Heilige herinneringe

2026-03-05
1 Samuel 17:54 NLV

Elke keer wat Dawid Goliat se wapens in sy tent sien hang het, was dit ‘n heilige herinnering aan God se getrouheid teenoor hom en aan God se krag. Die woord onthou word amper 250 keer in die Skrif genoem. Daar is ‘n rede daarvoor. Ons is geneig om dit wat ons behoort te vergeet, te onthou en dit wat ons moet onthou, te vergeet. Dis hoekom God ons altyd aansê om altare te bou of gedenkstene op te rig.

Jakob het ‘n altaar by Bet-El gebou, waar God aan hom ‘n lewensveranderende droom gegee het (sien Genesis 28:18-22). Die Israeliete het twaalf klippe uit die Jordaanrivier geneem om ‘n altaar in Gilgal te bou, wat hulle sou herinner aan hoe God die water van die Jordaanrivier op ‘n wonderbaarlike wyse vir hulle geskei het (sien Josua 4:20-24). Samuel het ‘n oorwinningsaltaar by Mispa genaamd ‘Eben-Haeser’ gebou, nadat God sy gebede verhoor het en die Filistyne met ‘n bonatuurlike krag verslaan het (sien 1 Samuel 7:12).

Sonder heilige herinneringe, vergeet ons die geestelike lesse wat ons op die pad geleer het. Die Bybel teken die gewig van Goliat se wapenuitrusting aan: sy borsharnas het 57 kilogram geweeg en sy spies het 7 kilogram geweeg. Elke keer wat Dawid sy tent afgeslaan en êrens ander weer opgeslaan het, het Goliat se wapenuitrusting saamgegaan. Hoekom? Omdat dit ‘n daaglikse herinnering van God se getrouheid teenoor Dawid was. Dit het ook gedien om Dawid se selfvertroue te bou. Wat ook al die toekoms vir Dawid ingehou het, hy het geweet dat hy dit met God se hulp kon hanteer.

Daar is twee lesse hieruit te leer: Eerstens, as God dit vir Dawid gedoen het, sal Hy dit vir jou ook doen. Tweedens, as God dit vantevore gedoen het, kan Hy dit weer doen.

Sielskos: 2 Kon 4:18-6:33; Luk 13:18-35; Ps 136:1-12; Spr 6:30-31

Gebruik wat God jou gegee het

2026-03-04
1 Samuel 17:38 NLV

Die Bybel sê: ‘Saul laat Dawid toe sy eie uitrusting aantrek… ‘Ek kan nie hiermee loop nie,’ sê [Dawid]. Daarom het hy die uitrusting uitgetrek. Hy neem toe sy herderstok, soek vyf gladde klippies in die spruit en sit dit in sy slingersak. Met sy slingervel in die hand loop hy die Filistyn tegemoet’ (verse 38-40 NLV).

Dawid moes ‘n keuse maak; een wat sy lotsbestemming sou bepaal. Hy kon die stryd as Saul aanvoer – deur Saul se wapenuitrusting aan te trek, Saul se swaard rond te swaai en Saul se skild vas te hou. Of hy kon die stryd as Dawid betree – ‘n veewagter met ‘n slingervel. Dawid het ‘n uitstekende rede gehad om nie Saul se wapenuitrusting te dra of sy swaard te gebruik nie – hy was nie Saul nie. Dawid het besluit om homself te wees – die Dawid wat God geroep, gesalf en vir die taak toegerus het.

Daar kom in almal se lewe ‘n tyd waar ons dapper genoeg moet wees om Saul se wapenuitrusting uit te trek. Dit verg moed om jouself te wees. Ons word almal as unieke mense gebore, maar te veel van ons eindig as nabootsers van iemand anders op. In plaas daarvan om ons uniekheid en die uniekheid van ander te eerbiedig, word ons te gereeld daardeur geïntimideer. Ons laat vaar ons uniekheid omdat ons wil inpas.

In een van sy bekendste skrywes, Self-Reliance, het Ralph Waldo Emerson geskryf: ‘There is a time in every man’s education when he arrives at the conviction that… imitation is suicide. He must take himself for better, for worse.’ Dis wat Dawid gedoen het en God het vir hom ‘n groot oorwinning gegee. Dit is wat God wil hê jy moet doen.

