Om gereed te wees
2021-07-03Matteus 7:25 NLV
Het jy geweet dat voordat dit begin sneeu, trek sekere sipresse hulle takke in om sodoende die gewig van die sneeu wat hulle gaan moet dra, te verminder? Hierdie reaksie is in hulle takke geprogrammeer. God het hierdie bome in staat gestel om die probleem te verwag voordat dit plaasvind en sodoende die risiko om takke in die sneeustorm te breek, te verminder.
Jy moet dieselfde in jou huwelik doen. Jy kan nie probleme en krisisse vermy nie, maar jy kan jouself daarvoor voorberei. Die meeste oorsake van stres in ons families is algemeen en kan dus voorspel word.
Die Christelike sielkundige, dr James Dobson, skryf: ‘Een van my goeie vriende het baie tyd saam met sy vrou deurgebring om hulleself voor te berei vir die dag wanneer hulle kinders die huis sou verlaat. Hulle het dikwels oor die leë nes gepraat en het die maniere waarmee hulle vriende dit hanteer het, bespreek. Hulle het boeke oor daardie lewensfase gelees en dit wat hulle geleer het, op hulleself toegepas. Gevolglik was hulle oorgang na die leë nes sonder probleme. In elke huwelik sal daar ‘n bietjie sneeu val. Sneeustorms sal woed en stormwinde sal loei. As jy egter moeite doen om hierdie tye te verwag, sal dit jou en jou maat help om onder die gewig van die winterstorm staande te bly.’
Hier is drie dinge wat jy kan doen om gereed te wees: 1) Deel doelwitte buite ouerskap met mekaar waartoe beide van julle verbind is. 2) Deel julle gevoelens en behoeftes met mekaar. 3) Bid daagliks saam. Het jy geweet dat 90 persent van alle Christelike paartjies nie saam bid nie? Maak dit ‘n doelwit om deel van die 10 persent wat saam met mekaar bid, te wees.
Sielskos: Jer 36:27-40:16; Luk 4:31-44; Ps 102:12-17; Spr 15:3