2026-08-04
Romeine 8:14 NLV
As jy ‘n verloste kind van God is, woon die Heilige Gees in jou. Hy sal jou na God se seëninge vir jou eie lewe en na geleenthede om ander te seën, lei. In sommige gevalle kan jou vermoë en bereidwilligheid om die goed bedoelde raad van ander te ignoreer en deur God se Gees gelei te word, ‘n wêreld se verskil vir iemand in nood maak.
Admiraal Sir Thomas Williams was in bevel van ‘n skip wat gereeld die Atlantiese Oseaan oorgesteek het. Sy roete het hom in sig van Ascension-eiland, wat grootliks onbewoon was, gebring. Dit was op ‘n keer skaars sigbaar op die horison toe sir Thomas ‘n groot drang gevoel het om sy skip daarheen te stuur. Hoe nader hy aan die eiland gekom het, hoe groter het die dringendheid wat hy gevoel het, geword.
Toe hy die bevel gee om na die eiland te vaar, het sy luitenant-offisier hom respekvol daarop gewys dat so ‘n verandering van koers hulle reis baie sou vertraag. Tog het die admiraal vasberade gebly. Die innerlike drang, wat hy as God se leiding herken het, was baie sterk. Toe die skip die eiland nader, het sy bemanning ‘n wit vlag gewaar. ‘Dit moet ‘n teken wees!’ het Williams afgelei.
Inderdaad, op die strand het hulle sestien mans, wat baie dae tevore skipbreuk gely het, gekry. Hulle was honger en het amper moed opgegee. Sestien lewens is daardie dag gered omdat ‘n man na die stem van die Heilige Gees in hom geluister en dit gehoorsaam het. Jy kan dit ook doen. ‘Want almal wat hulle laat lei deur die Gees van God – hulle is God se kinders.’
Sielskos: 1 Kro 12:23-15:29; Mark 3:1-19; Ps 78:65-72; Spr 20:11-14
2026-08-03
Spreuke 31:18 KAB
Kom ons kyk na vier bevrydende waarhede in hierdie Skrifgedeelte: 1) ‘Sy merk dat haar koopware goed is…’ Sy soek nie bevestiging of goedkeuring van haar handelsware nie. Wanneer jy onseker is oor dit wat jy het en dit nie waardeer nie, kan ander mense jou dalk oortuig dat dit nie veel werd is nie. Hierdie vrou, soos ons almal, verlang na aanvaarding en bevestiging, maar sy sal dit nie soek of haarself verwyt as sy dit nie kry nie.
2) ‘Sy merk dat haar koopware goed is…’ Sy verstaan en waardeer dit wat sy na die tafel toe bring. Sy sal nie aan die waarde daarvan twyfel nie; sy sal dit ook nie nodig vind om oor die kwaliteit van haar handelsware te spog nie. Sy sal nie haar neus in trots optrek nie en sy sal ook nie haar oë in valse nederigheid neerslaan nie. Sy het eenvoudig ‘n gebalanseerde en gesonde siening van haar ware.
3) ‘Sy merk dat haar koopware goed is…’ Hier is iemand wat nie deur die goedere van ander handelaars geïntimideer word of onnodig daaroor bekommerd is nie. Gevolglik bestee sy nie haar energie om te vergelyk en mee te ding nie.
4) ‘Sy merk dat haar koopware goed is…’ Sy haak nie vas in die verlede en dink aan die goeie goedere wat sy voorheen gehad het nie. Sy wag ook nie tot haar koopware perfek is voor sy haar doelwit begin nastreef nie. Sy tree eenvoudig in geloof op, nadat sy die beste gedoen het wat sy kon. Haar koopware is goed; môre is in God se hande. Angs het geen plek in haar lewe nie.
Die woord vir jou vandag is dus – wat jy het, is goed!
Sielskos: 1 Kro 10:1-12:22; Mark 2:23-28; Ps 78:56-64; Spr 20:7-10
2026-08-02
Eksodus 33:14 NLV
Nicholas Herman was ‘n kok in ‘n klooster. Hy was bekommerd of hy werklik gered was of nie. Eendag, terwyl hy na ‘n boom gekyk het, het hy die waarheid van die Psalmdigter se woorde besef – dat dit in iets anders en dieper as homself gewortel moes wees (sien Psalm 1:1-3). Daardie dag het hy besluit om sy lewe ‘n eksperiment te maak in wat hy ‘n ‘voortdurende stille, geheime gesprek van die siel met God,’ genoem het.
