2022-01-19
Esegiël 36:26 NLV
Cyprianus, ‘n welgestelde edelman wat tydens die Derde Eeu geleef het, het dit geniet om in die antieke stad van Carthago met sy versierde wa rond te galop. Hy het ontwerpersklere, wat met diamante en edelestene versier was gedra en ‘n losbandige lewe gelei. In ‘n brief aan een van die Christelike teoloë van sy tyd, het Cyprianus gesê dat hy hom nie kon indink hoe hy sy lewe kon verander nie – die lewe wat hy al so lank gelei het. Die ingeburgerde gewoontes, smake en begeertes wat hy ontwikkel het, die sondes wat hy aan sy boesem vasgehou het, hoe sou hy ooit hierdie dinge kon prysgee? Hoe sou hy ooit soos die Christene wat hy teëgekom het kon word? Hy het gesê dat dit vir hom soos ‘n gans en al onmoontlike verandering lyk.
Maar, in die geheimsinnige voorsienigheid en genade van God, het dit wat heeltemal onmoontlik gelyk het, plaasgevind en Cyprianus het verander. God het afwaarts gereik en die kliphart uit Cyprianus se bors geneem en dit met ‘n hart van vlees vervang – ‘n hart wat daarop ingestel was om vir God lief te wees en Hom te loof. Cyprianus, wat later een van die grootste Christelike leiers van die vroeë kerk geword het, het gesê dat dinge wat heeltemal onmoontlik, geheimsinnig en moeilik verstaanbaar gelyk het, eenvoudig geword het. Al sy probleme het verdwyn.
Jy sê: ‘Maar ek verstaan nie die wedergeboorte nie.’ Die goeie nuus is dat jy dit nie hoef te verstaan nie. Jy moet Christus net vertrou en nuut gebore word. Alle tipes mense – die groot en magtige, die edele en die onedele, die woeste en die gesofistikeerde – het al die vernuwende krag van God ervaar en ‘n nuwe lewe in Christus geniet. Jy kan ook.
Sielskos: Gen 40-41; Luk 4:1-13; Ps 89:1-14; Spr 2:20
2022-01-18
Spreuke 13:18 NLV
Wanneer iemand jou teregwys, moet jy onderrigbaar, nie onbereikbaar wees nie. ‘…wees altyd gou om te luister, nie te gou om te praat nie, en nie te gou om kwaad te word nie’ (Jakobus 1:19 NLV). As jy die eerste twee dinge doen, sal die derde vanself in plek val. As jy gou is om te luister en stadig is om te antwoord, gaan jy stadig wees om jou humeur te verloor. ‘…Hy wat ‘n teregwysing ter harte neem, ontvang eer.’ Gebruik dus jou ore meer as jou mond en wees gewillig om teregwysing te aanvaar.
Die wysste mense is gewillig om by ander mense te leer. Jy kan by enigiemand leer, as jy weet wat die regte vrae is om te vra. Dis belangrik dat jy nooit ophou vrae vra nie, want die oomblik wat jy ophou om in die lewe te leer, is dit klaar met jou! Wees onderrigbaar en nie onbereikbaar nie.
Man, kan jy van jou vrou leer, of is dit vir jou ‘n bedreiging? Wanneer sy ‘n voorstel maak, raak jy verdedigend? Neem jy elke opmerking as ‘n bedreiging tot jou manlikheid op? Vrou, kan jy by jou man leer? Ouer, kan jy by jou kinders leer? As jy met ‘n eensame lewe wil opeindig, moet jy nooit jou foute erken, nooit van ander mense leer en nooit toelaat dat enigiemand jou iets leer nie.
Hoeveel tyd het verbygegaan vandat jy laas teenoor jy eggenoot erken het: ‘Liefie, ek was verkeerd; dit was my fout’? Sommige mense het dit jare laas gesê. Die Bybel sê: ‘…aanvaar nederig die woord wat God in julle geplant het…’ (Jakobus 1:21 NLV). Wanneer jy God se Woord benader, moet jy dit met ‘n sagmoedige, nederige houding doen wat sê: ‘Here, ek is gewillig om onderrig te word.’
