God werk in jou

2026-05-24
Filippense 2:13 AFR53

God werk in jou. Waaraan werk Hy? Jou wil. Wat wil Hy hê moet jy doen? Om na sy welbehae te werk. Hoe doen Hy dit? Deur jou gedagtes: ‘Julle gesindheid moet soos Jesus Christus s’n wees’ (Filippense 2:5 NLV). God kan hoorbaar deur omstandighede of deur ‘n ander persoon met jou praat. Omdat God egter vir jou sy gedagtes kan gee of jou gedagtes kan lei, is jou gedagtes die vergaderkamer waar Hy meestal met jou sal kommunikeer.

Daarom sal Satan probeer om bose idees in jou gedagtes te plaas. As hy nie daarin slaag nie, sal hy probeer om jou gedagtes met vrees en bekommernis te vul. As dit ook nie werk nie, sal hy tevrede daarmee wees om jou ure lank na ‘waardelose dinge’ op televisie of die internet te laat kyk. Die Psalmdigter het gebid: ‘Weerhou my van waardelose dinge…’ (Psalm 119:37 NLV).

Om van God te kan hoor en te verstaan wat Hy vir jou sê, moet jy jou gedagtes ‘n beskermde omgewing maak. Jou begeerte om van God te hoor moet voorrang bo elke ander begeerte wat jy het, geniet. Die sosiale hervormer Dorothy Day, wat baie werk namens die armes in die twintigste eeu gedoen het, het gepraat van wat sy haar ‘nosies’ genoem het – idees wat die onmiskenbare stempel van God se outeurskap in haar gedagtes gehad het. George Fox en die Kwaker-tradisie het dit ‘besorgdhede’ genoem. Ander praat van ‘aansporings’ of ‘leidings.’

Die goeie nuus is dat indien jy werklik van God wil hoor en jy bereid is om jou lewe dienooreenkomstig te prioritiseer, sal Hy met jou praat.

Sielskos: Lev 23:15-22; Joh 14:15-18; Hand 2:1-18

Hy is die God van nuwe begin

2026-05-23
Jakobus 5:20 NLV

Ons God is die God van nuwe begin! Die Bybel sê: ‘weet dan dat hy wat ‘n sondaar op sy dwaalweg laat terugdraai, hom uit die dood red en maak dat ‘n klomp sondes bedek word.’ Dit is nooit te laat vir ‘n nuwe begin nie. Wat egter nog merkwaardiger is, is dat God mense soos ons gebruik om ander te help om ‘n nuwe begin te vind.

Die Bybel bevat baie verhale van mense wat ‘n tweede kans gekry het en deur God se genade hierdie kans goed benut het. Soos Petrus, wat Jesus verloën het, maar ‘n leier in die Nuwe Testamentiese kerk geword het. Of Dawid, wat egbreuk en moord gepleeg het, maar psalms geskryf het wat vandag nog wêreldwyd aangehaal word. Wat van Jona? Hy het ‘n tweede kans gekry! ‘Die Here het ‘n tweede keer met Jona gepraat’ (Jona 3:1 NLV).

Sonde kan harte, huise, planne en mense verwoes. Die goeie nuus van die evangelie is egter dat sonde God nooit kan keer om ons lief te hê of na ons uit te reik nie. Ons moet ook nooit ophou om ander mense lief te hê en na hulle uit te reik nie. ‘…wanneer iemand iets doen wat verkeerd is, moet julle wat deur die Gees gelei word, daardie persoon nederig reghelp…’ (Galasiërs 6:1 NLV).

Die Griekse woord vir vernuwe is ‘n mediese term wat beteken ‘om ‘n gebreekte been te genees.’ Wanneer ‘n dokter ‘n gebreekte been behandel, herstel hy die breuk en sit ‘n gipsverband aan wat vir ongeveer ses weke moet aanbly. Gedurende daardie tyd doen God die werklike genesing. Jou werk is om gebroke mense te vind wat ‘n tweede kans benodig en hulle help om te genees.

