Laat die oordeel aan God oor

2024-11-09
Matteus 13:26 NLV

Jesus het gesê: ‘…God se koningsheerskappy kan vergelyk word met ‘n man wat goeie saad op sy land saai. Maar een nag, terwyl die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid tussen die koring gesaai en verdwyn. Toe die groen koring opskiet en in die aar begin kom, verskyn terselfdertyd ook die onkruid. Die slawe van die boer kom toe en sê vir hom: ‘Meneer, u het tog goeie saad op u land gesaai. Waar kom die onkruid dan vandaan?’ ‘Dis ‘n vyand se werk!’ het hy uitgeroep. ‘Moet ons die onkruid gaan uittrek?’ vra sy slawe hom. Maar hy antwoord: ‘Nee, dalk trek julle die koring saam uit wanneer julle die onkruid in bondels uittrek. Laat albei saam groei tot oestyd. Dan sal ek vir die mense wat oes, sê: ‘Maak eers die onkruid bymekaar. Bind dit dan in bondels vas om verbrand te word. Maar bring die koring bymekaar in my skuur’ (verse 24-30 NLV).

Om die onkruid (ongoddelike) van die koring (goddelike) te skei is nie ons werk nie. Ons moet op die verbouing van die koring konsentreer en God die skeiding laat doen. Hoekom? Omdat die wortels van beide plante (lewens) so nou verstrengel raak dat jy die koring saam met die onkruid kan uitruk. Jy sal ook die koring wat geplant is en later volwasse word, ontwortel. Boonop sal jy van die koring wat nog nie graankoppe gevorm het nie, met onkruid verwar. Jou werk is om goeie vrugte te dra en God se werk is om die koring van die onkruid te skei. Die woord vir jou vandag is dus – laat die oordeel aan God oor.

Sielskos: Jes 58-62; Joh 9:1-12; Ps 15; Spr 29:4-6

Van gemors na kosbaarheid

2024-11-08
Hebreërs 7:25 NLV

‘n Christelike leier skryf: ‘Die Italiaanse vioolmaker Antonio Stradivari was ‘n arm man. Tog is sy viole die kosbaarste viole wat nog ooit gemaak is, vanweë die ryk en resonante klank wat hulle voortbring. Die unieke klank van ‘n Stradivarius kan nie gedupliseer word nie. Wat jou dalk mag verras, is dat hierdie kosbare instrumente nie uit duur stukke hout gemaak is nie, maar uit weggooihout. Omdat Stradivari nie duur materiaal kon bekostig nie, het hy die meeste van sy hout uit die vuil hawens waar hy gewoon het gekry. Hy het dan daardie deurweekte stukke hout na sy winkel geneem, dit skoongemaak en uitgedroog. Dan, uit daardie vermorste stukke hout, sou hy instrumente van seldsame skoonheid skep.

Daar is sedertdien ontdek dat terwyl die hout in daardie vuil hawens gedryf het, mikrobes die hout binnegedring het en die middelpunte van die hout se selle gevreet het. Dit het ‘n veselagtige infrastruktuur in die hout agtergelaat wat resonerende kamers vir die musiek geskep het. Uit hout wat niemand wou gehad het nie, het Stradivari viole gemaak wat almal nou wil hê.’

Jy vra: ‘Hoe het dit betrekking op my?’ Net soos die vioolmaker gemors in iets kosbaars omskep het, kan God jou transformeer in dit wat jy eintlik bedoel is om te wees. Jy sê: ‘Jy weet nie hoe laag ek gedaal het of van die dinge wat ek gedoen het nie. Ek twyfel dat Jesus iemand soos ek kan red en transformeer!’ Stel Hom op die proef. Toets Hom. Jy sal nie teleurgestel word nie. Die Bybel sê: ‘Gevolglik kan Hy hulle wat deur Hom na God toe gaan, eens en vir altyd verlos…’

Sielskos: Jes 53-57; Joh 8:42-59; Ps 123; Spr 29:1-3

Wag in God se teenwoordigheid

2024-11-07
Psalm 33:20 AFR53

Ons innerlike self kan opgelei word om op God te wag, selfs al is ons uiterlike self gestres en angstig vir antwoorde. Dit is nie maklik om dit in ons vinnige samelewing, waar die geestelike dissipline om op die Here te wag dikwels ontbreek, te doen nie. Ons wil alles dadelik hê. As ons egter altyd haastig is, sal ons die hegte gemeenskap met God wat tyd neem om te ontwikkel, misloop. Hy sal met ons harte praat, indien ons geduldig is om te luister.

