‘n Tong wat deur die Gees beheer word (2)

2026-05-02
Jakobus 3:6 NLV

Die Bybel sê: ‘…’n Klein vuurtjie kan ‘n groot bos aan die brand steek. Die tong is ook ‘n vuur…’ (verse 5-6 NLV). Mense wat in ‘n warm klimaat woon, ken die gevaar van verwoestende bosbrande wat deur woestynwinde aangedryf word. ‘n Enkele vonk van ‘n vuurhoutjie het al baie verwoestende brande begin. Hierdie soort vuur versprei vinniger en verder as wat ons ooit kan dink, vernietig huise en besighede ter waarde van miljoene rande en laat ‘n verskroeide landskap en verwoeste lewens agter.

Hoeveel reputasies is al deur so ‘n sorgelose woord verwoes? Die impak van ons woorde versprei wyd en vinnig, veral in hierdie digitale era waarin ons leef. ‘n Woord wat getwiet word, kan binne sekondes oor die hele wêreld hertwiet word. Soos ‘n vuur, kan daardie woord buite beheer raak en onherstelbare skade aanrig. Daarom het Jakobus geskryf: ‘…geen mens kan die tong tem nie’ (vers 8 NLV).

God kan dit egter doen. ‘Maar as die Gees ons lewe beheer, is die gevolg… selfbeheersing…’ (Galasiërs 5:22-23 NLV). Die Heilige Gees kan ‘n tong wat skinderstories versprei in een wat God verheerlik, verander. Hy kan ‘n tong wat bitterheid spoeg neem en dit in een wat seën spreek, verander.

Om te skinder is om iets agter iemand se rug te sê wat jy nooit in daardie persoon se gesig sou sê nie. Om te vlei is om iets in iemand se gesig te sê wat jy nooit agter daardie persoon se rug sou sê nie. Albei is egter verkeerd. Laat ons dus saam met die Psalmdigter bid: ‘Mag die woorde van my mond… vir U aanneemlik wees…’ (Psalm 19:15 NLV).

Sielskos: Deut 5-7; Matt 6:19-34; Ps 37:8-15; Spr 11:27-29

‘n Tong wat deur die Gees beheer word (1)

2026-05-01
Jakobus 3:2 NLV

Die Bybel sê: ‘Ons maak almal baie foute. Maar ‘n mens wat sy tong in toom kan jou, kan dit ook met sy hele liggaam regkry. Net met ‘n stang in sy bek kan ons ‘n hele perd draai en laat koers kry waarheen ons wil’ (verse 2-3 NLV). As jy al ooit ‘n perd opgesaal het, weet jy dat die toom wat oor die perd se kop gepas word, ‘n stang het wat in sy bek gaan en bo-op sy tong lê. Wanneer die ruiter wil hê die perd moet stop, trek hy die teuels terug en die stang druk die perd se tong af. Die ruiter wat die perd se tong beheer, kan eintlik die perd se hele liggaam beheer – hom na regs of links stuur en dit tot stilstand, met ‘n eenvoudige trek aan die teuels, bring.

Net so moet jou tong onder die beheer van die Heilige Gees wees. Hoe hard jy ook al probeer, jy kan nie jou tong deur jou eie inspanning beheer nie. Het jy al dinge gesê wat jy wens jy kon terugneem? Het jy al probleme vir jouself en ander veroorsaak deur die dinge wat jy gesê het? Het jy al dinge gesê wat jy, as jy daarop terugkyk, nie kan glo dat dit uit jou mond gekom het nie?

Die probleem is dat wat jy sê nie in jou mond ontstaan nie, maar in jou hart: ‘…Waar die hart van vol is, loop die mond van oor’ (Matteus 12:34 NLV). Jy moet dus met die Gees vervul wees en ‘n hart hê wat daartoe verbind is om God se wil in elke omstandigheid te doen, om ‘n tong te hê wat deur die Gees beheer word.