Hy is vandag onder die nuwe naam wat sy vriende hom gegee het, bekend: Broer Lawrence. Hy het sy hele lewe lank onbekend gebly en die res van sy dae in die kloosterkombuis deurgebring. Die mense rondom hom het egter gevind dat riviere van lewende water uit hom gevloei het, wat hulle laat begeer het om God ook te ken soos hy Hom geken het. ‘Die goeie broer het God oral gevind,’ het een van hulle geskryf, ‘net soveel wanneer hy gekook het, as wat hy saam met die gemeenskap gebid het.’
Nadat Broer Lawrence gesterf het, het sy vriende ‘n boek van sy briewe en gesprekke saamgestel. Dit word Die Beoefening van God se Teenwoordigheid genoem en word as een van die mees geleesde boeke van die afgelope vier eeue beskou. Hierdie kok se boek het baie gewilde kontemporêre romanskrywers oortref, en sy boek is steeds op topverkoperlyste.
Broer Lawrence het gesê: ‘Die heiligste en noodsaaklikste praktyk in ons geestelike lewe is die teenwoordigheid van God. Dit beteken om voortdurend bevrediging in sy goddelike geselskap te vind, nederig en liefdevol met Hom in alle seisoene, in elke oomblik te praat, sonder om die gesprek op enige manier te beperk.’
Sielskos: Spr 24:17; Matt 5:43-48; Luk 6:27-36
2026-08-01
Jakobus 5:7 NLV
Wanneer ons aan Christus se wederkoms dink, ontstaan daar vyf vrae:
1) Wat behels die Here se koms? Dit is die vervulling van sy belofte: ‘In die huis van my Vader is daar sommer baie kamers… Ek gaan soontoe om vir julle plek gereed te maak. En as Ek gegaan het en vir julle plek ingerig het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem sodat julle ook kan wees waar Ek is’ (Johannes 14:2-3 NLV).
2) Wie se koms is dit? Christus s’n! Toe Hy terug na die hemel opgevaar het, het ‘n engel aangekondig: ‘…Jesus is van julle af weggeneem die hemel in. Hy sal egter nét so terugkom soos julle Hom die hemel sien ingaan het’ (Handelinge 1:11 NLV).
3) Waarom kom Jesus terug? Sy eerste koms was as die lydende dienaar wat aan die kruis vir ons sondes gesterf het. Sy tweede koms is om ‘n tyd van vrede op aarde en ‘n ewigheid in sy teenwoordigheid in te lui.
4) Waar sal sy koms plaasvind? ‘Wat eerste gaan gebeur, is dat die Here self uit die hemel sal neerdaal en dat die dooies wat aan Christus behoort, sal opstaan. Dit sal gebeur wanneer die hoofengel ‘n bevel gee wat soos ‘n trompet van God klink. Daarna sal ons wat bly lewe het, saam met hulle op wolke die lug in weggevoer word om die Here te ontmoet en vir altyd by Hom te wees’ (1 Tessalonisense 4:16-17 NLV).
5) Wanneer kom Hy? Jesus het gesê: ‘Tog ken niemand die presiese datum en tyd wanneer hierdie dinge sal gebeur nie – ook nie die engele of selfs die Seun nie. Dit weet net die Vader’ (Matteus 24:36 NLV). As jy wys is, sal jy elke dag leef asof Christus enige oomblik kan terugkeer – want Hy kan!
Sielskos: 1 Kro 7:20-9:44; Mark 2:13-22; Ps 78:40-55; Spr 20:4-6
2026-07-31
Psalm 71:5-6 NLV
Hier is ‘n paar Skrifgedeeltes wat selfvertroue bou en wat jy elke dag moet lees, memoriseer, bid en op staan:
1) ‘Deurdat ons Hom regtig ken, het sy Goddelike krag ons alles laat kry wat ons nodig het om naby aan Hom te lewe. Hy het ons geroep om sy heerlikheid en goedheid te ontvang!’ (2 Petrus 1:3 NLV).