Sielskos: Gen 37-39; Luk 3:21-38; Ps 84; Spr 2:16-19
2022-01-17
Spreuke 15:1 NLV
Wanneer iemand nie met jou saamstem nie, wees sagmoedig, sonder om die aftog te blaas. Jy sal nooit almal kan behaag nie. Jy sal altyd mense ontmoet wat daarvan hou om te stry en te baklei. Sommige mense sal alles wat jy sê, weerspreek. Hoe moet jy teenoor hulle reageer?
Een van die toetse van geestelike volwassenheid, is hoe jy mense hanteer wat van jou verskil. Sommige mense het die behoefte om enigeen wat van hulle verskil, te vernietig. Wanneer jy hulle uitdaag of ‘n klagte of kritiek teenoor hulle het, reageer hulle met ‘n volskaalse persoonlike aanval. Wat doen jy dan? Jy het drie opsies:
1) Jy kan in vrees die aftog blaas. Baie mense volg hierdie roete omdat hulle nog nie die vaardigheid ontwikkel het om in sagmoedigheid te reageer nie.
2) Jy kan met woede reageer. Woede is dikwels ‘n teken dat jy onseker is en bedreig deur iemand se afkeur voel. Dis ‘n waarskuwingslig dat jy op die punt is om iets te verloor – dikwels jou selfbeeld. Wanneer ons dus kwaad word, raak ons dikwels sarkasties en val die ander persoon se selfwaarde aan.
3) Jy kan met sagmoedigheid reageer. “‘n Vriendelike antwoord kalmeer gemoedere, ‘n dwars antwoord laat woede opspring.” Dis die tipe reaksie wat ‘n fyn balans handhaaf tussen jou reg tot ‘n opinie, terwyl jy in dieselfde mate die ander persoon se reg tot sy of haar opinie respekteer.
Dit verg dat jy sagmoedig is sonder om jou oortuigings prys te gee. Soms moet jy by jou oortuigings staan. Daar is egter ander kere wat jy die volgende vraag sal moet vra: ‘Is ons verhouding belangriker as die punt wat ek probeer bewys?’
Sielskos: Gen 35-36; Luk 3:11-20; Ps 81; Spr 2:11-15
2022-01-16
Romeine 14:1 AFR83
Wanneer iemand jou ontstel of teleurstel, verwag God van jou om genadig, eerder as veroordelend, teenoor hulle te wees. Die Bybel sê: ‘…wanneer iemand iets doen wat verkeerd is, moet julle wat deur die Gees gelei word, daardie persoon nederig reghelp. Wees baie versigtig dat jy nie ook versoek word nie’ (Galasiërs 6:1 NLV). Hoe sal jy versoek word? Deur in die versoeking te kom om veroordelend of hoogheilig op te tree. Dis die verkeerde reaksie.
In plaas daarvan om hulle foute te kritiseer, is jy veronderstel om hulle geloof te help versterk. Die oomblik wat jy begin om ander mense te veroordeel, stel jy jouself oop vir Satan se aanval op jou eie areas van swakheid. Wat is jou reaksie wanneer mense ‘n gemors van hulle lewens maak? Sê jy: ‘Ek het jou mos gesê!’ of ‘Ek kon dit voorsien het,’ of ‘Dis jou verdiende loon,’ of ‘Hoe kon jy so dom gewees het?’
Jesus het dit nie gedoen nie! Sy reaksie teenoor die vrou wat owerspel gepleeg het, was vol medelye en sensitiwiteit. Hy het haar in die openbaar verdedig en haar toe privaat herstel. Hy was genadig, nie veroordelend nie. Hoekom moet jy daaraan werk om nie veroordelend te wees nie? Omdat dit die manier is waarop Christus jou behandel het. ‘Aanvaar mekaar dan, soos Christus julle ook aanvaar het. So sal julle God verheerlik’ (Romeine 15:7 NLV).
As God jou teenstrydighede en swakhede kan verdra, kan jy leer om ander mense se tekortkominge te verdra. Wanneer jy in die versoeking kom om iemand anders te oordeel, wag en probeer onthou hoe baie God jou al vergewe het. Hoe meer jy God se genade aan jou onthou, hoe genadiger sal jy teenoor ander mense wees.
