2021-06-29
Psalm 119:97 NLV
Een van die kragtigste metodes wat God vir jou gegee het om vrees en bekommernis te oorwin, is om Skrifgedeeltes te memoriseer. Jou geheue is soos ‘n spier; hoe meer jy dit oefen, hoe sterker word dit. Seneca, die antieke Romeinse onderwyser van retoriek, sou sy klas van tweehonderd studente beïndruk deur elke student te vra om ‘n gunsteling digvers op te sê. Hy sou dan die tweehonderd verse op een slag vir hulle terug opsê, in die verkeerde volgorde. Sint Augustine het ‘n vriend gehad wat al die digter Virgil se woorde agteruit kon opsê!
Ja, miskien het hierdie twee ouens ‘n gawe daarvoor gehad, maar daar is baie dinge wat elkeen van ons ook uit ons geheue kan opsê. Dinge soos verjaarsdae, huweliksherdenkings, adresse, telefoonnommers en ID nommers. Hierdie dinge het twee karaktereienskappe in gemeen: Ons gebruik hulle dikwels en ons het hulle konstant nodig. Met ander woorde, ons het hulle gememoriseer omdat ons hulle so dikwels gebruik en nou kan ons nie sonder hulle oor die weg kom nie.
Soortgelyk kan jy begin om jou bekommernisse te oorwin, deur hulle elke keer wat hulle in jou gedagtes opkom met ‘n Skrifgedeelte wat jy gememoriseer het, te konfronteer. Dis kragtig! Dis effektief! Dit werk! Hoekom? Omdat God se krag groter as jou probleme is en omdat God se Woord groter as jou bekommernisse is.
God is daartoe verbind om sy Woord te onderhou. Wanneer jy dus Skriftuurlike woorde in plaas van kommer-gevulde woorde spreek, begin God namens jou werk. Hy het aan jou die volgende belofte gemaak: ‘…Ek staan gereed om te doen wat Ek gesê het gaan gebeur’ (Jeremia 1:12 NLV). As jy dus ernstig daaroor is om jou stres en bekommernisse te oorwin, begin dan om God se Woord elke dag te memoriseer en te verbaliseer.
Sielskos: Jer 25-27; Luk 3:11-20; Ps 64; Spr 14:25-28
2021-06-28
1 Petrus 5:7 NLV
Wanneer jy jou vrese en bekommernisse moet hanteer, het jy twee keuses; gee hulle aan die Here oor, of hou hulle en probeer om hulle self te hanteer. Toe die kommuniste China oorgeneem het, was die sendeling Isobel Kuhn geforseer om te voet oor die sneeu-bedekte berge tot in Burma te ontsnap. Daar was sy gestrand, met geen geld en geen manier om huis toe te gaan nie.
‘Ek kan jou nie vertel hoe ontsteld en verskrik ek was nie,’ skryf sy. Sy het egter twee besluite geneem. ‘Die eerste was om vrees te verwerp,’ het sy gesê. ‘Die enigste vrees wat ‘n Christen moet hê, is die vrees vir sonde. Alle ander vrese kom van Satan af, wat hy stuur om ons te verwar en te verswak.’ Dus het Isobel met gebed op God vertrou en paniek verwerp. Tweedens, het sy sy leiding gesoek om haar volgende stap te neem en uiteindelik veilig by die huis aangekom.
Hier is ‘n belangrike sleutel tot oorwinning: In plaas daarvan om met jou vrese te lewe en hulle toe te laat om binne-in jou wortel te skiet, moet jy hulle identifiseer en konfronteer die oomblik wat jy van hulle bewus word. Tweedens, moet jy elke vrees in ‘n gebed omskep en dit vir God gee, met die volle vertroue dat Hy dit vir jou sal hanteer. Moet dit ook nie net met sommige van jou vrese en bekommernisse doen nie, maar doen dit met almal van hulle. ‘Neem al die dinge waaroor julle julle bekommer of wat julle omkrap na God toe, want Hy self is die Een wat vir julle sorg’ (vers 7 DB).
Jy sal nooit heeltemal vry van vrees en bekommernis wees nie, maar deur God se genade kan jy baie beter doen as wat jy tans doen.
