2024-11-27
Filippense 3:13 NLV
Sam Parker skryf: ‘Wanneer jy besluit om die lyn wat mislukking van sukses skei oor te steek, sal jy ontdek dat nie almal jou keuse toejuig nie. Alles sal ook nie noodwendig seepglad verloop nie. Daar is mense wat besluit het om nie die risiko te neem om die lyn oor te steek nie en hulle sal verkies dat jy dit ook nie doen nie. Ongelukkig is daardie mense soms jou vriende. Miskien sal hulle ‘n bietjie twyfel of ‘n bietjie aanmoediging weerhou (of jou selfs aanmoedig om die verkeerde ding te doen). Miskien sal hulle ‘n bietjie minder subtiel daaroor wees en jou direk daarvan probeer weerhou om die lyn oor te steek.
Jy sal dalk kort-kort ook in jou eie pad staan – daardie innerlike stem wat vir jou probeer sê dat jy nie so spesiaal is nie en dat ander mense, nie jy nie, uitsonderlike dinge laat gebeur. Dan sal daar die werk wees – harde werk.
Goeie dinge is selde maklik of goedkoop. Werklike inspanning en aandag is die grondbeginsels van sukses. Daar is geen kitsoplossings nie. Daar is geen silwer koeëls nie. Jy moet jou resultate verdien en jouself aanhou druk. Jy moet ook fokus. Dit beteken dat jy afleidings uitskakel en jou blootstelling aan negatiewe mense, gedagtes en dinge verminder. Tyd beweeg vinnig en jy kan dit nie terugkry nie. Sorg dus dat jy dit goed gebruik. Leer ook om weer op te staan. In elke fout is verhoogde kennis en begrip ingebou.’
Paulus stel dit so: ‘een ding is seker: ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê. Ek jaag wenpaal toe, na die hemelse prys…’ (verse 13-14 NLV).
Sielskos: Gen 13-16; Joh 13:18-30; Ps 114; Spr 31:1-5
2024-11-26
Filippense 3:14 NLV
In sy boek, Cross The Line, skryf Sam Parker die volgende: ‘Met alles is daar ‘n lyn. Aan die een kant van die lyn is ‘n groter kans om goeie dinge te laat gebeur (beter resultate, beter verhoudings, meer geleenthede). Dit is waar jy al daardie mense vind wat jy bewonder. Aan die ander kant van die lyn is daar minder kanse. Jy het ‘n keuse met elke lyn. Jy wil die lyn oorsteek of jy wil nie. Jy wil daardie beter kans hê om goeie dinge te laat gebeur of met minder kanse tevrede wees. Dis jou keuse.
Daar sal ook tye wees wanneer dit oënskynlik sal lyk asof jy nie die lyn kan oorsteek nie – maak nie saak wat jy doen nie. Daardie oënskynlike struikelblokke sal jou egter soms later op ‘n manier wat jy nie kon voorsien het nie, oor die lyn help. Dit sal as lesse dien, wat meer diepte aan jou ervaring gee – wat jou sterker maak en sal sorg dat jy beter voorbereid vir die groter en belangriker uitdagings wat jy in die toekoms in die gesig sal staar, is.
Jy sal dit egter nie op daardie tydstip weet nie. Op daardie tydstip sal jy net daardie lyn sien. Dit sal dalk vir jou soos ‘n muur lyk, maar dis is net ‘n lyn wat jy moet oorsteek. Die lyn is joune om oor te steek, maar jy sal die besluit moet neem om dit te doen.’
Paulus het gekies om daardie lyn oor te steek: ‘Ek jaag wenpaal toe, na die hemelse prys wat God aan my wil gee omdat Christus Jesus dit vir my verdien het.’ Dit verg totale toewyding. Dis egter die moeite werd!
