2026-06-17
Jeremia 29:13 NLV
Fanny Crosby, die bekende gesangeskrywer, het gesê dat sy nooit ‘n gesang probeer skryf het sonder om eers in gebed te kniel nie. Aangesien sy ongeveer 8 000 liedere geskryf het, was sy duidelik ‘n vrou van gebed! Geliefde gesange soos ‘Blessed Assurance,’ ‘To God be The Glory’ en ‘I am Thine, O Lord’ is uit tye van gebed gebore. Soos baie kreatiewe mense, was sy dikwels onder druk om sperdatums te haal. Eenkeer het sy probeer om lirieke vir ‘n deuntjie wat deur W.H. Doane gekomponeer is, te skryf. Sy kon blykbaar net nie die woorde vind nie, maar toe onthou dat sy vergeet het om eers te bid. Toe sy van haar knieë af opstaan, het sy – so vinnig as wat haar assistent kon skryf – die woorde vir die beroemde gesang, ‘Jesus, Keep Me Near the Cross,’ gedikteer.
‘n Ander keer het sy vyf dollar vir iets spesifieks nodig gehad, maar sy was platsak. Daar was geen tyd om haar bankier te raadpleeg nie, dus het sy eenvoudig vir die geld gebid. Toe haar gebed klaar was, het sy heen en weer in haar kamer begin loop en probeer om in die regte stemming te kom om te skryf. Net op daardie tydstip klop ‘n bewonderaar aan haar deur. Die twee het kortliks gesels en met hul afskeid het die vrou iets in Fanny se hand gedruk. Dit was ‘n vyfdollar-noot! Fanny het op haar knieë geval om God te bedank en direk daarna een van haar bekendste gesange geskryf: ‘All the Way My Saviour Leads Me.’
Die geheim tot Fanny Crosby se sukses is nie ‘n ‘geheim’ nie. Voordat sy enigiets vir God probeer doen het, het sy eers God vir hulp genader. Die woord vir jou vandag is dus – bid daaroor!
Sielskos: Eseg 40:10-42:20; Matt 20:1-16; Ps 139:1-6; Spr 15:25-27
2026-06-16
Handelinge 20:24 AFR83
Voordat hy die leiers van die kerk in Efese vir die laaste keer verlaat het, het Paulus vir hulle gesê: ‘Ek weet dat die Heilige Gees my in elke stad verseker dat gevangenskap en vervolging op my wag. Maar al is my lewe vir my kosbaar, reken ek dit van geen belang nie as ek maar net my lewenstaak kan voltooi en die dienswerk wat ek van die Here Jesus gekry het, kan klaar maak: dit is om die evangelie van God se genade te verkondig’ (verse 23-24 AFR83).
Daar is twee maniere om ‘n probleem te hanteer: 1) Bid en glo dat God dit sal verwyder, soos Hy met die mure van Jerigo gedoen het. 2) Ontgroei die probleem.
In die 1920’s het ‘n Engelse avonturier genaamd Mallory ‘n ekspedisie om Mount Everest te probeer verower, gelei. Sy eerste twee pogings het misluk. Met sy derde poging is hy en die meeste van sy span in ‘n sneeustorting uitgewis. Met hul terugkeer na Engeland het die paar wat oorleef het, ‘n banket gehou om Mallory en diegene wat omgekom het, te vereer.
Die leier van die oorlewendes het tydens sy bedankingstoespraak sy rug op die skare gedraai en na ‘n groot prentjie van Mount Everest teen die muur, wat soos ‘n stil, onoortreflike reus bo hom uitgetroon het, gekyk. Met trane wat oor sy gesig stroom, het hy namens sy oorlede vriende met die berg gepraat: ‘Ek spreek tot jou, Mount Everest, in die naam van alle dapper mans en vroue wat leef en dié wat nog gebore moet word. Mount Everest, jy het ons een keer verslaan; jy het ons twee keer verslaan; jy het ons drie keer verslaan. Ons sal jou egter eendag verslaan, want jy kan nie groter word nie – maar ons kan.’
