Kyk terug en word bemoedig

2026-07-11
Jakobus 5:11 NLV

Jakobus het geskryf: ‘Liewe broers en susters, neem die profete wat namens die Here gepraat het, as ‘n voorbeeld van geduld in swaarkry. Ons gee met reg eer aan dié wat in swaarkry uithou. Job is ‘n voorbeeld van iemand wat geduldig volhard het. Uit wat uiteindelik met hom gebeur het, sien ons dat God se einddoel goed is. Die Here is mos vol innige meelewing en Hy gee onverdiend sy liefde’ (Jakobus 5:10-11 NLV). Hier word ons herinner om terug te kyk en bemoedig te word deur diegene wat ons vooraf gegaan het terwyl ons wag vir die Here se wederkoms.

Kyk na Hosea: Sy vrou het hom verlaat, maar hy het getrou volhard en God het hul huwelik herstel (sien Hosea 3:1-3). Kyk na Daniël: Hy is in ‘n leeukuil gegooi omdat hy standvastig in sy geloof gestaan het, maar God het hom verlos en bevorder (sien Daniël 6:1-28). Kyk na Jeremia: Hy is gearresteer, daarvan beskuldig dat hy ‘n verraaier is en in ‘n put gegooi om te sterf (sien Jeremia 37-38). Hy het egter opgekyk en God het hom verlos.

Dan is daar die lys van die geloofshelde wat in Hebreërs 11 genoem word! Diegene van ons wat deur familielede verwerp is, kan na Abel terugkyk (vers 4). Diegene wat misverstaan word, kan na Noag terugkyk (vers 7). Diegene wat ‘n krisis van geloof ervaar en voel of hulle teen die onmoontlike te staan kom, kan na Abraham terugkyk (vers 8-10). As jy misbruik of mishandel is, kan jy na Josef terugkyk (vers 22). Diegene wat met struikelblokke in die lewe gekonfronteer word, kan na Josua terugkyk (vers 30). Diegene wat ‘n sondige verlede wil oorkom, kan na Ragab terugkyk (vers 31).

Die woord vir jou vandag is dus: Kyk terug en word bemoedig.

Sielskos: 2 Sam 20:1-22:30; Matt 26:14-25; Ps 109:16-31; Spr 18:1-3

Heilige Nagmaal

2026-07-10
1 Korintiërs 11:24 NLV

Hier is drie redes waarom jy nagmaal moet gebruik:

1) Om jou bewus van die grootheid van God se genade te maak. Niemand gaan ooit in die hemel aankom en sê: ‘Kyk wat het ek en Jesus bereik!’ nie. As jy een sent van jou sondeskuld betaal het, sou dit jou ‘n mede-verlosser met Christus gemaak het. Wat ‘n bespotting van die kruis! (sien Efesiërs 2:8-9). Die gesangeskrywer Horatio Spafford het geskryf: ‘My sin, oh the bliss of this glorious thought. My sin, not in part but the whole, is nailed to the cross, and I bear it no more. Praise the Lord, praise the Lord, O my soul!’

2) Om jou sensitief vir sonde te hou. ‘Dit is waarom julle julleself moet ondersoek voordat julle van die brood eet en uit die beker drink. Want as julle sommer so op ‘n onbedagsame manier van die brood eet en uit die beker drink, drink en eet julle ‘n oordeel oor julleself’ (1 Korintiërs 11:28-29 NLV). Jy vra: ‘As ek sondig en nagmaal gebruik, beteken dit dat ek myself dan verdoem?’ Nee, die manier waarop jy God nader, is wat belangrik is. Jy hoef nie die nagmaalbeker te vermy nie; maar jy moet jou sondes bely en dan met dankbaarheid drink.

3) Om jou op Christus se wederkoms gefokus te hou. ‘…Ek [sal] nie weer wyn drink nie tot op daardie dag wanneer Ek opnuut die feeswyn sal drink in die koningkryk van God’ (Markus 14:25 NLV). Elke nagmaaldiens bring jou een stap nader aan die grootste nagmaaldiens van almal: die bruilofsmaal van die Lam in die hemel (sien Openbaring 19:7). Beplan jy om daar te wees?

