Die hele wêreld moet God se Woord aanhoor

2026-05-13
Markus 16:15 NLV

In 1993 het ‘n groep genaamd AD2000 United Prayer Track met ‘n innoverende idee vorendag gekom. Om hul doelwit van “‘n kerk vir elke volk en die evangelie vir elke persoon teen 2000 NC” te help verwesenlik, het hulle ‘n program genaamd ‘Praying through the Window’ gestig. Die ‘venster’ het na ‘n gebied op die aardbol van tien grade tot veertig grade noord van die ewenaar, van Noord-Afrika en Suid-Spanje ooswaarts tot Japan en die noordelike Filippyne, verwys. Byna drie miljard mense woon in hierdie gebied, waar die prominentste godsdienste Boeddhisme, Islam en Hindoeïsme is.

Vir die hele maand van Oktober 1993, en weer in 1995, het miljoene Christene vir die mense in ‘die 10/40-venster’ gebid. Die doel was dat nuwe kerke gestig en nuwe sendelinge na hierdie gebiede gestuur word. In 1993 alleen het die aantal kerke in Albanië van 50 tot meer as 300 gegroei en die aantal Christelike gemeenskapsgroepe wat in Indië gevorm is, het van ‘n gemiddeld van drie tot sewentien per dag gestyg.

As jou wêreld slegs uit jou geliefdes, jou werk en jou kerk bestaan, vra God om jou oë vir die buitewêreld oop te maak. Bid dat Hy in daardie nasies sal beweeg. ‘Vra My, en Ek gee vir jou nasies as erfporsie, die einde van die aarde as jou besitting’ (Psalm 2:8 NLV). Jy vra: ‘Kan ons realisties glo dat die hele wêreld na Christus sal draai?’ Lees die volgende: ‘Die hele aarde sal die Here erken en na Hom toe terugkeer. Mense uit elke nasie sal Hom weer dien’ (Psalm 22:28 NLV).

Sielskos: Deut 32:29-34:12; Matt 10:11-20; Ps 49; Spr 12:20-22

Wanneer jy na geselskap verlang

2026-05-12
Genesis 2:22 NLV

God het ons behoefte na geselskap erken toe Hy gesê het: ‘…Dis nie goed dat die mens alleen is nie… die Here God [maak] ‘n vrou en bring haar na die mens toe’ (verse 18, 22 NLV). Die meeste van ons is sosiale wesens wat op ons beste funksioneer wanneer ons in ander mense se geselskap is. Ons kry energie en ondersteuning van hulle.

Daar is egter mense wat skaam voel om te erken dat hulle eensaam is. Hulle smag na mense om hul lewens mee te deel, maar voel dat hulle moet voorgee dat hulle niemand nodig het nie. Jy moet nie skaam voel omdat jy liefde en sosiale konneksie wil hê nie. Dit verg moed om jou begeerte na geselskap te erken en ‘n stap te neem om betrokke by mense te raak.

Probleme begin egter ontstaan wanneer jou behoefte aan geselskap jou begin beheer. Wanneer jy jou waardes in gevaar stel om aanvaar te word, is die gevolg altyd negatief. Om aan ander mense vas te klou sonder om te verstaan wie hulle is of wat hulle verteenwoordig, is ongesond. Wyse besluite oor verhoudings moet nooit met ‘n gemoed wat deur vrees vir eensaamheid of desperaatheid beheer word, geneem word nie. As dit is waar jy jouself vandag bevind, is dit beter om eerder vir nou enkellopend te wees. Dit hoef net tydelik te wees.

Doen dus hierdie drie dinge: 1) Vra God om jou te lei: ‘God gee aan die eensame ‘n tuiste…’ (Psalm 68:7 NLV). 2) Leef volgens die waardes wat jy wil hê jou geliefde ook moet hê. 3) Moenie toelaat dat jou onvervulde behoeftes jou soeke na geselskap lei nie, maar eerder deur dit wat jy het om te gee en met ander te deel.

