Sukkel jy met versoeking?

2021-08-14
1 Petrus 5:8 NLV

Jou areas van weerloosheid sal soos die seisoene in jou lewe verander, maar die waarheid is dat jy altyd op ‘n manier versoek sal word. Die goeie nuus is egter dat jy versoek kan word, maar triomfantelik kan wees. Jesus het ons gewys hoe om dit te doen. Toe Hy in die woestyn versoek is, het Hy op God se Woord gestaan. Hier is ‘n paar Skrifgedeeltes waarop jy kan staan wanneer jy in die versoeking kom:

1) Die Here weet dus om dié mense wat naby aan Hom leef, uit beproewing en swaarkry te red…’ (2 Petrus 2:9 NLV).

2) ‘Hierdie Hoëpriester van ons kan ten volle met ons in ons swakhede saamvoel, want Hy moes presies dieselfde versoekings as ons trotseer – behalwe dat Hy nie voor die sonde geswig het nie. Kom ons gaan dan met volle vrymoedigheid na die troon van ons genadige God. Hy sal aan ons sy deernis en onverdiende goedheid bewys sodat ons op die regte tyd gehelp sal word’ (Hebreërs 4:15-16 NLV).

3) ‘Daarom moet julle God se gevegstoerusting aantrek. Dan, wanneer die Bose julle aanval, sal julle weerstand kan bied, en na die hele geveg verby is, sal julle nog vas staan’ (Efesiërs 6:13 NLV).

4) ‘Die God van vrede sal die Satan binnekort onder julle voete verpletter. Mag die onverdiende goedheid van ons Here Jesus met julle wees’ (Romeine 16:20 NLV).

5) ‘En Ek het julle gesag gegee oor alle mag van die vyand… niks sal julle beseer nie’ (Lukas 10:19 NLV).

6) ‘Onthou, die versoekings wat oor julle pad kom, is nie uniek nie; ander ondervind dit ook. God is getrou. Hy sal keer dat die versoeking te sterk vir julle word. Midde-in die versoeking sal Hy vir ‘n uitweg sorg sodat julle kan volhou’ (1 Korintiërs 10:13 NLV).

Sielskos: Rig 7:1-9:33; Luk 13:18-35; Ps 119:65-72; Spr 17:23-26