2026-07-05
Psalm 127:2 NLV
In die Westerse kultuur dink ons dat ‘n dag begin wanneer die son opkom. Die Bybel sê egter: ‘…Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die eerste dag’ (Genesis 1:5 AFR53). Elke dag begin met die aand. Die skrywer, Eugene Peterson, het opgemerk dat die Bybel op hierdie manier ons help om te onthou: ‘Alles hang nie van my af nie. Ek gaan slaap; God gaan werk. Dis sy dag. Die wêreld hou aan draai, die getye eb en vloei en lewens begin en eindig, selfs al is ek nie daar om enige iets daarvan te bewaak nie. God is teenwoordig wanneer ek slaap.’ Dus het die Psalmdigter geskryf: ‘Tevergeefs werk jy so hard, van vroegoggend tot laatnag, soos jy swoeg om te bestaan, maar vir hulle wat Hy liefhet, gee Hy dit in hulle slaap’ (Psalm 127:2 NLV).
Daar word beraam dat daar in Amerika 24 000 mense jaarliks in motorongelukke, wat deur slaapgebrek en moegheid veroorsaak word, sterf. Gebrek aan slaap veroorsaak dat mense met hul eggenote en vriende stry, minder goeie werk lewer, minder liefdevol en meer geïrriteerd met kinders en geliefdes is en oor die algemeen ellendig voel.
Hoe kan jy dus ‘n ‘goeie dag’ hê? Voordat jy gaan slaap, neem ‘n paar minute om jou dag met God te hersien. Probeer om enige huishoudelike konflikte voor slaaptyd op te los. Paulus het geskryf: ‘…Moenie tot die aand toe kwaad bly, en die duiwel so ‘n houvas gee nie’ (Efesiërs 4:26-27 NLV). Bely enige sonde wat by jou opkom en vra vergifnis daarvoor. Neem die tyd om aan die oomblikke wat jy seën ervaar het, te dink en daarvoor dankie te sê. Gee God met ander woorde die laaste sê in jou dag.
Sielskos: Matt 5:8; Ps 51:10; Tit 1:15
2026-07-04
Jakobus 5:8 NLV
Geduld, vanuit ‘n Bybelse perspektief, behels die volgende vier dinge:
1) Vertroue in God se onfeilbare liefde en getrouheid teenoor ons: ‘…Sy liefde het geen einde nie. Op u ontferming kan ‘n mens altyd vertrou. Dit is elke oggend nuut’ (Klaagliedere 3:22-23 NLV).
2) Vertroue dat Hy sy beloftes aan ons sal nakom: ‘Loof die Here… Nie een woord van al die goeie beloftes… het onvervuld gebly nie’ (1 Konings 8:56 NLV).
3) Vertroue dat Hy alles wat betrekking op ons het, onder beheer het: ‘Die Here sal vir my alles goed laat afloop…’ (Psalm 138:8 AFR83).
4) Vertroue dat Hy selfs in die moeilikste omstandighede, alles ten goede vir ons sal laat uitwerk: ‘En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet…’ (Romeine 8:28 NLV).
Vertroue in God stel ons in staat om volgens die Woord te leef. Ongeduld is die bron van soveel van ons mislukkings. Daarom het die apostel Jakobus geskryf: ‘Net so moet julle geduldig wees. En skep moed, want die koms van die Here is naby.’
Kyk na Moses: sy ongeduld het veroorsaak dat hy die rots geslaan het in plaas daarvan om daarmee te praat soos God beveel het; daarom het hy die Beloofde Land nie binnegegaan nie (sien Numeri 20:1-13). Kyk na Abraham: sy ongeduld terwyl hy gewag het vir God se belofte van ‘n seun om vervul te word, het tot die geboorte van Ismael en ernstige probleme in sy gesin, gelei (sien Genesis 16:1-16).
Daarom het Paulus geskryf: ‘Ons moet leer uit wat al lank gelede reeds in die Skrif opgeteken is. Die standvastigheid en die bemoediging wat die Skrif aan ons gee, help ons om aan ons toekomsverwagting te bly vashou’ (Romeine 15:4 NLV). Die woord vir jou vandag is dus – beoefen geduld!
