2021-05-24
Matteus 6:32 NLV
Jesus het hierdie raad aan ‘n groep mense wat bekommerd oor hulle finansies was, gegee: ‘Moet julle dus nie bekommer nie… Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het… God [sal] vir julle al hierdie ander dinge as ‘n bonus byvoeg’ (verse 31-33 NLV). Hy sal dit van dag tot dag doen, as jy vir Hom lewe en die koninkryk van God jou eerste prioriteit maak.
Wat vrees jy die meeste? Om nie genoeg geld te hê nie, of om nie God se seën op jou finansies te hê nie? As jy vrees om God se seën mis te loop, belê jy in iets wat nie kan misluk nie – God se koninkryk. Jy sal met ‘n oop hand saai en as gevolg daarvan, sal jy ‘n vrede wat nie rasioneel verduidelik kan word nie en ‘n vreugde wat met die wete kom dat God jou ondersteuner, bankier en geluksaligheid is, ervaar. Die Bybel sê: ‘Gee al julle bekommernisse aan God oor, want Hy gee vir julle om’ (1 Petrus 5:7 NLV).
Niemand van ons kan finansiële onsekerheid vryspring nie. Op tye wat dit lyk of alles ineen gaan stort, wil ons graag die versekering hê dat ons nie alleen is nie. Ons wil met sekerheid weet dat wanneer ons ons finansiële sorge vir ons hemelse Vader gee, Hy goed na ons sal kyk. Ironies genoeg kry mens nie finansiële vrede deur op te gaar en terug te hou nie, maar deur te gee op tye wanneer dit nie sin maak nie. Dis jou gewilligheid om nou te gee wat God se belofte om terug aan jou te gee wanneer jy dit nodig het, waarborg. Dis hoekom dit noodsaaklik is om enige tyd wat jy kan, met ‘n oop hand te saai.
Sielskos: 1 Kon 8-9; Mark 11:1-11; Ps 47; Spr 12:4-6
2021-05-23
Spreuke 10:7 NLV
Die uitvinder Charles F. Kettering het een maal gesê: ‘Die grootste ding wat hierdie generasie kan doen, is om ‘n paar trapklippe vir die volgende generasie te lê.’ Mense mag dalk op die korttermyn met bewondering praat oor wat jy alles bereik het en vir jouself bekom het. Op die langtermyn sal hulle egter dit wat jy vir ander mense gedoen het, die meeste onthou. Dis hoekom die Bybel sê: ‘Dié wat reg lewe, sal onthou word. Hulle wat verkeerd gelewe het, sal gou vergeet word.’ As jy ‘n seën vir ander mense wil wees, moet jy: 1) regtig vir mense omgee en dit wys, en 2) besef hoe groot impak ‘n goeie nalatenskap kan hê.
D. Elton Trueblood het glo die volgende geskryf: ‘Ons het alreeds ‘n begin gemaak om die betekenis van menslike lewe te ontdek, wanneer ons bome plant onder wie se skadu ons weet ons nooit sal sit nie.’ Die groot redenaar Henry Ward Beecher het gesê: ‘Ons moet so lewe en werk sodat dit wat na ons as sade kom, na die volgende generasie as bloeisels moet gaan en wat na ons in bloei kom, na hulle as vrugte mag gaan. Dit is die ware gees van liefde vir die mensdom.’
Wat gaan jou nalatenskap dus wees? Wat moet jy ophou doen? Wat moet jy begin doen? Waarvan moet jy meer doen om dit ‘n realiteit te maak? Dis nooit te vroeg om te begin dink aan wat jy wil hê jou lewe moet beteken wanneer jy nie meer hier is nie. Net soos die naskrif aan die onderkant van ‘n brief, sê jou nalatenskap vir die mense wat na jou volg: ‘Dít is waaroor my lewe gegaan het!’
