2026-07-29
Matteus 12:15 NLV
Wonder jy of Jesus gewillig is om jou te genees? Kom ons kyk na die bediening van Jesus Christus, wat die Bybel beskryf as ‘…steeds dieselfde [is] – gister, vandag en vir altyd!’ (Hebreërs 13:8 NLV). Dit beteken dat as Hy dit voorheen gedoen het, Hy dit weer sal doen. Soos jy oor die vele genesings en wonderwerke wat Jesus voortdurend verrig het lees, sal dit jou geloof laat groei en jou verwagting laat styg. ‘Die geloof volg uit die aanhoor van die boodskap. En die aanhoor van die boodskap volg uit die prediking van die Goeie Nuus wat handel oor Christus’ (Romeine 10:17).
Regdeur die evangelies het mense met verskeie siektes na Jesus vir genesing gegaan. Sommige was op die rand van die dood en sommige was eintlik reeds dood. Daar was mense met sterk geloof en ander wat gesukkel het om te glo. Die sleutels tot elk van hierdie wonderwerke was:
1) Diegene wat siek was, het seker gemaak dat hulle in die teenwoordigheid van Jesus kom;
2) Hulle het sy Woord gewillig ontvang en daarop gereageer.
Lees oor sommige van die wonderwerke wat Jesus verrig het:
1) Simon se skoonmoeder is van koors genees (sien Matteus 8:14-15);
2) Die opstanding van Jaïrus se dogter (sien Markus 5:21-24, 35-43);
3) Genesing van die vrou met bloedvloeiing (sien Markus 5:25-34);
4) ‘n Dowe man is genees (sien Markus 7:32-37);
5) ‘n Afgesnyde oor is herstel (sien Lukas 22:47-51);
6) ‘n Blinde man kon weer sien (sien Johannes 9:1-41).
Jesus het nooit vir ‘n hulpgeroep en genesing nee gesê nie: ‘…’n Groot skare het agter Hom aan gekom. Hy het al die siekes onder hulle gesond gemaak’ (Matteus 12:15). Wat Hy vir hulle gedoen het, kan Hy vir jou ook doen, wanneer jy bid en sy Woord glo.
Sielskos: 1 Kro 3:1-4:23; Mark 1:21-34; Ps 78:9-16; Spr 19:24-26
2026-07-28
Efesiërs 2:10 NLV
‘n Boer het eenkeer ‘n jong arend gevang, hom huis toe gebring en tussen sy hoenders en kalkoene grootgemaak. Vyf jaar later het ‘n natuurkenner hom kom besoek en die voël gesien. ‘Dis ‘n arend, nie ‘n hoender nie!’ het hy gesê. ‘Ja,’ het die boer gesê, ‘maar ek het hom grootgemaak om ‘n hoender te wees.’ Die natuurkenner het gesê: ‘Hy het ‘n vlerkspan van vyftien voet. Dis ‘n arend!’ Die boer het geantwoord: ‘Maar hy sal nooit vlieg nie.’ Die natuurkenner het nie saamgestem nie en hulle het besluit om hul argument op die proef te stel.
Eers het die natuurkenner die arend opgetel en gesê: ‘Jy is ‘n arend; jy hoort in die lug en nie op hierdie aarde nie; strek jou vlerke uit en vlieg.’ Die arend het die hoenders onder hom gesien en afgespring. Die volgende dag het die natuurkenner die arend na die bokant van die huis geneem, dieselfde ding gesê en die arend laat gaan. Weer eens het hy die hoenders onder op die werf gewaar en afgefladder om by hulle aan te sluit om te eet.
‘Nog een probeerslag,’ het die natuurkenner gesê. Hy het die arend teen ‘n berg opgeneem. Die bewerige voël het rondgekyk en toe het die natuurkenner dit in die son laat kyk. Toe die natuurkenner weer vir die voël sy ware identiteit vertel het, het die arend skielik sy vlerke uitgestrek, ‘n magtige krys gegee en weggevlieg om nooit weer terug te keer nie.
Jy moet weet wie God jou geskep en geroep het om te wees. Dit vind in die regte omgewing, tussen die regte geselskap en met die regte insette, plaas. ‘…Hy het ons in ons verhouding met Christus Jesus só gemaak dat ons die goeie werke wat Hy vir ons bestem het, kan uitlewe.’
