2026-05-18
Josua 1:9 NLV
Dit is onmoontlik om suksesvol te leef sonder om risiko’s te neem. Leo Buscaglia het geskryf: ‘Om te lag is om die risiko te loop om dwaas voor te kom. Om te huil is om die risiko te loop om sentimenteel voor te kom. Om lief te hê is om die risiko te loop om nie liefde terug te ontvang nie. Om te lewe is om die risiko te loop om te sterf. Om te hoop is om die risiko te loop om wanhoop te ervaar en om te probeer is om die risiko te neem om te misluk. Risiko’s moet egter geneem word, want die grootste gevaar in die lewe is om niks te waag nie. Slegs die persoon wat waag, is werklik vry.’
Franklin Roosevelt het ‘n groot deel van sy lewe teen siekte geveg en was aan ‘n rolstoel gekluister. Hy het gesê: ‘Dit is gesonde verstand om ‘n manier te kry en dit uit te probeer. As dit misluk, erken dit openlik en probeer ‘n ander manier. Maar bowenal, probeer net.’
In sy boek, The Pursuit of Excellence, gee Ted W. Engstrom hierdie raad oor die belangrikheid om te probeer: ‘Vanaf vandag kan jy begin om jou gawes te geniet, te gebruik en te ontwikkel. As jy nog altyd wou skryf, skryf dan iets – ‘n kort artikel, ‘n gedig, ‘n verslag van jou vakansie. Skryf dit asof dit gepubliseer gaan word. As jy ‘n fotograaf is, maak jou beste foto’s bymekaar en skryf vir ‘n kompetisie in. As jy dink dat jy ‘n goeie tennisspeler is, neem dan aan ‘n paar toernooie deel en kyk hoe jy vaar. Jy wen dalk nie die prys nie, maar dink net hoeveel jy sal leer en ervaar deur net te probeer. Die grootste mislukking is om nie te probeer nie!’
Sielskos: Rut 1-4; Matt 11:1-19; Ps 88:1-9a; Spr 13:1-3
2026-05-17
1 Petrus 5:6 NLV
God sal nie trots van enigiemand duld nie. As selfverhewe mense weier om hulself te verootmoedig, laat hulle God geen ander keuse as om dit vir hulle te doen nie. Eendag het trots die oorhand oor Nebukadnesar, die koning van Babel, gekry: “…hy [het] op die dak van sy koninklike paleis in Babel rondgeloop. Hy spog toe by homself: ‘Ek het hierdie grote Babel met my eie mag as my koninklike tuiste opgebou om ‘n teken te wees van my grootheid'” (Daniël 4:30 NLV). Dit was rou, onverbloemde, arrogante trots.
‘n Jaar tevore het Daniël die koning se droom vir hom uitgelê en gesê dat hy sy weë moet verander. Die koning het egter Daniël se waarskuwing geïgnoreer. God het op daardie oomblik gesê genoeg is genoeg en sy trotse oomblik onderbreek: “Terwyl die koning nog besig was om so te praat, het ‘n stem van bo uit die lug gekom: ‘Koning Nebukadnesar, hier is ‘n aankondiging vir jou: Jou koningskap word van jou af weggevat!'” (Daniël 4:31 NLV). Gedurende die volgende sewe jaar het Nebukadnesar sy verstand verloor en is hy tot die status van ‘n dier in die bos gereduseer. Dit is hoe laag trots hom laat val het!
Iemand het eenkeer gesê: “‘n Man wat te ingenome met homself is, is maar vervelige geselskap.” Eers toe Nebukadnesar homself verootmoedig het, het God hom genade bewys en hom sy verstand en sy heerskappy teruggegee. Dit is toe dat hy God se soewereiniteit oor alle konings en koninkryke verklaar het: ‘As gevolg hiervan loof en verheerlik en vereer ek, Nebukadnesar, die Koning van die hemel. Alles wat Hy doen, is waar. Wat Hy doen is reg. Almal wat hoogmoedig is kan Hy verneder’ (Daniël 4:37 NLV). Wees dus nederig!