Sielskos: 2 Kon 1:1-4:17; Luk 13:1-17; Ps 77; Spr 6:29

Leer om te delegeer

2026-03-03
Eksodus 18:18 NLV

Die Bybel sê: “…die volk… het van vroegoggend tot laataand by Moses se tent tou gestaan… Sy skoonpa sê toe vir Moses: ‘Jy hanteer die saak nie reg nie. Jy en die volk sal die pas nie kan volhou nie. Dit is te veel vir jou. Jy kan dit nie alles op jou eie doen nie'” (verse 13. 17-18 NLV).

Jy het dalk al agter op vragmotors die bordjie wat hul vraglimiet aandui, opgemerk. As ‘n vragmotor met sy groot enjin vraglimiete het, maak dit sin dat ons ook limiete sal hê. Moses het sy vraglimiet oorskry. Dit was te veel om van die een kant van die kamp van Israel na die ander te hardloop, vergaderings te skeduleer, sperdatums te haal en almal te woord te staan wat sy raad nodig gehad het. Hy het twee opsies gehad: hy kon ineenstort, of die lading met ander begin deel.

Moses se skoonpa, Jetro, het vir hom gesê om dit wat net hy kan doen vas te stel en dan die res te delegeer. Elke keer as jy voor ‘n taak wat groter lyk as wat jy alleen kan hanteer te staan kom, sê God vir jou: ‘Moenie dit alleen probeer hanteer nie.’ Jetro het egter nie vir Moses gesê om die werk sommer net te laat staan en dit sommer net iemand anders se verantwoordelikheid te maak nie. Dis ‘n resep wat op ‘n ramp afstuur. Nee, om suksesvol te delegeer, moet jy die volgende drie dinge doen:

1) Kry die regte mense.
2) Gee hulle die regte taak.
3) Vertrou hulle om dit reg te doen; moenie heeltyd oor hulle skouer loer nie.

Die woord vir jou vandag is dus – doen wat net jy kan doen, delegeer die res en vertrou op God vir sukses!

Sielskos: 1 Kon 21-22; Luk 12:49-59; Ps 70; Spr 6:26-28

God het ‘n doel vir jou lewe

2026-03-02
Johannes 15:16 NLV

Dit verg nie baie mense om verandering teweeg te bring nie. Trouens, te veel mense kan in die pad van verandering staan. Gideon het 32 000 manskappe geneem om te veg, maar God het slegs 300 nodig gehad. Die waarheid is dat jou lewe ‘n warboel kan wees, omdat te veel mense vir jou sê wat om te doen. Sit die telefoon neer. Maak die deur toe. Skakel die TV af. Gaan kniel voor God en vra Hom om met jou te praat. Hy sal jou die woord gee wat jy nodig het (sien Jesaja 50:4).

God het nie ‘n skare nodig nie; Hy het net een persoon wat sal luister en gehoorsaam is, nodig. As Hy ‘n nasie wil begin, sal Hy vir ‘n Abraham ‘n hoop en ‘n visie gee. As Hy ‘n Egiptiese farao wil omverwerp, sal Hy in die biesies reik en ‘n Moses uittrek. Wanneer Hy ‘n voorgeslag vir sy Seun wil hê, sal Hy ‘n Ragab vind. Hy wil net ‘n gewillige hart hê. ‘Dit is nie julle wat My uitgekies het nie, maar Ek wat julle uitgekies het…’

Ethel Waters, wat gedurende die Billy Graham-veldtogte ‘n sangeres was, was lief daarvoor om te sê: ‘God don’t sponsor no flops.’ Haar sinskonstruksie was dalk effens verkeerd, maar haar teologie was in die kol. Moenie jou lewe bestee deur gewoon te wees nie. Moenie jou lewe in die vorm van iemand anders se verwagtinge giet nie. God het ‘n doel met jou. Die rede waarom Hy jou deur soveel gehelp het, is omdat Hy ‘n hoër plan en doel vir jou lewe het. Kom vandag in sy teenwoordigheid en vra Hom daaroor uit.

