2024-12-26
Matteus 1:24 NLV
Daar is goddelike doelwitte wat getrou bewaak en beskerm moet word om vervul te kan word. Josef gee ons drie sleutels om God se beloftes te vervul. Die eerste sleutel is genade en die tweede sleutel is geloof. Kom ons kyk na die derde sleutel: gehoorsaamheid.
‘Toe Josef wakker word, het hy gemaak soos die engel van die Here hom beveel het. Hy het Maria as sy vrou by hom in die huis geneem, maar hy het nie by haar geslaap totdat haar Seun gebore is nie. En hy het Hom Jesus genoem’ (verse 24-25 NLV). Josef was aan God gehoorsaam toe die omstandighede, menslik gesproke, nie sin gemaak het nie. Hy het God gehoorsaam toe sy gedagtes vol twyfel was. Hy het God gehoorsaam terwyl sy emosies in ‘n warboel was. Hy het God gehoorsaam toe dit beteken het dat hy sy huis moet verlaat en in Egipte moet gaan bly totdat Herodus dood is.
Vir Josef het dit beteken om ‘n gevestigde besigheid en familie en vriende agter te laat. Dit het beteken dat hy in ‘n land moes gaan woon waar hy nie die taal verstaan of gepraat het nie. Hy het ook nie geweet hoe lank hulle daar sou moes bly nie: Weke? Maande? Jare? Alhoewel Egipte ‘n moeilike plek was om in te woon, was dit ‘n plek van gehoorsaamheid.
God se beloftes word in plekke van gehoorsaamheid beskerm. God se beloftes aan ons word in plekke van gehoorsaamheid vervul. God openbaar sy wil in plekke van gehoorsaamheid aan ons. Wonderwerke gebeur in plekke van gehoorsaamheid. Voorsiening vind op plekke van gehoorsaamheid plaas. Ons is veilig in plekke van gehoorsaamheid.
Wag jy vir ‘n belofte om vervul te word? Soek jy ‘n antwoord op gebed? Gebruik die sleutels van genade, geloof en gehoorsaamheid.
Sielskos: Job 24-28; Luk 2:8-20; Ps 113; Pred 10:10-14
2024-12-25
Matteus 1:20 NLV
In Josef se lewe sien ons drie sleutels om God se doel en beloftes in ons lewens te vervul. Die eerste sleutel is genade. Kom ons kyk na die tweede sleutel: geloof.
“Terwyl hy dit in gedagte gehad het, het daar ‘n engel van die Here in ‘n droom aan hom verskyn en gesê: ‘Josef seun van Dawid, moenie bang wees om met Maria te trou nie, want wat in haar verwek is, kom van die Heilige Gees'” (vers 20 AFR83). Josef wou sy verlowing met Maria privaat verbreek. Toe het God vir hom die goddelike plan vertel. Wat was Josef se deel? Om geloof in die moeilikste omstandighede uit te oefen. Om God te vertrou toe die situasie nie verstaanbaar of rasioneel verduidelik kon word nie. God het vir hom vier dinge gewys:
1) God het hom aan sy identiteit herinner: ‘Josef seun van Dawid.’ God wil hê dat jy moet weet wie jy ‘in Christus’ is (sien Efesiërs 1:18-19).
2) God het Josef verseker dat hy nie bang hoef te wees nie. Wat het Josef in staat gestel om sy vrees te oorkom en vorentoe te beweeg? Om van God te hoor. Om ‘n woord van die Here te hê waarop hy kon staan. Dis wat jy ook nodig het (sien Jesaja 30:21).
3) God het vir Josef rigting gegee. Hy moes Maria as sy vrou neem, ‘n vader vir die kind wees en Hom Jesus noem. Wat is die les vir jou? Wees onderrigbaar en volg God se instruksies. Dis deur geloof en gehoorsaamheid wat jy jou Godgegewe lotsbestemming sal bereik.
4) God het vir Josef verseker dat Hy in die situasie aan die werk was. Wanneer jy dit weet, kan jy vrede in jou hart en ‘n nuwe perspektief ervaar.
