee, ook in die nag is ek daarvan bewus. Die Here is altyd by my. Ja, Hy is aan my regterhand, daarom sal Ek nie struikel nie. Hieroor is my hart vol vreugde. Ek besing sy lof, en rus in veiligheid’ (Psalm 16:7-9 NLV).

Sien jy die verskil? Jakob was so besig dat hy nie God se stem herken het of ‘n bewustheid van sy teenwoordigheid gekweek het nie. Dawid het egter gesê: ‘Die Here is altyd by my. Ja, Hy is aan my regterhand, daarom sal Ek nie struikel nie.’ Hierdie woorde is dalk die eenvoudigste en beste definisie van ‘n geestelike lewe. Die Bybel sê: ‘…ons is ingestel om soos Christus te dink’ (1 Korintiërs 2:16 NLV).

Jy vra: ‘Wat beteken dit vir my?’ Dit beteken dat Christus wat in jou woon, sy gedagtes deur jou kan dink. Is dit nie wonderlik nie? Wanneer jy ‘n gevoel van gerusstelling, of ‘n sin van leiding, of die oordeel van sonde voel, beteken dit dat God by jou is. Gee dus aandag en eer sy teenwoordigheid deur op Hom te reageer. Miskien het jy nog altyd gewonder wat dit beteken om ‘n pad saam met God te stap. Nou weet jy.

Sielskos: Heb 1-4; Mark 9:14-29; Ps 18:1-29; Spr 11:19-21

Laat God toe om jou besigheid te gebruik

2021-05-13
Lukas 5:3 NLV

Wil jy hê dat God jou besigheid moet seën? Nooi Hom dan in! Laat Hom toe om jou besigheid te gebruik om sy besigheid te doen. Petrus het dit gedoen. Hy het ‘n vissersboot gehad en een dag het hy Jesus uitgenooi om aan boord te kom en sy boot te gebruik om die skare te leer. Dit het dividende afgewerp! Na die tyd het Jesus ‘n wonderwerk gedoen wat Petrus se boot so vol visse gemaak het, dat dit amper gesink het. Met Jesus aan boord, sal jy voorspoedig wees.

‘…Aan Hom wat ons steeds liefhet en ons deur sy bloed van ons sondes verlos het, en ons sy koninkryksmense gemaak het, priesters vir God… behoort die heerlikheid…’ (Openbaring 1:5-6 NLV). In Bybelse tye het die priesters in die kerk gewerk, terwyl die konings uitgegaan en geveg het. Wanneer hulle gewen het, het hulle die buit teruggebring om die werk van God te finansier. As jy dus ‘n besigheid het, is jy ‘n ‘koning,’ en omdat jy God se verloste kind is, sal Hy jou leer hoe om voorspoedig te wees (sien Jesaja 48:17).

Daar is egter een voorwaarde: Wanneer Hy dit doen, moet jy gewillig wees om sy plan om die wêreld met die evangelie te bereik, te finansier (sien Matteus 24:14). Jy moet dit as ‘n eer en ‘n geleentheid beskou, want wanneer jy in besigheid met God tree, is daar geen beperkinge nie! Henry Giles, ‘n negentiende-eeuse prediker, het gesê: ‘Daar is geen taak so laag dat ons dit nie kan verhoog nie; so vervelig dat ons dit nie kan opkikker nie, as ons verstaan dat wat ons doen, in diens van ons Here Jesus Christus is.’

Gebruik dus vandag jou besigheid om God se besigheid te doen en Hy sal jou besigheid seën.

Sielskos: Titus 1-3; Mark 9:1-13; Ps 150; Spr 11:16-18