Geestelike paaie (4)

2026-06-29
Psalm 122:1 NLV

Die aanbiddingspad. Wanneer jy op die aanbiddingspad is, vind jy aanklank by die Psalmdigter: “Ek was bly toe hulle vir my gesê het: ‘Kom ons gaan na die huis van die Here.'” Iets diep binne jou voel of dit vrygemaak word wanneer jy die Here lofprys. Jou hart gaan oop en jy word lewendig. Jy bevind jouself in trane en ander kere in oomblikke van diepe vreugde, want God voel so naby. Hier is egter twee waarskuwings as jy op hierdie pad is:

1) Moenie mense oordeel wat nie so openlik uiting aan hulle gevoelens gee nie. Sommige van hulle het grootgeword in kerke waar niemand ‘n vinger opgesteek het nie, wat nog te sê van ‘n hand in aanbidding.
2) Waak teen ‘n geestelikheid wat net op ervarings gebaseer word en jou altyd na die volgende ‘aanbiddingshoogtepunt’ laat soek. C.S. Lewis het ons gewaarsku oor die noodlottige sonde om die heeltyd ‘Encore!’ te sê en te eis dat God ‘n ervaring of ‘n emosie moet reproduseer. Hy het gesê dat van alle gebede, God die minste geneig mag wees om hierdie gebed te verhoor, omdat dit kan veroorsaak dat ons die ervaring, eerder as God, begin aanbid.

Omdat musiek ons gevoelens so kragtig beïnvloed, kan ons daarvan afhanklik raak om ‘n sekere emosionele reaksie te produseer. In hierdie geval moet jy dalk tyd bestee om God sonder musiek te aanbid, sodat jou aanbidding op wie God is gebaseer word en dit nie net ‘n geval is waar jy deur sekere klanke meegesleur word nie. Jy moet dalk ook probeer om meer Bybelstudie te doen, sodat jou hart diep in die kennis van God gewortel is.

Sielskos: 1 Sam 16-17; Matt 23:1-12; Ps 64; Spr 16:27-30

Geestelike paaie (3)

2026-06-28
Psalm 119:59 NLV

Die pad van diens. Op die pad van diens vind jy dat God se teenwoordigheid die tasbaarste is wanneer jy ander mense help. Jy identifiseer met die woorde van Jesus: ‘…Ek verseker julle: as julle iets hiervan vir een van my broers of susters gedoen het, selfs al was dit vir die heel eenvoudigste onder hulle, het julle dit vir Mý gedoen’ (Matteus 25:40 NLV). Jy mag dalk ook vind dat jy ongemaklik voel in ‘n omgewing waar jy nie ‘n rol het om te speel of ‘n diens het om te verrig nie.

‘n Voorbeeld hiervan is Dorkas, van wie die Bybel sê: ‘…Sy was altyd besig om aan ander goed te doen en armes te help’ (Handelinge 9:36 NLV). Moeder Teresa sou ‘n moderne eweknie van Dorkas gewees het. Sy was nie so betrokke by diensbaarheid omdat dit iets was wat sy veronderstel was om te doen nie, maar omdat dit haar vreugde gebring het. Sy het dikwels haar eie ontoereikendheid gevoel wanneer sy alleen was; maar sy het nooit die teenwoordigheid van Jesus sterker gevoel as in die teenwoordigheid van diegene wat sy gedien het nie.

Mense op hierdie pad vind dat as hulle kerk bywoon, maar geen plek het om te dien nie, God ver verwyderd begin voel. Twee gevare wat jy in die gesig staar as jy op die pad van diens is, is: 1) Jy sal in die versoeking kom om ander te oordeel wat nie soveel soos jy dien nie. 2) Jy kan so vasgevang daarin raak om God se dienaar te wees, dat jy vergeet dat jy sy geliefde en verloste kind is. Daarom moet jy leer om liefde te ontvang sowel as om dit aan te bied.

