2026-04-14
2 Kronieke 16:9 NLV
God gee nooit aan ‘n persoon verantwoordelikheid sonder die vermoë om daarop te reageer nie. Jy kan dus vandag in die spieël kyk en met vertroue sê: ‘God, U het my hierdie verantwoordelikheid gegee en die vermoë om daarop te reageer.’ Wanneer God gewone mense in die Bybel geroep het om groot dinge te doen, het hulle gewoonlik met ‘n gevoel van ontoereikendheid gereageer.
Toe God Moses opdrag gegee het om die Israeliete uit Egiptiese slawerny te lei, het Moses “… by die Here gepleit: ‘Ag Here, ek is nie goed met my mond nie. Ek was nog nooit iemand wat goed kon praat nie. Selfs waar U nou hier met my praat, haak my tong vas'” (Eksodus 4:10 NLV). God wou egter nie verskonings hoor nie en het vir Moses gesê: ‘Loop, gaan maak soos Ek vir jou sê! Ek sal jou goed laat praat en vir jou voorsê wat jy moet sê’ (Eksodus 4:12 NLV).
Toe God vir Gideon gesê het om die Israeliete na oorwinning teen die magtige leër van Midian te lei, lees ons: “Maar Gideon sê vir Hom: ‘Verskoon my, Meneer, maar hoe kan ek Israel red? My familie is een van die swakstes in Manasse. Ek is die onbelangrikste lid van my gesin.’ ‘Ek is dan saam met jou!’ het die Here vir hom gesê. ‘Jy sal al die Midianiete verslaan asof jy net teen een man veg'” (Rigters 6:15-16 NLV). Gideon het ‘n leër van 135 000 met slegs 300 soldate – plus God – verslaan.
Die volgende keer wat Satan jou dus herinner dat jy ontoereikend is, sê: ‘Jy is reg! Maar ek is egter verbonde aan ‘n God wat almagtig, alwetend en altyd teenwoordig is. Deur Hom is ek tot alles in staat!’ (sien Filippense 4:13).
Sielskos: Joël 1-3; Matt 1:18-25; Ps 43; Spr 10:17-18
2026-04-13
Psalm 16:8 AFR53
Sê hierdie woorde ‘n paar keer hardop en laat dit in jou gedagtes rondrol: ‘Ek stel die Here altyddeur voor my.’ Neem tyd om na te dink hoe dit werklik in jou lewe ervaar kan word. Hoe sou dit wees om met God in jou gedagtes wakker te word? Hoe sou dit snags voel as jy bewus is van Hom terwyl jy aan die slaap raak? Hoe sou jou gesprekke met ander mense wees as God as die onsigbare derde party teenwoordig is? Hoe sou werk of skool wees as jy voortdurend bewus van God is en met Hom kommunikeer terwyl jy in jou kantoor of by jou lessenaar sit, sy hulp en leiding vra en nie die las alleen probeer dra nie?
Dit is immers sy belofte aan jou: ‘Gee jou kommer oor aan die Here, Hy sal vir jou sorg. Hy sal gelowiges nie teleurstel nie’ (Psalm 55:23 NLV). Dink na oor die idee dat die Here ‘aan jou regterhand’ is. In die Skrif word die regterhand as die hand van krag en die een wat die werk doen, beskou. Dink nou oor hierdie woorde na: ‘ek [sal] nie wankel nie’ (Psalm 16:8 AFR53).
Stel jou voor dat jy slegte nuus ontvang of teenstand in die gesig staar; stel jou voor dat ‘n belangrike persoon nie van jou hou nie. Stel jou voor dat dit sleg by jou werk gaan – maar dit skud nie jou fondasies nie. Hoekom nie? Omdat God jou bonatuurlike vrede gee. Is dit die lewe wat jy wil hê? Bid dan: ‘God, ek kies hierdie lewe; wys my wat ek moet doen sodat dit so kan wees.’
