Hoe om meningsverskille te hanteer (1)

2021-06-23
Handelinge 15:37-38 NLV

Paulus en Barnabas was ‘n wonderlike sendelingspan. Op hulle eerste reis, het ‘n jong man genaamd Markus by hulle aangesluit. Dit blyk egter dat hy later na sy huis terugverlang het en na Jerusalem teruggekeer het. Op hulle tweede sendingsreis, wou Barnabas weer vir Markus saamneem, maar Paulus het nee gesê. ‘Daar het toe kwade gevoelens tussen hulle ontstaan, en hulle het elkeen sy eie koers gegaan. Barnabas het vir Markus gevat… Paulus het Silas gekies…’ (verse 39-40 NLV). Kan jy jou dit indink; twee geestelike reuse wat nie hulle konflik kon oplos nie! Ja, dit gebeur in die beste sirkels.

Paulus was totaal gefokus en het nie nonsens verdra nie. Barnabas, wie se naam ‘seun van bemoediging’ beteken het, was die liefdevolle tipe wat in versoening geglo het. Daar is twee belangrike lesse in hierdie verhaal oor hoe om meningsverskille te hanteer, te leer.

1) Wanneer dit by ons vriende en familielede kom, het ons blinde kolle. Dit gebeur selde dat ‘n leier die objektiwiteit het om verby ‘n band van bloed te kyk en te fokus op wat die beste vir die organisasie is. Gevolglik ondermyn dit dikwels die visie wat God hulle gegee het.

2) Soms het jy ‘n wyse en betroubare derde party nodig om te help om die probleem op te los. Wanneer dit by moeilikheid in die kerk kom, het Jesus duidelike riglyne daargestel. Eerstens moet jy privaat, in ‘n een-tot-een gesprek, die kwessie probeer oplos. Tweedens, as dit nie werk nie, moet jy een of twee ander saam met jou neem om dit te probeer oplos. Derdens, moet jy die situasie na volwasse, geestelike leiers neem en hulle insette daarop kry (sien Matteus 18:15-18). Dis die Skriftuurlike manier om meningsverskille te hanteer, en dit moet ook ons manier wees.

Sielskos: Jer 7-9; Luk 2:8-20; Ps 8; Spr 14:9-12

Antwoorde op die groot vrae (5)

2021-06-22
Hebreërs 11:6 NLV

Sommige skeptici hou daarvan om te vra: ‘Van watter ‘god’ praat jy: Thor, Zeus, ensovoorts?’ Die afleiding wat van hierdie vraag gemaak kan word is: ‘Hulle was mitiese gode, net soos jou god.’ Ateïste is korrek dat hierdie gode mites was. Die mens word tot afgodery soos ‘n mot na ‘n vlam toe aangetrek. Daar is miljoene vals gode. Hindoeïsme het omtrent 330 miljoen.

Daar is egter net een skepper en dis die God wat Homself aan Moses openbaar het. Dis die God wat vlees in die persoon van Jesus Christus geword het, wat vir ons gesterf en weer opgestaan het en wat vir ons verlossing bewerkstellig het. Dis die God voor wie jy op die oordeelsdag te staan gaan kom. Jy sê: ‘Ek glo nie in die oordeelsdag nie!’ Wat as jy verkeerd is?

Nog ‘n argument wat ateïste gebruik is om te sê dat hulle nie kan bewys dat God bestaan nie, net soos ek en jy nie kan bewys dat die tandemuis dalk bestaan nie. Dis pseudo-intellektueel en ‘n neerbuigende manier om geloof aan God gelyk aan geloof in die tandemuis te stel. Soos een prediker egter skryf: ‘Geloof in die bestaan van die tandemuis is onbeduidend. Geloof in, en as gevolg daarvan, gehoorsaamheid aan God het ewige gevolge!’ Onherroeplike gevolge!

Die Bybel sê: ‘…Ons moet tog almal eendag voor God se regbank verskyn. Die Skrif sê tog: ‘So seker as Ek lewe,’ verklaar die Here, ‘elke knie sal voor My buig, en elke tong sal bely dat Ek God is.’ Elkeen van ons sal dus oor ons eie doen en late voor God verantwoording moet doen’ (Romeine 14:10-12 NLV). Aanvaar dus vandag Jesus as jou Redder, en jy sal God in vrede ontmoet.