Sielskos: 1 Kro 1-2; Mark 1:9-20; Ps 78:1-8; Spr 19:21-23
2026-07-27
Filippense 4:13 NLV
Mense het erge weerstand gebied teen uitvindings wat ons deesdae as alledaags beskou en elke dag geniet. In Duitsland het ‘kundiges’ gesê dat as treine so vinnig as vyftien tot twintig myl per uur sou ry – wat as ‘n skrikwekkende spoed beskou is – bloed uit die reisigers se neuse sou stroom en passasiers sou versmoor wanneer hulle deur tonnels gaan. In Amerika het kenners gesê die bekendstelling van die spoorlyn sou veroorsaak dat baie nuwe inrigtings vir kranksinniges gebou sou moes word, aangesien mense mal van vrees by die aanskoue van die lokomotiewe sou word.
Toe die idee van ysterskepe die eerste keer voorgestel is, het kenners daarop aangedring dat hulle nie sou kon dryf nie, dat dit moeilik sou wees om die ysterbodem teen roes te bewaar en dat yster kompaslesings sou verwar. In 1797, toe die eerste gietysterploeg uitgevind is, het boere in New Jersey dit verwerp en gesê dat die gietyster die grond sou vergiftig en die groei van onkruid sou stimuleer. Toe die YMCA in New York die uitvinding van die tikmasjien verwelkom en tiklesse vir vroue aangekondig het, het protesoptogte plaasgevind omdat daar geglo is dat die vroulike konstitusie onder die druk daarvan sou ineenstort.
Kyk nou na die volgende stellings, wat elkeen die produk van ‘n negatiewe denkwyse was: 1) ‘Vlieënde masjiene wat swaarder as lug is, is onmoontlik’ (Lord Kelvin, President, Royal Society, 1895). 2) ‘Die mens sal nooit die krag van die atoom benut nie’ (Robert Millikan, Nobelpryswenner in fisika, 1923). 3) ‘Alles wat uitgevind kan word, is al uitgevind’ (Charles H. Duell, Direkteur van die Amerikaanse Patentkantoor, 1899). As jy groot dinge wil bereik en deur God gebruik wil word, moet jy ‘n ‘ek kan’ persoon wees.
Sielskos: Esra 9-10; Mark 1:1-8; Ps 46; Spr 19:18-20
2026-07-26
Spreuke 20:24 NLV
Marian wou ‘n konsertsangeres word, ‘n uitdaging wat twee keer so moeilik as gevolg van haar velkleur was. Haar ma het egter ‘n geduldige vertroue in God gehad. Marian het later gesê: ‘Ma het geglo dat sy dit wat reg is vir haar sal ontvang, mits sy pligsgetrou in haar geloof is. As sy iets nie ontvang het nie, was dit omdat God dit nie as reg vir haar beskou het nie. Ons het in hierdie atmosfeer van geloof wat sy geskep het grootgeword. Ons het geglo soos sy, want ons wou dieselfde soort hawe in storms hê.’
Toe Marian toelating tot ‘n bekende musiekkonservatorium weens haar ras geweier is, het haar ma gesê dat iemand oor haar pad sou kom om haar te help om dit wat sy by die konservatorium wou doen, te bereik. Daardie iemand het ‘n paar weke later opgedaag. Een van Philadelphia se vooraanstaande sangonderwysers, Giuseppe Boghetti, het plek vir haar om een van sy studente te word, gemaak. Marian Anderson was op pad om een van die gewildste sangers van die twintigste eeu te word. Op Paassondag, 1939, het sy voor vyf-en-sewentigduisend mense by die Lincoln-gedenkteken gesing en ‘n optrede gelewer wat nooit deur die aanwesiges vergeet sou word nie.
Salomo het hierdie twee dinge oor God se leidende hand in ons lewens gesê: 1) ‘Die Here bepaal ‘n mens se lewe. Hoe kan ‘n mens verstaan wat met hom moet gebeur?’ 2) ‘Vertrou op die Here met alles wat jy het. Moenie staatmaak op jou eie insigte nie. Vra na die wil van God in alles wat jy doen. Hy sal die regte pad vir jou wys’ (Spreuke 3:5-6 NLV).
