2024-12-02
Genesis 12:7 NLV
Die eerste ding wat Noag na die vloed gedoen het, was om ‘n altaar vir die Here te bou. Dink daaroor. Noag het ‘n altaar gehad voor hy ‘n huis gehad het. Die meeste van ons het huise, maar die outydse familiealtaar het feitlik verdwyn. Oral waar Abraham gegaan het, het hy ‘n altaar gebou. Hoekom?
1) ‘n Altaar is ‘n plek van gebed. Die Bybel sê: ‘Dis die plek waar Abram destyds die altaar gebou het. Hier het hy weer die Here aanbid’ (Genesis 13:4 NLV).
2) ‘n Altaar is ‘n plek van opoffering. ‘Toe hulle aankom by die plek wat God vir Abraham aangewys het, bou hy ‘n altaar en sit die hout daarop neer. Hy maak Isak vas en sit hom bo-op die hout op die altaar’ (Genesis 22:9 NLV). Wou God gehad het dat Abraham vir Isak moes doodmaak? Nee, God wou net weet: ‘Is daar enigiets wat Ek van jou kan vra wat jy nie bereid sal wees om te gee nie, of enigiets op aarde wat jy meer liefhet as vir My?’ God sal jou nie vra vir dit wat jy nie het nie, maar Hy sal jou dikwels vra vir iets wat jy graag wil behou. Opoffering oorwin die gees van hebsug, die vrees vir gebrek en jou fokus op ‘n selfgesentreerde lewe.
3) ‘n Altaar is ‘n plek van aanbidding. ‘Maak ook ‘n klein altaar van akasiahout om wierook daarop te brand’ (Eksodus 30:1 NLV). Die wierook wat smelt en die rook wat opstyg verteenwoording aanbidding aan God. Aanbidding is ‘n daad van intimiteit; dis om jou hart, jou liefde, jou lof en dank aan God te gee. Die Bybel beskryf dit as ‘…’n lieflike reukoffer…’ (Efesiërs 5:2 NLV). Bou dus vandag ‘n altaar.
Sielskos: Gen 25:19-27:46; Joh 14:26-31; Ps 146; Spr 31:18-21
2024-12-01
Lukas 17:14 NLV
Lukas skryf: ‘Toe Hy ‘n sekere dorpie binnegegaan het, het tien melaatse mans Hom teëgekom… Hulle het hard na Hom geroep: ‘Jesus, Here, kry ons tog jammer!’ Toe Hy hulle sien, sê Hy aan hulle: ‘Gaan wys julleself aan die priesters.’ Terwyl hulle soontoe op pad was, het hulle gesond geword’ (verse 12-14 NLV).
Wanneer iemand in daardie dae van melaatsheid genees is, moes ‘n priester hulle eers rein verklaar voordat hulle weer by die samelewing kon aansluit. Die Bybel sê nie vir ons hoe ver weg die priesters was, hoe lank hulle reis was en of hulle genesing aan die begin, middel of einde van hulle reis plaasgevind het nie.
Daar is ‘n belangrike les vir diegene wat met verslawing sukkel, hieruit te leer. Dis wonderlik wanneer God ons onmiddellik verlos. Baie mense het egter dieselfde ervaring as hierdie tien melaatse mans. Soms moet jy jou verlossing tree vir tree inloop deur God te vertrou tot dit volkome is. Dis dan wanneer ons as volgelinge van Christus medelye moet hê, geduld aan die dag moet lê en by hulle moet staan totdat hulle gesond gemaak is. Mense wat byvoorbeeld aan pornografie verslaaf is, sukkel met ‘n verslawing wat beide moreel en geestelik is. Dieselfde emosionele bindingshormone wat na seks vrygestel word, word vrygestel wanneer jy pornografie kyk. Dit maak dit ‘n kragtige verslawing.
Een man wat sy verslawing oorkom het, vertel: ‘Dit was ‘n kwessie van om my gedagtes met die Woord te vernuwe, sowel as om werklike dissipline en verantwoording teenoor iemand wat my probleem verstaan, te hê. Ek moes mense kry wat ek kon vertrou; mense wat my nie sou verneder of oor my skinder nie, mense wat standvastige en liefdevolle vriendskap sou bied.’ God gee nie op op mense wat seer het nie en ons moet ook nie.