Sielskos: Jer 51-52; Matt 1:7-17; Ps 56; Spr 10:14-16
2026-04-12
Lukas 15:18 NLV
Die verhaal van die verlore seun illustreer die betekenis van ware berou en bekering. Dit gaan oor ‘n jong Joodse man wat in opstand teen alles wat hy geleer is, gekom het, sy pa die rug toegekeer het, deur die helder ligte van die groot stad verlei is en uiteindelik in ‘n varkhok beland het. Hy het egter drie dinge gedoen wat sy lewe omgedraai het.
Eerstens het hy van plan verander. “Toe hy uiteindelik tot sy sinne kom, het hy vir homself gesê: ‘By die huis het selfs die gehuurde werkers meer as genoeg kos, en hier is ek besig om van honger dood te gaan!'” (vers 17 NLV).Tweedens het hy sy wilskrag verander. ‘Ek sal huis toe gaan na my pa toe en sê: Pa, ek het gesondig teen sowel die hemel as teen Pa’ (vers 18 NLV). Derdens het hy opgetree. ‘Hy het dus teruggekeer huis toe na sy pa toe…’ (vers 20 NLV).
Bekering is ‘n verandering van denke, wat ‘n verandering van wilskrag teweegbring en lei tot ‘n verandering van optrede. Hier is twee dinge wat jy oor sonde moet weet:
1) God sal elke sonde wat jy probeer toesmeer, openbaar. ‘Julle moet dus nie voortydig ‘n oordeel vel voordat die Here kom nie. Hý sal sy lig laat skyn op die dinge wat in die donker verborge lê, en Hý sal die motiewe van ons harte aan die lig bring…’ (1 Korintiërs 4:5 NLV).
2) God sal elke sonde wat jy openbaar, bedek. ‘Wie sy oortredings verswyg, sal nie voorspoedig wees nie. Wie sy sonde bely en daarvan afsien, sal genade ontvang’ (Spreuke 28:13 NLV). Gaan dus voort en bely en laat vaar jou sonde, want God sal dit met die bloed van Christus bedek. Daar is geen rede om te wag nie. Doen dit nou.
Sielskos: Ps 23; Luk 15:1-7; Op 7:13-17
2026-04-11
Efesiërs 5:21 NLV
Paulus het geskryf: ‘Omdat julle respek het vir wat Christus vir julle gedoen het, moet julle aan mekaar onderdanig wees.’ Satan is die huwelik se vyand. Om hom te verslaan, moet jy eers weet hoe om te identifiseer waar, wanneer en hoe hy aan die werk is. Solank as wat julle daarop fokus om met mekaar te baklei of mekaar te blameer, sal julle huwelik aanhou om met elke mislukte versoek tot intimiteit, elke onvervulde verwagting en elke dag wat jy hopeloos wens dat jou eggenoot sal verander, in verdere ellende verval.
Ja, jy moet beter kommunikasiepatrone aanleer, leer hoe om te vergewe en hoe siekte of finansiële probleme hanteer moet word. Wanneer jy egter besef dat hierdie dinge hul ontstaan by dieselfde bose bron het, kan jy dit soveel effektiewer beveg. Doen die volgende twee dinge:
1) Fokus eers op jouself. Jy kan niemand anders as jouself verander nie. In baie opsigte kan jy selfs dit nie eers doen nie. Jy het God se ingryping in jou eie lewe nodig (sien 2 Korintiërs 3:18). Jy moet verstaan wie God jou roep om in jou huwelik te wees.
(2) Bid vir en saam met jou eggenoot (sien Matteus 18:19). Gebed is onontbeerlik om die vyand in jou huwelik te verslaan. Bid vir leiding in wat God wil hê jy moet doen. Indien jou eggenoot gewillig is, bid saam en hardop. Nooi God om by jou huwelik in te gryp en dit ‘n voorbeeld van die werk wat slegs Hy in twee mense se lewens kan teweegbring, te maak. Jy kan Christus se oorwinning in jou huwelik ervaar.