Sielskos: Hand 1:4-8; Rom 12:1-8; 1 Kor 12:1-13
2021-05-22
Psalm 61:6 AFR53
Daar is ‘n storie oor ‘n hipokonderse persoon wie se grafsteen gelees het: ‘Ek het julle mos gesê ek is siek!’ Wat wil jy hê moet eendag op jou grafsteen staan? In Walden, het Henry David Thoreau sy bekommernis uitgespreek dat wanneer sy tyd kom om te sterf, hy sal uitvind dat hy nooit ten volle gelewe het nie. Wanneer dit by jou nalatenskap kom, is daar twee dinge wat jy in gedagte moet hou:
1) Niemand sal soveel vir jou nalatenskap omgee soos jy nie. Wees dus doelgerig wanneer jy op jou nalatenskap besluit; op hierdie manier verhoog jy die kans aansienlik om ‘n impak op die volgende generasie te maak.
2) Die som van hoe jy jou lewe elke dag leef, word jou nalatenskap. Tel elke aksie oor baie jare op en jy sal jou nalatenskap sien vorm aanneem.
Grenville Kleiser skryf in Inspirations and Ideals: ‘Jou lewe is soos ‘n boek. Die voorblad is jou naam. Die voorwoord is jou bekendstelling aan die wêreld. Die bladsye is ‘n daaglikse weergawe van jou pogings, probleme, plesiere, teleurstellings, ambisies en prestasies. Dag na dag word jou gedagtes en dade opgeskryf as bewys van jou sukses of mislukking. Uur na uur word rekord gehou van dit wat vir altyd moet staan. Een dag moet die woorde ‘Die Einde’ geskryf word. Laat daar van jou boek gesê word dat dit ‘n opgawe van edele doelstellings, vrygewige diens en goed gedane werke is.’
Die meeste van ons kan nie kies hoe of wanneer ons gaan sterf nie, maar ons almal kan kies hoe ons gaan lewe. Dis ons nalatenskap aan diegene wat ons volg.
Sielskos: 1 Kon 6-7; Mark 10:35-52; Ps 97; Spr 12:1-3
2021-05-21
Spreuke 13:22 NLV
Die leierskapskundige dr John Maxwell skryf: ‘Op 18 Desember, 1998, het ek ‘n ernstige hartaanval gehad. Ek onthou dat ek daardie aand, terwyl ek op die vloer gelê en vir die ambulans gewag het, twee dinge gedink het: Eerstens, dat ek te jonk was om dood te gaan. Tweedens, dat ek sommige van die dinge wat ek wou bereik, nog nie voltooi het nie. Een van die voordele van my ervaring is dat dit my gemotiveer het om myself af te vra: ‘Wat gaan my nalatenskap wees?’ ‘n Nalatenskap is iets wat ons vir die volgende generasie agterlaat. Dit kan besittings wees wat ons in ander se hande plaas. Dit kan beginsels wees waarvolgens ons gelewe het. Dit kan ook die mense wees op wie ons invloed uitgeoefen het en wie se lewens beter was omdat hulle ons geken het.’
Probeer altyd hierdie twee dinge in gedagte hou: 1) Vandag is al wat jy het. Onthou die woorde op ‘n grafsteen wat gelees het: ‘Ek het dit verwag, maar nie so gou nie!’ Ons almal hoop vir ‘n lang lewe, maar geeneen van ons weet of ons môre gaan sien nie. ‘Moenie te veel praat oor wat môre kan gebeur nie. Jy weet glad nie wat môre gaan oplewer nie’ (Spreuke 27:1 NLV).
2) Jy sal ‘n nalatenskap agterlaat. “‘n Goeie mens laat iets na vir kleinkinders. ‘n Sondaar se besittings beland by die regverdiges.” ‘n Goeie man of vrou kan ‘n nalatenskap hê wat die volgende twee generasies sal seën. Fokus dus daarop om goed te wees en goed te doen en vra jouself gereeld af: ‘Hoe wil ek deur my geliefdes onthou word? Wanneer my tyd op aarde verby is, sal ek aanhou om ander mense vir goed en vir God te beïnvloed?’