Sielskos: Luk 10:38-42; Joh 11:1-44; Joh 12:1-3
2024-11-30
Galasiërs 5:17 NLV
As jy ernstig daaroor is om God se wil te vervul, moet jy vasberadenheid hê. Een definisie van vasberadenheid is om ‘n dispuut deur ‘n gesaghebbende besluit of uitspraak te besleg. Kom ons pas dit op een van ons grootste probleme toe – die daaglikse stryd tussen ons vlees en ons gees. “‘n Mens se sondige geaardheid wil dinge doen wat teen die Gees is, en die Gees wil dinge doen wat teen jou sondige geaardheid is…” (vers 17 NLV). Onthou, die definisie van vasberadenheid vervat die idee om ‘n dispuut te besleg. Dit is belangrik, want as jy jou gaan verbind om te doen wat God wil hê jy moet doen, sal jy die nimmereindigende geskil tussen jou vlees en jou gees moet besleg. Hoe doen mens dit? Deur ‘n gesaghebbende besluit of uitspraak te maak. Jou vlees sal altyd saam met die stroom gaan of die status quo wil behou, tensy jou wedergebore gees nee sê.
Josua is ‘n goeie voorbeeld hiervan. Uit vrees dat God se volk in die leefstyl van die omliggende nasies vasgevang sou raak, het hy vir hulle gesê: ‘As julle nie die Here wil aanbid nie, moet julle vandag vir julleself besluit wie julle dan wil aanbid. Is dit die gode wat julle voorouers anderkant die Eufraat gedien het, of is dit die gode van die Amoriete in wie se land julle nou woon? Ek en my huisgesin sal die Here aanbid’ (Josua 24:15 NLV). Omdat Josua ‘n gesaghebbende besluit en ‘n uitspraak gemaak het, sê die Bybel: “Die volk sê toe vir Josua: ‘Ons sal net die Here ons God aanbid. Ons sal net na Hom luister'” (vers 24 NLV). Vraag: In watter area van jou lewe moet jy vandag ‘n gesaghebbende besluit of uitspraak maak?
Sielskos: Gen 24:1-25:18; Joh 14:15-25; Ps 118:19-29; Spr 31:14-17
2024-11-29
Spreuke 16:23 NLV
Die Bybel sê: “‘n Mens wat wys is, sê verstandige dinge. Hy kan ander mense onderrig. Mooi woorde is soos heuning; dit is goed vir die gees en bevorderlik vir sy lewe” (verse 23-24 NLV). Jou gedagtes en jou woorde is intiem met mekaar verbind. Daarom is dit belangrik om aangename gedagtes te dink, sodat jy aangename woorde kan spreek. Jou gedagtes is stil woorde wat nie net jy en die Here hoor nie, maar wanneer dit geverbaliseer word, dit jou emosionele, geestelike en fisiese welstand beïnvloed. Salomo sê: ‘…Mooi woorde… is goed vir die gees en bevorderlik vir sy lewe.’
Jou gedagtes is stil woorde wat jou innerlike wese, jou gesondheid, jou vreugde en jou houding affekteer. Die dinge waaraan ons dikwels dink, kom by ons monde uit en laat ons soms dwaas lyk. As ons egter op God se manier leef, kan ons woorde en gedagtes ons lewens en die lewens van ander mense aangenamer maak. Moenie die fout maak om te dink dat jy jou gedagtelewe in enige wêreldse rigting wat dit wil, kan laat loop en dit dan kan teenwerk deur godvrugtige woorde te spreek nie. Óf albei is aangenaam, óf albei is negatief en sondig. Daar is geen middeweg nie.
Paulus skryf: ‘Julle gesindheid moet soos Jesus Christus s’n wees’ (Filippense 2:5 NLV). Die Skrif is jou toegang tot ‘n nuwe leefwêreld. Soos jy tyd bestee om Jesus toe te laat om jou denke aan te pas, sal jy nie daaraan hoef te dink om aangename woorde, wyse woorde of genesende woorde te spreek nie. Dit sal van nature begin gebeur.
