Erken altyd jou afhanklikheid van God

2026-06-23
2 Korintiërs 3:5-6 NLV

Dr O. Hallesby het in sy klassieke boek genaamd Prayer geskryf: ‘Gebed en hulpeloosheid is onafskeidbaar. Slegs diegene wat hulpeloos is, kan werklik bid. Gebed bestaan dus eenvoudig daarin om God dag vir dag te vertel op watter maniere ons hulpeloos voel. Ons word aangemoedig om elke keer wanneer die Gees van God opnuut vir ons ons hulpeloosheid beklemtoon, te bid. Ons besef hoe magteloos ons van nature is om te glo, lief te hê, te hoop, te dien, op te offer, te ly, die Bybel te lees, te bid en teen ons sondige begeertes te stry.’

Kom ons wees duidelik: Om hulpeloos te voel, is anders as om hopeloos of waardeloos te voel; dit is bloot om ons totale afhanklikheid van God te erken. Jesus het gesê: ‘…sonder My kan julle niks doen nie’ (Johannes 15:5 NLV). God sal jou nooit ‘n opdrag gee wat nie sy insette, sy guns en sy bemagtigende genade vereis nie. Elke aksie van God in jou lewe is ontwerp om jou afhanklikheid van Hom te verhoog. As jy dit sonder God kan doen, moet jy stop en jouself afvra: ‘Is dit werklik van God?’

Paulus het geskryf: ‘Dít is die vertroue wat ons op God stel, deur die bemiddeling van Christus. Nie dat ons op eie houtjie iets kan bedink asof dit ons eie breinkind is nie. Ons bekwaamheid kom van God, wat ons bekwaam gemaak het…’ (2 Korintiërs 3:4-6 NLV). Dawid het al die voorregte van koningskap geniet, maar hy het geskryf: ‘Ek is arm en behoeftig, maar die Here dink aan my. U is my hulp en my redder…’ (Psalm 40:18 NLV).

Die woord vir jou vandag is dus: moet nooit, ooit jou gevoel van afhanklikheid van God verloor nie.

Sielskos: 1 Sam 1-3; Matt 21:33-46; Ps 8; Spr 16:8-11

Verhoog die standaard

2026-06-22
2 Samuel 21:21 NLV

Nadat Dawid vir Goliat doodgemaak het, het vier ander mans, insluitend sy neef Jonatan, reuse doodgemaak wat teen die Israeliete in opstand gekom het. ‘In nog ‘n geveg teen die Filistyne in Gat was daar ‘n baie groot man met ses vingers aan elke hand en ses tone aan elke voet, saam 24. Hy was ook uit die geslag van die Refaïete. Hy het Israel uitgedaag. Maar Jonatan, seun van Dawid se broer Samma, het hom doodgemaak’ (2 Samuel 21:20-21 NLV). Dawid het die standaard verhoog. Goliat se nederlaag, wat almal vroeër gedink het onmoontlik was, het hulle die krag gegee om hul eie reuse te oorwin.

Tot en met 1954 het niemand al ooit ‘n myl in minder as vier minute gehardloop nie. Op 6 Mei 1954, het Roger Bannister egter die afstand in 3 minute en 59.4 sekondes afgelê. Hy het die reus verslaan. Twee maande later het die Australiër John Landy Bannister se rekord gebreek en bewys dat die vier-minuut-myl net soveel ‘n sielkundige as ‘n fisiese uitdaging is. In die eerste helfte van die twintigste eeu het baie mense probeer om Mount Everest te klim en misluk. Op 29 Mei 1953 was Edmund Hillary en sy Sherpa-gids, Tenzing Norgay, die eerste mense wat die kruin bereik het. Sedertdien het meer as ‘n duisend klimmers die ekspedisie voltooi.

Dawid, Bannister en Hillary het almal reuse van hul tyd oorwin en ander geïnspireer om hul prestasies te ewenaar en daarin uit te blink. Jy doen jouself en ander ‘n onreg aan wanneer jy van jou reus wegvlug. Jy moet ophou bang wees om moeilike take aan te pak en jouself herinner: ‘As God dit voorheen gedoen het, kan Hy dit weer doen, en as Hy dit vir ander gedoen het, kan Hy dit vir my ook doen.’