Sielskos: 1 Kon 3-5; Mark 10:23-34; Ps 93; Spr 11:30-31
2021-05-20
2 Timoteus 2:5 NLV
Is jy so gretig om in almal se goeie boekies te bly dat jy aan al hulle eise toegee? Jy is nie alleen nie! Een Bybelonderwyser skryf: “Een keer toe ek oor my hewige skedule gekla het, het ek God se Gees hoor sê: ‘Jy is die een wat die skedule opstel; as jy nie daarvan hou nie, doen iets daaraan!'” Paulus het vir Timoteus gesê: ‘Volg die Here se gedragskode om sy werk te doen, net soos ‘n atleet volgens die reëls meeding, of andersins gediskwalifiseer word en geen prys wen nie’ (vers 5 NLV).
Nie elke probleem is geestelik nie, sommige probleme is fisies. Jy kan ook nie die duiwel vir dinge blameer wat jou eie fout is nie. Ons neem mense kwalik wat druk op ons uitoefen, maar tog hou ons aan om te doen wat hulle wil hê, wat ons stil woede voed. Jy laat jouself toe om onder druk te wees deur nie verantwoordelikheid vir jou eie lewe te neem nie. Die feit is dat baie mense wat dit goed bedoel, elke dag met stres en depressie rondloop omdat hulle nie nee kan sê nie. Hulle vergeet dat Jesus hulle voorbeeld is en dat Hy gereelde tye van rus en vernuwing gehad het.
Die antwoord lê daarin dat jy: 1) Jou lewe onder die leiding van die Heilige Gees plaas; 2) Leer om eerste dinge eerste te stel; 3) Besef dat jy ook behoeftes het; 4) Nie verwag dat almal sal verstaan wanneer jy grense daar stel nie. Die Bybel sê: ‘Op ‘n vriend se lojaliteit kan jy altyd reken…’ (Spreuke 17:17 NLV), nie net wanneer jy aan hulle eise voldoen nie. Jy moet dus leer om grense te stel, om sodoende God se wil vir jou lewe te vervul.
Sielskos: 1 Kon 1-2; Mark 10:13-22; Ps 88:9b-18; Spr 11:27-29
2021-05-19
Spreuke 10:8 NLV
As jy in God se seën wil wandel, moet jy ophou verskonings maak en verantwoordelikheid vir jou lewe neem. Die Bybel sê: “‘n Mens met verstand aanvaar bevele. Hulle wat onsin babbel, bereik niks.” Die vermoë om verantwoordelikheid te aanvaar is ‘n kenmerk van karakter en volwassenheid. God kan jou nie herstel voor jy nie jou sonde erken en daarvan wegdraai nie. Die Bybel sê: ‘…God roep elkeen tot verantwoording vir wat hy gedoen het’ (Spreuke 24:12 NLV).
Wanneer jy aanhou om ander mense te blameer, sal jy nooit die plek van eerlike verantwoordelikheid – waar ware verandering begin! – bereik nie. ‘n Gerespekteerde berader skryf: ‘Alle blaam is ‘n mors van tyd. Maak nie saak hoeveel fout jy vind nie, dit gaan nie sake verander nie. Die enigste ding wat blaam doen, is om die fokus van jouself af te neem, wanneer jy vir redes soek om jou ongelukkigheid en frustrasie te probeer verduidelik. Jy mag dalk daarin slaag om iemand anders skuldig te laat voel, maar jy sal nie daarin slaag om dit wat jou ongelukkig maak, te verander nie.’
Om ander mense te blameer, is dikwels net ‘n manier om die waarheid oor jouself te probeer vermy. Jesus het gesê dat die waarheid jou vry sal maak (sien Johannes 8:32 NLV). Dit sal jou dalk aan die begin ongemaklik laat voel, maar dis die enigste ding wat jou waarlik sal vrymaak. Om weg te kruip daarvan sal dit nie laat weggaan nie. Solank jy nie gewillig is om jou foute in die gesig te staar nie, sal jy aanhou probleme hê. Is dit hoe jy jou lewe wil lei? Nie? Raak dan eerlik met God en laat Hom toe om jou te help om die dinge wat verkeerd in jou lewe is, te korrigeer.
Sielskos: Heb 11:17-13:25; Mark 10:1-12; Ps 88:1-9a; Spr 11:24-26