Sielskos: Est 4:9-5:3; Matt 11:28; Heb 4:14-16
2026-05-16
Romeine 4:20 NLV
Die Aartsbiskop van Canterbury het ‘n akteur genaamd mnr. Butterton geken. Eendag het hy vir Butterton gevra: ‘Hoe kry julle akteurs op die verhoog dit reg om julle gehore te beïnvloed deur van denkbeeldige dinge te praat asof dit werklik is, terwyl ons in die kerk van werklike dinge praat, wat ons gemeentes aanhoor asof dit denkbeeldig is?’ Butterton het geantwoord: ‘Want ons akteurs op die verhoog praat van denkbeeldige dinge asof dit waarlik werklik is en julle op die kansel praat van werklike dinge asof dit maar denkbeeldig is.’
Die wêreld het Christene nodig wat praat asof hulle glo dat dit wat God in sy Woord sê, waar is en wat daarvolgens leef. Toe Abraham tagtig jaar oud was, het God hom belowe dat hy ‘n seun sou verwek. Twintig jaar later het dit nog nie gebeur nie, maar Abraham het ferm op God se Woord gestaan: ‘Abraham het nie getwyfel aan God se belofte nie; inteendeel, sy geloof het sterker geword en so het hy die eer aan God gegee. Hy was absoluut daarvan oortuig dat God enigiets kon doen wat Hy beloof het’ (verse 20-21 NLV).
William James het gesê: ‘As jy ‘n sekere karaktereienskap wil hê, moet jy optree asof jy dit reeds het.’ Hy het ook gesê: ‘Tree op asof dit wat jy doen ‘n verskil maak. Dit doen.’ Sint Augustinus het gesê: ‘God het elkeen van ons lief asof daar net een van ons is.’ As jy die waarheid hiervan ten volle begryp, sal dit jou van vrees bevry, want dit is wat God se perfekte liefde doen (sien 1 Johannes 4:18). God kan jou nie meer of minder liefhê nie, want Hy het jou reeds onvoorwaardelik en ewig lief. Jou werk is om soos sy geliefde te leef.
Sielskos: 2 Pet 1-3; Matt 10:32-42; Ps 18:30-50; Spr 12:25-28
2026-05-15
Spreuke 23:7 AFR53
‘n Halfeeu gelede is ‘n fassinerende eksperiment uitgevoer. Drie mans het hul krag op ‘n masjien getoets, met ‘n gemiddelde meting van 101 pond druk. Toe is die deelnemers gehipnotiseer en die navorser het vir hulle gesê: ‘Julle kan nie groot druk uitoefen nie, want julle is swak.’ Onder die krag van suggestie het hul gemiddelde krag tot 29 pond druk gedaal. Toe sê die navorser: ‘Nou het julle krag weer baie toegeneem.’ Hul gemiddelde krag het tot 145 pond druk toegeneem. Hul krag is vyfvoudig verhoog toe hulle gesê het: ‘Ek kan,’ teenoor toe hulle gesê het: ‘Ek kan nie.’
Dit help om aan die Skrif as ‘n padkaart te dink. Die werklikheid van jou omstandighede laat jou dikwels voel asof jy van die pad afwyk, maar dan moet jy vir leiding in God se Woord soek. Jy moet leef asof jy is wie God sê jy is, jy het wat God sê jy het en jy kan doen wat God sê jy kan doen. As jy die vyand se leuens glo, is jy diep in die moeilikheid. As jy egter God se Woord glo, sal dit jou uit die moeilikheid red en hou.
Wanneer jy eensaam is, moenie sy belofte vergeet nie: ‘…Ek sal jou nie los nie. Ek sal jou nie in die steek laat nie’ (Hebreërs 13:5 NLV). Wanneer jy voel asof jy koers verloor het, onthou sy woorde: “‘n Mens beplan sy koers, maar die Here bepaal sy bestemming” (Spreuke 16:9 NLV). Wanneer jy teen siekte worstel, kan jy op sy belofte staan: “‘Ek sal jou gesond maak en jou wonde genees,’ sê die Here…” (Jeremia 30:17 NLV).
Die woord vir jou vandag is – leef asof jy dit glo!