Sielskos: Gen 10-12; Joh 13:1-17; Ps 95; Spr 30:29-33
2024-11-25
Johannes 10:11 NLV
Jesus het die gelykenis van ‘n skaapwagter wat ‘n honderd skape besit het, vertel. Toe een van hulle wegraak, het hy die ander nege-en-negentig skape in die kraal gelos en gesoek totdat hy die een verlore skaap gekry het. Toe het hy die skaap op sy skouers getel en was bly toe hy hom huis toe bring. Goeie skaapwagters gee nie net vir sommige of die meeste van die kudde om nie, maar vir die hele kudde. Dit word duidelik wanneer een skaap wegraak.
Daar is ‘n verhaal van ‘n klein dogtertjie wat in die woud afgedwaal en weggeraak het. Toe dit donker word, het vrees haar hart vasgeklem. Sy het geskree en gehuil totdat sy, uitgeput, gaan lê en aan die slaap geraak het. Haar pa, sy stem hees soos hy aanhoudend haar naam geroep het, het al vir ure na haar gesoek voor hy haar gevind het. Hy het uitgeroep en hom na haar toe gehaas. Die dogtertjie het wakker geword, in sy arms gespring, hom omhels en gesê: ‘Pappa, ek is so bly ek het jou gevind!’ Dis ons verhaal.
Ons vind egter nie vir Jesus nie, Hy vind ons. Hy vind ons, omdat Hy konstant op die uitkyk vir ons is. Jesus het sy gelykenis met die volgende woorde afgesluit: ‘Net so sal die hemel blyer wees oor een sondaar wat tot inkeer kom as oor 99 ander wat regverdig is en nie afgedwaal het nie!’ (Lukas 15:7 NLV). Elke keer wat ‘n verlore mens gevind word, juig die hemel. ‘Bedoel jy dat ek so baie vir die Here beteken?’ Ja. Net soos die skaapwagter nege-en-negentig skape agtergelaat het om die een te gaan soek wat weg was, is Jesus vir jou lief en het Hy gesterf om jou te red. Kom dus vandag na Hom toe.
Sielskos: Gen 7-9; Joh 12:37-50; Ps 102:18-28; Spr 30:24-28
2024-11-24
Lukas 10:36 NLV
Jesus vertel die verhaal van die Joodse reisiger wat op die pad na Jerigo deur rowers oorval, aangerand en vir dood agtergelaat is. Twee Jode, beide in die bediening, het verby hom geloop sonder om hom te help. Toe het ‘n Samaritaan hom gered. Die Jode het geen groep mense meer as die Samaritane gehaat nie. Hulle is openlik in die sinagoge vervloek en is van tempelaanbidding verbied.
Wat hierdie Samaritaan dus gedoen het was niks minder as wonderbaarlik nie. Hy het al sy persoonlike hulpbronne gebruik – sy persoonlike klere, olie, wyn, sy tyd, pakdier, geld en energie – om hierdie Joodse man na die beste van sy vermoë by te staan. Toe het hy sy lewe gewaag om die gewonde man na ‘n herberg in ‘n Joodse area te neem. Bo dit alles het hy die herbergier vir die man se kos en kamer vir verskeie dae betaal en beloof om terug te keer en vir enigiets meer wat die man skuld, te betaal. Dit was van kardinale belang omdat enigiemand wat nie hul rekening kon betaal nie, deur die herbergiers as ‘n slaaf verkoop kon word sodat hulle volle betaling vir die skuld kon ontvang.
Jesus sluit die verhaal met hierdie woorde af: ‘Nou, watter van hierdie drie sou jy sê, was ‘n naaste vir die man wat deur rowers aangeval is?..’ Geen wet sal jou ooit ‘n goeie buurman laat wees nie, maar die liefde van Christus sal. “A neighbour is not identified by color or creed; a neighbour is identified by the nearest need.” Hier is dus ‘n gebed vir jou om te bid: ‘Here, gee my die moed om ‘n naaste in nood te herken en te help.’ Dis ‘n gebed wat Hy sal beantwoord!