Sielskos: Deut 3-4; Matt 6:1-18; Ps 37:1-7; Spr 11:24-26

Ten volle betaal

2026-04-30
Matteus 18:21 ABA

Daar is ‘n gesegde in bofbal wat lui: ‘Three strikes and you’re out!’ Ons is geneig om die lewe op dieselfde manier te speel. Ons gee mense twee of drie kanse, maar niks meer nie. God gee egter nooit moed op met ons nie. Dit is nie in sy aard nie. Toe Petrus vir Jesus gevra het hoeveel keer hy sy medegelowiges moes vergewe, het Jesus die goue standaard gestel. ‘…Ek sê vir jou: Jy moet hom nie net sewe maal vergewe nie, maar sewentig maal sewe maal’ (vers 22 ABA).

Jesus vertel dan die gelykenis van ‘n koning wat sy dienaar se skuld van tienduisend talente kwytgeskeld het. Een talent het altesaam 180 maande se lone beloop – dis vyftien jaar se lone! En dis net vir een talent. ‘n Skuld van 10 000 talente sou dus altesaam 150 000 jaar se lone beloop. Met vandag se gemiddelde lewensverwagting sou dit sy dienaar 2 232 leeftye geneem het om die skuld af te betaal. Natuurlik was die gemiddelde lewensverwagting in die eerste eeu minder as die helfte van wat dit nou is, so dit sou twee keer soveel leeftye geneem het om die skuld af te betaal.

Kom ons sit nou hierdie skuld in rande om. Deur ‘n minimumloon van R28.79 te gebruik, kan ons aanneem dat ‘n gemiddelde persoon Maandag tot Vrydag, van nege tot vyf werk. Dis ‘n jaarlikse inkomste van R67 638.60. Dit lyk dalk nie na veel nie, maar as jy dit met 150,000 jaar vermenigvuldig, is dit altesaam R10,105,290,000 (drie kommas beteken miljarde).

Die wonderlike waarheid is dat op grond van wat Christus aan die kruis bereik het, is jou sondeskuld – verlede, hede en toekoms – ten volle betaal. Dis ‘n waarheid waarin jy vertroue kan hê en waarop jy kan staan.

Sielskos: Deut 1-2; Matt 5:38-48; Ps 2; Spr 11:22-23

Vertrou op God, nie op jouself nie

2026-04-29
2 Korintiërs 1:9 ABA

‘n Groep mans het op ‘n sendingreis na Haïti gegaan waar hulle ‘n negentienjarige jongman ontmoet het wat Christus diep liefgehad het. Hulle het hom genooi om hulle in Amerika te besoek en vir sy reis betaal. Die jong Haïtiaan het gevoel asof hy in ‘n ander wêreld beland het. Hy het nog nooit tussen lakens geslaap, drie maaltye per dag gehad, binnenshuise loodgieterswerk gebruik of ‘n hamburger geproe nie. Toe dit tyd was om na Haïti terug te keer, het hulle hom oor sy indrukke en alles wat hy ervaar het, uitgevra. Hy het geantwoord: ‘Ek het my tyd hier saam met julle baie geniet. Maar ek is ook baie bly om huis toe te gaan. Julle het soveel luukshede in Amerika dat ek my greep op my daaglikse afhanklikheid van Christus begin verloor het.’

Paulus vertel van ‘n tyd van swaarkry in die provinsie Asië waarin hy begin moed verloor en oorweldig gevoel het (sien 2 Korintiërs 1:8). Hy skryf egter verder: ‘…Ons kon onsself nie meer help nie. Ons kon net vertrou op God…’ (vers 9 ABA). God wil jou ook op daardie plek bring. Ja, Hy wil hê dat jy die gawes en hulpbronne wat Hy voorsien het moet gebruik, maar sy begeerte is dat jy ten volle op Hom sal staatmaak. Slegs dan kan Hy alles voorsien wat Hy begeer om vir jou te gee, want dan sal jy ontvanklik, gereed en volwasse genoeg wees om dit te ontvang.

‘Vertrou op die Here met alles wat jy het. Moenie staatmaak op jou eie insigte nie. Vra na die wil van God in alles wat jy doen. Hy sal die regte pad vir jou wys. Moenie jouself oorskat nie. Hou eerder die Here voor oë en vermy wat sleg is’ (Spreuke 3:5-7 NLV).