Sielskos: Hooglied 5-8; Matt 21:18-32; Ps 144:9-15; Spr 16:4-7

Wees ‘n vader

2026-06-21
Maleagi 4:6 NLV

In 1985 het Tim Burke se kinderdroom waar geword toe die Montreal Expos-bofbalspan hom as ‘n gooier aangestel het, wat hom ‘n jaarlikse salaris van $600,000 besorg het. (Destyds was dit groot geld vir ‘n speler). Na vier jaar in die klein ligas is hy uiteindelik ‘n kans gegun om in die groot ligas te speel. Hy het vinnig sy waarde bewys deur ‘n rekord as ‘n nuweling-gooier op te stel.

Intussen het Tim en sy vrou, Christine, vier kinders met spesiale behoeftes aangeneem – twee dogters van Suid-Korea, ‘n gestremde seun van Guatemala en nog ‘n seun van Viëtnam. Al die kinders is met baie ernstige siektes of gebreke gebore en nóg Tim nóg Christine was voorbereid op die geweldige eise wat so ‘n gesin sou meebring.

Met die uitmergelende skedule van hoofliga-bofbal was Tim selde tuis om te help. Nadat hy sy siel deursoek het en oor sy lewe se ware prioriteite besluit het, het Tim iets gedoen wat almal verbaas het – hy het sy droomloopbaan in hoofliga-bofbal prysgegee. Toe verslaggewers hom vra om hierdie verstommende besluit te verduidelik, het hy eenvoudig gesê: ‘Bofbal sal steeds goed vaar sonder my. Maar ek is die enigste pa wat my kinders het.’

Helde is deesdae skaars. Tim Burke is een van hulle. Pa, jy kan ook een wees. Die meeste beleggings in die lewe behels risiko en kan tot spyt lei. Jy sal egter nooit ‘n oomblik spyt wees oor die liefde, tyd en moeite wat jy in jou kinders belê nie. Wees dus ‘n pa.

Sielskos: Matt 5:6; Ps 63:1-5; Rom 3:21-23

Hou aan hardloop!

2026-06-20
Habakuk 3:2 AFR83

Die Bybel vergelyk die Christelike lewe met ‘n marathon. ‘…kom ons stroop alles af wat ons spoed vertraag, veral die sonde wat so maklik ‘n houvas op ‘n mens kry. Kom ons hardloop met volharding op die baan wat voor ons uitgestrek lê, ons oë vasgenael op Jesus, die Een op wie ons geloof vanaf die wegspring tot by die eindstreep steun. Hy het ter wille van die blydskap wat daar voor vir Hom gewag het, die kruis verduur…’ (Hebreërs 12:1-2 NLV). Paulus het aan die gelowiges in Filippi geskryf: ‘…een ding is seker: ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê. Ek jaag wenpaal toe, na die hemelse prys wat God aan my wil gee…’ (Filippense 3:13-14 NLV).

Die kanse is goed dat jy nie by die wegspringplek en ook nie by die eindstreep is nie. Jy is êrens in die middel. Wanneer jy ‘n wedloop hardloop, het jy aan die begin baie entoesiasme en energie. Die einde hou ook baie belofte in terwyl ons die laaste stuk hardloop en ons doelwit bereik. Die middel van die wedloop – wanneer ons lankal verby die begin is en nie seker is hoe ver weg die einde nog is nie – is waar ons dikwels getoets word.

Daarom het die profeet Habakuk geskryf: ‘…Doen dit tog ook in ons tyd, laat u dade ook in ons tyd ervaar word…’ Dit is in die middel van die wedloop wat ons aanmoediging nodig het en waar ons weer op die prys wat op ons wag, moet fokus. Diegene wat voor ons gehardloop het, het die aflosstokkie deur die eeue heen, van geslag tot geslag, oorgedra – sonder om dit te laat val. Wat moet jy dus doen? Neem die aflosstokkie, hardloop en hou aan hardloop!