Sielskos: Jer 4-6; Luk 2:1-7; Ps 144:9-15; Spr 14:5-8

Antwoorde op die groot vrae (4)

2021-06-21
Romeine 9:5 NLV

Sommige mense sê dat Jesus Christus nooit bestaan het nie. Een prediker skryf: ‘Terwyl skeptici mag kies om die Bybel se morele boodskap te verwerp, kan hulle egter nie die geskiedkundige akkuraatheid daarvan ontken nie. Meer as 25,000 argeologiese vondste bewys dat die mense, plekke en gebeurtenisse wat in die Bybel genoem word, waar en akkuraat beskryf is. Geen argeologiese vonds het al ooit die Bybel weerlê nie.’ Die beskrywings in die Bybel het inderwaardheid al argeoloë na wonderbaarlike vondste gelei.

Die nie-Christelike joernalis, Jeffrey Sheler, die skrywer van die boek Is The Bible True?, kom tot die volgende gevolgtrekking: ‘Moderne argeologie bevestig die historiese kern van die Ou en Nuwe Testamente op wonderbaarlike wyse en ondersteun sleutelgedeeltes van deurslaggewende Bybelse verhale.’ Jesus se geboorte, bediening, dood en opstanding is onweerlegbare historiese feite.

Josephus, een van die bekendste Joodse geskiedkundiges, het glo die volgende geskryf: ‘Daar was ongeveer hierdie tyd Jesus, ‘n wyse man, as dit geoorloof is om hom ‘n man te noem, want hy was ‘n doener van wonderwerke – ‘n leraar van mense wat die waarheid met genoeë ontvang het. Hy het baie van die Jode en baie van die heidene na hom toe aangetrek. Hy was die Christus; en toe Pilatus hom op voorstel van die vernaamste manne tot die kruis veroordeel het, het diegene wat hom liefgehad het, hom nie verlaat nie, want hy het op die derde dag weer lewend aan hulle verskyn, soos die goddelike profete dit en ook tienduisend ander wonderlike dinge rakende hom voorspel het; en die kerk van Christene, na hom vernoem, is nie uitgestorwe teen hierdie tyd nie.’

Nie net het Jesus gelewe nie, maar Hy het ook gesterf sodat jy die ewige lewe mag hê. Ontvang Hom vandag as jou Redder.

Sielskos: Jer 1-3; Luk 1:67-80; Ps 144:1-8; Spr 14:1-4

Antwoorde op die groot vrae (3)

2021-06-20
2 Timoteus 3:16 NLV

Hoe kan ons die Bybel vertrou as mense dit geskryf het? Vraag: Skryf jy die brief, of skryf die pen die brief? Die pen is net die instrument wat jy gebruik. Op dieselfde manier, het God mense as instrumente gebruik om sy ‘brief’ aan die mensdom te skryf. Dis hoekom sir Isaac Newton gesê het: ‘Ek vind meer ware tekens van egtheid in die Bybel, as in enige goddelose geskiedenis.’

Dis hoekom Winston Churchill van die Skrif gesê het: ‘Laat wetenskaplikes en kundiges hul kennis gebruik en alle besonderhede van die verslae wat vir ons vanaf daardie donker eeue bewaar is, ondersoek. Al wat hulle sal doen is om die groot eenvoud en wesenlike akkuraatheid van die opgetekende waarhede wat tot dusver die pelgrimstog van mense verlig het, te versterk.’ Daar is ‘n rede hoekom Abraham Lincoln gesê het: ‘Ek glo dat die Bybel die beste geskenk is wat God nog ooit vir die mens gegee het.’

Josh McDowell, ‘n Christelike apologeet, sê: ‘Hier is die prentjie: 1500 jare, 60 generasies, 40 skrywers, verskillende lewensterreine, verskillende plekke, verskillende tye, verskillende buie, verskillende kontinente, drie tale, skrywes oor honderde kontroversiële onderwerpe. Wanneer dit egter bymekaar gebring word, is daar absolute harmonie van begin tot einde. Daar is geen ander boek in die geskiedenis wat eers naby aan die uniekheid van hierdie kontinuïteit kom nie.’

Jy kan jou Bybel vertrou. Die profesieë daarin vervat is vervul, die beloftes daarin is op die proef gestel en die beginsels vir die lewe daarin werk regtig. Weet jy hoekom die Bybel geskryf is? Johannes gee vir ons die antwoord: ‘Ek skryf hierdie dinge aan julle sodat julle met die wete kan leef dat julle nou reeds deel het aan die ewige lewe, julle wat aanhou glo in die persoon van die Seun van God’ (1 Johannes 5:13 NLV).

