Vertrou op die Here, eerder as op mense

2026-02-27
Spreuke 29:25 NLV

Ons maak soms die fout om ons vertroue in mense te plaas, wanneer ons ons vertroue eerder in die Here behoort te plaas. Aangesien God nie kan fouteer nie, maar mense wel, word ons uiteindelik seergemaak en teleurgestel. Die Bybel sê dat koning Asa van Juda ‘n hart vir God gehad het. Tog, toe ‘n vyandige nasie teen hom opgetrek het, het hy paniekerig geraak en ‘n verdrag met ‘n ander koning aangegaan. Hy het dit met fondse wat hy uit die tempel van God geneem het, gedoen. Sy vyand het teruggetrek toe hy die nuus van Asa se verdrag hoor. Asa het ‘n oplossing vir sy probleem gevind. Sy plan het gewerk – of so het dit altans voorgekom. God het egter die profeet Ganani gestuur om koning Asa te bestraf. Hoekom? ‘…Omdat jy op die koning van Aram vertrou het in plaas van op die Here jou God…’ (2 Kronieke 16:7 NLV).

Dit is dikwels die lot van diegene wat hoogs logies en intelligent is. Hulle vertrou op hul eie vermoë om ‘n oplossing vir hul dilemmas te vind. Ganani het voortgegaan om Asa te bestraf: ‘Die Here kyk oor die hele aarde om hulle te help wat met hulle hele hart op Hom vertrou. Wat ‘n dwaas was jy nie! Daarom sal jy van nou af gedurig oorloë hê’ (2 Kronieke 16:9 NLV).

Later in sy lewe het Asa ‘n ernstige siekte opgedoen. ‘…Maar selfs in sy siekte het hy nie hulp by die Here gesoek nie, maar by sy dokters’ (2 Kronieke 16:12 NLV). Hulle kon hom nie help nie, dus het hy gesterf. Die woord vir jou vandag is dus: Moenie mense die vertroue gee wat alleenlik op die Here geplaas moet word nie.

Sielskos: 1 Kon 14-15; Luk 12:13-21; Ps 61; Spr 6:16-19

‘n Opofferende lewe

2026-02-26
Romeine 12:1 NLV

Met die nasionale staatskas wat deur ‘n reeks duur oorloë uitgeput is, het koning Frederik Willem III van Pruise besef dat daar ‘n ernstige tekort aan geld is om die land na die oorloë te herbou. Hy het geweier om aan sy vyande toe te gee en kon nie sy mense teleurstel nie. Hy het dus die vroue van Pruise gevra om hul goue en silwer juweliersware te bring om gesmelt te word, sodat dit vir die dinge wat die nasie dringend nodig gehad het, geruil kon word.

Soos elke vrou haar juweliersware gebring het, is aan haar ‘n ysterkenteken as simbool van die koning se dankbaarheid gegee. Die woorde: ‘Ek het goud vir yster gegee, 1813,’ was daarop gegraveer. Die vroue het begin om hierdie kentekens van die koning meer as hul vorige juwele te waardeer! Hul kentekens was die bewys dat hulle vir hul koning opgeoffer het. Trouens, in die vroeë negentiende-eeuse Pruise het dit hoogs onmodieus vir vroue om juweliersware te dra, maar baie modieus om ‘n kruis van yster te dra, geword. Dit was hier uit wat die Orde van die Ysterkruis gestig is.

Daar is twee kante van die Christelike lewe: seën en opoffering. Paulus het gesê: ‘Ja, om Christus Jesus, my Here, persoonlik te ken is só wonderlik dat ek alle ander dinge as ‘n verlies beskou…’ (Filippense 3:8 NLV). Jesus het die koste van dissipelskap as volg uitgespel: ‘…As julle my volgelinge wil wees, moet julle julle eie, selfsugtige ambisie prysgee, julle kruis op julle skouers neem, en agter My aan kom’ (Matteus 16:24 NLV). Die gesangedigter het geskryf: ‘Take up thy cross and follow me,’ I hear my blessed Saviour call. How can I make a lesser sacrifice when Jesus gave his all?’

