Vra God vir ‘n droom

2026-05-30
Job 33:15 NLV

Die patriarg Job het gesê: ‘Maar God praat op verskillende maniere. Ons kom dit net nie agter nie. Hy praat deur drome en visioene, in die nag wanneer mense diep slaap’ (Job 33:14-15 NLV). ‘n Droom kan ‘n belangrike boodskap van God of ‘n antwoord op jou gebed wees. God het vir Paulus ‘n droom gegee waarin ‘n man van Masedonië aan hom verskyn en gesê het: ‘…Kom oor na Masedonië toe en help ons’ (Handelinge 16:9 NLV). Paulus het daarheen gegaan en die evangelie verkondig. Salomo se heerskappy as koning van Israel begin met hierdie woorde: “Daardie nag het die Here in Gibeon in ‘n droom aan Salomo verskyn en God het gesê: ‘Wat wil jy hê? Vra, en Ek sal dit vir jou gee!'” (1 Konings 3:5 NLV). Salomo het God vir groot wysheid gevra en God het hom wysheid, eer en rykdom gegee.

Praat God vandag nog in drome met ons? Ja. Hy sê: ‘Ek is die Here, Ek verander nie…’ (Maleagi 3:6 NLV). Die Hebreeuse woord vir droom is ‘chalom.’ Dit het vyf betekenisse:

1) ‘Om stewig te bind.’ Jy is veilig in God se liefde toegdraai.
2) ‘Om mollig te wees of te word.’ In die Bybel is vetheid of molligheid ‘n beeld van gesondheid, welstand en voorspoed.
3) “‘n Gevoel van onkunde.” Wanneer God jou ‘n droom gee, deel Hy inligting met jou oor dinge waarvan jy onkundig is.
4) ‘Om in voorkeur te wees.’ Wanneer God jou ‘n droom gee, betoon Hy guns aan jou.
5) ‘Om te herstel.’ Wanneer God jou ‘n droom gee, werk Hy daaraan om dit wat jy verloor het, te herstel. Vra dus vir God vir ‘n droom.

Sielskos: Klaag 3:40-5:22; Matt 14:1-12; Ps 82; Spr 14:5-8

God werk in jou, met jou en deur jou

2026-05-29
Johannes 17:26 AFR83

Net voor Hy in hegtenis geneem en na die kruis geneem is, het Jesus gebid: ‘Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak, en Ek sal dit verder bekend maak, sodat die liefde wat U aan My bewys het, in hulle kan wees en Ek ook in hulle.’ Wanneer dit by die erkenning van en reaksie op God se teenwoordigheid in ons lewens kom, sê die Christelike skrywer John Ortberg dat hy volgens hierdie twaalf waarhede leef:

1) God is altyd teenwoordig en aktief in my lewe, of ek Hom nou sien of nie.
2) Om God se teenwoordigheid te herken en te ervaar, is aangeleerde gedrag; ek kan dit kweek.
3) My werk is om God in hierdie oomblik te ontmoet.
4) Ek is altyd in die versoeking om ‘buite’ hierdie oomblik te leef. Wanneer ek dit doen, verloor ek my aanvoeling van God se teenwoordigheid.
5) Soms lyk God ver weg om redes wat ek nie verstaan nie. Daardie oomblikke is ook geleenthede om te leer.
6) Wanneer ek misluk, kan ek altyd dadelik weer begin.
7) Niemand weet die volle mate waarin ‘n mens God se teenwoordigheid kan ervaar nie.
8) My begeerte na God eb en vloei, maar sy begeerte na my is konstant.
9) Elke gedagte dra ‘n ‘geestelike lading’ wat my ‘n bietjie nader aan of ‘n bietjie verder van God af beweeg.
10) Elke aspek van my lewe – werk, verhoudings, stokperdjies en bewegings – is vir God van belang.
11) My pad om God se teenwoordigheid te ervaar, sal nie presies soos iemand anders s’n lyk nie.
12) Dit help nie om te hard te probeer nie.

Die woord vir jou vandag is dus – God werk in jou, met jou en deur jou!