Sielskos: Rig 12-15; Matt 12:38-50; Ps 47; Spr 13:11-12

Weet wie jy is

2026-05-22
1 Korintiërs 15:10 NLV

Wie is jy? Dit klink soos ‘n eenvoudige vraag, maar dis dikwels een van die uitdagendste vrae om te antwoord. Om te weet wie jy is en waarvoor jy staan, om bewus te wees van hoe jy deur ander beskou word en hoe jy jouself aan die wêreld voordoen, is een van die belangrikste aspekte van ‘n vervulde lewe.

Dit kan jou ‘persoonlike handelsmerk’ genoem word. Jou handelsmerk bestaan uit eienskappe wat by elke ontmoeting wat jy met werkskollegas, familie of vriende het, teenwoordig is. Dit is eienskappe wat jy na al jou sosiale en sake-interaksies bring. Jy mag dalk jou eienskappe as vanselfsprekend aanvaar, maar oorweeg dit om jou eie persoonlike missieverklaring neer te skryf. Wat is jou doel? Waarvoor staan jy? Wat is jou visie? Weerspieël jou lewe werklik dit wat vir jou belangrik is en hoe jy wil hê ander mense jou moet sien?

So dikwels leef ons ons lewens volgens dit wat diegene rondom ons dink ons moet wees of doen. Ons volg die pad wat ons ander sien loop, of ons streef na wat die media as sukses definieer. Uiteindelik, en soms verrassend, vind ons onsself waar ons gefrustreerd, kwaad en teleurgesteld deur die lewe beweeg.

Sommige sakelui kla dat hulle die bopunt van die korporatiewe leer bereik het, net om uit te vind dat die leer teen die verkeerde gebou leun. Hulle was so besig om tred te hou met wat hulle gedink het hulle veronderstel is om te doen, dat hulle nooit hulself af gevra het wat hulle eintlik wil doen nie. Wees soos Paulus: Weet wie jy is, eer jou persoonlike handelsmerk en sê: ‘Deur die genade van God is ek wie ek is.’

Sielskos: Rig 9:34-11:40; Matt 12:22-37; Ps 97; Spr 20:25

Jy is ten volle vergewe

2026-05-21
Galasiërs 2:20 NLV

Hoeveel keer het die apostel Paulus, wat eens as Saulus, die vervolger van Christene bekend was, terugflitse van Stefanus se steniging gehad? Of die tallose ander Christene wat hy soos diere gejag het? Paulus was ‘n ooggetuie van hierdie gebeure, wat beteken dat daardie beelde in sy visuele korteks vasgevang was. Wanneer hy sy oë toegemaak het, kon daardie beelde vir die res van sy lewe by hom gespook het.

Volgens vandag se standaarde was Saulus ‘n terroris – maar hy het egter ‘n ontmoeting met Christus gehad wat hom verblind het. Hy het sy fisiese sig na drie dae herwin, maar die genade van God het hom in staat gestel om vir ewig ‘n blinde oog vir sy vergeefde sonde te draai. As God ‘n blinde oog vir belyde sonde draai, moet ons dit nie ook doen nie? Dit beteken nie dat ons ons sonde ontken of dit ignoreer nie. Paulus het homself die ergste sondaar genoem (sien 1 Timoteus 1:15). Miskien is dit hoekom hy die genade van God so waardeer het.

Die rede waarom baie van ons ander mense volgens hul sonde etiketteer, is omdat dit ons beter oor onsself laat voel. Ons dink: ‘Ek is dalk nie perfek nie, maar ek het dít ten minste nie gedoen nie!’ Paulus was egter ferm: ‘Ons het immers almal gesondig. Ons almal het God beroof van die eer wat Hom toekom’ (Romeine 3:23 NLV).

God kategoriseer nie jou sondes soos die regstelsel as oortredings of misdade nie. Nee, jy is óf in sonde, óf in Christus. Jy is óf skuldig, óf jy is ten volle vergewe. Nie net is jou sondes – verlede, hede en toekoms – versoen nie, maar deur jou geloof het God jou vergewe en jou rekening met die geregtigheid van Christus uitgewis.

