2022-01-13
Psalm 78:4 NLV
‘n Nalatenskap, goed of sleg, is iets wat een persoon aan ‘n ander persoon agterlaat. Ek hoop dat God, met tyd, jou seerkry genees het en dat jy aanbeweeg het, maar wat laat jy na? Die harde woorde wat jy gespreek het was dalk toe van pas, maar nou sien jy dinge duideliker. Dis wonderlik wanneer jy van wrokkigheid tot vergifnis kan beweeg – maar het jy wonde wat nog nie gesond geword het nie, agtergelaat?
Jakobus skryf: ‘…wees altyd gou om te luister, nie te gou om te praat nie, en nie te gou om kwaad te word nie. As jy kwaad is, kan jy nie doen wat God wil hê nie’ (Jakobus 1:19-20 NLV). Jou woorde kan blywende skade aanrig en jy behoort daaroor besorg te wees. Paulus skryf: ‘Wees baie versigtig dat niemand van julle uitsak en God se onverdiende goedheid verspeel nie. Moenie dat daar onder julle ‘n giftige loot opskiet wat moeilikheid veroorsaak en baie aansteek nie’ (Hebreërs 12:15 NLV).
Het jy sade geplant wat veroorsaak het dat ‘n giftige loot in iemand anders se hart opskiet? Indien moontlik, moet jy vrede maak deur vergifnis te vra en die saak te probeer regstel. Jesus het gesê: ‘As jy dus jou offer na die altaar toe bring en dit val jou daar by dat jou medemens ‘n grief teen jou koester, los jou offer net daar voor die altaar en gaan maak eers vrede met daardie persoon. Kom dan terug en bring jou offer’ (Matteus 5:23-24 NLV). Dr Dale Turner skryf: ‘Dis die hoogste vorm van selfrespek wanneer ons ons foute erken en dit regstel. ‘n Fout is net ‘n oordeelsfout, maar om daarby vas te staan wanneer dit as ‘n fout ontbloot word, toon ‘n swakheid van karakter.’
Sielskos: Gen 28:1-30:24; Luk 2:34-40; Ps 74:1-11; Spr 2:6
2022-01-12
Romeine 1:21 NLV
Die fisikus en Nobelpryswenner, Arno Penzias, het die wonderlike ontwerp van ons heelal as volg probeer beskryf: ‘Sterrekunde lei ons tot ‘n unieke gebeurtenis. ‘n Heelal wat uit niks geskep is nie, een met ‘n baie fyn balans wat nodig is om die presiese toestand te voorsien om lewe te kan toelaat. In die afwesigheid van ‘n absurde, onwaarskynlike ongeluk, dui die waarnemings van moderne wetenskap op ‘n onderliggende plan, een wat mens selfs ‘n bonatuurlike plan kan noem.’
Die Harvard bioloog, Stephen Jay Gould, beskryf mense as “‘n glorieryke ongeluk” van evolusie, wat sestig triljoen voorwaardelike gebeurtenisse benodig om te kon ontstaan het. Kosmoloë skat dat die aarde 4,55 miljard jaar oud is. Dus, om hierdie sestig triljoen gebeurtenisse te bereik, sou daar meer as ses en dertig noodsaaklike gebeure per dag vir 4,55 miljard jaar nodig gewees het – net sodat Homo sapiens kan ontstaan. Elkeen van hierdie ses en dertig nuwe daaglikse gebeure sou ook op die regte plek, op die regte tyd en in die regte volgorde moes plaasvind. En dit hou nie rekening met die astronomiese aantal ‘ongelukke’ wat nodig is om honderdduisende individuele ekosisteme te vorm nie. Een individu stel dit so: ‘Jy sou ‘n beter kans hê om te sterf terwyl jy deur weerlig getref word op die oomblik dat jy die Powerball-lotto wen, terwyl jy in ‘n vliegtuig wat deur ‘n meteoor getref is, vlieg.’
Dr Francis Collins, direkteur van die Menslike Genoom projek en self ‘n gelowige, beskryf die verkenning van die natuur as “‘n manier om ‘n blik op God se gedagtes te kry”, en merk op: ‘Alle waarheid is God se waarheid en daarom kan God nie deur wetenskaplike ontdekkings bedreig word nie.’ God bestaan en wanneer jy na sy hulp uitreik, sal jy dit ontvang.