Sielskos: Jer 22-24; Luk 3:1-10; Ps 59:9-17; Spr 14:23-24
2021-06-27
Galasiërs 5:22 AFR83
Almal het invloed op iemand. Dis wat jy met daardie invloed doen wat bepaal of dit negatief of positief is. Sosioloë vertel ons dat selfs die skaamste en grootste introvert in ‘n leeftyd omtrent tienduisend mense sal beïnvloed. Elke interaksie wat jy met ‘n ander persoon het, verryk of verarm daardie persoon. Invloed is nooit neutraal nie. Jy kan dit ook nie afskakel nie, omdat dit in die struktuur van die lewe self ingebou is. Dit maak ook nie saak wat jou titel is nie. Jou karakter sal bepaal of jou titel by jou pas.
Die Bybel sê: ‘Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing…’ (Galasiërs 5:22-23 AFR83). Wanneer jy daardie kwaliteite het, sal mense in ‘n ry staan om jou te help, vir jou lief te wees en jou te volg. Jy vra: ‘Hoe kan ek al hierdie kwaliteite uitstraal?’ Menslik gesproke, kan jy nie. Dis die slegte nuus. Die goeie nuus is egter dat dit nie net ‘n moontlikheid is nie, maar ‘n werklikheid – wanneer jy onder die invloed van God se Gees is.
Daar word ‘n storie vertel van ‘n seuntjie wat elke nag uit sy bed geval het en sy ma met sy gehuil wakker gemaak het. Een nag nadat sy hom weer in die bed gesit het, het sy gevra: ‘Hoekom hou jy aan om uit die bed uit te val?’ Hy het vir ‘n minuut daaroor gedink en toe gesê: ‘Ek het seker te naby aan die plek waar ek ingeklim het, gebly.’
Verlossing is die beginpunt, maar tensy jy elke dag onder die invloed van Jesus deurbring, sal jy nie volwasse word, jou geestelike gawes ten volle gebruik of jou Godgegewe lewensopdrag ontdek en vervul nie.
Sielskos: 1 Kon 17:17-24; Mark 5:21-43; Joh 11:1-45
2021-06-26
Handelinge 4:13 NLV
Om ‘onder die invloed’ te wees, beteken dat jy deur iets of iemand anders as jyself, beheer word. Wie jy is, wat jy is en waar jy vandag is, is omdat jy onder die invloed van sekere mense was. Die geselskap wat jy kies beïnvloed jou gedagtes, jou gedagtes beïnvloed jou aksies, jou aksies beïnvloed jou karakter en jou karakter bepaal jou lotsbestemming.
Dis onmoontlik om invloed te ontsnap. Dis soos die weer – altyd daar om mee rekening te hou. Dis hoekom dit noodsaaklik is om jou kinders se internetgebruik, dit wat hulle op die televisie kyk en die geselskap wat hulle hou te monitor, omdat hierdie dinge hul ten goede of ten slegte kan beïnvloed. As jy regtig wys is, sal jy tyd onder die invloed van Jesus bestee. Jy sal sy Woord lees en tyd saam met Hom in gebed deurbring. Hoe meer tyd jy saam met Hom deurbring, hoe meer sal jy soos Hy word.
Toe die dissipels op die dag van Jesus se hemelvaart met die Heilige Gees vervul is, was hulle so getransformeer dat party mense gedink het dat hulle dronk was. Petrus het egter gesê: “Party van julle sê hierdie mense is dronk. Dis nie waar nie!.. Nee, wat hier gebeur, is waarvan God deur die profeet Joël gepraat het: ‘Só sal dit in die laaste dae wees, sê God: Ek sal my Gees uitstort op elke mens…'” (Handelinge 2:15-17 NLV). Twee hoofstukke later lees ons: ‘Die raadslede was verbaas toe hulle Petrus en Johannes se waagmoed sien, want hulle het besef dis gewone mense sonder enige besondere opleiding. Hulle het hulle ook herken as mense wat saam met Jesus was’ (Handelinge 4:13 NLV).
Vandag kan die Heilige Gees, wat eenvoudig die invloed van Christus is, ook jou lewe transformeer.
