Jy kan daardie vesting vernietig

2026-06-11
2 Korintiërs 10:4 NLV

Net soos Jerigo ‘n vesting in Kanaän was, het ons vestings in ons lewens. Paulus het geskryf: ‘Die wapens van ons stryd is… die kragtige gevegstoerusting van God wat vestings kan vernietig. Daarmee vernietig ons die argumente, asook elke skans wat teen die kennis van God opgerig word. Ons neem ook elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak’ (verse 4-5 NLV).

‘n Vesting is ‘n ‘argument’ of ‘n ‘skans’ wat ‘teen die kennis van God opgerig word.’ Dit is ‘n oortuiging, uitkyk of geloof wat probeer om met die waarheid in te meng. ‘n Vesting is ‘n valse uitgangspunt wat God se beloftes ontken. Dit probeer om die probleem te vergroot en God se vermoë om dit op te los, te minimaliseer.

Het ‘n vesting ‘n sterk greep op jou? God gaan my nooit vergewe nie (die vesting van skuldgevoelens). Ek kan daardie persoon nooit vergewe nie (die vesting van wrokkigheid). Slegte dinge gebeur altyd met my (die vesting van selfbejammering). Ek moet in beheer wees (die vesting van trots). Ek verdien nie om liefgehê te word nie (die vesting van verwerping). Ek sal nooit herstel nie (die vesting van nederlaag). Ek moet uitblink, anders sal God my verwerp (die vesting van prestasie). Ek is net so goed soos ek lyk (die vesting van voorkoms). My waarde is gelykstaande aan my besittings (die vesting van materialisme).

Baie Christene herken nie die vestings in hul lewens nie. Jy hoef egter nie een van hulle te wees nie. God het jou die wapens van gebed, die Skrif, die Naam van Jesus, die bloed van Jesus, die Christelike gemeenskap, ens. gegee. Saam is hulle ‘die kragtige gevegstoerusting van God wat vestings kan vernietig’ (vers 4 NLV).

Sielskos: Eseg 24:1-27:24; Matt 18:1-9; Ps 143; Spr 15:8-10

Moenie tou opgooi nie; hou aan!

2026-06-10
Filippense 3:13-14 NLV

Iemand het gesê: ‘Die geheim van sukses is om soos ‘n eend te wees – glad en onverstoord bo die water, en woes besig om onder die oppervlak te swem.’ Niccolò Paganini, die bekende negentiende-eeuse violis, het die waarheid hiervan geïllustreer. Sy onvergeetlikste konsert was nie ‘n maklike uitvoering nie. Hy moes woes onder die oppervlak spartel om die konsert uit te voer. Die konsert is met ‘n volle orkes voor ‘n stampvol gehoor in Italië uitgevoer. Diegene wat hom hoor speel het, sê dat sy tegniek ongelooflik en sy toon fantasties was.

Teen die einde van die konsert was hy besig om sy gehoor met ‘n baie moeilike komposisie te verstom, toe een snaar op sy viool skielik breek en slap van sy instrument afhang. Paganini het net gefrons, sy kop geskud en aanhou speel deur pragtig te improviseer. Toe, tot almal se verbasing, insluitend Paganini s’n, breek ‘n tweede snaar. Kort daarna breek ‘n derde snaar. Dit het soos ‘n komedie gelyk waar Paganini voor die ontsaglike skare met drie snare wat aan sy Stradivarius-viool hang, staan. In plaas daarvan om egter die verhoog te verlaat om sy instrument te herstel, het hy ferm bly staan. Hy het die moeilike stuk kalm op die een oorblywende snaar voltooi – ‘n vertoning wat hom applous, bewondering en blywende roem besorg het.

Paulus was ook so ‘n man: ‘…ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê. Ek jaag wenpaal toe, na die hemelse prys wat God aan my wil gee omdat Christus Jesus dit vir my verdien het.’ Ons almal wat geestelik volwasse is, moet ook so dink. Moet dus nie opgee nie; hou aan!