Sielskos: Gen 25:19-27:46; Luk 2:21-33; Ps 71:17-24; Spr 2:3-5
2022-01-11
Romeine 1:20 NLV
‘n Ou gesegde lui: ‘Daar is geeneen so blind as die een wat nie wil sien nie!’ Richard Dawkins, die bekende ateïs, het gesê: ‘Dit is heeltemal veilig om te sê dat, indien jy iemand ontmoet wat nie in ewolusie glo nie, dat daardie persoon onkundig, dom of waansinnig is.’ Die waarheid is egter dat die grootste wetenskaplike denkers in die verlede – briljante mense wat sleuteldissiplines van die wetenskap gevestig en ontwikkel het – geglo het dat God die aarde geskep het. Byvoorbeeld: 1) Fisika: Newton, Faraday, Maxwell, Kelvin. 2) Chemie: Boyle, Dalton, Pascal, Ramsay. 3) Biologie: Ray, Pasteur, Mendel, Linnaeus. 4) Geologie: Steno, Woodward, Brewster, Agassiz. 5) Sterrekunde: Kepler, Galileo, Herschel, Maunder.
Was hierdie mense ‘onkundig, dom of waansinnig’? Sir Isaac Newton het daarin geslaag om die samestelling van lig te ontdek, die wette van beweging af te lei, calculus uit te vind, die spoed van klank te bereken en universele swaartekrag te definieer – terwyl hy geglo het dat ons heelal ‘slegs uit die raad en heerskappy van ‘n intelligente en kragtige Wese, kon voortkom.’ In ‘n 2007 Newsweek opname, het 78 persent van die deelnemers die skepping aan God toegeskryf, terwyl net 13 persent in ‘n naturalistiese ewolusie geglo het. Moenie deur ongelowiges geïntimideer word nie. Wees ferm!
Die Bybel sê: ‘In hulle harte het hulle immers ‘n duidelike besef van God, want God het dit aan hulle bekend gemaak. Want al is God onsigbaar, kan hulle sy ewige krag en sy Goddelikheid reeds van die skepping van die wêreld af duidelik uit sy handewerk waarneem. Daarom kan hulle hulleself hoegenaamd nie verontskuldig nie’ (verse 19-20 NLV). Ja, daar is ‘n God – en Hy wil hê dat jy Hom op ‘n persoonlike vlak leer ken.
Sielskos: Gen 24:1-25:18; Luk 2:8-20; Ps 71:1-16; Spr 2:1-2
2022-01-10
Hebreërs 3:4 NLV
Verbeel jouself dat ‘n menslike skedel wat met gate en openinge op presies die regte plekke ontwikkel het. ‘Dan,’ soos een outeur skryf, ‘het die brein wat aan twee oë, twee ore, een neus, vel, bloed, senuwees, mond, tande, tong, speekselkliere en smaakknoppies gekoppel is, per ongeluk ontstaan. Hierdie brein wat per ongeluk ontstaan het, is dan ook aan ‘n nek en ‘n liggaam met ‘n hart, lewer, niere en longe gekoppel, by mans sowel as vrouens, wat oor komplekse, aanvullende voortplantingstelsels beskik – en iets soortgelyks het dwarsdeur die hele diereryk plaasgevind.’
Ateïste beweer dat iets uit niks kan ontstaan en gegewe genoeg tyd, kan ingewikkelde stelsels toevallig deur willekeurige, onbegeleide ontwikkelings gebou word. Dit maak nie sin nie. Die Bybel sê: ‘Want elke huis het ‘n bouer, maar God is die meesterbouer van alles’ (vers 4 NLV). As die eerste man op die maan daar op ‘n Coca-Cola blikkie afgekom het, sou dit sin gemaak het om aan te neem dat die blikkie oor miljoene jare daar ontwikkel het? Of sou dit slegs aangedui het dat iemand anders voor hom op die maan was? Dink hoe eenvoudig die ontwerp van ‘n Coca-Cola blikkie teenoor jou ontwerp is.
‘Maar glo die intelligentste mense, soos groot wetenskaplikes, dan nie dat God nie die wêreld geskep het nie?’ vra jy. Nee! Albert Einstein, moontlik die wêreld se grootste wetenskaplike, het gesê: ‘Hoe dieper jy die natuur se geheime binnedring, hoe groter word jou respek vir God.’ Sir Isaac Newton het ook gesê: ‘Die mooiste stelsel van die son, planete en komete kon slegs uit die raad en heerskappy van ‘n intelligente en kragtige Wese, voortgekom het.’