Sielskos: 2 Sam 1:1-3:21; Matt 24:26-35; Ps 102:18-28;Spr 17:11-14
2026-07-03
Amos 3:3 NLV
Hier is drie dinge waaroor jy duidelikheid moet hê voordat jy jou tot ‘n lewenslange verhouding in die huwelik verbind:
1) Het jou maat ‘n sterk verhouding met Christus? ‘Sal twee mense saam op reis gaan sonder om eers af te spreek om dit te doen?’ (Amos 3:3 NLV). Om ‘n suksesvolle huwelik te hê, moet julle in pas en in dieselfde rigting loop.
2) Groei jou maat geestelik? ‘Sorg liewer dat julle steeds groei in die onverdiende goedheid en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus…’ (2 Petrus 3:18 NLV). As julle nie saam groei nie, sal julle uiteindelik uitmekaar groei. ‘n Gedeelde geloof en waardes sal julle vir die langtermyn bymekaar hou.
3) Watter soort gesinsagtergrond het jou maat? God kan ons help om ons probleme en gewoontes wat deur disfunksie in ons gesinne veroorsaak is, te oorkom. Julle moet egter weet waarmee julle te doen het, voordat julle ‘n belofte aflê om mekaar in goeie en slegte tye lief te hê. Paulus het geskryf: ‘Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus’ (Galasiërs 6:2 AFR83).
Jy moet egter vooraf weet wat daardie laste is, voordat jy jou daartoe verbind om hulle ‘n leeftyd lank te deel. ‘Daarom – iemand wat één is met Christus, is ‘n nuwe skepping. Die ou dinge is verby, kyk, die nuwe is hier!’ (2 Korintiërs 5:17 NLV). Dit beteken egter nie dat jy die verlede kan toesmeer of daaroor kan lieg nie. Wedersydse deursigtigheid is van uiterste belang. Wanneer julle die volle waarheid oor mekaar ken, verloor die verlede sy krag om julle hede en toekoms te saboteer. Geen eggenoot is perfek nie, maar moenie met minder as God se beste tevrede wees nie.
Sielskos: 1 Sam 27-31; Matt 24:15-25; Ps 102:12-17; Spr 17:7-10
2026-07-02
Psalm 73:26 NLV
Sommige van die wêreld se grootste presteerders het met fisiese gestremdhede deur die lewe gegaan en ongelooflike teenspoed oorgekom. Sir Walter Scott was kreupel. John Bunyan, skrywer van The Pilgrim’s Progress, is gevange geneem. George Washington, Amerika se eerste president, het amper in die sneeu by Valley Forge verkluim en van die honger omgekom. Abraham Lincoln het slawerny in Amerika beëindig, maar hy het in uiterste armoede grootgeword en het voortydig in ‘n sluipmoord gesterf. Die Britse Eerste Minister Benjamin Disraeli is aan bittere godsdienstige vooroordeel onderwerp. Franklin D. Roosevelt het polio opgedoen. Ludwig van Beethoven het doof geword.
Glen Cunningham, ‘n Olimpiese naelloper wat baie wêreldrekords hou, se bene is erg tydens ‘n brand beseer. Booker T. Washington, Harriet Tubman, Marion Anderson en George Washington Carver is in ‘n samelewing vol rassediskriminasie gebore. Enrico Caruso was lid van ‘n groot, arm Italiaanse gesin waar slegs ‘n paar kinders hulle babajare oorleef het. Itzhak Perlman, konsertviolis, is op vierjarige ouderdom van sy middel af verlam.
Dawid se pa en familie het hom nie waardig geag om Saul as Israel se koning op te volg nie. Die samelewing sou hom sekerlik as gevolg van sy owerspel met Batseba verwerp het. Tog het God na hom as ‘…’n man na my hart…’ (Handelinge 13:22 NLV), verwys. Dawid het die volgende van God gesê: ‘My liggaam en my hart kan kwyn, maar God is my blywende krag en my erfdeel vir altyd… Ek het geskuil by die Here my God…’ (verse 26, 28 NLV). Die woord vir jou vandag is dus: met God se hulp sal jy sukses behaal.