Sielskos: 1 Kon 17:1-7; 1 Ki 18:41-46; Mark 4:35-41

Antwoorde op die groot vrae (2)

2021-06-19
Romeine 2:4 NLV

Is die kerk nie vol skynheiliges nie? Die woord hipokraat kom van die Griekse woord vir ‘akteur’ af. Skynheiligheid is dus die uitbeelding van oortuigings, gevoelens of waardes wat jy nie werklik besit nie. Die ware kerk van Jesus Christus bestaan uit ware gelowiges; skynheiliges gee dus voor en sit tussen God se mense. Jesus het selfs een tussen sy twaalf dissipels gehad – Judas.

Kom ons wees eerlik; mense het al die kerk verlaat as gevolg van skynheiligheid. Daar is meer akteurs in die kerk as in Hollywood. Skynheiligheid is ongebreideld in die moderne kerk – maar wees versigtig voor jy dit oordeel. Onthou die ou gesegde: ‘Christene is nie perfek nie, net vergewe.’

Voor jy dit op jouself neem om oordeel oor mense wat foute maak en met swakhede sukkel te vel, lees hierdie woorde: ‘Jy sê dalk: ‘Dis darem verskriklike mense wat jy beskryf!’ Jy is egter self sonder verontskuldiging. Deurdat jy ‘n oordeel oor ander uitspreek, veroordeel jy immers jouself, want eintlik doen jy dieselfde soort dinge. Daarom is jy ook sonder verontskuldiging. Ons weet tog dat God ‘n suiwer oordeel sal vel oor enigiemand wat met sulke praktyke besig is. Dink jy dan – jy wat ander veroordeel wat hierdie dinge doen, en tog ook self daarmee besig is – dat jy God se oordeel sal vryspring? God is so oorvloedig in sy goedheid, verdraagsaamheid en geduld teenoor jou. Minag jy dit werklikwaar? Besef jy nie dat God so goed vir jou is omdat Hy vir jou tyd wil gee om tot inkeer te kom nie?’ (verse 1-4 NLV).

Moenie jouself oor die skynheiliges in die kerk bekommer nie; God sal hulle uitsorteer; die ‘onkruid’ van die ‘koring’ (sien Matteus 13:30).

Sielskos: Hosea 11-14; Luk 1:57-66; Ps 139:13-24; Spr 13:25

Antwoorde op die groot vrae (1)

2021-06-18
2 Petrus 3:13 NLV

Wat van lyding – bewys dit nie dat daar nie ‘n liefdevolle God is nie? Adam is ‘n keuse gegee: om God te gehoorsaam, of om aan Hom ongehoorsaam te wees. Hy het ongehoorsaamheid gekies en God het gesê: ‘…Daarom vervloek ek die grond. Jou hele lewe lank sal jy met droefheid sukkel om ‘n bestaan daaruit te maak’ (Genesis 3:17 NLV). Dink hoe baie mense aan kanker, Alzheimer se siekte, veelvuldige sklerose, hartsiektes, emfiseem, Parkinson se siekte en ander aftakelende siektes ly. Hartseer genoeg, gebruik baie van ons lyding as ‘n verskoning om enige idee oor God te verwerp, terwyl die bestaan daarvan die presiese rede is hoekom ons in Hom moet glo.

In die begin het God perfekte mense geskape en hulle het in ‘n perfekte wêreld sonder lyding gelewe – dit was hemel op aarde. Toe sonde egter in die wêreld gekom het, het dit die dood en ellende meegebring. Wat is dus die antwoord? ‘Maar ons sien uit na die nuwe hemele en ‘n nuwe aarde, soos God belowe het. Dáár sal almal voor God reg lewe. Daarom, geliefdes, terwyl julle wag… Lewe in vrede met God’ (2 Petrus 3:13-14 NLV).

Lyding het sy hoogtepunt bereik toe Jesus aan die kruis gesê het: ‘Dit is volbring.’ Dit beteken dat dit ten volle betaal is. Dit beteken dat wanneer jy Jesus as jou Redder aanvaar, sal jy hemel toe gaan wanneer jy sterf en in ‘n glorieryke wêreld lewe wat sonder sonde en lyding nuut gemaak is. ‘…Wat geen oog gesien het; wat geen oor gehoor het; wat in niemand se hart opgekom het nie – dit het God voorberei vir hulle wat Hom liefhet’ (1 Korintiërs 2:9 NLV). As jy nie seker is dat dit waar is nie, plaas vandag jou vertroue in Jesus.

Sielskos: Hosea 6-10; Luk 1:39-56; Ps 139:7-12; Spr 13:24