Sielskos: Matt 5:7; Ps 103:8-18; 1 Pet 1:3

Geestelike paaie (2)

2026-06-27
Psalm 119:35 NLV

Die verhoudingspad. Mense wat die verhoudingspad volg, vind dat hulle ‘n diep gevoel van God se teenwoordigheid ervaar wanneer hulle by betekenisvolle verhoudings betrokke is. Jesus se woorde: ‘Waar twee of drie bymekaarkom omdat hulle my mense is, is Ek immers ook saam met hulle daar’ (Matteus 18:20 NLV), maak volkome sin vir die mens op die verhoudingspad.

Wanneer jy op die verhoudingspad is, mag jy skuldig voel wanneer jy ander mense oor lang periodes van afsondering in God se teenwoordigheid hoor praat en dink: ‘Afsondering sou nie so erg wees as ek net ‘n klomp ander mense kon saamvat nie.’ Jy het al dikwels belangrike geestelike oomblikke ervaar, soos om van sonde oortuig te word of aangemoedig te word om te volhard, soos God met jou deur ander mense praat. Jy is baie meer geneig om gebed of dade van diensbaarheid te beoefen wanneer jy dit in ‘n verhoudingskonteks kan doen.

Wanneer jy op die verhoudingspad is, is jy geneig om God meer in ‘n gesprek as uit ‘n boek uit met jou te hoor praat. Daar is egter twee gevare waarteen jy moet waak. Een is oppervlakkigheid – om jouself so dun verhoudingsgewys te versprei dat niemand verby jou uiterlike kan kom om jou diep te ken, lief te hê en uit te daag nie. Die tweede is om so afhanklik van die gedagtes en raad van ander te word, dat jy nie die sensitiwiteit en vermoë ontwikkel om God self te hoor nie. “Jy sal ‘n stem hoor sê: ‘Hier is die regte pad. Draai om en loop hierlangs'” (Jesaja 30:21 NLV).

Sielskos: 1 Sam 14-15; Matt 22:34-46; Ps 59:9-17; Spr 16:23-26

Geestelike paaie (1)

2026-06-26
Psalm 119:5 NLV

‘n Geestelike pad het te make met die manier waarop jy God se teenwoordigheid die natuurlikste aanvoel en geestelike groei ervaar. Ons almal het ten minste een pad wat ons maklik vind. Daar is enorme vryheid daarin om jou geestelike pad te identifiseer en te omarm. Dit beteken dat jy op hierdie manier waarop jy met God skakel, kan fokus. Kom ons kyk vir die volgende paar dae na verskillende geestelike paaie en of ons joune kan bepaal.

Kom ons kyk eerstens na die intellektuele pad. Wanneer jy op hierdie pad is, beweeg jy nader aan God soos jy meer van Hom leer. Jy is lief daarvoor om die Skrif te bestudeer. Wanneer jy kerk toe gaan, wag jy vir die musikale aanbidding om te eindig sodat die preek kan begin. Wanneer jy met ‘n krisis of ‘n geestelike uitdaging gekonfronteer word, is jy geneig om analities die probleem te probeer oplos. Jy identifiseer met die woorde van Jesus toe Hy gesê het: ‘…Jy moet die Here jou God liefhê met… jou hele verstand…’ (Lukas 10:27 NLV).

Die gevaar van hierdie pad lê daarin om slegs ‘n verstand en geen hart te word nie. Daarom het Paulus geskryf: ‘…Kennis laat ‘n mens belangrik voel; die liefde, daarenteen, bou ‘n gemeente op. As jy dink jy weet alles, het jy nog nie ware kennis nie. Maar as jy vir God liefhet, dan ken God jou en jy is vir Hom belangrik’ (1 Korintiërs 8:1-3 NLV). Maak dus seker dat jou groei in kennis met groei in nederigheid en liefde gebalanseer word.

Sielskos: 1 Sam 11-13; Matt 22:23-33; Ps 59:1-8; Spr 16:20-22

Geoorloof of tot voordeel?

