Om vis te vang en siele te wen

2024-11-15
Matteus 4:19 NLV

Jesus het vir professionele vissermanne gesê: ‘Kom! Word my dissipels, en Ek sal julle vissers van mense maak.’ Hierdie mans het drie dinge van visvang geweet:

1) Jy moet gaan waar die vis is. Jy sê: Ek dog ons is veronderstel om onsself apart van die wêreld te hou.’ Jesus het nie die kultuur vermy nie; Hy het daarby betrokke geraak om dit sodoende te verander. Jy moet dieselfde doen. Jesus het gebid: ‘Ek vra nie dat U hulle uit die wêreld verwyder nie, maar dat U hulle van die kwaad moet bewaar. Hulle behoort nie aan die wêreld nie, net soos Ek ook nie aan die wêreld behoort nie. Laat hulle vir U geheilig wees deur ‘n hegte verbintenis aan die waarheid. Net soos U My na die wêreld toe gestuur het, het Ek hulle ook na die wêreld toe gestuur’ (Johannes 17:15-18 NLV).

2) Jy moet gereed wees wanneer die vis begin byt. ‘Inteendeel, eerbiedig net Christus as die heer van julle lewe. As julle dit doen, en iemand vra julle uit oor die hoop wat in julle leef, wees altyd reg om te reageer’ (1 Petrus 3:15 NLV).

3) Jy moet die regte aas gebruik om die vis te vang. Paulus het gesê: ‘Vir hierdie Goeie Nuus is ek allesbehalwe skaam. Dit is immers God se krag wat hier aan die werk is. Dit bring redding vir elkeen wat glo…’ (Romeine 1:16 NLV). Die woord ‘evangelie’ beteken goeie nuus. Eerlike sondaars voel reeds sleg oor hulle sondes en stryd; wat hulle nodig het is die krag om te verander.

Hou hierdie drie beginsels voorop in jou gedagtes en gaan vang vandag siele van mense.

Sielskos: Rom 9:17-11:36; Joh 10:22-42; Ps 83:9-18; Spr 29:23-27

Tou-opgooiers wen nie. Wenners gooi nie tou op nie.

2024-11-14
Hebreërs 11:34 NLV

Volharding en die weiering om jou visie te laat vaar, het jou laat aanhou probeer totdat jy uiteindelik sukses behaal het. Probeer om jouself in te dink hoe die lewe sonder die gloeilamp of die polio-inenting sou gewees het. Tog het Thomas Edison en Jonas Salk eindelose hoofstukke van beproewing en mislukking beleef voordat hulle uiteindelik sukses behaal het. Suksesvolle mense neem kennis van hul mislukkings en leer daaruit. Hulle ondersoek dit versigtig, werk uit waar dinge verkeerd begin gaan het en gebruik dit dan om foute op die pad vorentoe reg te stel.

Te dikwels begin ons nuwe projekte met opgewondenheid en entoesiasme. Die nuutheid van wat ons doen dryf ons vorentoe. Dan gaan iets verkeerd en ons hou op. Die projek het makliker gelyk as wat dit in werklikheid is en ons is nie bereid om daarby te bly en daaraan te werk nie, dus gooi ons tou op. Tou-opgooiers wen egter nie en wenners gooi nie tou op nie.

As verloste kind van God, het jy ‘n verdere voordeel: ‘…my hulp kom van die Here…’ (Psalm 121:2 NLV). Dink daaroor. Met die Here wat jou in elke situasie en omstandigheid help, sal jy uiteindelik oorwin. Jy het ‘n bron van onfeilbare krag en leiding om hulp by te kry. Moses het deur kritiek, verraad en aanhoudende klaery geleef, maar tog het hy die grootste migrasie van mense in die geskiedenis van die mensdom gelei. Hoe het hy dit gedoen?

Die Bybel gee ons die antwoord in twee frases: ‘…hy [het] na die beloning uitgesien… Hy het volhard soos iemand wat die onsienlike God sien’ (Hebreërs 11:26-27 AFR83). Hou dus jou oë op die Here, hou aan vorentoe kyk na jou beloofde beloning, en jy sal oorwin.