Sielskos: Rig 16:23-31; 2 Kor 12:3-11
2022-01-15
Filippense 4:5 DB
Die Griekse woord wat vir sagmoedigheid gebruik word, beteken ‘krag onder beheer.’ Die enigste twee mense in die Bybel wat sagmoedig genoem word – Moses en Jesus – was beide sterk. Om sagmoedig te wees beteken dat jy jou reaksies in toom hou. Dis om jou reaksie op mense te kies, eerder as om bloot op hulle te reageer. Kom ons kyk vir die volgende paar dae wat dit beteken om sagmoedig te wees.
Wanneer iemand jou bedien, wees bedagsaam en nie veeleisend nie. Paulus skryf: ‘Julle moenie net elkeen na sy eie belange omsien nie, maar ook na mekaar se belange’ (Filippense 2:4 NLV). Hoe behandel jy kelners, klerke, administratiewe assistente, werknemers, banktellers, polisie offisiere en ander mense wat jou bedien? Is jy ongeskik en moeiliik? Is jy afsydig en onpersoonlik, asof hulle net deel van die agtergrond is? Besef jy dat hulle dalk ook ‘n moeilike dag kan hê, of dink jy net aan jouself? Die eerste manier waarop jy sagmoedigheid ontwikkel, is deur te probeer om die mense wat jou bedien, te verstaan.
Die eerste plek waar jy sagmoedig moet wees, is by die huis. Die Bybel sê: ‘…Hoe mooi is dit nie as ‘n vrou sag en vriendelik optree nie!..’ (1 Petrus 3:4 DB). Petrus bedoel eenvoudig dat sagmoedigheid baie aantrekliker as enige klere of juwele wat jy kies om aan te trek, is. Die Bybel sê ook: ‘…Jy moet altyd mooi optree teenoor jou vrou en haar nie seermaak of ongeskik met haar wees nie…’ (vers 7 DB). As jy normaalweg onsensitief en aanmatigend is, sal jy ekstra hard hieraan moet werk. Die Skrif sê dat jy begrip moet hê en nie veeleisend teenoor die mense wat jou bedien en saam met wie jy leef, moet wees nie.
Sielskos: Gen 32-34; Luk 3:1-10; Ps 79; Spr 2:9-10
2022-01-14
Spreuke 10:19 NLV
Daar is ‘n verhaal van ‘n ryk oupa wat dokter toe gegaan het om ‘n unieke gehoorapparaat te kry. Die apparaat het hom nie net in staat gestel om perfek te hoor nie, maar dit was weggesteek sodat niemand dit kon sien nie. Toe hy vir ‘n opvolgafspraak na die dokter toe terugkeer, het die dokter gesê: ‘Jou familie is seker bly om te weet dat jy nou kan hoor.’ Die oupa het geantwoord: ‘Wel, ek het hulle nog nie van my gehoorapparaat vertel nie. Ek sit net en luister na hulle gesprekke – en ek het al drie keer my testament verander!’
Die Bybel sê: ‘…Hy wat sy woorde tel, is verstandig.’ Die kans om blapse te maak, groei eksponensieel hoe meer jy jou mond oopmaak. Of om dit anders te stel, die potensiaal om die verkeerde ding te sê, styg proporsioneel met die aantal woorde wat jy sê. Het jy al ooit opgemerk dat die persoon wat gewoonlik net sy of haar ‘twee sent’ wil deel, dikwels iets sê wat minder as twee of selfs een sent, werd is? Ons lees in Spreuke: ‘Jy sien self daar is meer hoop vir ‘n dwaas as vir iemand wat praat sonder om eers te dink’ (Spreuke 29:20 NLV).
‘n Man het eendag by ‘n troeteldierwinkel ingestap, waar ‘n kleurvolle papegaai op ‘n stokkie gesit het. Die man het vir die papegaai gekyk en snedig gevra: ‘Haai, dommie, kan jy praat?’ Tot sy verbasing het die papegaai geantwoord: ‘Ja, dommie, kan jy vlieg?’ Hoekom praat God so baie oor die oortredings van die tong? Omdat wanneer jy met jou tong sondig, jy Hom aanstoot gee, ander mense affekteer en jouself seermaak.
Sielskos: Gen 30:25-31:55; Luk 2:41-52; Ps 74:12-23; Spr 2:7-8