2) ‘Dit is die vrymoedigheid wat ons voor God het, dat wat ons ook al volgens sy wil vra, Hy na ons luister. As ons dan met die wete leef dat Hy na ons luister, na wat ons ook al vra, weet ons ook dat Hy die versoek wat ons gevra het, sal toestaan’ (1 Johannes 5:14-15 NLV).
3) ‘Die Here kyk oor die hele aarde om hulle te help wat met hulle hele hart op Hom vertrou…’ (2 Kronieke 16:9 NLV).
4) ‘Maar gelukkig is dié mense wat op die Here vertrou en hulle verwagting in Hom stel. Hulle is soos bome wat langs ‘n rivier staan, hulle wortels reik diep tot by die water. Hitte bedreig hulle nie, hulle blare bly groen. Lang maande van droogte pla hulle ook nie, hulle hou nie op om vrugte te dra nie’ (Jeremia 17:7-8 NLV).
5) ‘Kom ons gaan dan met volle vrymoedigheid na die troon van ons genadige God. Hy sal aan ons sy deernis en onverdiende goedheid bewys sodat ons op die regte tyd gehelp sal word’ (Hebreërs 4:16 NLV).
6) “Daarom kan ons moed skep en antwoord: ‘Die Here is my hulp. Daarom sal ek nie bang wees nie. Wat kan nietige mensies my aandoen?'” (Hebreërs 13:6 NLV).
7) ‘Ek is oortuig dat God die goeie werk wat Hy in julle begin het, sal voortsit totdat Hy dit voltooi op die dag wanneer Jesus Christus terugkom’ (Filippense 1:6 NLV).
Sielskos: 1 Kro 6:1-7:19; Mark 2:1-12; Ps 78:32-39; Spr 20:1-3
2026-07-30
Matteus 5:21-22 NLV
Aan die einde van die negentiende eeu het ‘n Russiese dokter genaamd Ivan Pavlov ‘n Nobelprys vir sy eksperimente met honde ontvang. Hierdie honde het almal een ding in gemeen gehad – hulle het speeksel rondom kos afgeskei. Pavlov wou egter uitvind of hierdie speekselafskeiding deur ‘n ander stimulus veroorsaak kon word, daarom het hy die honde gekondisioneer deur ‘n klokkie te lui wanneer hy hulle kos gegee het. Uiteindelik het die honde begin speeksel afskei sodra hulle die klokkie hoor lui het, of hulle kos gekry het of nie. Pavlov het na hierdie aangeleerde optrede as ‘n gekondisioneerde refleks verwys.
Ons word almal, bewustelik of onbewustelik, ons hele lewe lank gekondisioneer. Baie van ons gedrag word deur hierdie gekondisioneerde reflekse bepaal. Sommige gekondisioneerde reflekse is so normaal en natuurlik soos om te bloos. Ander is so vernietigend soos om te drink om jou hartseer te vergeet. Bewustelik of onbewustelik, onskadelik of skadelik, is een ding egter seker: ons is baie meer gekondisioneer as wat ons besef.
Ons geestelike groei word egter deur God se genade geherkondisioneer. Jesus het gesê: ‘Julle het gehoor dat vir ons voorouers gesê is… Maar Ek sê vir julle…’ Jesus gebruik hierdie uitdrukking herhaaldelik. Wat het Hy daarmee bedoel? Hy het daarmee Ou Testamentiese toepassings verwyder en dit met Nuwe Testamentiese waarhede vervang. Dit was nie meer: “‘n Oog vir ‘n oog,” nie. Jesus het dit met: ‘Draai die ander wang,’ vervang (sien Matteus 5:38-39 NLV).
Soms is dit baie makliker om soos ‘n Christen op te tree as om soos een te reageer. Hoe verander ons dus ons gekondisioneerde reaksies? Deur die Heilige Gees. ‘…Ons word al hoe meer verander om soos die Here te lyk, met ‘n heerlikheid wat steeds toeneem namate die Here, dit is die Gees, dit aan ons gee’ (2 Korintiërs 3:18 NLV).
Sielskos: 1 Kro 4:24-5:26; Mark 1:35-45; Ps 78:17-31; Spr 19:27-29