Sielskos: Hand 27-28; Matt 5:27-37; Ps 35; Spr 11:19-21

Oorkom afguns

2026-04-28
Spreuke 27:4 NLV

Afguns is ‘n wrok teenoor diegene wat iets besit wat jy wil hê. Jaloesie sê: ‘Ek is bang jy gaan neem wat ek het.’ Afguns sê: ‘Ek wil hê wat jy het en ek neem jou kwalik omdat jy dit het!’ Afguns is een van die mees versteekte emosies. Jy is meer geneig om ‘n onbeheerbare humeur, ‘n fobie of enige ander negatiewe emosie te erken, as om te erken dat jy afgunstig is.

Afguns lei onvermydelik tot ‘n wrok en kritiek teenoor die persoon wat jy beny. Sodra jy toelaat dat afguns en wrokkigheid jou hart binnedring, begin dit emosionele kanker word. Uiteindelik sal dit op ‘n vernietigende manier manifesteer, soos om dwelms te neem wat jou bui verander, te veel te eet, oormatige inkopies te doen, woedeuitbarstings, om sarkasties te wees of ander mense fisies leed aan te doen.

As jy afguns teenoor iemand koester, is dit tyd om dit te hanteer. Dawid het geskryf: ‘Maar U verwag waarheid uit die hart. Diep in my binneste maak U u wysheid bekend. Neem weg my sonde met hisop sodat ek skoon kan wees, was my dat ek witter as sneeu kan wees’ (Psalm 51:8-9 NLV). As jy iets wat iemand anders het begeer, vra jouself af: ‘Is ek bereid om dieselfde prys te betaal as wat hulle betaal het om dit te verkry?’

Daar is ‘n gesegde: ‘Daar is nie so iets soos ‘n gratis middagete nie.’ Alles – behalwe verlossing – het ‘n prys. Dus, of jy nou maer, ryk, geleerd of wat ook al wil wees, hou op om afgunstig op ander mense se sukses te wees en vra God om jou te help om te slaag in die opdrag wat Hy jou vir jou lewe gegee het.

Sielskos: Hand 24-26; Matt 5:21-26; Ps 94:12-23; Spr 11:16-18

Leer om na God te luister

2026-04-27
1 Samuel 3:10-11 NLV

As jy ernstig daaroor is om ‘n werklik interaktiewe verhouding met die Here, waarin julle met mekaar praat en van mekaar hoor, te hê, sal jy kwaliteit, ononderbroke tyd met Hom moet bestee om jou hart vir Hom oop te maak. Toe Samuel uiteindelik gebid het: ‘Ja, Here, u dienaar luister,’ sê die Bybel dat die Here vir Samuel geantwoord het. Dikwels is ons gebed eerder: ‘Luister, Here, want u dienaar spreek.’

Om na God te luister kan ‘n verskeidenheid praktyke behels: om sy Woord te lees, tyd alleen en in stilte in sy teenwoordigheid deur te bring en van God te hoor, net soos ‘n ervare vriend wat jy vertrou. Hier is ‘n voorbeeld daarvan: “Toe hulle buite die dorp kom, sê Samuel vir hom: ‘Gee die jong man opdrag om vooruit te loop, maar jy moet hier bly staan, want ek het ‘n boodskap van God vir jou'” (1 Samuel 9:27 NLV).

Een van die effektiefste maniere om van God te hoor, is deur oor sy Woord te mediteer. Jy sê: ‘Maar ek weet nie hoe om te mediteer nie.’ As jy weet hoe om jou te bekommer, weet jy hoe om te mediteer. In beide bekommernis en meditasie word jou gedagtes en fokus op ‘n sekere ding geplaas. Wanneer jy oor God se Woord mediteer, fokus jy jou gedagtes op die regte ding! God het vir Josua gesê: ‘Hou hierdie wetboek altyd by jou. Dink dag en nag daaroor na sodat jy alles kan doen wat daarin geskryf is. Jy sal dan sukses behaal op jou pad. Jy sal voorspoedig wees’ (Josua 1:8 NLV).

Sielskos: Hand 22-23; Matt 5:13-20; Ps 94:1-11; Spr 11:14-15