Gebed (1)

2025-02-05
Lukas 11:1 NLV

‘n Bekende pastoor het met ongekende eerlikheid gesê: ‘Gebed is die grootste stryd waarmee ek sukkel. Dit is moeilik om ‘n konsekwente gebedslewe te handhaaf en veral soms moeilik om die oortuiging te handhaaf dat dit werk.’ Gebed kom vir die meeste van ons nie natuurlik nie. Ons weet dat dit veronderstel is om ‘n dialoog te wees, maar dit voel meestal soos ‘n monoloog. Daar is niks ergers as om met iemand te probeer praat wat nie terug wil praat nie. Ons hou nie daarvan om dit te erken nie, maar wat ons dikwels oor gebed wonder is die volgende: ‘Hoe kan ek bid sodat God vir my dit wat ek wil hê sal gee?’ ‘n Klein seuntjie is gevra of hy elke aand sy gebed opsê. Hy het geantwoord: ‘Nee, party aande het ek niks nodig nie.’

Gebed gaan nie oor die spesifieke woorde wat jy gebruik of hoe lank jy bid nie. Dit gaan oor kennismaking. Dit gaan daaroor om ‘n verhouding te bou. As jy met iemand oor iets moet praat, mag jy dalk sê: ‘Kom ons kry gou ‘n plek waar ons kan gesels.’ Jy wil seker maak dat jy gehoor word en dat jy hoor wat die ander persoon sê. Wanneer jy die geraas van hierdie wêreld elimineer, verhoog jy jou vermoë om God te hoor. Dit wys God dat jy jou verhouding met Hom ernstig opneem.

Die psalmdigter het gesê: ‘Hy wat woon in die skuilplek van die Allerhoogste, sal rus in die skadu van die Almagtige’ (Psalm 91:1 NLV). Het jy ‘n ‘skuilplek’ waar jy alleen saam met God kan wees? Dit kan enige plek wees. Jy het egter ‘n plek nodig waar jy kan gaan en jou verhouding met God kan bou.

Sielskos: Gen 17-19; Luk 8:26-39; Ps 67; Spr 4:1-2

Jy kan kies: jou roeping of jou gemak

2025-02-04
Genesis 11:31 NLV

Die Bybel sê: ‘Tera het sy seun Abram… geneem en uit Ur van die Galdeërs vertrek om na die land Kanaän toe te gaan. Maar hulle het in die dorp Haran oorgebly en hulle daar gevestig’ (vers 31 NLV). ‘n Christelike skrywer merk op: ‘Tera het Abram vir ‘n deel van die reis na Kanaän vergesel, maar toe gestop. Tera en sy familie begin hul verhaal in Ur, die groot sentrum van rykdom en opvoeding en die land van afgode. Dan begin hulle reis, wat deur die stad Haran en dan af na Kanaän loop. Vir Tera, die vader van Abram, het die pad in Haran geëindig. Ons weet nou uit ander gedeeltes in die Bybel dat Haran ‘n stad baie soos Ur was. Daar was baie rykdom. Daar was afgode. Dit mag dalk wees dat Tera by homself gedink het: ‘As ek verder gaan, kan ek dalk alles wat ek het verloor. Ek sal my afgode vir seker moet opgee.’ Dus kies hy gemak. Abram kies egter om ja vir sy roeping te sê.’

Dis ‘n keuse wat jy ook sal moet maak. Jy sal dit ook meer as een keer moet maak. Soos jou omstandighede verander en die seisoene van jou lewe vorder, sal jy moet besluit of jy saam met God die onbekende gaan binnegaan en of jy met die sekuriteit van dit wat jy ken tevrede gaan wees. Tera was tevrede daarmee; Abram het aanbeweeg. Wat gaan jy doen? Jy hoef nie iets te doen om God se liefde en genade te verdien nie; dis gawes van God. Om egter in God se seën te lewe, moet jy jou roeping in plaas van jou gemak kies.