Sielskos: 1 Kon 18:16-20:43; Luk 12:35-48; Ps 66:13-20; Spr 6:23-25

Genesing vir ‘n geliefde

2026-03-01
Jakobus 5:16 NLV

As gevolg van die verbintenis met ons geliefdes, kry ons seer wanneer hulle seerkry. Een van die belangrikste dinge wat ons kan doen, is om in gebed vir diegene wat genesing nodig het, in te tree. God kan ons as ‘n agent van genesing gebruik: ‘Daarom moet julle julle sondes teenoor mekaar bely en vir mekaar bid sodat julle gesond kan word. Die gebed van iemand wie se saak met God reg is, het ‘n kragtige werking.’ Ons sien hierdie beginsel dwarsdeur die Bybel.

‘n Romeinse offisier het Jesus gevra om sy slaaf te genees en Christus het hom nie teleurgestel nie (sien Matteus 8:5-7). Vier mense het die dak van ‘n huis oopgebreek om hul siek vriend in Jesus se teenwoordigheid te kry, sodat hy van verlamming genees kon word. Jesus het vir hom gesê: ‘Staan op, tel jou bed op en loop’ (sien Markus 2:1-11). ‘n Besorgde pa het na Jesus gegaan toe sy dogter op die randjie van die dood was. Terwyl Jesus nog op pad was na sy huis, het sy dogtertjie gesterf. Jesus het na haar bed toe gestap en gesê: ‘…’Dogtertjie, staan op!’ Onmiddellik het die dogtertjie op haar voete gekom en begin rondstap – sy was immers al twaalf jaar oud. Haar ouers was absoluut in ekstase’ (Markus 5:41-42 NLV).

Een van die laaste beloftes wat Jesus vir ons gegee het voordat Hy opgevaar het hemel toe, was die volgende: ‘Hierdie is die wondertekens wat dié sal beleef wat glo… Hulle sal siekes die hande oplê, en hulle sal gesond word’ (Markus 16:17-18 NLV). Bely die volgende: ‘As ‘n gelowige in Christus, het ek die gesag om te bid, om hande op die siekes te lê en te sien hoe hulle genees word, want die Gees van God woon in my.’

Sielskos: Gal 5:22-23; 1 Kor 10:13; 2 Tim 1:7; Jak 1:19-20

Wees die meester van jou skuld

2026-02-28
Spreuke 22:7 NLV

Goeie krediet bepaal jou toekomstige koopkrag. Wanneer jy egter skuld misbruik, is jy elke maand angstig wanneer jy jou kredietkaartrekening ontvang wat wys dat jy meer bestee het as wat jy kan bekostig. Wat ook van die onverwagte uitgawes in die lewe? Jou motor benodig ‘n nuwe ratkas, of jy moet ‘n prosedure ondergaan wat nie deur jou mediese versekering gedek word nie. Die dinge wat jy koop kos jou nie net geld nie; daar is ook ander minder tasbare kostes soos jou gemoedsrus en jou gevoel van sekuriteit daaraan verbonde.

Jy verbeur hierdie dinge wanneer jy aanhou om bo jou vermoë te leef en goeie geld agter slegte skuld aan te gooi deur van persoonlike lenings en ander finansieringsopsies gebruik te maak. Jy probeer al die balle in die lug hou deur elke maand die minimum betalings te maak. Uiteindelik word jy egter moeg van al die stres en die balle begin op die grond val. Jy begin geld leen om kop bo water te hou en bestee dan slapelose nagte om te wonder hoe jy met die terugbetalings gaan byhou. Jou verleentheid vererger net die situasie, wanneer jy jou finansiële probleme wegsteek en jouself van die hulp wat jy dringend nodig het, afsny.

Wat is dan die oplossing vir skuld? 1) Identifiseer die emosies wat jou daartoe gelei het om items te koop wat jy nie kan bekostig nie om ‘n naamlose leemte binne-in jou te vul. 2) Leef volgens ‘n begroting. ‘In ‘n wyse mens se huis is altyd kosbare besittings en uitgesoekte olie. ‘n Dwase mens gebruik alles op wat hy in sy huis het’ (Spreuke 21:20 NLV). (3) Ontwikkel ‘n plan om jou skuld af te betaal en skuldvry te bly!

Sielskos: 1 Kon 16:1-18:15; Luk 12:22-34; Ps 66:1-12; Spr 6:20-22