2026-06-25
1 Korintiërs 10:23 NLV

God kan jou van enigiets in ‘n enkele dag verlos, maar jy moet dit met daaglikse dissipline ondersteun. As jy nie dag in en dag uit geestelike dissipline beoefen nie, sal jou verlossing van korte duur wees. Jy sal terugval in dit waarvan God jou verlos het. Enigeen kan ‘n lewensdoelwit stel; die moeilike deel is om dit elke dag na te jaag. Jy word een oefensessie op ‘n slag fiks. Jy delg jou skuld met een salaristjek op ‘n slag. Watter doelwit jy ook al nastreef, jy moet dit een tree op ‘n slag, een dag op ‘n slag neem!

Let op dat Paulus nie net gesê het dat ons nie volgens ons sondige natuur moet lewe nie, hy het ook gesê dat ons volgens die Gees moet lewe (sien Romeine 8:4). Om te besluit dat jy teen iets is, is net die helfte van die stryd. Die ander helfte is om te besluit dat jy vir iets is. Dallas Willard het een keer gesê: ‘Not going to London or Atlanta is a poor plan for going to New York.’ Dis voor die hand liggend, maar dis hoe baie van ons geestelike dissipline benader. Ons probeer om nie te sondig deur nie te sondig nie. As jy egter op dit wat jy nie moet doen nie gefokus is – sal jy waarskynlik nie doen wat jy moet nie.

Jesus het gesê: ‘…Op hierdie rots sal Ek my kerk oprig, en al die magte van die hel sal dit nie oorwin nie’ (Matteus 16:18 NLV). Jesus het nie gesê jy sal jou kerk bou nie. Dit is nie joune nie; dit is syne. Dit geld ook vir jou besigheid, jou skool, jou familie, ens. As jy op gehoorsaamheid gefokus is, sal Hy jou gevegte vir jou veg!

Sielskos: 1 Sam 8-10; Matt 22:15-22; Ps 21; Spr 16:16-19

Ragab: verlos en gelei

2026-06-24
Hebreërs 11:31 AFR83

Baie kan oor Ragab gesê word sonder om haar beroep te noem. Sy was ‘n Kanaäniet. Sy het aan Josua se spioene skuiling gegee. Sy het in die God van Abraham begin glo voordat sy ooit die kinders van Abraham ontmoet het. Sy is gespaar toe haar stad vernietig is. Sy het met ‘n tydgenoot van Josua getrou en ‘n seun met die naam Boas, ‘n agterkleinseun met die naam Isai, ‘n agter-agterkleinseun met die naam Dawid, en ‘n afstammeling met die naam Jesus, gehad. Ja, Ragab se naam verskyn in die stamboom van die Seun van God. Haar CV hoef nie haar beroep te noem nie.

Tog word sy in vyf van die agt keer wat sy in die Skrif genoem word, ‘n prostituut genoem. Dit word selfs saam met haar naam in Hebreërs se lys van geloofshelde, genoem (hoofstuk 11). Hierdie lys sluit Abraham, Isak, Jakob, Josef, Moses in – en dan skielik, ‘Ragab, die prostituut.’ Geen voetnota, geen verskoning nie. Haar verlede is deel van haar getuienis. ‘Omdat Ragab, die prostituut, geglo het… het sy nie omgekom… nie.’ Dink mooi hieroor na: haar geloofsbelydenis was belangriker as haar beroep as ‘n prostituut.

Miskien is jou verlede ‘n sondige een. Miskien deel jou portuurgroep nie jou geloof nie. Miskien is jou stamboom een van geweld en jou voorouers een van rebellie. Indien wel, is Ragab jou rolmodel. Ons laat nie skarlakenrooi toue uit ons vensters hang nie, maar ons vertrou op die bloedrooi draad van Christus se bloed. Ons berei nie vir die koms van ‘n Hebreeuse leër voor nie, maar ons leef met die oog op die wederkoms van Jesus Christus. Die God wat Ragab verlos en gelei het, sal dieselfde vir jou doen wanneer jy jou lewe aan Hom oorgee.

Sielskos: 1 Sam 4-7; Matt 22:1-14; Ps 17; Spr 16:12-15