Sielskos: Eseg 22-23; Matt 17:14-27; Ps 132:11-18; Spr 15:5-7

Oefen Godvertroue eerder as selfvertroue uit

2026-06-09
1 Korintiërs 15:10 NLV

Trots bevorder selfstandigheid. Dit sê vir ons dat ons inderdaad dinge op ons eie kan doen. In ons poging om in selfvertroue te wandel, slaan ons die deur in God se gesig toe en sluit die werk van die Heilige Gees, ons Helper, uit. Paulus was geleerd, gesofistikeerd en toegewyd, maar hy het nederig verklaar: ‘Ek is werklikwaar die geringste van al die apostels, een wat die naam van ‘n apostel nie werd is nie omdat ek God se kerk vervolg het. Maar deur God se onverdiende goedheid is ek vandag wat ek is. Hy het sy goedheid nie tevergeefs aan my bewys nie. Ek het harder gewerk as al die ander – en tog was dit ook weer nie ek nie, maar God se goedheid wat my gedra het’ (verse 9-10 NLV).

Dit maak nie saak hoeveel talente en vermoëns jy besit nie, sonder God sal dit jou net tot by ‘n sekere punt bring. Jesus het gesê: ‘Ek is die druiwestok, julle is die lote. Wie aan my verbonde bly en Ek aan hulle, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie’ (Johannes 15:5 NLV). Die bron van ons vertroue moet dus God en nie onsself wees nie.

Wanneer mense wat in Godvertroue wandel se planne skeefloop, is hulle wys genoeg om hul begeertes ondergeskik aan die soewereine wil van God te stel. Hulle herinner hulself vinnig: “‘n Mens kan hoeveel planne maak, maar op die ou einde gebeur wat die Here besluit het” (Spreuke 19:21 NLV). Hulle is oortuig dat God ‘n hoër doel vir hul lewe het en dat geen mens dit kan dwarsboom nie. Oefen dus Godvertroue eerder as selfvertroue uit.

Sielskos: Eseg 20-21; Matt 17:1-13; Ps 132:1-10; Spr 15:1-4

God sal vir jou kennis en insig gee

2026-06-08
Spreuke 2:6 NLV

Bill Gates het voorspel: ‘Daar sal in die toekoms ‘twee samelewings’ wees; hoogsbetaalde kenniswerkers en laagbetaalde dienswerkers.’ Die gesegde ‘kennis is mag’ is waar. Dit is selfs meer waar in die geestelike realm. Hoe meer jy van God weet, hoe meer selfversekerd sal jy wees. Kennis van God se Woord kan duidelikheid oor die raaiselagtige kwessies van die lewe gee.

Toe ‘n sekere godsdienstige sekte probeer het om Jesus in een van hul debatte oor ‘n spesifieke kwessie uit te vang, het Hy geantwoord: ‘…Julle probleem is dat julle nie die Skrif ken nie. Julle besef ook nie hoe magtig God is nie’ (Matteus 22:29 NLV).

Daar is ‘n paar waarhede wat jy in jou hart moet vasmaak en toelaat dat hulle vrede in jou gees bring. Byvoorbeeld, niemand kan God se doel vir jou lewe dwarsboom nie. ‘Die Here die Almagtige het besluit, en wie sal sy planne kan verander? Wanneer sy hand beweeg, wie kan dit terugbring?’ (Jesaja 14:27 NLV). Jy moet weet en glo dat ondanks enige gebeure, dinge tot jou beswil sal uitwerk. Daarom kan jy angs en bekommernis laat vaar. ‘En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe’ (Romeine 8:28 NLV).

Daniël herinner ons dat God die Een is wat: ‘…aan die wyse manne die wysheid gee en die verstand aan dié wat insig het, wat ondeurgrondelike en verborge dinge openbaar en wat weet wat in die duisternis is; by Hom is die lig’ (Daniël 2:21-22 AFR83). Die ‘lig’ wat jy nodig het, behoort aan God. Jy hoef ook nooit onseker oor enige aspek van jou kennis wanneer jy Hom ken, te voel nie, want Hy weet alles.