Sielskos: 2 Sam 17:14-19:43; Matt 26:1-13; Ps 109:1-15; Spr 17:27-28

Herprogrammeer en vernuwe jou gedagtes

2026-07-09
Romeine 8:5 NLV

Neurowetenskaplikes noem dat elke klank, elke ervaring, elke bewuste gedagte en elke onbewustelike droom opgeneem en op ons eksterne hardeskyf, die serebrale korteks, gegraveer word. Vergelyk dit nou met die volgende Skrifgedeelte: ‘Julle gesindheid moet soos Jesus Christus s’n wees’ (Filippense 2:5 NLV). Jesus Christus se gesindheid is die Woord van God. Jesus is immers ‘die Woord’ (sien Johannes 1:1).

Wanneer jy bid, mediteer, of die Skrif memoriseer, graveer jy Jesus op jou brein. Neurologies gesproke maak jy nuwe neuroverbindings en herlei oues. Stadig maar seker word jou brein herbedraad en vernuwe. Dink so daaraan – jy laai God se woorde en gedagtes op jou hardeskyf af. Mettertyd word jou hardeskyf dan deur God se woorde en gedagtes opgegradeer, totdat Christus se gesindheid in jou gedagtes begin vorm.

Mark Batterson sê dat hy die Bybel as volg lees: ‘Ek lees totdat ek ‘n vers teëkom wat my aandag trek en laat huiwer. Dis dikwels iets waaroor ek moet dink of bid. Soms is dit die oortuiging van die Heilige Gees en moet ek eers ‘n gesprek met God hê voor ek kan voortgaan. Wanneer ek by so ‘n vers kom, doen ek drie dinge: Eerstens onderstreep of omkring ek die vers in my Bybel. Tweedens skryf ek dit met die hand in my joernaal neer. Derdens skryf ek gedagtes, belydenisse en idees wat daarmee geassosieer word, neer. Wanneer ek voel dat die Heilige Gees afsluiting bring, beweeg ek aan na die volgende vers.’

Dit is drie goeie idees wat ook vir jou sal werk.

Sielskos: 2 Sam 14:21-17:13; Matt 25:31-46; Ps 79; Spr 17:24-26

God is lief vir jou en aanvaar jou

2026-07-08
Kolossense 1:13 NLV

Jimmy Wayne het nooit sy pa geken nie en sy ma het meer tyd in die tronk as daarbuite deurgebring. Toe Jimmy twaalf was, is sy ma uit die tronk vrygelaat en het sy ‘n verhouding met ‘n berugte moeilikheidmaker aangeknoop. Sy ma en haar nuwe kêrel het vir Jimmy in hul kar gelaai en vir ‘n hele jaar lank was daardie kar hulle tuiste. Toe, eendag, het hulle hom by ‘n busstasie afgelaai en weggery. Hy het geen huis, geen toekoms en geen geld gehad nie.

Terwyl hy deur ‘n buurt rondgedwaal het, het hy ‘n ouer man wat houtwerk in sy motorhuis doen, gewaar. Hy het die bejaarde man genader en gevra of hy vir hom werk het. Hy het nie net ‘n werk vir Jimmy Wayne gegee nie, maar hom ook ingeneem om by hom en sy vrou te woon. Om in ‘n huis te woon het vir Jimmy soos die hemel gevoel. Tog, ten spyte van hul vriendelikheid en gasvryheid, het hy geweier om sy sak uit te pak. Vir vier dae het sy plastieksak vol klere op die vloer gelê, gereed om gegryp te word wanneer die man en vrou van plan verander. Hulle het Jimmy egter uiteindelik oortuig om hulle te vertrou om vir hom te sorg.

Miskien bevraagteken jy jou plek in God se familie of sy liefde vir jou. Wat as Hy van plan verander? God het daardie vraag aan die kruis beantwoord. Toe Jesus gesterf het, is daar vir altyd in jou guns besluit. ‘Hy het ons gered uit die mag van die duisternis en ons oorgebring onder die koningsheerskappy van sy geliefde Seun.’ Wat het op die ou einde van Jimmy Wayne geword? Hy het sy plek in sy aangenome familie ingeneem, ‘n opvoeding ontvang en ‘n country-sanger en liedjieskrywer geword.

