Hoe om mense wat seer het, te help

2021-07-05
Prediker 10:12 NLV

Kry jy maklik seer? Maak jy ander mense seer sonder om dit te bedoel? Daar is drie dinge wat dit veroorsaak: 1) Ons praat uit ons eie seer uit. Die Duitse digter, Hermann Hesse, het geskryf: ‘As jy iemand haat, haat jy iets in hom of haar wat deel is van jouself. Iets wat nie deel is van onsself nie, pla ons nie.’ Dit help om te onthou dat mense dikwels kwetsend in reaksie op dit wat binne-in hulself aan die gebeur is, optree.

2) Wanneer ons seer het, raak ons kleinserig. Kom ons sê jy ignoreer die splinter in jou vinger, wat dan geïnfekteer raak. Iemand raak aan jou vinger en jy skree in pyn: ‘Jy het my seergemaak!’ Die ware probleem is egter die splinter waaraan jy nie aandag gegee het nie. Mense wat seer het, oorreageer, oordryf en oorbeskerm. Gewoonlik is dit die persoon met die meeste pyn wat die meeste skade aanrig.

3) Dit neem tyd om ons seer te hanteer. Vinnige oplossings werk nie. Die barmhartigste ding wat jy vir iemand wat seer het kan doen, is om vir hulle te wys dat jy omgee. As hulle gewillig is, kan jy hulle ook help om deur hulle kwessies en pyn te werk.

Goeie dinge kan uit slegte situasies ontstaan. ‘n Skoonmaakdiensmaatskappy wat in ‘n rioolpyp onder ‘n stad gewerk het, het een-en-sestig diamantringe, verskeie antieke muntstukke en silwerware gevind. Dit was ‘n onaangename werk – maar die werkers kon die waardevolle items wat hulle gevind het, vir hulself hou. Jy mag dalk nare dinge moet hanteer, maar in die proses sal jy dalk skatte ontdek wat jy nie geweet het bestaan nie en na al jou harde werk, sal jy met ‘n wonderlike verhouding opeindig.

Sielskos: Jer 41-44; Luk 5:1-11; Ps 102:18-28; Spr 15:4-7

Probeer om taktvol te wees

2021-07-04
Kolossense 4:6 NLV

As jy ‘n gewoonte daarvan maak om te praat sonder om te dink, is daar ‘n Skriftuurlike oplossing vir jou: ‘Met woorde wat altyd vriendelik en sinvol is, moet julle gereed staan om die regte antwoord vir elke mens te gee.’ Alhoewel eerlikheid altyd die beste beleid is, gee dit jou nie die reg om net te sê wat jy wil nie. Een van die belangrikste vaardighede wat jy kan ontwikkel, is die vermoë om ander mense met takt en sensitiwiteit te hanteer wanneer jy jouself in ‘n moeilike situasie bevind. Jy dink seker dat dit maklik behoort te wees vir diegene wat sê dat hulle deur die Gees van God vervul is, maar die bewyse sê anders. Jy sê: ‘Maar soms is dit nodig om brutaal eerlik te wees!’

Om genade te betoon en die waarheid te praat is nie wedersyds uitgesluit nie. Jy kan leer om die waarheid met takt oor te dra. Die Bybel sê: ‘Die wet is deur middel van Moses gegee, die onverdiende goedheid en waarheid het deur Jesus Christus gekom’ (Johannes 1:17 NLV). Jesus het nooit toegelaat dat goedheid en takt Hom daarvan weerhou om die waarheid te praat nie, maar Hy het dit nooit op ‘n gemene manier gedoen nie. Jy moet ook nie. Soms sê ons dat ons die waarheid in liefde praat (sien Efesiërs 4:15), maar die waarheid is dat woede, frustrasie, teleurstelling en wraak in ons harte ons ware beweegrede is.

Wat is dus die oplossing? Voor jy praat, neem ‘n oomblik om die woorde in jou gedagtes te hersien en probeer om hulle impak te evalueer. Kies dan om aan die Heilige Gees se leiding toe te gee. Dit sal jou help om die emosionele dissipline wat nodig is om taktlose opmerkings in die bek te ruk, te ontwikkel.