Sielskos: Rom 7:1-9:16; Joh 10:11-21; Ps 83:1-8; Spr 29:19-22

Beplan vir die beste, maar wees voorbereid vir die ergste

2024-11-13
Spreuke 27:1 NLV

Onverwagte gebeurtenisse kan ons van ons voete af slaan. Terwyl sommige van ons platgeslaan bly, staan ander weer op en gaan aan. Hulle weier om die nederlaag as permanent te aanvaar. Hulle is soos die man wat gesê het: ‘Ek is nooit af nie; ek is óf op, óf ek is besig om op te staan.’ Alles wat in die lewe gebeur, sien hulle as ‘n leerervaring. Om ‘n geliefde te verloor is hartverskeurend, maar dit kan ook ‘n wekroep wees om elke dag ten volle te leef. Deur te sukkel om ‘n slegte gewoonte te oorkom, kan daartoe lei dat jy jou lewe herprioritiseer en gesonde gewoontes instel.

Jy kan vir die ergste voorberei deur geld vir noodgevalle te spaar, klasse oor nuwe produkte en tegnologie by te woon, jou verhoudings en kontakte op datum te hou sodat wanneer jy iemand vir hulp skakel, daar iemand aan die ander kant is wat gewillig is om die foon op te tel. Om dit te doen is soos om ‘n spaarwiel en gereedskap in jou kattebak te hê om ‘n pap wiel mee om te ruil. Jy hoop dat dit nooit nodig sal wees om dit te gebruik nie, maar jy hou dit gereed vir ingeval jy ‘n slaggat tref.

Bo dit alles moet jy sorg dat jy jou verhouding met God in ‘n goeie toestand hou! ‘Die Here bepaal die rigting van ‘n mens, en met sý lewe is Hy tevrede. Al sou so een struikel, hy sal nie val nie, want die Here hou sy hand vas’ (Psalm 37:23-24 NLV).

Sielskos: Rom 3:21-6:23; Joh 10:1-10; Ps 133; Spr 29:15-18

‘n Geestelike EKG

2024-11-12
Romeine 12:11 NLV

Net soos ‘n EKG die gesondheid van ons fisiese hart en blokkasies wat dit kan bedreig, meet, is dit nuttig om ‘n instrument te hê wat ons ywer, toewyding en heelhartigheid wanneer dit kom by die dien van die Here, te kan meet. Die volgende ses vrae sal presies dit doen:

1) Praat ek openlik en gereeld oor my toewyding aan Christus om ‘n soort openbare aanspreeklikheid vir my dade te skep?

2) Aanvaar ek die verantwoordelikheid om te groei? Lees ek boeke, oefen vaardighede en ontmoet mense wat my kan help verbeter?

3) Kla ek oor probleme op ‘n manier wat halfhartige betrokkenheid weerspieël?

4) Hanteer ek teleurstellings deur met God te praat en vir Hom die krag om te volhard te vra?

5) Erken en vier ek selfs my klein treë in die regte rigting?

6) Die apostel Paulus skryf: ‘Moenie sleepvoet wees in julle toewyding nie; wees entoesiasties; wees werklik diensbaar vir die Here.’ Toewyding beskryf passie, volharding en krag. Dit is dinge wat ek kan dophou en oppas. Is ek tans eerlik oor my vlak van toewyding? Wanneer my toewyding afneem, neem ek stappe om dit te vernuwe?

Dink versigtig en met gebed oor elkeen van hierdie vrae. Wees eerlik met God en met jouself. As jy nie van die antwoorde hou nie, besluit vandag om tot aksie oor te gaan. Bestee meer tyd alleen met God in gebed en deur sy Woord te lees. Om ‘n brandende ywer vir God te hê, is soos om ‘n vuur op te pas; dit vereis konstante brandstof en onderhoud. Niemand anders kan dit namens jou doen nie.