Sielskos: Eseg 16:53-19:14; Matt 16:13-28; Ps 48; Spr 14:33-35

Die Woord wat lewe gee

2026-06-07
Johannes 6:63 NLV

Jesus word elf keer ‘Rabbi’ in die Evangelies genoem. Hy was egter nie soos enige ander rabbi nie. Rabbi’s het ander mense se woorde aangehaal, maar Jesus het gesê: ‘Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle…’ In die evangelie van Johannes sê Hy dit twee keer: ‘Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle…’ (Johannes 6:47; 14:12 AFR53). Jesus was nie soos enige ander rabbi nie, want Hy was God wat vlees geword het. Paulus het gesê: ‘In ‘n eenheidsband met Christus is al die geheime skatte van wysheid en kennis te vind’ (Kolossense 2:3 NLV).

Die vroeë kerkvaders het ‘n gunstelinggesegde gehad: ‘Die Evangelies is soos ‘n rivier waarin ‘n muggie kan swem en ‘n olifant kan verdrink.’ Die Evangelies – die verslag van Christus se lewe en lering – het die wêreld soveel beïnvloed dat dit in 2 527 verskillende tale vertaal is. Die tweede mees vertaalde boek, Don Quixote, is in ongeveer 60 tale vertaal. Tot vandag toe bly die Bybel die topverkoperboek van alle tye. Akademici hou rekord van hoe gereeld enige artikels wat hulle skryf, deur ander akademici aangehaal word. Volgens sulke berekeninge, is Jesus se intellektuele impak ongekend. Hoekom is dit so? Want wanneer alles anders faal, werk God se Woord.

Jesus het dit so verduidelik: ‘Dit is die Gees wat lewend maak, die liggaam baat jou niks. Die woorde wat Ek aan julle gerig het, is Gees en lewe.’ As jy ‘n onderwyser is, weet jy dat die nommer een vraag in enige klas die volgende is: ‘Gaan hierdie inhoud in die eindeksamen gevra word?’ As jy jou eindeksamen met hoë punte wil slaag, moet jy jouself elke dag in God se Woord verdiep en dit deel van jou maak.

Sielskos: Matt 5:4; Ps 30; Rom 12:15

Ontwikkel ‘n geestelike denkwyse

2026-06-06
Romeine 8:5 NLV

‘Muscle memory’ word nie in jou spiere gestoor nie. Dis ‘n geheue wat in jou brein gestoor word elke keer wanneer jy ‘n spierbeweging herhaal. Of dit nou ‘n gholfhou of viool speel is, die ‘muscle memory’ word sterker hoe meer dit herhaal word. Het jy al gehoor van die 10 000-uur-reël? Sielkundiges sê dis hoeveel tyd dit neem om ‘n kenner op enige gebied te word. Dis bemoedigend, want dit beteken enigiemand kan dit doen, maar dis ontmoedigend, want dit beteken daar is geen kortpaaie nie, maak nie saak hoe slim of begaafd jy is nie.

Net soos ‘n vreemde taal, is die ontwikkeling van ‘n geestelike denkwyse ‘n leerkurwe. Kan jy jou voorstel om gefrustreerd te wees op die eerste dag wat jy ‘n ander taal begin leer, omdat jy nog nie die taal vlot kan praat nie? Dis hoe ons dikwels voel wanneer ons nie vlot in gebed, of sterk in geloof, of gedissiplineerd in ons gewoontes is nie. Psalm 84:8 (NLV) sê ons ‘…kragte sal vermeerder…’ Jy sal hieraan vir die res van jou lewe, een dag op ‘n slag, moet werk. Jy sal jou vordering moet aanhou meet.

Moenie ‘n fout maak nie – hierdie geestelike dissiplines bou saamgestelde rente op. Hierdie rente word in terme van vreugde, vervulling en krag van God, uitbetaal. ‘Die mense wat deur hulle sondige natuur gedomineer word – hulle gedagtes word oorheers deur sondige dinge. Maar dié wat deur die Gees beheer word – hulle gedagtes is vol van die dinge wat die Gees gelukkig maak. As jou sondige natuur jou denke oorheers, lei dit tot die dood. Maar as die Gees jou denke oorheers, beteken dit vir jou ware lewe en vrede’ (Romeine 8:5-6 NLV).

Sielskos: Eseg 14:1-16:52; Matt 16:1-12; Ps 1; Spr 14:29-32