Sielskos: Rig 7:1-9:33; Matt 12:15-21; Ps 129; Spr 13:9-10

‘Oornagsukses’ neem gewoonlik baie jare

2026-05-20
Markus 11:24 NLV

Die country-musiekster Randy Travis en sy bestuurder, Lib, onthou die maer dae van sy loopbaan – al 3 650 van julle. Vir tien jaar lank het Lib alles moontlik gedoen om haar klub lank genoeg oop te hou sodat iemand Travis se talent kon ontdek. Randy het sy hart uitgesing. Wanneer hy nie besig was om te sing nie, het hy kos vir die klante gemaak en skottelgoed in die kombuis gewas.

Toe gebeur dit. Sy deurbraak het gekom en skielik het alles begin sin maak. Hy het ‘n treffer genaamd ‘On the Other Hand’ gehad en ‘n albumkontrak, ‘n toeraanbod en ‘n fliekkontrak losgeslaan. Hy was witwarm! Skielik het almal hom ‘n oornagsukses genoem. Randy onthou dit egter anders: ‘Ons is meer as een keer deur elke platemaatskappy in Nashville afgekeur. Ek is egter die soort persoon wat glo dat as jy lank genoeg aan iets werk en aanhou glo, dit vroeër of later sal gebeur.’

Randy Travis het ‘n Amerikaanse musieklegende geword, drie Grammies en sewe Dove-toekennings gewen en is in die Country Music Hall of Fame opgeneem. Dit het egter nie maklik gekom of oornag gebeur nie. Dit het gebeur omdat hy hard gewerk het, getrou deur die moeilike tye gebly het en God vir sy sukses vertrou het.

Jesus het gesê: ‘…alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang, mits julle God daarmee vertrou.’ Jy moet egter die volgende in gedagte hou: Dit sal op God se tyd en volgens sy skedule gebeur. Jou taak is om deur geloof te bly wandel en Hom te vertrou om dit te laat gebeur.

Sielskos: Rig 4-6; Matt 12:1-14; Ps 93; Spr 13:7-8

Was jy jou nette?

2026-05-19
Lukas 5:2 NLV

Waarom sou vissermanne hulle nette, wat nie gebruik is nie, was? Hulle het tou opgegooi omdat hulle oornag niks daarmee uitgerig het nie. ‘…Ons het die hele nag hard gewerk en het niks gevang nie…’ (vers 5 NLV). Hulle was verslae! Jesus het egter toe opgedaag. Hy het gekom tot waar hulle was; Hy het reg in die middel van hul teleurstelling met ‘n oplossing ingestap.

Eers het Hy vir hulle gevra om hulle boot te gebruik om vir die skare te preek en die menigtes te genees. Kind van God, gee alles aan Hom oor – alles wat jy het, alles wat jy is en alles wat jy ooit sal wees – en laat Hom toe om jou vir sy hoogste doeleindes te gebruik. Daarna het Hy vir hulle ‘n woord gegee wat slegs deur geloof ontvang kon word: ‘…Vaar nou dieper in en gooi jou nette uit, en jy sal baie vis vang’ (Lukas 5:4 NLV).

Verstaan jy nou hoekom Hy wag tot jy alles gedoen het waaraan jy kan dink? Slegs dan is jy gereed om te luister. Al lyk dit of sy Woord nie sin maak nie, is jy dan gereed om dit sonder vrae te gehoorsaam. Is jy vandag mismoedig? Is dit jou bediening, jou huwelik, jou werk of jou gesondheid wat jou moedeloos maak? Jy is dalk besig om jou nette te was, maar dis nie verby nie. Wie het vir jou gesê God gaan jou nie weer seën nie? Wie het vir jou gesê Hy gaan nie oorwinning uit jou wanhoop voortbring nie?

Dis nie verby totdat Hy sê dis verby nie. As Hy die leë nette van daardie mismoedige dissipels kon vul, dan is daar nie ‘n probleem van jou wat Hy nie kan oplos nie.

Sielskos: Rig 1-3; Matt 11:20-30; Ps 88:9b-18; Spr 13:4-6