Sielskos: Rom 1:1-3:20; Joh 9:24-41; Ps 99; Spr 29:11-14

Streef na heelhartige toewyding aan God

2024-11-11
2 Kronieke 25:2 NLV

Die Bybel sê: ‘Amasia het gedoen wat reg was vir die Here, maar nie met sy hele hart nie’ (vers 2 NLV). Vergelyk dit met wat God oor Dawid gesê het: ‘…Ek het Dawid… gekry; hy is ‘n man na my hart. Hy sal alles doen wat Ek wil hê’ (Handelinge 13:22 NLV). Dit kan bietjie verwarrend wees, want wanneer jy oor Dawid se lewe lees, kry jy hoofstukke van owerspel, moord en toesmeerdery. Hy is ‘n ramp as man en ‘n onwaardige pa. Sy hart is egter aan God toegewy.

Hoe weet ons dit? Want wanneer hy foute gemaak het en gesondig het, het hy berou en die begeerte om dinge reg te maak by God, gehad. Toe Dawid die verbondsark na Israel toe teruggelei het, het hy ‘…met volle oorgawe voor die Here gedans…’ (2 Samuel 6:14 NLV). Hy het homself heeltemal daarin gewerp. Die Skrif sê dat Dawid voor die Here gespring en gedans het (sien 2 Samuel 6:16).

In die vroeë geskiedenis is die hart as die kern van die mens gesien. Dit het nie net gevoelens gehuisves nie, maar is as die middelpunt van ‘n persoon se wese, veral sy of haar wil, gesien. Heelhartige toewyding aan God wys dus wat jy kies om met al jou energie aan te gryp. Amasia het nege-en-twintig jare van sy lewe bestee om sy toewyding aan God te verfyn. Hy het gedoen wat reg is, maar sy hart was nie daarin nie. Dawid het, ten spyte van sy foute, God met sy hele hart nagestreef. Die woord vir jou vandag is dus – streef na heelhartige toewyding aan God.

Sielskos: Jes 63-66; Joh 9:13-23; Ps 115; Spr 29:7-10

Vergifnis kom eerste, gevoelens later

2024-11-10
Psalm 37:8 NLV

Klein oortredings kan maklik vergewe word. Wanneer iemand ons egter baie seermaak en lyk of hulle daarmee wegkom, kan vergifnis ‘n groot uitdaging wees. Totdat jy die oortreding vergewe en dit laat gaan het, sal jy voortdurend voel hoe die gewig daarvan jou afdruk. Een van die grootste foute wat jy kan maak as dit by vergifnis kom, is om te dink dat wanneer jou gevoelens teenoor iemand nie dadelik verander nie, jy hulle nog nie regtig vergewe het nie. Nee, vergifnis is ‘n besluit. Dis ‘n daad van jou wil. Jy mag dalk steeds met gevoelens van seer en gegriefdheid sukkel. Dit maak nie jou besluit om te vergewe ongeldig nie; dit beteken slegs dat genesing tyd neem. Jou genesing begin die oomblik wat jy besluit om te vergewe.

Die Bybel sê: ‘Raak saam met alle ander slegte dinge ontslae van alle bitterheid… Wees eerder vriendelik met mekaar. Gee vir mekaar om. Vergewe mekaar soos God julle vergewe het op grond van wat Christus gedoen het’ (Efesiërs 4:31-32 NLV). Wanneer jy jou deel, om te vergewe, gedoen het moet jy God vertrou om sy deel, om jou emosies te genees en jou vrede en vreugde te herstel, te doen. Jy het die mag om die besluit om te vergewe te maak, maar net God het die mag om jou gevoelens teenoor die persoon wat jou seergemaak het, te verander. Vertrou dus op God om jou hart te verander. Jou gevoelens sal uiteindelik volg en in lyn met jou besluit kom.

Intussen: ‘Wees stil in die Here, en wag geduldig op Hom. Moenie die mens beny wat op sý manier floreer, of jou verknies oor sy bose planne nie. Moenie kwaad word nie; laat staan eerder jou woede. Moenie ander beny nie; dit lei net tot jou nadeel’ (Psalm 37:7-8 NLV).

Sielskos: Job 1; Job 2:7-10; Job 40:1-5; Job 42:7-17