Sielskos: Jes 7:14; Luk 2:1-7; Miga 5:2-5a; Jes 9:6-7
2024-12-24
Matteus 1:19 NLV
Josef se lewe van stille dade gee ons drie sleutels om in God se beloftes te leef. Kom ons kyk vandag na die eerste sleutel: genade. Ons word aan Josef te midde van ‘n persoonlike krisis bekendgestel. Hy is lief vir Maria. Hy het ook geglo dat sy vir hom lief is… totdat hy gehoor het dat sy swanger is. Hoe moes hy reageer? Haar in die openbaar beskaam? Of haar oorgee aan ‘n openbare steniging soos die wet van Moses vereis het? Nee, hy het genade bo kwaadwilligheid, woede en wraak gekies. Josef se genade het die lewe van Maria gespaar en haar ongebore kind Jesus beskerm, sodat Hy sy doel kon vervul en ons Redder kon word.
Hierdie begripvolle, vergewensgesinde en barmhartige timmerman het gehelp om ‘n begripvolle, vergewensgesinde en barmhartige Seun groot te maak. ‘n Seun wat vooroordeel en haat sou konfronteer; wat bo die diskriminasie van sy kultuur sou uitstyg en ‘n Samaritaanse vrou as ‘n gelyke sou behandel; wat die vrou by die put van ‘n leeftyd van mislukking en leegheid sou bevry; wat aan ‘n vrou wat owerspel gepleeg het sê: ‘…Ook Ek veroordeel jou nie. Gaan maar, en moet van nou af nie meer sonde doen nie’ (Johannes 8:11 NLV). ‘n Seun wat sondaars nie as sleg nie, maar as verlore sou aanvaar.
Een van Josef se ander seuns, Jakobus, sou grootword om in Jesus te glo en een van die boeke in die Bybel te skryf waar hy sê: ‘Maar die wysheid wat van Bo kom, is in die eerste plek suiwer. Verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam. Dit is bereid om deernis te bewys, en het goeie gevolge. Dit diskrimineer nooit en is altyd opreg’ (Jakobus 3:17 NLV). Het iemand jou seergemaak? Volg Josef se voorbeeld en bewys genade.
Sielskos: Job 21-23; Luk 1:67-80; Ps 128; Pred 10:5-9
2024-12-23
Matteus 1:24 NLV
Jy kan die evangelies deursoek en nie ‘n enkele woord wat deur Jesus se aardse vader, Josef, gespreek is, vind nie. Hy is egter onvervangbaar in die verhaal van Jesus se geboorte. God het Josef gebruik om die lewe van die Redder te beskerm en te bewaar.
Kom ons kyk vandag na die les wat ons uit Josef se lewe kan leer: Jy is verantwoordelik om God se ongebore doelwitte en beloftes in jou lewe te beskerm. Tans is daar ‘n deel van God se wil wat nog onbekend in jou lewe is. ‘n Belofte wat nog vervul moet word. ‘n Woord wat nog gerealiseer moet word. ‘n Bediening wat nog bekendgestel moet word. ‘n Familielid wat nog gered moet word. Dit is goddelike doeleindes wat tans onsigbaar en ongebore is, wat dopgehou en beskerm moet word sodat hulle kan plaasvind.
Net soos Herodes beveel het dat elke Hebreeuse babaseuntjie onder twee jaar doodgemaak moes word om Jesus te elimineer, net so sal Satan alles doen wat hy kan om te keer dat God se plan en doelwit in jou lewe en die lewens van jou geliefdes vervul word. Dit sal jou help verstaan dat die stryd nie oor jou verlede of jou hede gaan nie – maar oor jou toekoms. Wat staan jou dus te doen?
Wees eerstens op jou hoede. ‘Wees versigtig! Pas op vir die duiwel se aanvalle. Hy is julle groot vyand. Hy loop rond soos ‘n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind’ (1 Petrus 5:8 NLV). Tweedens moet jy oor jou lewe en jou geliefdes se lewens bid: ‘Ek het gesoek… na iemand wat voor My in die gaping in die muur kon staan…’ (Esegiël 22:30 NLV).