Sielskos: 1 Kon 12-13; Luk 12:1-12; Ps 58; Spr 6:12-15

Wees tevrede

2026-02-25
Psalm 103:2 NLV

‘n Spotprent in die koerant het twee velde wat deur ‘n draadheining verdeel is, gewys. Albei was ewe groot met welige, groen gras. Elke veld het ‘n bees gehad wie se kop deur die draadheining gesteek het en gras van die ander se weiding geëet het. Alhoewel elke bees deur gras omring was, het die aangrensende veld begeerliker gelyk – al was dit moeiliker om te bereik. In die proses het die beeste se koppe in die heining vasgehaak, hulle het paniekerig geraak en onbeheersd begin bulk omdat hulle hulself nie kon bevry nie. Die spotprenttekenaar het die situasie met een byskrif beskryf: ‘ONTEVREDENHEID.’

Daar is ‘n les vir ons elkeen in hierdie spotprent. Wanneer ons op dit wat ons nie het nie of dit wat iemand anders het fokus, word ons blind vir die seëninge wat ons omring. Dawid het geskryf: ‘Ek wil die Here prys en nie sy goeie dade vergeet nie. Hy vergewe al jou sondes, en genees al jou siektes. Hy verlos jou van die dood, bekroon jou met liefde en medelye. Hy vul jou lewe met goeie dinge…’ (verse 2-5 NLV).

Doelwitte om groter dinge te bereik en om beter dinge te begeer kan ‘n goeie ding wees, mits jy: 1) Die Here raadpleeg om dit te bereik: “…Die Here… sal die goeie nie weerhou van hulle wat doen wat reg is nie’ (Psalm 84:12 NLV), en 2) Terwyl God daaraan werk, jy tevrede is met dit wat Hy reeds vir jou gegee het: ‘…Laat wat julle het vir julle genoeg wees. Onthou dat God die versekering gegee het: ‘Ek sal jou nie los nie. Ek sal jou nie in die steek laat nie'” (Hebreërs 13:5 NLV). Wees dus tevrede.

Sielskos: 1 Kon 10-11; Luk 11:45-54; Ps 53; Spr 6:9-11

Hoe om vir jou kinders te bid

2026-02-24
2 Petrus 3:18 NLV

Die Bybel sê: ‘Jy moet ook dít weet… dat daar gedurende die laaste dae moeilike tye sal kom’ (2 Timoteus 3:1 NLV). Ons hoef nie ver te soek om te sien dat hierdie Skrif vervul word nie. Daarom moet ons vir die fisiese en geestelike veiligheid van ons kinders bid; dat hulle mag ‘…groei in die onverdiende goedheid en kennis van ons Here…’

Heather Riggleman skryf: ‘Terwyl ons na die nuus kyk, ween ons, ons roep uit in woede en dan wonder ons: ‘Hoe kan ons ons kinders beskerm?’ Ons wonder of dit veilig is om hulle by die voordeur uit te stuur. Ons wonder of die wêreld besig is om uitmekaar te val. Niks is vreesaanjaender as die besef dat ons hulle nie teen die lewe kan beskerm nie. Alhoewel ons nie ons kinders vir die wêreld kan wegsteek nie, kan ons hulle op veel groter maniere beskerm as om hulle in watte toe te draai of hulle vir die res van hul lewe in hul kamers toe te sluit. Ons kan vir hulle intree en vir wysheid, beskerming, vrede en krag bid.’

Onthou, waar ons ook al bymekaar kom en bid, is Jesus in ons midde (sien Matteus 18:19-20). Paulus het gesê: ‘Daarom moet julle God se gevegstoerusting aantrek. Dan, wanneer die Bose julle aanval, sal julle weerstand kan bied… Doen alles deur gebed en smeking… Bly in alle omstandighede op julle hoede en bid vir almal wat aan God behoort’ (Efesiërs 6:13, 18 NLV). Wanneer jy so bid, sal God die beloftes in sy Woord eerbiedig. Hou aan om vir jou kinders in gebed in te tree en moenie moed opgee nie – maak nie saak hoe sleg dinge in die wêreld raak nie.