Sielskos: Eseg 37:1-40:9; Matt 19:15-30; Ps 73:17-28; Spr 15:22-24
2026-06-15
Hosea 6:3 NLV
Die Here het die kerk in Efese daarvan beskuldig dat hulle hulle eerste liefde versaak het (sien Openbaring 2:4) en die kerk van Laodisea dat hulle nie warm of koud is nie, maar louwarm (sien Openbaring 3:15-16).
Lees die volgende Skrifgedeeltes noukeurig en biddend: ‘Moenie sê: ‘Waarom was die ou dae beter as die huidige?’ nie. Dit is nie uit wysheid dat jy daaroor vra nie’ (Prediker 7:10 NLV). ‘Die pad van die regverdiges is soos die lig met dagbreek. Dit word al helderder totdat die volle dag aanbreek’ (Spreuke 4:18 NLV). ‘Kom laat ons die Here ken! Laat ons ons inspan om ons aan Hom toe te wy! Dan sal Hy ons antwoord. Dis so seker as die aanbreek van die nuwe dag of die koms van die reën, die lentereëns wat die grond deurweek’ (Hosea 6:3 NLV). ‘Wanneer Hy ook al kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle begelei in die volle waarheid. Hy sal nie uit Homself praat nie, maar net sê wat Hy hoor. Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle meedeel. Hy sal My verheerlik omdat Hy dit wat Hy van My ontvang het, aan julle meedeel’ (Johannes 16:13-14 NLV).
‘Vra My, en Ek sal jou ‘n antwoord gee. Ek sal jou van ongelooflike dinge vertel. Dit is nou nog vir jou ‘n geheim, en jy weet niks daarvan nie’ (Jeremia 33:3 NLV). ‘Mag julle in staat wees om saam met al God se mense te begryp hoe breed en lank en hoe hoog en diep sy liefde is. Dan sal julle Christus se liefde, wat alle verstand te bowe gaan, beleef. Mag julle heeltemal met die volheid van God vervul word’ (Efesiërs 3:18-19 NLV).
Die woord vir jou vandag is – God het meer vir jou in gedagte.
Sielskos: Eseg 34-36; Matt 19:1-14; Ps 73:1-16; Spr 15:18-21
2026-06-14
Romeine 8:35 NLV
Paulus het gevra: ‘Kan enigiets ons ooit van Christus se liefde skei?’ Die antwoord is nee – niks nie! Nie eers ‘…dinge soos lyding of benoudheid of vervolging, honger of koue, of gevaar of doodsdreiging…’ (vers 35 NLV), sal dit regkry nie. ‘Ontbering’ het Paulus laat terugdink toe hy op ‘n skip in die Middellandse See tydens ‘n verskriklike tifoon was. ‘Vervolging’ het hom aan die feit dat hy by Listra gestenig en vir dood agtergelaat is, herinner. ‘Beproewinge’ het Paulus laat onthou dat hy voor Nero self tereggestaan het.
Hy het ook honger gely, is deur ‘n giftige slang gebyt, en die klere is van sy rug afgeskeur sodat hy gegésel kon word. Dit het ook nie net een of twee keer gebeur nie. Vyf keer het hy die maksimum vonnis ontvang – veertig houe minus een. Paulus se rug is met ‘n sweep geslaan en met 195 letsels deurkruis.
Ontbering het een van twee gevolge: dit verhard of versag ons harte. Dis daardie verharding of versagting wat ons maak of breek. Volgens een meningspeiling onder Londenaars het 60 persent van diegene wat Duitsland se blitzkrieg tydens die Tweede Wêreldoorlog oorleef het, dit as die gelukkigste tyd van hul lewens onthou. Dis die moeilike tye wat ons liefde toets. Dis egter ook hoe dit bewys word.
Die liefde van Christus is nie deur sy wonderwerke bewys nie – dit is aan ‘n Romeinse kruis bewys. Dit het bewys dat Christus se liefde onfeilbaar is. Dus, maak nie saak watter probleme, ontbering of vervolging jy in die gesig staar nie, dit sal ook verbygaan. Jesus is by jou en Jesus is vir jou. Niks, absoluut niks, kan jou van sy liefde skei nie!
