2026-04-26
Jakobus 5:19 DB
Die Bybel sê: ‘Liewe Christene, sê nou een van julle raak die koers byster en iemand sou hom reghelp, wat dan? Wel, iemand wat so ‘n persoon weer op die regte pad help, help hom om nie sy lewe weg te gooi nie’ (vers 19 DB). Dit beteken dat ons ander mense moet help. Dit beteken ook dat ons nooit ons oortuigings eenkant toe moet skuif nie. As ons nie ‘n doelbewuste poging aanwend om naby die waarheid van God se Woord te bly nie, sal ons daarvan afdwaal. Ons leef immers in ‘n wêreld met baie afleidings. Vandag is baie mense op soek na antwoorde en aanvaarding en onderskat dus die belangrikheid van die waarheid soos dit in God se Woord geopenbaar word.
Die apostel Paulus het aan sy opvolger Timoteus geskryf: ‘Jy moet getrou bly aan die dinge wat jy geleer het. Jy weet dit is waar, want jy weet jy kan dié vertrou wat jou geleer het’ (2 Timoteus 3:14 NLV). Hy het ook vir Timoteus aangemoedig: ‘Verkondig die woord van God. Hou daarmee vol, of die tyd geleë is of nie. Jy moet jou mense met geduld reghelp, weerlê en bemoedig met gesonde onderrig. Want daar kom ‘n tyd wanneer mense nie meer na die regte onderrig sal luister nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en leermeesters soek wat net verkondig wat hulle wil hoor. Hulle sal die waarheid verwerp en vreemde mites navolg. Maar jy moet in elke situasie jou teenwoordigheid van gees behou. Moenie bang wees om vir die Here te ly nie… Voltooi die bediening wat God jou gegee het’ (2 Timoteus 4:2-5 NLV).
Die woord vir jou vandag is dus – bly getrou aan die waarheid van God se Woord.
Sielskos: Matt 1:18-21; Luk 2:11; Hand 4:8-12
2026-04-25
Jesaja 48:15 NLV
As leier moet jy verstaan waarmee jy goed is en weet waar jy hulp benodig. Jou sterk- en swakpunte maak jou nie verkeerd of reg nie; hulle maak jou net wie jy is. Min mense behaal op hul eie sukses. Dink aan ‘n akteur in ‘n toneelstuk. Hy is dalk die een wat in die kollig is; met perfekte hare, grimering en kostuum; wat aangrypende woorde voordra en al die applous kry. Hy het die toneelstuk egter nie alleen op die planke gebring nie. Hy moes op die kostuumontwerper vir die uitrusting wat hy dra, die haar- en grimeerkunstenaars wat hom foutloos laat lyk, die dramaturg wat die woorde geskryf het en die beligting- en klankspanne wat die verhoog voorberei, staatmaak. Goeie leiers is wys genoeg om hulself met mense wat sterkpunte het wat hulle s’n aanvul, te omring. Hulle is steeds in beheer, maar hulle het spanne wat hulle help om hul visie te bereik.
Jy is ‘n leier in ‘n sekere area van jou lewe – huis, familie, werk, kerk – en jy weet dat leierskap uitdagings het. Alhoewel daar beslis baie voordele aan die pos verbonde is, moet ‘n leier ook konflik, kontroversie en teenstanders wat dink dat hulle beter weet, hanteer. Dit is deel van die posbeskrywing. Jy kan egter nie toelaat dat ander mense jou daarvan weerhou om jou doelwitte te bereik nie. Nie almal sal jou aanmoedig nie. Dis maar net ‘n feit van die lewe. As jy ‘n effektiewe leier wil wees, moet jy vashou aan jou visie, ‘n wonderlike span bou om jou te help en op God se belofte staan: ‘…Ek het [jou] laat kom. [Jy] sal suksesvol wees in wat [jy] moet doen.’
Sielskos: Hand 20-21; Matt 5:6-12; Ps 144:9-15; Spr 11:12-13
2026-04-24
Job 22:21 NLV
Binne sekondes was Vicky se lewe aan skerwe. As sweefkunstenaar het sy beheer verloor en kop eerste in die veiligheidsnet beland. Sy het haar nek tussen die vyfde en sesde nekwerwels gebreek en was verlam, ‘n kwadrupleeg. Drie jaar na die ongeluk het sy in diepe wanhoop en selfbejammering verval, vasbeslote om haar lewe te neem. Haar poging het misluk en sy het in ‘n psigiatriese hospitaal beland. Op die vierde herdenking van haar ongeluk het sy en haar man geskei en bitterheid het by haar ingetree.
Eendag is ‘n assistent aangestel om Vicky te help en te versorg. Haar naam was Mae Lynne, ‘n ware Christen wat Vicky aan Jesus Christus en die Bybel bekendgestel het. Vicky het begin leer hoe om in haar geloof vas te staan en in gehoorsaamheid aan God te wandel. Daarbenewens het ‘n pastoor haar twee jaar lank getrou van God se Woord geleer.
Vicky het toe ‘n bediening van bemoediging begin deur elke week briewe aan gevangenes en ander mense met gestremdhede, te skryf. Hoe meer vreugde sy vir hulle gebring het, hoe meer vreugde het sy self ervaar. Sy skerts: ‘Kwadrupleë is nie veronderstel om soveel vreugde te hê nie, nè?’ Vicky gebruik steeds ‘n rolstoel, word soms duiselig en het af en toe asemhalingsprobleme. Sy het egter ook ‘n diep innerlike vrede en krag as gevolg van haar verhouding met Jesus.
Jy kan dit ook hê. Job het gesê: ‘Onderwerp jou aan God, dan sal jy vrede hê en sal alles met jou goed gaan. Luister na sy voorskrifte en bêre hulle in jou hart. As jy terugkeer na die Almagtige en jou lewe skoonmaak, sal jy herstel word’ (Job 22:21-23 NLV).