Sielskos: Gen 13-16; Luk 8:16-25; Ps 120; Spr 3:33-35

Getrouheid

2025-02-03
Matteus 25:23 AFR83

Jesus begin die gelykenis van die talente met die volgende woorde: ‘Verder is God se koningsheerskappy soos…’ (vers 14 NLV). Een van die kragtigste punte wat Hy maak is die belangrikheid daarvan om getrou te wees. Of God jou nou vyf talente, twee talente of een talent gegee het, dit wat vir Hom saakmaak is jou getrouheid. “Toe sê sy eienaar vir hom: ‘Mooi so! Jy is ‘n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Kom in en deel in my vreugde!'” (vers 21 AFR83).

Jy sal oplet dat Hy nie gesê het: ‘Mooi so, populêre slaaf,’ of ‘briljante slaaf,’ nie, maar ‘getroue slaaf.’ Christus praat oor diegene wat dikwels onopgemerk bly, maar onontbeerlik vir sy doeleindes is. Hy praat oor dié wat geen trompette blaas, geen baniere waai en geen applous eis nie. Hy praat oor dié wat dag na dag opdaag en die talente wat God aan hulle gegee het, gebruik om die werk te doen wat Hy aan hulle opgedra het. Onopgemerk deur mense, maar opgemerk en beloon deur God!

‘God is nie onregverdig nie. Hy sal nie vergeet hoe hard julle vir Hom gewerk het nie: hoe julle julle liefde vir Hom betuig het deurdat julle julle mede-Christene gedien het en dit nog steeds doen nie’ (Hebreërs 6:10 NLV). Hierdie woorde beskryf diegene wat die kollig vermy en gelukkig is om in die skaduwees te dien. Dit beskryf dié wat nie net die wedloop begin nie, maar dag na dag hardloop en nie ophou totdat hulle die wenstreep oorgesteek het nie. Ander mag dink dat jy nie veel van ‘n verskil maak nie, maar God doen. Terwyl ander baie waarde aan vaardigheidsvlakke en suksesvlakke heg, meet God jou aan jou getrouheid.

Sielskos: Gen 10-12; Luk 8:1-15; Ps 108; Spr 3:31-32

Moenie trots ‘n houvas gee nie

2025-02-02
2 Korintiërs 3:5 NLV

Voor sy 1971 geveg teen Joe Frazier, het Muhammad Ali gesê: ‘There’s not a man alive who can whup me. [He jabbed at the air with his blinding left.] I’m too smart. [He tapped his head with his glove.] I’m too pretty. [He showed the cameras his profile, like a bust on a pedestal.] I am the greatest! I am the king! I should be a postage stamp – that’s the only way I’ll ever get licked!’ Raai wat het in daardie geveg gebeur? Tot die verbasing van almal, veral homself, het Ali die geveg teen Frazier verloor.

Wanneer selfvertroue in jou eie vermoë en hulpbronne in trots ontaard, wat dan arrogansie word, stuur jy op moeilikheid af. Die Bybel sê: ‘Hoogmoed lei tot ondergang. Hooghartigheid kom net voor die val’ (Spreuke 16:18 NLV). Hoe behou mens dus balans? Deur te onthou dat elke gawe, vermoë, talent en hulpbron wat jy het, van God af kom. Selfvertroue is noodsaaklik vir sukses. Daar is niks daarmee verkeerd om die gawes wat God vir jou gegee het te erken nie.

Die verskil tussen selfvertroue en vertroue in Christus word egter aan wie die krediet daarvoor ontvang, gesien. Dis moeilik om vol te veel selfvertroue te wees wanneer jy erken dat jy niks sonder God se genade en sy onverdiende guns teenoor jou is nie. Die Bybel sê: ‘…Trouens, almal moet nederig in mekaar se diens staan, want: ‘God is téén dié wat te veel van hulleself dink, maar dié wat besef hoe afhanklik hulle van Hom is, aan hulle gee Hy sy onverdiende goedheid.’ Word daarom klein onder die kragtige hand van God; op sý tyd sal Hy julle groot maak’ (1 Petrus 5:5-6 NLV).

Sielskos: Eks 16:1-35; Joh 6:30-40

Soek jy na betekenis?