Ja, daar is ‘n God en eendag sal jy voor Hom staan. Is jy gereed daarvoor? Indien nie, kan jy wees, deur vandag jou vertroue in God te plaas.
Sielskos: Gen 20-23; Luk 2:1-7; Ps 46; Spr 1:32-33
2022-01-09
Handelinge 14:17 NLV
Glo jy dat daar ‘n God is wat alle dinge, insluitend vir jou, gemaak het? Ja? Dan is jy geseënd. Aan die ander kant, as jy nie in God glo nie, probeer om ‘n oog, ‘n oor of ‘n brein uit niks te maak. Of probeer om ‘n blom te skep wat nektar produseer wat deur bye (wat jy gemaak het) ingesamel kan word, en laat hulle dan hierdie nektar in heuning omskep vir jou om te eet.
Jy asem lewensnoodsaaklike suurstof in wat deur bome vrygestel word en asem dan koolstofdioksied uit wat die bome nodig het om te oorleef. Briljant, nie waar nie? Miskien is dit hoekom die meerderheid mense in ‘n Newsweek opname aangedui het dat hulle in God glo. Wat dan van die klein 3 tot 5 persent wat beweer dat hulle ateïste is? Is hulle net slimmer as die res van ons, of kyk hulle sekere voor die hand liggende bewyse mis?
‘n Ateïs word gedefinieer as iemand wat nie in God glo nie. Omdat dit egter onmoontlik is om wetenskaplik te bewys dat iets nie bestaan nie, kan ateïste nie vir seker weet dat daar nie ‘n God is nie. Hulle siening word slegs op die gebrek aan bewyse gebaseer. Die Bybel sê: ‘maar tog het Hy duidelike getuienis gegee dat dit Hy is wat die goeie dinge gee: Hy het vir julle reën gegee van die hemel af, en oeste op hulle tyd; Hy het julle volop kos gegee en in julle harte volop vreugde’ (vers 17 NLV).
Die ‘bewyse’ is reg rondom ons. God se bestaan kan bewys word. Jy kan ook ‘n persoonlike verhouding met Hom hê!
Sielskos: 1 Sam 3:1-11; Hand 9:1-9
2022-01-08
Matteus 22:37 NLV
Toe ‘n Fariseër vir Jesus vra wat die grootste gebod is, het Hy geantwoord dat hy God, ander mense en homself moet liefhê (sien verse 37-39 NLV). Let op dat Hy gesê het: ‘…Jy moet… liefhê…’ Dit sê baie van die ware aard en optrede van liefde. As liefde beveel kan word, dan kan dit nie net emosioneel of ‘n saak van gevoelens wees nie. Ware liefde is baie meer as gevoelens; dis ‘n saak van jou wil. Dis hoekom Jesus ons beveel om dit uit te druk.
Alhoewel gevoelens belangrik is, funksioneer ware liefde ongeag hoe jy voel. Mark Sanborn skryf in sy boek, The Fred Factor, die volgende: ‘Ek het lank gelede geleer dat om van mense te hou en vir hulle lief te wees, twee verskillende dinge is. Om van iemand te hou is ‘n emosionele reaksie – dis ‘n gevoel. Die probleem is dat ons nie ons emosies kan beheer nie. Ons kan beheer hoe ons daardie emosies uitdruk, maar nie die gevoel self nie. ‘n Persoon kan byvoorbeeld kwaad word, maar steeds kies om liefdevol op te tree. Miskien is dit een rede hoekom Jesus nie gesê het: ‘Hou van julle vyande,’ nie. Hy het geweet dat om van iemand te hou of nie van daardie persoon te hou nie, nie altyd binne ons onmiddellike beheer is nie. Ek het geleer dat liefde, onder andere, ‘n aksie is. Ek kan vir iemand van wie ek nie noodwendig hou nie, lief wees. Ek kan op ‘n sekere manier iets vir daardie persoon doen of teenoor hom optree, selfs al geniet ek dit nie baie nie.’
Hier is egter die merkwaardige: Wanneer jy liefdevol teenoor ‘n ander persoon optree, begin jou emosies in lyn met jou aksies beweeg. Toe, probeer dit en kyk wat gebeur!
Sielskos: Gen 17-19; Luk 1:67-80; Ps 42:6-11; Spr 1:28-31