Sielskos: Gen 20-23; Joh 14:1-14; Ps 118:10-18; Spr 31:10-13
2024-11-28
1 Kronieke 4:10 NLV
Die verhaal van Jabes beslaan slegs twee verse in die Skrif, maar bevat ‘n lewensveranderende waarheid: ‘Jabes was meer geëerd as sy broers. Sy ma het hom Jabes genoem omdat sy geboorte so pynlik was. Hy was die een wat tot die God van Israel gebid en gesê het: ‘Laat u seën op my rus en vergroot my grond! Wees asseblief met my in alles wat ek doen, en bewaar my van moeilikheid en pyn!’ En God het sy versoek gehoor en dit gedoen’ (verse 9-10 NLV). Hierdie gebed kan in die volgende woorde opgesom word: ‘Ek wil groei; ek wil weet; ek wil vorentoe beweeg!’
Die grootste gevaar waarin jy jouself kan bevind, is die idee dat jy persoonlike groei later ‘n prioriteit sal maak. Moenie in daardie groef val nie. Iemand het gesê: ‘Die enigste verskil tussen ‘n groef en ‘n graf is die diepte daarvan!’ As jy jou Godgegewe potensiaal wil bereik, moet jy meer doen as om net die lewe te ervaar en te hoop dat jy dit wat jy nodig het, langs die pad sal leer. Jy moet geleenthede vir groei aangryp asof jou toekoms daarvan afhang – want dit doen. Groei gebeur nie net nie; jy moet dit najaag.
Jy sê: ‘Maar ek is bang ek misluk.’ Almal van ons het vrese. Die goeie nuus is egter dat almal van ons geloof het. ‘…Onthou dat julle geloof ‘n geskenk uit God se hand is…’ (Romeine 12:3 DB). Die vraag wat jy jouself moet afvra is: ‘Watter een gaan ek toelaat om sterkter te wees, my vrese of my geloof?’ God het groot dinge vir jou in gedagte, staan dus in geloof op en begin om dit op te eis.
Sielskos: Gen 17-19; Joh 13:31-38; Ps 118:1-9; Spr 31:6-9
2024-11-27
Filippense 3:13 NLV
Sam Parker skryf: ‘Wanneer jy besluit om die lyn wat mislukking van sukses skei oor te steek, sal jy ontdek dat nie almal jou keuse toejuig nie. Alles sal ook nie noodwendig seepglad verloop nie. Daar is mense wat besluit het om nie die risiko te neem om die lyn oor te steek nie en hulle sal verkies dat jy dit ook nie doen nie. Ongelukkig is daardie mense soms jou vriende. Miskien sal hulle ‘n bietjie twyfel of ‘n bietjie aanmoediging weerhou (of jou selfs aanmoedig om die verkeerde ding te doen). Miskien sal hulle ‘n bietjie minder subtiel daaroor wees en jou direk daarvan probeer weerhou om die lyn oor te steek.
Jy sal dalk kort-kort ook in jou eie pad staan – daardie innerlike stem wat vir jou probeer sê dat jy nie so spesiaal is nie en dat ander mense, nie jy nie, uitsonderlike dinge laat gebeur. Dan sal daar die werk wees – harde werk.
Goeie dinge is selde maklik of goedkoop. Werklike inspanning en aandag is die grondbeginsels van sukses. Daar is geen kitsoplossings nie. Daar is geen silwer koeëls nie. Jy moet jou resultate verdien en jouself aanhou druk. Jy moet ook fokus. Dit beteken dat jy afleidings uitskakel en jou blootstelling aan negatiewe mense, gedagtes en dinge verminder. Tyd beweeg vinnig en jy kan dit nie terugkry nie. Sorg dus dat jy dit goed gebruik. Leer ook om weer op te staan. In elke fout is verhoogde kennis en begrip ingebou.’
Paulus stel dit so: ‘een ding is seker: ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê. Ek jaag wenpaal toe, na die hemelse prys…’ (verse 13-14 NLV).
Sielskos: Gen 13-16; Joh 13:18-30; Ps 114; Spr 31:1-5