2025-02-01
Prediker 1:14 NLV

Dink jy dat as jy meer geld of groter sukses gehad het, sou jy gelukkig wees? Die tennisster Boris Becker, het gesê: ‘Ek het twee keer Wimbledon gewen, een keer as die jongste speler. Ek was ryk. Ek het al die materiële besittings gehad wat ek begeer het. Dis die ou storie van filmsterre en popsterre wat selfdood pleeg. Hulle het alles, maar tog is hulle so ongelukkig. Ek het geen innerlike vrede gehad nie.’

Salomo het dieselfde ontdekking gemaak: ‘Ek het al die dade gesien wat onder die son gedoen word en kyk, alles was sinloos, ‘n gejaag na wind!’ Salomo het godsdiens, onderwys, geld, publieke werke, roem, kreatiewe skryfwerk en sensuele plesier probeer: ‘Alles begeerlik in my oë het ek myself nie ontsê nie. Ek het my geen plesier ontsê nie. Ek het genot gevind in my harde werk… Ek het daarna nagedink oor alles wat ek bereik het, oor al die moeite wat ek gedoen het. En ek het besef hoe sinloos dit alles is…’ (Prediker 2:10-11 NLV).

Uiteindelik, in die laaste hoofstuk van die boek Prediker, vind Salomo dit waarna hy soek: ‘…Wees eerbiedig teenoor God en gehoorsaam sy gebooie. Dit word van alle mense gevra’ (Prediker 12:13 NLV). Salomo het besef dat die lewe nie op besittings gebou word nie, maar op verhoudings. Die eerste en belangrikste verhouding wat jy moet hê, is ‘n verhouding met God.

Jy vra: ‘Hoe vind ek God?’ Deur Christus! Jesus het gesê: ‘…Ek is die pad en die waarheid en die lewe. Niemand kom by die Vader uit behalwe deur My nie’ (Johannes 14:6 NLV). Jy kan vandag ‘n lewensveranderende verhouding met God hê, deur jou vertroue in Jesus Christus te plaas.

Sielskos: Gen 7-9; Luk 7:36-50; Ps 111; Spr 3:29-30

Vriendskap

2025-01-31
Spreuke 17:17 NLV

Jonatan was die regmatige erfgenaam van die troon van sy vader, Saul, maar Dawid is deur God geroep om Saul as Israel se volgende koning op te volg. Op die ou einde kon net een van hulle koning word. Hoe het hulle dit hanteer? Was hulle kompeterend, of agterdogtig, of jaloers op mekaar? Nee. Die Bybel sê: ‘Jonatan en Dawid het toe ‘n plegtige ooreenkoms aangegaan… Jonatan het sy mantel uitgetrek en dit vir Dawid gegee. Hy het ook sy wapenrusting, sy swaard, sy boog en sy gordel vir hom gegee’ (1 Samuel 18:3-4 NLV).

Dit was Jonatan se kosbaarste besittings. Hy was gewillig om sy lewe vir Dawid te waag, ten spyte van sy pa Saul se waarskuwings dat Jonatan se troon nooit, solank as wat Dawid lewendig was, gevestig sou word nie (sien 1 Samuel 20:31). Net so het Dawid sy lewe in gevaar gestel deur teen die Filistyne te veg om Saul en Jonatan te help om hulle koninkryk te vestig. Die punt van die storie is: ‘n Ware vriend is daar vir jou, selfs wanneer hulle eerder êrens anders sou wou wees.

Soos een bekende gesê het: ‘Baie mense wil saam met jou in die limousine rondry, maar wat jy nodig het is iemand wat saam met jou die bus sal neem wanneer die limousine breek.’ Salomo het gesê: ‘Op ‘n vriend se lojaliteit kan jy altyd reken. Jou broer is gebore om jou te help wanneer daar probleme is.’ Wanneer laas het jy God vir die ware vriende in jou lewe gedank? Wat is dit wat hulle so spesiaal maak? Moenie aanneem dat hulle weet hoe baie jy hulle waardeer nie. Sê dit vir hulle! Onthou ook: As jy ware vriende wil hê – moet jy self een word!

Sielskos: Gen 4-6; Luk 7:24-35; Ps 107:33-43; Spr 3:27-28