Sielskos: Hand 18-19; Matt 5:1-5; Ps 144:1-8; Spr 11:10-11
2026-04-23
1 Petrus 5:7 NLV
Paulus het geskryf: ‘Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles. Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen. As julle so bid, sal julle God se vrede beleef. Hierdie vrede is wonderliker as wat ‘n mens ooit kan dink…’ (Filippense 4:6-7 NLV). Jesus het gesê: ‘Moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat sal ons tog eet?’ of: ‘Wat sal ons drink?’ of: ‘Wat sal ons aantrek?’ nie. Dit is die ongelowiges wat oor hierdie soort dinge begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. Nee, maak die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is, julle heel eerste prioriteit; dan sal God vir julle al hierdie ander dinge as ‘n bonus byvoeg’ (Matteus 6:31-33 NLV).
Wanneer ons ons gedagtes op ons probleme fokus, ervaar ons angs. Wanneer ons egter ons gedagtes op die beloftes van God fokus, word ons met sy vrede deurdrenk. Laat dus die beloftes van God jou siel van bekommernis en stres genees deur op sy goedheid en bereidwilligheid om namens jou sterk te wees, te fokus. ‘Die Here kyk oor die hele aarde om hulle te help wat met hulle hele hart op Hom vertrou…’ (2 Kronieke 16:9 NLV).
Ons hemelse Vader het ons innig lief en weet reeds alles wat ons nodig het. Bely die volgende: ‘Ek gee nie aan onnodige bekommernis toe nie. Ek bid oor probleme eerder as om daaroor te kla. God verhoor my gebede en ek dank Hom vir alles wat Hy vir my voorsien het. Ek ervaar God se vrede omdat ek weet dat Hy my hoor en reeds my gebede in Christus geantwoord het.’
Sielskos: Hand 16-17; Matt 4:18-25; Ps 7:10-17; Spr 11:7-9
2026-04-22
Jesaja 62:6 NLV
Die remora-vis het ‘n ovaalvormige suigskyf bo-op sy kop wat hy gebruik om aan die onderkant van ‘n haai vas te suig. Sodra die remora aan die haai vas is, hoef hy nie oor kos, vervoer of veiligheid bekommerd te wees nie. Hy voed op die kos wat uit die haai se bek val. Natuurlik het hy die opsie om self te swem, maar wanneer hy besluit om aan die haai vas te suig, moet hy gaan waar die haai gaan. Hy probeer nie om in ‘n ander rigting as die haai te beur nie. Beskerming? Dis nie ‘n probleem vir iemand wat aan so ‘n kragtige wese verbind is nie. Die remora is veilig en weet die haai kan hom na plekke neem waarheen hy nooit alleen sou kon gaan nie.
Klink dit nie na die verhouding wat God begeer sy kinders met Hom moet hê nie? Hy wil hê ons moet op die woorde wat uit sy mond kom, voed. Hy wil hê ons moet saam met Hom gaan waar Hy ons lei en nie op onafhanklike uitstappies met die hoop dat Hy sal saamgaan, gaan nie. Hy wil hê ons moet met die versekering leef dat Hy nie net ons lewe nie, maar ook ons verhoudings en alles anders in ons lewe, sal beskerm.
Was ons maar soos die remora-vis! Dan sou ons daagliks deur gebed aan God verbind wees. Hy wag om ons na plekke te lei waarheen ons te bang is om alleen te gaan. Die profeet Jesaja het die Joodse leiers vermaan: ‘…Julle wat die Here herinner aan sy beloftes, moenie rus nie.’ Die woord vir jou vandag is dus – gebed is jou skakel met God.
Sielskos: Hand 14-15; Matt 4:8-17; Ps 7:1-9; Spr 11:3-6
2026-04-21
Miga 7:18 NLV
God het ‘n merkwaardige geheue. Die Alwetende Een weet nie net alles nie; Hy onthou ook alles. Trouens, Hy onthou dit nog voordat dit gebeur het! Elke oomblik van jou lewe is in God se gedagtes bepaal nog voordat dit ‘n herinnering geword het – elke lag, elke droom en elke opoffering. Die Psalmdigter het geskryf: ‘U het my gesien voor ek gebore is. In u boek is alles opgeteken; elke dag is bepaal voordat een van hulle daar was’ (Psalm 139:16 NLV).
Daar is net een ding wat God kan en sal vergeet: sonde wat bely is. Dus, wanneer jy sonde bely wat jy reeds bely het, herinner jy God aan iets wat Hy reeds vergeet het (sien Jesaja 43:25). Die rede waarom ons dit weer ophaal, is dat alhoewel ons vergewe is, ons nie vergewe voel nie. Wat is dus die antwoord? Moenie jou gevoelens ‘n stem gee nie, anders sal hulle jou mislei. Staan in geloof en glo wat God in sy Woord sê. ‘Ek sal hulle rein maak van die sonde wat hulle teen My gedoen het. Hulle het verkeerd gedoen en was opstandig teenoor My, maar Ek sal hulle daarvoor vergewe’ (Jeremia 33:8 NLV).
Die apostel Johannes het dit so gestel: ‘As ons egter ons sondes bely, Hy is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van elke verkeerde optrede’ (1 Johannes 1:9 NLV). Miskien het jy met verslawing gesukkel, of jou huwelik het in ‘n egskeiding geëindig, of jy is in die tronk vir ‘n misdaad wat jy gepleeg het. Wat staan jou te doen? Bekeer jou, bely jou sonde, ontvang God se genade en begin vry van skuldgevoelens en veroordeling leef.
Sielskos: Hand 12-13; Matt 4:1-7; Ps 16; Spr 11:1-2