Sielskos: Klaag 1:1-3:39; Matt 13:47-58; Ps 113; Spr 14:1-4

Probeer om te vas

2026-05-28
Jesaja 58:6 AFR83

God het vir sy mense die volgende redes gegee om te vas: ‘…om dié wat onregverdig gevange gehou word, te bevry, om die juk wat op mense druk, af te haal, om verdruktes vry te maak, om elke juk te breek’ (vers 6 AFR83). Om te vas is een van die beste maniere om die mag van die vlees te breek. As jy vir kos kan nee sê, kan jy vir omtrent enigiets nee sê. Maak nie saak met watter verslawing jy sukkel nie, vas is die manier om die juk van slawerny te breek. Wanneer jy jouself van kos weerhou om God te soek, wys dit vir Hom dat jy ernstig is. Hy neem jou ook ernstig op as die saak Hom eer.

Sommige geestelike deurbrake is slegs met die kombinasie van gebed en vas moontlik. Wanneer jy vas en bid, is die sinergie meer as die som van sy dele. As jy voel dat jou droom nie vorder nie, probeer om te vas. As jou huwelik in die moeilikheid is, probeer om te vas. As jou hart vir jou kinders breek, probeer om te vas. As jy ‘n deurbraak nodig het, probeer om te vas. As jy ‘n groot besluit moet neem, probeer om te vas. Wanneer jy vas, word vestings afgebreek en deurbrake gemaak. Dis die manier waarop ons aan God verklaar dat ons Hom nodig het en Hom meer as kos self nodig het.

Dit verg geweldige dissipline om kos op te gee, maar om dit te doen, kweek dissipline in ander areas van ons lewe. Die beste manier om sondige begeertes dood te maak, is deur hulle uit te honger. Dis presies wat vas doen. Dit verswak nie net jou fisiese liggaam nie; dit verswak ook jou sondige vlees en versterk terselfdertyd jou gees.

Sielskos: Gal 4-6; Matt 13:36-46; Ps 108; Spr 13:24-25

Christus kan jou siel bevredig

2026-05-27
Johannes 4:15 NLV

Sy het in Samaria gewoon, was vyf keer getroud en het nou saam met ‘n man gewoon wat nie haar eggenoot was nie. Miskien het mense vreeslik oor haar geskinder. Hoekom anders sou sy op die hitte van die middag by die put gaan water haal het? Ander vroue het hul waterkruike met sonsopkoms gaan volmaak, maar hierdie vrou het die hitte van die son bo die hitte van hulle minagting verkies.

As dit nie vir die verskyning van ‘n vreemdeling was nie, sou haar verhaal vir ewig verlore gegaan het. Hy het egter haar lewe binnegekom met ‘n belofte van lewende water wat die dors van haar siel sou les. Hy het vir haar gesê: “…Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors word. Wie egter van die water drink wat Ek hom gee, sal nimmer as te nooit weer dors word. Die water wat Ek vir hom sal gee, sal ‘n fontein in hom word waarvan die water vir altyd sal bly opborrel.’

Die vrou sê toe vir Hom: ‘Meneer, gee my van hierdie water sodat ek nie weer dors word en hierheen hoef te kom om water te skep nie’… Die vrou het haar waterkruik net daar gelos, na die dorp toe gegaan en vir die mense gesê: ‘Kom kyk self – ‘n man het my alles vertel wat ek al gedoen het. Is hy nie die Messias nie?’… Uit daardie dorp het baie van die Samaritane in Jesus begin glo op grond van die vrou wat met oortuiging kom vertel het: ‘Hy het my alles vertel wat ek gedoen het'” (Johannes 4:13-15, 28, 39 NLV).

Niemand anders wou haar ‘n kans gee nie, maar Jesus het haar die kans van ‘n leeftyd gegee. Wat Hy vir haar gedoen het, sal Hy vir jou ook doen.