Sielskos: Deut 30:1-32:28; Matt 10:1-10; Ps 62; Spr 12:18-19

Groei deur die lewe se toetse

2026-05-11
Jakobus 1:4 NLV

Jakobus skryf: ‘…wanneer julle in allerhande beproewings beland, moet julle eintlik baie bly wees. Julle weet mos: Wanneer ‘n mens se geloof ‘n toets deurstaan, veroorsaak dit dat jy kan volhard… Dan sal julle julle lewensdoel bereik en geestelik gesond wees… Vra vir God as jy nie kan agterkom wat Hy wil hê jy moet doen nie… Maar, as ‘n mens bid, moet jy die vertroue hê dat God sal antwoord, want iemand wat twyfel, is soos ‘n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word. So iemand kan mos nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie. Hy is iemand wat nie tot ‘n besluit kan kom nie; op so iemand kan jy nie peil trek nie’ (verse 2-8 NLV).

Let drie dinge in hierdie Skrifgedeelte op:

1) Jou geloof groei wanneer dit getoets word. Jy sal nooit die krag van jou anker ken totdat jy die krag van die storm voel nie.
2) God sal jou die wysheid gee om die toets te hanteer. Hy sal nie noodwendig al jou ‘hoekoms’ beantwoord nie. Jy moet dus eerder bid: ‘Here, hoe wil U hierdie toets gebruik om my geestelik te ontwikkel? Hoe kan ek met U saamwerk om die grootste voordeel hieruit te trek? Watter veranderinge wil U in my lewe teweegbring?’
3) Jy moet gehoorsaam wees. Dit is moontlik om God vir wysheid te vra en dan daaroor te debatteer, te talm en tyd te mors terwyl jy probeer besluit of jy Hom moet gehoorsaam. ‘So iemand kan mos nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie.’ Wanneer God jou sy wysheid gee, moet jou eerste reaksie wees: ‘…Ja, Here, u dienaar luister’ (1 Samuel 3:10 NLV).

Sielskos: Deut 28-29; Matt 9:27-38; Ps 57; Spr 12:15-17

Jy is ‘n agent van versoening

2026-05-10
2 Korintiërs 5:18 NLV

Paulus het geskryf: ‘Daarom – iemand wat één is met Christus, is ‘n nuwe skepping. Die ou dinge is verby, kyk, die nuwe is hier! Hierdie hele nuwe werklikheid kom van God af, wat ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening gegee het. Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en nie die mense se oortredings teen hulle hou nie. Die boodskap van die versoening het Hy aan ons opgedra om te gaan verkondig. Ons tree op as ambassadeurs vir Christus terwyl God deur ons ‘n appèl aan julle rig. Ons smeek julle ter wille van Christus: Kom tot versoening met God!’ (verse 17-20 NLV).

Soms is ons eerste reaksie wanneer ons hoor dat ‘n medegelowige geval het, om na die foon te hardloop en te sê: ‘Het jy daarvan gehoor?’ Of om ‘n beskuldigende vinger te wys. Of om onsself van daardie persoon te distansieer op die presiese tydstip wanneer hy of sy ons gebede, liefde en ondersteuning nodig het. Die Bybel sê: ‘Die belangrikste van alles is dat julle mekaar onselfsugtig moet liefhê… Sulke liefde maak baie sondes toe’ (1 Petrus 4:8 NLV).

Eerder as om by diegene aan te sluit wat beskuldigende vingers wys, moet ons bekend staan as mense wat ‘n helpende hand uitsteek. Jesus het dit met Simon Petrus gedoen: ‘…die Satan het ernstig geëis om julle soos koring te kan sif, maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie moet begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou medegelowiges gaan ondersteun’ (Lukas 22:31-32 NLV). Net soos God herhaaldelik sy genade aan jou bewys wanneer jy te kort skiet, roep Hy jou om dieselfde genade aan ander te bewys.