Sielskos: Luk 1:26-56; Luk 2:1-52; Luk 8:19-21
2024-11-23
Jesaja 55:9 NLV
Jou interne beeld van God bepaal hoe jy alles anders sien. Die meerderheid van ons probleme is nie ‘n produk van omstandighede nie, maar as gevolg van ons uitkyk. Ons kan ons grootste probleme na ‘n onvoldoende begrip van wie God is, terugspoor. God sê: ‘Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is wat Ek doen, hoër as wat julle doen, en my gedagtes is hoër as julle gedagtes.’
‘n Bekende skrywer lig ons in: ‘Sterrekundiges het sterrestelsels 12,3 biljoen ligjare van die aarde af bespied. Om daardie afstand in perspektief te plaas, oorweeg die feit dat lig wat teen 186 000 myl per sekonde beweeg, slegs agt minute neem om die 93 miljoen myl tussen die son en planeet aarde af te lê. Sonlig is net agt minute oud. Lig van die verste sterrestelsel neem egter 12,3 biljoen ligjare om hier te kom. Daardie afstand is feitlik onverstaanbaar. God sê dit is minder as die afstand tussen sy gedagtes en ons gedagtes. Jou beste gedagte oor God op jou beste dag skiet 12,3 biljoen ligjare tekort van hoe groot en hoe goed God werklik is. Miskien is dit tyd om op te hou om vierdimensionele perke op God te plaas. Miskien is dit tyd om op te hou om God in ‘n boks so groot soos jou serebrale korteks te plaas.’
Hoe meer ons groei, hoe groter moet God word. Hoe groter God word, hoe kleiner sal ons probleme word. Die gesangskrywer Oscar C. Eliason het geskryf: ‘Got any rivers you think are uncrossable? Got any mountains you can’t tunnel through? God specializes in things thought impossible. He can do just what none other can do.’
Sielskos: Gen 4-6; Joh 12:20-36; Ps 102:12-17; Spr 30:21-23
2024-11-22
Psalm 139:16 NLV
Lank voor God die aarde se fondasies gelê het, het Hy jou in gedagte gehad. Hy het aan alles wat jy moontlik kon nodig hê, gedink. Verstommend, is dit nie? ‘n Gerespekteerde skrywer merk op: ‘God het vir elke gebeurlikheid wat jy ooit mag teëkom, voor die begin van tyd reeds beplan. Dit is onmoontlik vir ons verstand om die soewereiniteit van God te begryp, maar laat ek dit in skaakterme verduidelik.
In 1997 het ‘n span IBM-ingenieurs Deep Blue, die rekenaar wat die skaakgrootmeester Garry Kasparov uitoorlê het, ontwerp en ontwikkel. Deep Blue was toegerus met twee-en-dertig verwerkingsenjins wat 200 miljoen skaakskuiwe per sekonde kon bereken. Ek sukkel met die vyftig-vyftig goed. Waar of vals. Links of reg. Sjokolade of vanielje. Ek kan my nie eers indink om 200 miljoen gebeurlikhede in ‘n sekonde te bereken nie.
Dis lagwekkend in vergelyking met die Alwetende Een wat elke gebeurlikheid in ag geneem het voordat selfs ‘n nanosekonde van die horlosie van tyd afgetik het. Dink aan jou lewe as ‘n skaakspel. Jy is die pion en God is die Groot Meester. Jy het geen idee wat jou volgende skuif moet wees nie, maar God het reeds die volgende 200 miljoen skuiwe beplan.’
God sê: ‘Ek maak die einde bekend vanaf die begin…’ (Jesaja 46:10 NLV). Sukkel jy om God se wil vir jou lewe te ontdek? Hier is die eenvoudige waarheid: God wil hê jy moet aankom waar Hy wil hê jy moet gaan, meer as wat jy wil aankom waar God wil hê jy moet gaan. As jy in pas met die Gees bly, sal God seker maak jy kom waar Hy wil hê jy moet gaan.
Sielskos: Gen 1-3; Joh 12:12-19; Ps 102:1-11; Spr 30:18-20