Sielskos: Matt 5:5; Ps 37:1-11; Sef 2:3
2026-06-13
Efesiërs 3:18 NLV
Thomas Aquinas was een van die grootste skrywers en denkers van die Middeleeue. Sy Summa Theologica is een van die geskiedenis se blywendste teologieë. Aquinas het dit egter nooit voltooi nie as gevolg van iets wat op 6 Desember 1273 gebeur het. Hierdie gebeurtenis het veroorsaak dat hy heeltemal ophou skryf het. ‘Alles wat ek al geskryf het, lyk soos onsin,’ het Aquinas gesê, ‘in vergelyking met dit wat nou aan my geopenbaar is.’ Presies wat hierdie openbaring behels, bly ‘n raaisel, maar daardie een openbaring het al die kennis wat hy opgedoen het, oortref.
Dis wat jy ook nodig het. Jy het ‘…geestelike wysheid en insig…’ (Efesiërs 1:17 NLV), nodig. Niks sal jou lewensuitkyk, of selfs jou persoonlikheid, so vinnig verander soos ‘n openbaring van God se liefde nie. Dit is egter geheel en al anders as die manier waarop ons liefde op ‘n menslike vlak gee en ontvang. Sy liefde is eerstens onvoorwaardelik. Daar is niks wat jy kan doen sodat God jou meer of minder lief het nie, want Hy het jou reeds perfek en ewig lief. Selfs wanneer jy dit nie beantwoord nie, ontmoedig of verminder dit nie sy liefde vir jou nie. Dit beklemtoon dit.
‘God laat blyk sý liefde vir ons egter daarin dat Christus vir ons kom sterf het ten spyte daarvan dat ons nog sondaars was’ (Romeine 5:8 NLV). Dis maklik om iemand lief te hê wanneer hulle op hul beste is. Dis egter nie so maklik wanneer hulle op hul slegste is nie. Dis egter die toets van ware liefde. Ons liefde is geneig om reaktief te wees, maar God se liefde is proaktief. Hy het ons lief wanneer ons dit die minste verwag en dit die minste verdien.
Sielskos: Eseg 31-33; Matt 18:21-35; Ps 80:12-19; Spr 15:15-17
2026-06-12
Efesiërs 3:18-19 NLV
Op die gebied van algemene relatiwiteit, is daar ‘n punt van geen terugkeer nie. Dit is die punt waar swaartekrag so groot word dat dit onmoontlik is om daarvan te ontsnap. Die mees voor die hand liggende voorbeeld hiervan is ‘n swart gat – ‘n hemelliggaam so massief dat lig sy swaartekragveld slegs kan binnedring, maar nooit kan verlaat nie. Sodra jy sy horison oorsteek, is daar geen omdraaikans nie. God se liefde is soos hierdie punt van geen terugkeer nie.
Die Bybel sê dat God die liefde self is (sien 1 Johannes 4:8). Die implikasies van hierdie enkele stelling sal ‘n ewigheid neem om te ontrafel. Niks is sterker of langer as God se liefde nie. Sodra jy dit oorsteek, kan jy nie terugkeer nie. Wie sou in elk geval wou? Logika sal jou nie tot by God se liefde kry nie. Sy liefde is meer as logies – dit is teologies. Die enigste manier om God se liefde te ontvang, is deur ‘n openbaring daarvan te kry.
Paulus het geskryf: ‘Mag julle in staat wees om saam met al God se mense te begryp hoe breed en lank en hoe hoog en diep sy liefde is. Dan sal julle Christus se liefde, wat alle verstand te bowe gaan, beleef. Mag julle heeltemal met die volheid van God vervul word’ (Efesiërs 3:18-19 NLV). Die liefde van God is onmeetbaar. Dit pas nie in ‘n boks nie, nie eers in ‘n boks so groot soos die heelal nie. As die heelal nie groot genoeg is nie, sal God se liefde beslis nie binne die grense van ons menslike logika pas nie. Hoe kry ons dit dan in ons harte en gedagtes? Deur ‘n persoonlike openbaring! Die woord vir jou vandag is dus: bid vir ‘n openbaring van God se liefde.
Sielskos: Eseg 27:25-30:26; Matt 18:10-20; Ps 80:1-11; Spr 15:11-14