Sielskos: 1 Kon 8-9; Luk 11:29-44; Ps 40:9-17; Spr 6:6-8

Probeer om te versoen

2026-02-23
Matteus 5:24 NLV

Ons dink nie genoeg aan die volgende nie, maar ons behoort daaraan te dink! Hoe jy ook al diegene met wie jy in verhouding is behandel, beïnvloed die verhouding wat jy met God het. Jesus het dit duidelik uitgespel: ‘As jy dus jou offer na die altaar toe bring en dit val jou daar by dat jou medemens ‘n grief teen jou koester, los jou offer net daar voor die altaar en gaan maak eers vrede met daardie persoon. Kom dan terug en bring jou offer’ (verse 23-24 NLV). Jesus beveel die oortreder – selfs al was die oortreding onbedoeld – om die inisiatief te neem om die verhouding te genees en te herstel. Dit verg ware nederigheid.

Max Lucado skryf: ‘Jy mag dit dalk moeilik vind om te glo, maar nie almal hou van ‘n prediker nie. Daar is tye wanneer ek verkeerd trap of verkeerd praat en die misnoeë van ‘n gemeentelid op die hals haal. In die vroeë jare van my bediening, wanneer ek van iemand se ongelukkigheid te hore gekom het, het ek dit geïgnoreer. ‘As hy of sy nie hul ongelukkigheid met my kom bespreek nie, kan ek nie die probleem oplos nie.’

Dan lees ek egter Jesus se woorde. Jesus beveel die oortreder om die inisiatief te neem. Ek vind dit nogal onaangenaam, maar tog probeer ek om dit op my brose vriendskappe toe te pas. ‘Bob,’ het ek al gevra, ‘het ek iets gesê wat jou ontstel het?’ ‘Mary, dit kom voor asof daar spanning tussen ons twee is. Is alles reg?’ Sonder uitsondering het hierdie stap tot herstel gelei. Nog nooit in my vier dekades van bediening het hierdie praktiese bevel misluk nie. Wanneer die Skrif met gehoorsaamheid gemeng word, lei dit tot genesing.’

Die woord vir jou vandag is dus: Probeer om te versoen.

Sielskos: 1 Kon 6-7; Luk 11:14-28; Ps 40:1-8; Spr 6:1-5

Doen alles tot eer van God (2)

2026-02-22
1 Johannes 2:20 NLV

Hier is nog twee dinge wat jy oor jou roeping moet weet.

1) Die salwing is vir elkeen van ons bedoel. In Bybelse tye is olie slegs op die hoofde van profete, priesters en konings uitgegiet, wat simbolies was dat God se teenwoordigheid op ‘n spesiale manier op hulle rus. Die salwing is egter nie tot diegene in die bediening beperk nie; dit is vir almal bedoel – insluitend vir jou! Dit maak nie saak of jy ‘n onderwyser, ‘n dokter of ‘n prokureur is nie. God wil jou salf om te doen wat jy geroep is om te doen. As jy regshulp benodig, wil jy beslis ‘n prokureur hê wat ‘n regsgraad het, maar jy wil ook ‘n prokureur hê wat deur God gesalf is. As jy ‘n operasie benodig, wil jy beslis ‘n dokter hê wat ‘n mediese graad het, maar jy wil ook ‘n dokter hê wie se hande deur God gesalf is. Die salwing van God ken geen perke wanneer dit by posisie of portefeulje kom nie. Die apostel Johannes skryf: ‘Julle almal weet egter waaroor dit gaan, want julle dra die salwing van die Heilige Gees.’

2) Ons moet daarna streef om God in alles wat ons doen, te behaag. ‘Wat julle ook al… doen, doen alles tot eer van God’ (1 Korintiërs 10:31 NLV). Dit maak nie saak wat jy doen nie; doen dit tot eer van God. Oswald Chambers het gesê: ‘Ons dink dat ons uitsonderlike dinge vir God moet doen, maar ons hoef nie. Ons moet in gewone dinge uitsonderlik wees.’ Wanneer ons is, sit ons ‘n glimlag op God se gesig.

Sielskos: Gal 5:22-23; Ps 18:31-35; Jes 42:1-4; 1 Pet 3:15