Sielskos: Jer 18-21; Luk 2:41-52; Ps 59:1-8; Spr 14:21-22
2021-06-25
Josua 22:23 NLV
In die Bybel het ‘n altaar verskillende dinge verteenwoordig. Dit het offergawes aan God deur vir Hom die beste skape in jou kudde te gee, verteenwoordig. Dit het lofprysing aan God en om Hom bo alles anders in jou lewe te stel, verteenwoordig. Dit het nederigheid en jou besef van jou behoefte aan God en jou totale afhanklikheid aan Hom, verteenwoordig.
Dis egter ook moontlik om ‘n altaar ‘vir onsself’ te bou. Wanneer ons dit doen, steel ons God se regmatige plek in ons lewens en begin ons onsself eerste stel. Met ander woorde, ons bou ‘n altaar vir selfbelang, selfbevorderding, selfbehoud, selfvergroting en selfverheerliking. Dis hoekom Jesus die volgende standaard vir dissipelskap gestel het – en dis ‘n hoë standaard: ‘…As julle my volgelinge wil wees, moet julle julle eie, selfsugtige ambisie prysgee, julle kruis op julle skouers neem, en agter My aan kom’ (Matteus 16:24 NLV). Jou ‘kruis’ het net een doel en dis vir die ‘self’ om daarop te sterf.
Paulus skryf: ‘Want as die sondige natuur julle lewe beheer, gaan julle die dood tegemoet. Maar as julle onder die invloed van die Gees die werke van julle sondige natuur doodmaak, sal julle werklik lewe’ (Romeine 8:13 NLV). Jou vlees, of jou ego en sondige natuur, sal nie net omrol en doodgaan nie; dit moet elke dag doodgemaak word.
Jy kan slegs toegang tot die krag om dit te doen kry, deur tyd in gebed met God deur te bring en jou gedagtes aanhoudend met die Woord van God te vernuwe. Die keuse is dus vandag joune; om ‘n altaar vir die Here te bou, moet jy eers die ‘self’ op die altaar plaas. Is jy gereed om dit te doen?
Sielskos: Jer 14-17; Luk 2:34-40; Ps 21; Spr 14:17-20
2021-06-24
Matteus 5:9 NLV
Les een: Soms is die beste oplossing vir konflik ‘n skeiding, selfs as dit net tydelik is. Wanneer emosies hoog loop, het jy spasie nodig om helder te dink. God kan hierdie tyd van skeiding tot sy verheerliking gebruik. Omdat Paulus en Barnabas se paaie geskei het, is die evangelie in meer stede gepreek. Wanneer ‘n tydelike skeiding egter die beste opsie is, moet julle saam besluit oor hoe lank dit gaan wees. In sommige vriendskappe mag een persoon dalk die verhouding ontgroei het. Dit moet egter met liefde en wysheid hanteer word, met die besef dat ons almal uit ons foute kan leer en deur hulle kan groei. Later het Paulus geskryf: ‘…Bring Markus saam met jou wanneer jy kom, want hy kan my behulpsaam wees’ (2 Timoteus 4:11 NLV).
Les twee: Wanneer jy besef dat jy verkeerd was, moet jy dit erken. Vir ‘n enkellopende, gefokusde leier soos Paulus, het dit nederigheid geverg. Dis inderdaad ‘n vertroosting om te dink dat iemand so geseënd en briljant soos Paulus, weer sy situasie kon oorweeg en tot ‘n ander gevolgtrekking kon kom. Foute mag dalk sleg wees; maar hulle is nie so sleg soos die trots wat hulle wil verdedig en wil aanhou maak nie.
Les drie: Jy moet leer om te verskil, sonder om onaangenaam te wees. Dis opvallend dat ons nêrens in die Bybel vind dat Paulus in die publiek oor hulle meningsverskil gepraat het nie. Beide Paulus en Barnabas het op hulle onderskeie sendingsreise gefokus. Die enigste gedrag wat jy die mag het om te verander, is jou eie. Die volgende moet jou rede wees om dit te doen: ‘Nee, terwyl ons mekaar liefhet, sal ons by die waarheid bly en so in alle opsigte groei om soos Christus te wees…’ (Efesiërs 4:15 NLV).
Sielskos: Jer 10-13; Luk 2:21-33; Ps 17; Spr 14:13-16