Sielskos: 1 Sam 24-26; Matt 24:1-14; Ps 102:1-11; Spr 17:4-6
2026-07-01
Psalm 62:2 ABA
Die pad van besinning. Mense wat op die besinningspad is, is lief vir stilte en ononderbroke alleentyd. Jou ouers het jou heel waarskynlik as kind aangemoedig om meer saam met die ander kinders buite te gaan speel. Nabetragting kom natuurlik vir jou. Jy voel dikwels soos ‘n waarnemer van die lewe.
Hier is ‘n paar Skrifgedeeltes waarmee jy maklik identifiseer: ‘…Oordink dit in die nag op jou bed en wees rustig. Sela’ (Psalm 4:5 NLV). ‘Wees stil in die Here, en wag geduldig op Hom. Moenie die mens beny wat op sý manier floreer, of jou verknies oor sy bose planne nie’ (Psalm 37:7 NLV). ‘Wees stil en weet Ek is God!’ (Psalm 46:11 NLV). ‘Ek kan net by God stil wees, dit is Hý wat my red.’
Jy voel God se teenwoordigheid die beste aan wanneer afleidings en geluide uit jou omgewing verwyder word. Beelde, metafore en prente help jou terwyl jy bid. As jy te besig raak of te veel tyd saam met ander mense deurbring, begin jy uitgeput voel. Jy benodig nie veel eksterne stimulasie nie. Om tyd te maak om alleen en in stilte na God te luister, is noodsaaklik vir jou siel se gesondheid en om ‘n verdiepende gevoel van sy teenwoordigheid te ervaar. Jy benodig gereelde, intense, onversteurde tyd alleen saam met God.
Hier is egter ‘n woord van waarskuwing uit die Skrif: ‘Geliefdes, as God ons dan só tot die uiterste toe liefgehad het, moet ons ook mekaar tot die uiterste toe liefhê’ (1 Johannes 4:11 NLV). Liefde verg tyd en moeite. Soms vereis dit opoffering. Een van die beste maniere om jou liefde vir God te bewys, is om dit aan die mense rondom jou, wat God liefhet, te betoon.
Sielskos: 1 Sam 20:30-23:29; Matt 23:23-39; Ps 98; Spr 17:1-3
2026-06-30
Prediker 9:10 NLV
Die aktivispad. Wanneer jy op hierdie geestelike pad is, het jy ‘n hoë vlak van energie. Die volgende mag dalk een van jou gunsteling Skrifgedeeltes wees: ‘Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen…’ Een van die gevare om egter deur die aktivispad met God te skakel, is dat ‘n groot deel van jou beweegrede selfvervulling en selftevredenheid kan wees. Daarom het Paulus geskryf: ‘So moet julle ook, as julle julle toelê op die gawes van die Gees, daarop konsentreer om uit te munt in dié gawes wat die gemeente opbou’ (1 Korintiërs 14:12 NLV).
Wanneer jy ‘n aktivis is, hou jy van ‘n vinnige, probleemgevulde, komplekse, inspannende lewenswyse. Aan die einde van die dag wil jy kan sê: ‘Ek het regtig hard gehardloop. Ek het elke greintjie moeite en ywer tot my beskikking gebruik tot eer van U, God.’ Een Bybelse voorbeeld van ‘n aktivis is Nehemia. Toe hy hoor dat die mure van sy geliefde Jerusalem in puin lê, het hy geween, gebid, die koning gesmeek vir die hulpbronne om dit te herbou en toe sy moue opgerol en aan die werk gespring. As jy ‘n aktivis is, het jy ‘n saak nodig. Daarsonder sal jou geestelike lewe stagneer.
Hier is egter ‘n woord van waarskuwing: Moenie so opgewonde oor jou saak raak dat jy oor mense se koppe gaan of hulle uitbuit nie. Nog ‘n woord van waarskuwing: Wanneer jy ‘n aktivis is, kan dit soms moeilik wees om God se ware roeping van jou eie sterk impulse tot aksie, te onderskei. Indien dit die geval is, neem ekstra tyd om te bid en van God te hoor en maak seker dat jy ‘n gekwalifiseerde vriend in jou lewe het wie se raad jy kan vertrou.
Sielskos: 1 Sam 18:1-20:29; Matt 23:13-22; Ps 95; Spr 16:31-33