Nadat hy Baäl se profete doodgemaak het, het Elia ‘n waardevolle les geleer oor hoe om op God te wag. Die Here het vir hom gesê om op ‘n berg te gaan staan. ‘n Groot rukwind het daar verbygekom, toe ‘n aardbewing en toe ‘n vuur, maar die Here was nie in een daarvan nie. Die Bybel sê: ‘…Na die vuur was daar die geluid van ‘n sagte fluistering’ (1 Konings 19:12 NLV). Die Here het in ‘n stil fluistering na die rukwind, aardbewing en vuur gepraat. As Elia ongeduldig was, sou hy nie die Here se stem gehoor het nie.

Dawid het ook geleer om op God te wag. ‘…Ek wil ervaar hoe goed Hy vir my is. Ek wil weer en weer daaroor nadink wanneer ek Hom aanbid’ (Psalm 27:4 DB). Om effektief te kan bid, moet ons kies om geduldig te wag en te luister vir sy Woord. Deur te wag en te luister, word die fokus van ons af geneem en op Hom, wat die antwoord op al ons behoeftes is, geplaas. Dit is dikwels in stilte wat die krag van God die magtigste beweeg. Laat dus die Heilige Gees toe om jou te leer om in sy teenwoordigheid te wag.

Sielskos: Jes 49-52; Joh 8:31-41; Ps 30; Spr 28:25-28

Maak nie saak hoe klein nie, Jesus kan dit gebruik

2024-11-06
Johannes 6:9 NLV

Indien jy voel dat jy nie talentvol genoeg is om deur God gebruik te word nie, lees die verhaal van die skare van vyfduisend wat deur vyf garsbrode en twee vissies gevoed is. Daar was eintlik vyfduisend mans in die skare. As jy die vrouens en kinders byvoeg, kan die getal meer as twintigduisend wees. Die seuntjie se middagete was kariger as wat jy dink. ‘n Brood was omtrent so groot soos ‘n klein pannekoek. Die vissies verwys na seediere wat omtrent so groot soos sardientjies was.

Wat daardie middagete egter ‘n groot fees gemaak het, is dat die seuntjie gewillig was om sy middagete op te gee. Hy het nie gesê: ‘Here, U kan een vissie en twee broodjies kry, maar ek gaan die res hou’ nie. Hy het vir Jesus alles gegee wat Hy van hom gevra het. Dink nou aan die gevolg van sy opofferende goedhartigheid.

1) Die oorspronklike middagete het nie eers ‘n enkele mandjie volgemaak nie, maar die oorskiet het twaalf mandjies volgemaak. Dit illustreer die oeswet wat in die Skrif geleer word. Wanneer jy vir God gee, kry jy altyd meer terug as wat jy gee (sien Lukas 6:38). Wanneer jy terughou, steel jy God se seën by jouself. ‘Mense wat graag uitdeel, ontvang altyd meer. Daar is ander wat suinig is en hulle word arm’ (Spreuke 11:24 NLV).

2) Deur aan ander mense se behoeftes te voldoen, is daar aan sy behoeftes voldoen. ‘Jesus het toe die brode geneem, ‘n dankgebed gedoen en dit aan die mense wat daar gesit het, uitgedeel en ook soveel van die vissies as wat hulle wou hê’ (Johannes 6:11 NLV). Die waarheid is dat wanneer jy dit wat jy het vir God gee, jy verwonderd sal wees oor wat Hy daarmee doen.