Sielskos: 2 Sam 12:1-14:20; Matt 25:14-30; Ps 137; Spr 17:22-23

Meer verantwoordelikheid verg meer gebed

2026-07-07
Psalm 56:10 NLV

Iemand het een keer gevra hoe hy George Washington onder diegene wat by die Kongres teenwoordig was, sou kon herken. Hy is meegedeel: ‘Jy kan hom maklik onderskei wanneer die Kongres bid. Washington is die enigste een wat kniel.’ Washington was bekend as ‘n man wat gebid het. Toe die lot van Amerika by Valley Forge in die weegskaal gehang het, het hy gereeld rus en verligting in gebed gevind.

Eendag het ‘n boer wat verby Washington se militêre kamp op pad was, ‘n ernstige stem gehoor. Toe hy nader kom, het hy Washington op sy knieë gesien, sy wange nat van die trane. Die boer het teruggekeer huis toe en vir sy vrou gesê: ‘George Washington sal die geveg wen en die Amerikaners se onafhanklikheid verseker.’ Sy vrou het gevra: ‘Isak, wat laat jou so dink?’ Hy het geantwoord: ‘Ek het hom vandag in die bos hoor bid en die Here sal sekerlik sy gebed verhoor. Hy sal, Hannah, wees verseker, Hy sal!’

Wanneer ons minder het, is ons meer bewus van ons behoefte en bid ons meer. Soos ons egter meer verkry en bereik, word ons meer selfonderhoudend en bid ons minder. Dis ‘n fout. Hoe meer God aan jou toevertrou, hoe meer het jy sy krag, sy wysheid, sy leiding en sy genade nodig. Dawid het op ‘n troon gesit en oor Israel geregeer. Was hy trots of arrogant? Nee. ‘Die dag dat ek U roep om hulp, val my vyande terug. Omdat God aan my kant is, weet ek dit beslis… in God stel ek my vertroue. Daarom sal ek nie bang wees nie!..’ (verse 10, 12 NLV).

Die woord vir jou vandag is dus: meer verantwoordelikheid verg meer gebed.

Sielskos: 2 Sam 7:18-11:27; Matt 25:1-13; Ps 122; Spr 17:18-21

Het jy daaroor gebid?

2026-07-06
Jakobus 4:2 NLV

Van die begin tot aan die einde van die Bybel vind ons klinkklare bewyse dat God gebede verhoor. Dinge wat ons dink onmoontlik is, doen God wanneer mense daarvoor bid! Wanneer ons bid, vereenselwig ons onsself met God se doeleindes en maak van die krag van die Almagtige gebruik. Omdat ons bid, werk God deur ons op maniere wat Hy andersins nie sou doen nie. God het sekere dinge van gebed afhanklik gemaak, dinge wat nooit sal plaasvind tensy ons bid nie. Kan God doen wat Hy wil, sonder dat ons daaroor bid? Natuurlik. God het egter bepaal dat Hy die gebede van sy mense sal gebruik om sy doeleindes te bereik.

Wanneer ons nie bid nie, beperk ons dit wat God in ons lewens sal doen. Dit mag dalk vreemd klink, maar as dit nie waar was nie, hoekom sou Jakobus dan geskryf het: ‘En eintlik is die rede hoekom julle nie het wat julle wil hê nie, die feit dat julle God nie daarvoor vra nie’? Waarom sou Paulus sy vriende vra: “…bid vir ons sodat die woord van die Here vinnig mag versprei en net soos by julle met eerbied ontvang word. Bid ook dat ons bewaar sal word van slegte en bose mense….’ (2 Tessalonisense 3:1-2 NLV), as hy nie geglo het dat gebede die krag het om sy omstandighede te verander nie?

Omdat beide Jakobus en Paulus al die seën wat vir hulle beskikbaar was wou hê, het hulle nie net self gebid nie, maar ook ander gelowiges gewerf om vir hulle te bid. Hulle wou nooit dit wat God in en deur hulle wil doen beperk deur nie te bid nie. Indien jy al die seën wat God beskikbaar stel wil hê, moet jy ook bid.

Sielskos: 2 Sam 3:22-7:17; Matt 24:36-51; Ps 110; Spr 17:15-17