Sielskos: Hooglied 1-4; Matt 21:1-17; Ps 144:1-8; Spr 16:1-3

Laat jou droom herleef

2026-06-19
Job 33:14-15 NLV

God is die gewer van drome. ‘Maar God praat op verskillende maniere… Hy praat deur drome en visioene, in die nag wanneer mense diep slaap’ (verse 14-15 NLV). Tensy jy die res van jou lewe onvervuld en ongeïnspireerd wil leef, moet jy jou droom uit die kas haal en die stof afblaas. Dis maklik om in die ‘moets’ van die lewe vasgevang te raak – werk; om na kinders, eggenote en bejaarde ouers om te sien; die huishouding te bestuur, ens.

Jy moet egter glo dat jy jou drome kan laat herleef en glo dat jy die vermoë het om die entoesiasme wat jy eens vir die lewe gevoel het, te ontsluit. Jy moet die moed hê om die teleurstellings van die verlede in die gesig te staar en uit te pluis hoekom jy laas van die pad afgewyk het. Dan moet jy die stem in jou kop stilmaak wat sê: ‘Wie is jy om meer uit die lewe te wil hê? Jy kan dit nie doen nie; dis te laat vir jou.’

Ons gee moed op met ons drome omdat ons dink dis wat grootmense veronderstel is om te doen. Soos ons egter volwasse word, besef ons dat dit die strewe na ons drome is wat ons lewendig laat voel. Die waarheid is dat jou droom, soos Lasarus, met liefde, gebed en groot aandag, opgewek kan word (sien Johannes 11:43).

Die geheim om drome te laat herleef is om die proses daarvan te geniet, eerder as om op die uitkoms daarvan te fokus. Prestasie gaan in hierdie geval nie oor posisie, roem of finansiële vergoeding nie, maar om dit te doen wat jy liefhet. Dit is wat Jesus belowe het: ‘…Ek het gekom sodat hulle lewe kan hê, ja, om dit oorvloedig te hê’ (Johannes 10:10 NLV).

Sielskos: Eseg 46-48; Matt 20:29-34; Ps 139:13-24; Spr 15:31-33

Bly positief

2026-06-18
Filippense 4:8 NLV

Marcial Losada is ‘n bedryfsielkundige wat die krag van positiwiteit bestudeer. Hy argumenteer dat ons negatiewe terugvoer nodig het om te oorleef. Sonder regstellings in die middel van die proses, maak ons gedagteloos aanhoudend dieselfde foute. As jy egter wil floreer, het mens ook positiewe terugvoer nodig. Sy studies het die sogenaamde Losada-verhouding opgelewer: dit is die verhouding van positiewe terugvoer tot negatiewe terugvoer in ‘n stelsel. Dit maak nie saak of daardie stelsel ‘n kerk, ‘n gesin of jou werkplek is nie, daar moet ten minste 2.9 positiewe terugvoer vir elke negatiewe terugvoer wees.

Wat is dus jou verhouding as eggenoot, ouer, werknemer, of vriend? Negatiewe terugvoer is geneig om meer gewig te dra en langer te hou, dus moet dit uitgebalanseer word. ‘n Goeie reël is om drie komplimente vir elke klagte te gee. In plaas daarvan om na foute te soek, moet jy oefen om mense te betrap waar hulle dinge reg doen. Hier is nog ‘n paar dinge wat jy kan doen om positief te bly:

1) Memoriseer en mediteer oor die beloftes van God se Woord en anker jouself daaraan.
2) Skryf in ‘n dankbaarheidsjoernaal. Dit sal jou laat besef hoe geseënd en welgesteld jy is.
3) Kweek die gewoonte aan om ‘n hartlike briefie aan mense wat jy waardeer, te stuur. Dit sal jou net twee minute neem, maar jy kan iemand se dag, of selfs iemand se jaar, maak!
4) Vind ‘n manier om ‘oorwinnings’ met jou familie en in jou werkplek te deel. Dit het die krag om die fokus te verskuif en die kultuur te verander. Dit sal jou ook op ‘n kragtige nuwe manier aan jou kinders en jou kollegas anker.

Sielskos: Eseg 43-45; Matt 20:17-28; Ps 139:7-12; Spr 15:28-30