Sielskos: Eseg 37:1-14; Matt 27:50-53; Ef 1:18-21
2026-07-25
Galasiërs 6:9 NLV
Die Heilige Gees gee ons wysheid bo ons kennis, mag bo ons krag, en gawes bo ons vermoëns. Met sy hulp word ons beter as ons beste poging en beter as ons beste gedagte. Ons word die beste weergawe van onsself. Natuurlik neem dit ‘n leeftyd. Daarom het Paulus geskryf: ‘Moet dus nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie tou opgooi nie sal ons op die regte tyd oes.’
Dit is moeilik om ‘n boer voor te stel wat ‘n landery vol koring plant en dan verbaas is dat dit nie mielies oplewer nie. Hoekom? Omdat jy maai wat jy saai. Tog lyk sommige van ons geskok wanneer die saad van sonde hul oes oplewer. Wat plant jy dus? Liefde of haat? Vreugde of ondankbaarheid? Geduld of ongeduld? Selfbeheersing of selfbevrediging? Die wet van saai en maai kan jou breek of jou maak – mits jy aanhou om die regte saad te saai. Wil jy ‘n oorvloedige oes hê? Dan het jy meer van die Heilige Gees nodig.
Die Heilige Gees kan jou egter nie vul as jy vol van jouself is nie. Die voorvereiste om dus meer van die Heilige Gees te hê, is om eerlik, nederig en honger vir sy leiding te wees. Galasiërs 5:22-23 gee ‘n lys van die nege vrugte wat die Heilige Gees in ons lewe voortbring. As jy meer van die Heilige Gees wil hê, beteken dit dat jy letterlik meer liefde, meer vreugde, meer vrede, meer geduld, meer vriendelikheid, meer goedheid, meer getrouheid, meer sagmoedigheid en meer selfbeheersing wil hê (sien Galasiërs 5:22-23). Die goeie nuus is dat jy soveel van die Heilige Gees kan hê as wat jy wil.
Sielskos: Esra 6-8; Matt 28:11-20; Ps 42:6-11; Spr 19:15-17
2026-07-24
Johannes 14:26 NLV
Jesus het gesê: ‘…wanneer die Raadgewer, die Heilige Gees, kom… sal Hy julle in alle opsigte onderrig en julle ook herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.’ Wanneer jy ‘n belangrike besluit moet neem, het jy ‘…geestelike wysheid en insig…’ (Efesiërs 1:17 NLV), nodig. Wanneer jy in ‘n moeilike situasie is en onseker is oor wat om te sê: ‘…Sê maar net wat God in daardie uur vir julle sal gee om te sê. Julle sal wel die woorde uitspreek, maar eintlik is dit die Heilige Gees wat deur julle praat’ (Markus 13:11 NLV).
Wanneer jy dit moeilik vind om liefde te betoon? ‘Maar as die Gees ons lewe beheer, is die gevolg: liefde…’ (Galasiërs 5:22 NLV). Dieselfde geld vir elke vrug van die Gees. Moet jy ‘n verslawing oorkom? ‘Maar as die Gees ons lewe beheer, is die gevolg… selfbeheersing…’ (verse 22-23 NLV). Selfbeheersing is eintlik ‘n oksimoron, want dit kom nie van jouself af nie. Dis die Gees wat dit voorsien, dus is dit eintlik Geesbeheersing. Jy het meer van die Heilige Gees nodig.
Die Gees van God wil jou nie net vul nie; Hy wil jou ook uitdaag en jou kapasiteit vergroot. As jy voel of jou lewe vandag in chaos en wanorde is, is die Gees van God – net soos Hy aan die begin van die skepping was toe Hy lig uit die duisternis, orde uit chaos en skoonheid uit niks voortgebring het (sien Genesis 1:1-3), steeds daar. Maak nie saak watter vraag jy het nie, die Heilige Gees is die antwoord. Maak nie saak watter probleem jy in die gesig staar nie, die Heilige Gees is die oplossing. Jy het soveel as moontlik van Hom nodig, dus moet jy soveel as moontlik van jouself aan Hom oorgee.
Sielskos: Esra 3-5; Matt 28:1-10; Ps 42:1-5; Spr 19:12-14