Sielskos: Jes 45-48; Joh 8:21-30; Ps 86; Spr 28:21-24

God gee om oor die detail van jou lewe

2024-11-05
Lukas 12:7 NLV

As jy wil weet hoe onbegryplik groot God is, lees die volgende: ‘Dit was my hand wat die aarde se fondamente gelê het. Met my regterhand het Ek die hemelkoepel gespan…’ (Jesaja 48:13 NLV). Kan so ‘n groot God vir jou daaglikse probleme en ellendes omgee? Ja. ‘Wat kos vyf mossies? ‘n Paar sent? Tog vergeet God nie ‘n enkele een van hulle nie. Selfs die hare op julle kop is getel. Moet dus nie bang wees nie; julle is vir Hom meer werd as ‘n hele swerm mossies’ (Lukas 12:6-7 NLV).

God gee vir mossies om – meer as wat jy weet. Hy gee vir hulle kos, voorsien hulle van bome, takkies vir hulle neste en ander mossies om mee te kommunikeer. Hy gee so baie vir hulle om dat Hy ‘n lopende inventaris van hulle hou. Wat van jou? ‘Selfs die hare op julle kop is getel…’ Wanneer jy vir iemand omgee, let jy na detail op.

Wat is die eerste ding wat ouers doen wanneer hulle hul nuwe baba se klein vingers en tone vir die eerste keer sien? Hulle tel hulle. As daardie kind een dag by die huis sonder een van daardie tien vingers of tone sou kom, sal die ouers dit dadelik opmerk. Selfs ontoereikende ouers doen dit. Jesus het inderwaarheid gesê: ‘God tel nie net jou vingers en tone nie. Hy het jou so lief dat Hy selfs die hare op jou kop tel. Hy weet hoeveel daar is. Hy weet watter kleur elkeen is.’ Spreuke 16:31 sê vir ons: ‘Grys hare is soos ‘n koning se kroon, ‘n mens kry dit by persone wat reg lewe’ (NLV). Die kruis bewys hoe lief God jou, insluitend die detail van jou lewe, het en hoeveel jy vir Hom beteken.

Sielskos: Jes 42-44; Joh 8:1-20; Ps 96; Spr 28:17-20

Liedere van redding (4)

2024-11-04
Psalm 100:2 NLV

Die Psalmdigter het geskryf: ‘…Kom voor Hom en sing met vreugde… Gaan sy poorte in met dankliedere, sy hofsaal met lofgesange. Dank Hom en prys sy Naam’ (verse 2, 4 NLV). Wanneer jy ‘n koning nader, word ‘n sekere protokol vereis. Dawid gee vir ons die protokol om die teenwoordigheid van die Koning van Konings binne te gaan: ‘Gaan sy poorte in met dankliedere, sy hofsaal met lofgesange.’ Vraag: Is dit jou persoonlike ervaring in die kerk? Of staan jy soos ‘n toeskouer rond en luister terwyl die musikante, die aanbiddingspan, of die koor sing?

Ons word almal geroep om lofprysing ‘binne te gaan.’ Aanbidding is nie iets wat jy bloot met jou ore hoor nie; jy druk dit met jou lippe – en jou hart – uit. Wanneer jy versuim om dit te doen, is daar ‘n verbintenis met God wat nie gemaak word nie. Jy, persoonlik, moet God aanbid! Niemand anders kan dit vir jou doen nie, ongeag hoe begaafd en talentvol hulle ook al mag wees.

Jy sê: ‘Maar soms is ek nie lus om God te prys nie.’ Die Bybel sê: ‘Kom ons bring dan, met Jesus Christus se hulp, ‘n voortdurende lofoffer aan God – ‘n offer wat opklink van die lippe van hulle wat Hom bely’ (Hebreërs 13:15 NLV). God wil opofferende lofprysing hê. Wat is dit? Lofprysing wanneer jy nie lus is daarvoor nie. Lofprysing wanneer jy deur moeilike seisoene gaan. Lofprysing wanneer jy, menslik gesproke, nie aan ‘n enkele ding kan dink om God oor te loof nie. Die lofprysing wat jou iets kos, is die lofprysing wat by God tel. ‘Ek sal te alle tye die Here loof. Sy lof sal altyd op my lippe wees’ (Psalm 34:2 NLV).

Sielskos: Jes 38-41; Joh 7:45-53; Ps 9; Spr 28:13-16