Sielskos: Jer 49-50; Matt 1:1-6; Ps 50:16-23; Spr 10:11-13
2026-04-10
Romeine 12:2 NLV
Jy is geskape om lief te hê, maar jy het geleer om te vrees! Die neurologiese roetes in jou brein evalueer bewustelik toksiese gedagtes en wanneer jy kies om die situasie aan God oor te gee, onderwerp jy jou nie aan vrees nie, maar tree in liefde op. Liefde is sterker as vrees! ‘Ware liefde het nie plek vir vrees nie; volwasse liefde dryf die vrees uit omdat vrees nog met straf behep is, en wie aanhou vrees, het nog nie dié volwasse liefde bemeester nie’ (1 Johannes 4:18 NLV).
As ‘n verloste kind van God is jy vir liefde bedraad, wat beteken dat liefde jou normale lewensuitkyk moet wees. Ongeag die manier waarop jy in die verlede gekies het om te reageer, kan pynlike, toksiese gedagtes vernuwe word. Selfs toksiese gevoelens wat jy so lank gekoester het en waarmee jy so vertroud is dat jy dink dis normaal, kan vernuwe word. Jy kan hulle as gevolg van jou brein se neuroplastisiteit analiseer en herbedraad. Dit is wat Paulus bedoel het: ‘Moenie julle leefstyl aanpas by die gedragspatrone van hierdie wêreld nie, maar laat God julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe…’
Sal hierdie ‘vernuwing’ oornag gebeur? Nee. Die wetenskap toon dat jy iets ten minste sewe keer moet oefen en gebruik voordat dit deel van jou word. Soos jy aanhou om dit te doen, sal God se Gees met jou werk en uiteindelik sal jy hierdie wonderlike liefdesbedrading van die brein kan gebruik om jou rede en emosies te balanseer. Wanneer jy dit doen, sal jy ‘n reuse-sprong neem om al jou gedagtes onder beheer te kry, wat dan jou emosies onder beheer sal bring (sien 2 Korintiërs 10:5).
Sielskos: Jer 45-48; Luk 24:45-53; Ps 50:1-15; Spr 10:8-10
2026-04-09
Efesiërs 5:15-16 NLV
As jy nou wyse besluite neem, sal jy ‘n beter toekoms hê. As jy nou jou tyd mors, sal jy later spyt wees. Daarom moet jy die regte ding doen wanneer jy die geleentheid het om dit te doen. Paulus het geskryf: ‘Hy moet geprys word – Hy wat mag het om deur die krag wat in ons werk, oneindig meer te doen as wat ons vra of dink om te vra’ (Efesiërs 3:20 NLV).
God is in staat om groot dinge te doen soos sy krag deur jou werk. Dit gaan dus nie net daaroor dat God dinge vir jou doen nie; Hy wil ook dinge deur jou doen. Hou op wens dat omstandighede in jou lewe verander en begin aksie neem! Bid en bestudeer God se Woord. Soos Hy dan tot jou hart spreek, tree in geloof op en doen wat Hy jou lei om te doen. God het jou geskep om doelbewus te leef! Hy het jou nie net geroep om besig te wees nie – Hy het jou ook geroep om goeie vrugte te dra (sien Johannes 15:16 NLV).
Dit is maklik om in die besige lewe vasgevang te word. Jy moet egter ook tyd neem om na te dink oor hoe jy jou tyd bestee! Voor jy gaan slaap, dink na oor die dinge waarmee jy jou dag gevul het: watter dinge het God se plan en doel vervul en watter dinge was ‘n afleiding? Vra God om die dinge wat moet verander en hoe jy beter keuses kan maak, wat met sy wysheid ooreenstem, aan jou te openbaar. Steun dan op Hom vir die krag wat jy nodig het om daardie veranderinge te maak. As jy dit doen, sal jy vervuld, vreedsaam en opgewonde wees oor hoe God in jou lewe werk.
Sielskos: Jer 41-44; Luk 24:36-44; Ps 25:16-22; Spr 10:4-7