Sielskos: Gal 1-3; Matt 13:24-35; Ps 101; Spr 13:20-23

Sy hand se aanraking

2026-05-26
Daniël 10:18 NLV

Elisabeth Elliott skryf in haar boek, A Slow and Certain Light, die volgende: ‘Toe ek in die woude van Ecuador gewoon het, het ek gewoonlik te voet gereis. Paadjies het dikwels deur strome en riviere gelei wat ons moes oorsteek, maar soms was daar ‘n primitiewe brug hoog bo die water wat ons moes oorsteek. Ek het daardie brûe gevrees. Die plaaslike inwoners sou egter sê: ‘Loop net oor, señorita,’ en sou die brug ligvoets en vol selfvertroue oorsteek.

Ek was ook kaalvoet soos hulle, maar dit was nie genoeg nie. Op die brug kon ek nie ophou om na die rivier onder my te kyk nie. Ek was bang ek sou gly. My balans was nog nooit goed nie, dus sou my gids sy hand uitsteek om my te help. Hierdie aanraking was al wat ek nodig gehad het. Ek het myself ophou bekommer dat ek gaan gly. Ek het opgehou om afwaarts na die rivier te kyk en eerder na die gids gekyk, wat my hand met net die geringste aanraking vasgehou het. Wanneer ek die ander kant bereik het, het ek besef dat as ek gegly het, hy my sou vang. Sy teenwoordigheid en sy aanraking, was al wat ek nodig gehad het.’

Dis al wat jy ook nodig het: om God se teenwoordigheid te ervaar en sy aanraking te voel. Daniël het geskryf: “Die een wat soos ‘n mens lyk, het toe weer aan my geraak en my sterk gemaak. ‘Moenie bang wees nie,’ sê hy weer vir my. ‘God is lief vir jou. Wees rustig. Wees sterk.’ Terwyl hy met my gepraat het, het ek sterk geword. Ek het vir hom gesê: ‘Meneer kan maar nou met my praat. Ek is sterk genoeg'” (verse 18-19 NLV).

Sielskos: Rig 19:16-21:25; Matt 13:10-23; Ps 128; Spr 13:17-19

Oorkom werksverslawing

2026-05-25
Markus 6:31 NLV

Een van Satan se taktieke is om ons van die een uiterste na die ander te neem – van luiheid na werksverslaafdheid. Dis belangrik om die verskil tussen ‘n harde werker en ‘n werksverslaafde te verstaan. Harde werkers het die wysheid om perke te stel aan hoeveel hulle gedurende ‘n dag kan doen.

In haar boek, 30 Days to a Stronger, More Confident You, skryf Deborah Smith Pegues: ‘Ek was in ontkenning oor my werksverslawing totdat ek besef het dat ek heelwat van die kenmerkende simptome het: Ek het die meeste van die tyd laat gewerk. Die meeste van my gesprekke het om die probleme by die kantoor gedraai. Ek het selde middagete geneem. Ek was altyd besig om veelvuldige take te verrig; ek het selde enige taak doelgerig uitgevoer. As ek oor die telefoon gepraat het, het ek ook die tyd gebruik om die huis op te ruim. As ek televisie gekyk het, het ek ook papiere georganiseer, en so aan en so meer.

Wanneer ek probeer ontspan het, het ek gedink aan al die dinge wat ek eintlik moes doen. My doenlysie het meer items daarop gehad as wat ek moontlik gedurende ‘n enkele dag kon bereik. Ek was ‘n slaaf van my oortrokke kalender; ek het min of geen tyd vir ontspanning gehad nie. Ander mense het te stadig beweeg. Ek het altyd na die volgende afspraak gejaag. Ek het uitgesien na die toekennings wat ek vir goeie prestasie ontvang het. Vandag probeer ek slegs by die aktiwiteite wat ek voel deel van God se plan vir my lewe is, betrokke raak.’

Dis wonderlike raad! Jesus het vir sy hardwerkende dissipels gesê: ‘…Kom julle nou self eenkant toe na ‘n stil plek en skep ‘n bietjie asem.’ Sê die Here dieselfde vir jou?

Sielskos: Rig 16:1-19:15; Matt 13:1-9; Ps 45; Spr 13:13-16