Sielskos: Ps 91:1-2; Spr 3:5-6; Jer 17:7-8

Doen net jou deel

2026-05-09
Romeine 12:6 NLV

Wanneer jy bekende musikante bestudeer, sal jy dikwels vind dat hulle hul kuns aangeleer het deur in ‘n orkes te speel. Dit is omdat sekere vaardighede – om te leer om met ander instrumente saam te smelt, tempo te handhaaf, om harder of sagter te speel, die dirigent se leiding te volg – slegs aangeleer kan word deur saam met ander mense te speel.

Wat waar is van ‘n orkes, is selfs meer waar van ‘n gemeenskap van gelowiges. Jesus het dit geïllustreer in sy bekende gelykenis van die talente (sien Matteus 25:14-30). Aan een man is vyf talente gegee en het uiteindelik tien gekry. Aan ‘n ander man is twee talente gegee en het uiteindelik vier gekry. Aan ‘n derde man is een talent gegee, wat hy gaan begrawe het. In ‘n sekere sin het Jesus oor mense wat hulle deel doen en hoe belangrik dit vir God se koninkryk is, gepraat.

Nie almal speel dieselfde instrument nie en nie almal vertolk dieselfde rolle nie. Sommige instrumente is harder as ander en sommige rolle is groter as ander. Dit is nie hoeveel jy het wat vir Jesus saak maak nie; maar wat jy met dit wat jy het, doen. Daar is geen onbeduidende gawes in God se koninkryk nie. Ons gawes mag dalk in grootte verskil, maar kom almal van dieselfde bron af.

Al wat Christus wil hê jy moet doen, is om jou deel te doen. Hy verwag nie dieselfde resultate nie, maar Hy verwag wel dieselfde inspanning. Hy vergelyk jou nooit met iemand anders nie. Hy vergelyk jou net met jouself. Hy kyk nie na wat jy het nie; Hy kyk na wat jy doen met dit wat jy het. Doen dus net jou deel.

Sielskos: Deut 25-27; Matt 9:14-26; Ps 44:17-26; Spr 12:12-14

God is vandag by jou

2026-05-08
Lukas 24:16 DB

Wanneer jy ‘n krisis in die gesig staar, is dit maklik om perspektief te verloor. Dit het met twee van Christus se dissipels op die Emmauspad gebeur. Ontmoedig oor sy dood, was hulle ‘…ernstig aan die gesels oor die gebeure van die afgelope naweek. Terwyl hulle met swaar harte geloop en praat het, het Jesus by hulle aangesluit en saam met hulle verder gestap. Maar hulle het Hom nie herken nie’ (verse 14-16 DB). Wanneer jy jou oë van Jesus afhaal, begin jy hulpeloos oor jou situasie voel.

Dr Michael Youssef sê: ‘Wanneer ek ‘n groot krisis in die gesig staar, is ek geneig om die soort persoon te wees wat se visie vaag word. My persepsies word verdraai. My argumente word eensydig. Ek sluit dikwels die einste mense wat my van die probleem kan verlos uit, net soos daardie twee dissipels gedoen het. Hul visie oor die persoon wat saam met hulle geloop en met hulle gepraat het, was vaag. Die een wie se dood hulle betreur het, was lewend, maar hulle het dit nie besef nie, want hulle het op die verkeerde dinge gefokus.’

Alles het egter verander die oomblik toe hulle Jesus herken het. ‘Hulle het daar en dan opgestaan en na Jerusalem toe teruggegaan… Toe vertel hulle wat op die pad gebeur het en hoe Hy aan hulle bekend geword het deur die breking van die brood’ (verse 33-35 NLV). In ‘n oomblik het hulle vrees in moed, hulle pyn in vreugde en hulle wanhoop in hoop verander.

Paulus het geskryf: ‘Ek bid verder dat God julle geestelike oë sal oopmaak…’ (Efesiërs 1:18 DB). Wanneer jy ophou om op die probleem te fokus en jou oë op Jesus vestig, kry jy 20/20-visie en word jy met hoop vervul.

Sielskos: Deut 22-24; Matt 9:1-13; Ps 44:9-16; Spr 12:10-11