Sielskos: Jes 53:2-12; Hand 8:26-40

Om gereed te wees

2021-07-03
Matteus 7:25 NLV

Het jy geweet dat voordat dit begin sneeu, trek sekere sipresse hulle takke in om sodoende die gewig van die sneeu wat hulle gaan moet dra, te verminder? Hierdie reaksie is in hulle takke geprogrammeer. God het hierdie bome in staat gestel om die probleem te verwag voordat dit plaasvind en sodoende die risiko om takke in die sneeustorm te breek, te verminder.

Jy moet dieselfde in jou huwelik doen. Jy kan nie probleme en krisisse vermy nie, maar jy kan jouself daarvoor voorberei. Die meeste oorsake van stres in ons families is algemeen en kan dus voorspel word.

Die Christelike sielkundige, dr James Dobson, skryf: ‘Een van my goeie vriende het baie tyd saam met sy vrou deurgebring om hulleself voor te berei vir die dag wanneer hulle kinders die huis sou verlaat. Hulle het dikwels oor die leë nes gepraat en het die maniere waarmee hulle vriende dit hanteer het, bespreek. Hulle het boeke oor daardie lewensfase gelees en dit wat hulle geleer het, op hulleself toegepas. Gevolglik was hulle oorgang na die leë nes sonder probleme. In elke huwelik sal daar ‘n bietjie sneeu val. Sneeustorms sal woed en stormwinde sal loei. As jy egter moeite doen om hierdie tye te verwag, sal dit jou en jou maat help om onder die gewig van die winterstorm staande te bly.’

Hier is drie dinge wat jy kan doen om gereed te wees: 1) Deel doelwitte buite ouerskap met mekaar waartoe beide van julle verbind is. 2) Deel julle gevoelens en behoeftes met mekaar. 3) Bid daagliks saam. Het jy geweet dat 90 persent van alle Christelike paartjies nie saam bid nie? Maak dit ‘n doelwit om deel van die 10 persent wat saam met mekaar bid, te wees.

Sielskos: Jer 36:27-40:16; Luk 4:31-44; Ps 102:12-17; Spr 15:3

Dra geestelike vrugte (2)

2021-07-02
Johannes 15:4 NLV

‘n Loot dra nie vrugte deur te probeer, te werk of homself in te span nie. Die loot dra vrugte deur eenvoudig ‘verbonde’ te bly. Wat beteken dit? Hoe bly jy aan Jesus verbonde?

Kom ons illustreer dit as volg: Wanneer jy ‘n teesakkie in ‘n koppie kookwater sit, gebeur daar iets. Hoe langer die teesakkie in die water bly, hoe sterker en geuriger word die tee. Dit is wat gebeur wanneer jy aan Christus en Hy aan jou, verbonde bly. Hoe langer jy aan Hom verbonde bly en hoe dieper jou band met Hom word, hoe meer sal sy teenwoordigheid jou lewe deurdring.

Die loot produseer nie die vrugte nie; dit dra die vrugte. Dis die druiwestok wat die vrugte produseer. Jesus het gesê: ‘Ek is die druiwestok, julle is die lote. Wie aan My verbonde bly en Ek aan hulle, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie’ (vers 5 NLV). Sonder die druiwestok, is die sterkste loot net so weerloos soos die swakste loot. Wat moet jy dus doen om aan Christus verbonde te by?

1) Bestudeer sy Woord. ‘As julle in My verbind bly en my woorde ‘n stewige vastrapplek in julle gekry het…’ (vers 7 NLV). Soos jy God se Woord bestudeer, word jy deur sy Gees verander.

2) Wees gehoorsaam aan sy wil. ‘As julle my opdragte gehoorsaam, sal julle aan my liefde verbonde bly…’ (vers 10 NLV). Hoe nader jy aan God beweeg, hoe meer sal jy wil doen wat Hy sê. Wanneer jy dan doen wat Hy sê, sal jy begin om in sy seën te wandel.