Sielskos: 1 Pet 1-5; Matt 10:21-31; Ps 18:1-29; Spr 12:23-24
2026-05-14
Markus 4:35 NLV
Jesus het vir sy dissipels gesê: ‘…Kom ons vaar oorkant toe.’ Volgende lees ons: ‘Daar het ‘n hewige stormwind opgekom. Groot golwe het teen die boot gebreek…’ (vers 37 NLV). Die dissipels het na Jesus gedraai en gesien dat Hy vas aan die slaap is! Hulle het geskree: ‘…Leermeester, skeel dit U niks dat ons besig is om te vergaan nie?’ (vers 38 NLV). Jesus het wakker geword, die storm beveel om te bedaar en toe vir sy dissipels gesê: ‘…Hoekom is julle so verskrik? Vertrou julle My nog steeds nie?’ (vers 40 NLV).
Wat ‘n verstommende teregwysing! Waarom het Jesus hulle berispe? Eenvoudig: hulle het Hom nie op sy Woord geneem nie. Hy het gesê dat hulle na die oorkant toe gaan vaar. Hy het nie gesê: ‘Ons gaan in die middel van die see verdrink,’ nie. Jesus het reeds die uitkoms aangekondig. Toe die storms egter kom, het die dissipels die gebrul van die winde gehoor en sy Woord vergeet.
Jy sal ook storms ondervind. Winde sal huil, jou boot sal rondgeslinger word en jy sal ‘n keuse hê: Sal jy na Christus of na die krisis luister? Sal jy ag op die beloftes van die Skrif of op die geraas van die storm slaan? God het vir Josua gesê om dag en nag oor die Skrif te mediteer (sien Josua 1:8). Die beeld is een van ‘n persoon wat God se Woord oor en oor opsê, oefen en oorweeg.
Paulus sê: ‘Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in julle bly. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid…’ (Kolossense 3:16 AFR83). Begin met ‘n gebed: ‘O God, spreek asseblief vandag tot my hart terwyl ek u Woord lees.’ Lees dan die Skrif met ‘n oop gemoed, totdat die boodskap jou tref.
Sielskos: Luk 24:50-53; Hand 1:1-11; Ef 4:7-10
2026-05-13
Markus 16:15 NLV
In 1993 het ‘n groep genaamd AD2000 United Prayer Track met ‘n innoverende idee vorendag gekom. Om hul doelwit van “‘n kerk vir elke volk en die evangelie vir elke persoon teen 2000 NC” te help verwesenlik, het hulle ‘n program genaamd ‘Praying through the Window’ gestig. Die ‘venster’ het na ‘n gebied op die aardbol van tien grade tot veertig grade noord van die ewenaar, van Noord-Afrika en Suid-Spanje ooswaarts tot Japan en die noordelike Filippyne, verwys. Byna drie miljard mense woon in hierdie gebied, waar die prominentste godsdienste Boeddhisme, Islam en Hindoeïsme is.
Vir die hele maand van Oktober 1993, en weer in 1995, het miljoene Christene vir die mense in ‘die 10/40-venster’ gebid. Die doel was dat nuwe kerke gestig en nuwe sendelinge na hierdie gebiede gestuur word. In 1993 alleen het die aantal kerke in Albanië van 50 tot meer as 300 gegroei en die aantal Christelike gemeenskapsgroepe wat in Indië gevorm is, het van ‘n gemiddeld van drie tot sewentien per dag gestyg.
As jou wêreld slegs uit jou geliefdes, jou werk en jou kerk bestaan, vra God om jou oë vir die buitewêreld oop te maak. Bid dat Hy in daardie nasies sal beweeg. ‘Vra My, en Ek gee vir jou nasies as erfporsie, die einde van die aarde as jou besitting’ (Psalm 2:8 NLV). Jy vra: ‘Kan ons realisties glo dat die hele wêreld na Christus sal draai?’ Lees die volgende: ‘Die hele aarde sal die Here erken en na Hom toe terugkeer. Mense uit elke nasie sal Hom weer dien’ (Psalm 22:28 NLV).
Sielskos: Deut 32:29-34:12; Matt 10:11-20; Ps 49; Spr 12:20-22