Sielskos: Job 18-20; Luk 1:57-66; Ps 47; Pred 10:1-4
2024-12-22
2 Timoteus 4:2 NLV
Paulus het vir Timoteus in sy opleiding vir die bediening gesê: ‘Verkonding die woord van God. Hou daarmee vol, of die tyd daarvoor geleë is of nie. Jy moet jou mense met geduld reghelp, weerlê en bemoedig met gesonde onderrig.’ Die meeste hotelle het ‘n bord wat jy op jou kamerdeur kan sit wat sê: ‘Moenie steur nie.’ Daardie bord op jou deur beteken jy wil ontspan, slaap of nie gepla word nie. Om daardie bordjie aan jou hotelkamer se deur te hang is aanvaarbaar, maar om dit aan jou lewe te hang is nie.
Het jy al agtergekom dat God nie altyd dinge volgens ons rooster of op maniere wat vir ons gerieflik is, doen nie? Paulus het vir Timoteus gesê dat hy geroep is om die Here te dien, ‘of die tyd daarvoor geleë is of nie.’ Ons moet onthou dat dit wat God ons vra om te doen, altyd die moeite werd is, maak nie saak wat se ongerief of moeilikheid ons in die proses teëkom nie. Hy sal altyd ook vir ons ‘n manier gee om sy wil uit te voer wanneer ons aan Hom gehoorsaam is.
Die Bybel sê: ‘Dit is waarom die mense wat deur hulle sondige natuur beheer word, God nooit gelukkig kan maak nie’ (Romeine 8:8 NLV). Die sondige natuur van die vlees behaag God nie. Dit beteken nie dat God nie lief is vir ons nie. Wat dit wel beteken is dat Hy nie tevrede sal wees met gedrag wat deur ons sondige natuur beheer word of dit ooit sal aanvaar nie. Verwyder dus jou ‘Moenie steur nie’ bord en wy jouself daaraan toe om in geloof te wandel, want dit is die pad na seën.
Sielskos: Matt 4:18-20; Matt 16:13-23; Matt 26:69-75; Joh 21:15-19
2024-12-21
Job 8:7 NLV
Jou persoonlike potensiaal is wat jy kan wees – die persoon wat jy kan word. God, wat die einde van die begin af sien, weet wat jou potensiaal is en sal jou help om dit te bereik. Jy moet egter jou deel doen. Jy moet wil groei en jouself elke dag daaraan verbind. Groei is ‘n pad wat nooit eindig nie: ‘Hulle kragte sal vermeerder…’ (Psalm 84:8 NLV).
Net soos jou DNA van elke ander persoon verskil, so verskil jou pad van persoonlike groei. Om jou Godgegewe doel te ontdek, moet jy in geestelike bewustheid groei. Om ‘n beter persoon te wees, moet jy in karakter groei. Om vordering in jou loopbaan te maak, moet jy jou vaardighede ontwikkel. Om ‘n beter eggenoot of ouer te wees, moet jy jou verhoudingsvaardighede verbeter. Om jou finansiële doelwitte te bereik, moet jou begrip van hoe geld werk, groei. Die aspekte van groei verskil van individu tot individu, maar die beginsels bly dieselfde.
As jy ernstig daaroor is om te groei, moet jy dit wat jy leer by jou roetine integreer. Jy kan nie jou lewe verander totdat jy iets wat jy elke dag doen, verander nie. Groei vind slegs plaas wanneer kennis ervaring word. Dis hoekom dit so belangrik is om ‘n joernaal van jou groei te hou. Dit help jou om te sien hoe ver jy al gekom het, wat jy geleer het, die mate waarin jy verander het en hoe ver jy nog het om te gaan. As jy aanhou om vir baie jare te leer en daagliks te groei, sal jy verstom wees oor hoe ver dit jou sal neem. ‘En al het jy met min begin, sal jy met baie eindig.’
Sielskos: Job 15-17; Luk 1:39-56; Ps 12; Pred 9:10-12