Sielskos: Jer 33:1-36:26; Luk 4:14-30; Ps 102:1-11; Spr 14:35-15:2

Dra geestelike vrugte (1)

2021-07-01
Johannes 15:4 NLV

Jesus het gesê: ‘…my Vader is die tuinier. Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af. Elkeen wat egter vrugte oplewer, snoei Hy sodat dit nog meer vrugte kan dra. Julle is reeds skoon gesnoei deur die boodskap wat Ek met julle gedeel het. Julle moet aan My verbonde bly soos Ek aan julle. ‘n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as dit nie aan die druiwestok verbind bly nie, en só julle ook nie as julle nie voluit aan My verbonde bly nie… Wie aan My verbonde bly en Ek aan hulle, dra baie vrugte…’ (verse 1-5 NLV).

Wat wil God vandag van jou hê? Geestelike vrugte! Hy sal twee dinge doen om dit in jou lewe te produseer.

Eerstens, sal Hy vir jou die gewoontes, verhoudings en aktiwiteite wys wat dit onmoontlik vir jou maak om geestelike vrugte te dra en dan begin om dit af te sny. Hy kan dit egter net doen as jy Hom toelaat om dit te doen.

Tweedens, sal Hy vir jou die dinge wys wat jou geestelik dreineer en jou daarvan weerhou om meer vrugte te dra. Sy gunsteling snoeiskêr is sy Woord, wat ‘….skerper as die ontleedmes van ‘n chirurg…’ (Hebreërs 4:12 NLV), is.

Soos jy God se Woord lees, sny Hy die slegte af sodat dit nie die goeie belemmer nie. Dan snoei Hy die goeie sodat dit nie die beste wegsteek nie. Dit verduidelik hoekom Hy toelaat dat ons moeilike tye in ons lewens ondervind. Soos een pastoor dit stel: ‘Moeilike tye mag dalk eenvoudig ‘n snoeiskêr in die hande van die goddelike Tuinier wees – gereedskap wat Hy gebruik om dooie hout en vrugtelose takke af te sny sodat ons meer vrugte kan dra.’

Sielskos: Jer 31-32; Luk 4:1-13; Ps 98; Spr 14:34

Sorg vir mekaar

2021-06-30
Prediker 9:9 NLV

Daar is ‘n verhaal van ‘n vrou wat haar man na die dokter toe vergesel het. Na sy ondersoek, het die dokter haar alleen na sy spreekkamer toe geroep en gesê: ‘Jou man ly aan ‘n vreeslike siekte en tensy jy nie hierdie dinge doen nie, sal hy sterf. Maak elke oggend vir hom ‘n gesonde ontbyt, middagete en spesiale aandete. Wees aangenaam deur die dag en maak seker dat hy in ‘n goeie bui is. Moenie hom met huishoudelike take belas nie. Moet ook nie jou probleme met hom bespreek nie. Met ander woorde, probeer aan al sy behoeftes, nukke en grille voldoen. As jy dit vir tien maande lank doen, dink ek hy sal volkome herstel.’ Op pad huis toe het haar man vir haar gevra: ‘So, wat het die dokter gesê?’ Sy het hom vierkantig in die oë gekyk en geantwoord: ‘Hy sê jy gaan doodgaan!’

Op ‘n ernstiger noot, wanneer jy aan die einde van jou lewe kom, is die twee vrae wat die meeste sal saak maak as volg: 1) Het jy God se wil ontdek en jou bes gedoen om dit te vervul? 2) Was jy lief vir jou eggenoot en jou familie en het jy hulle die tyd en aandag wat hulle verdien het, gegee? Salomo skryf: ‘In sulke omstandighede moet jy jou kos met vreugde geniet en jou wyn met blydskap drink. God het dit lank gelede al so bepaal. Dra die regte klere om te wys hoe gelukkig en bly jy is… Geniet die lewe met die vrou vir wie jy lief is. Geniet haar elke dag in die sinlose lewe wat jou gegun is. Sy sal jou troos wees in hierdie sinlose wêreld waarin jy jou dag en nag moet afsloof’ (verse 7-9 DB).

Die woord vir jou vandag is dus – sorg vir mekaar.

Sielskos: Jer 28-30; Luk 3:21-38; Ps 95; Spr 14:29-33