Loof God met volle oorgawe (2)

2024-12-14
2 Samuel 6:21 NLV

Ware lofprysing verg om minder selfbewus en meer Godbewus te wees. Nadat sy gekyk het hoe hy voor die Here dans, het Dawid se vrou hom goed uitgetrap: ‘…Hoe eerbiedwaardig het die koning van Israel vandag opgetree! Hy het homself voor die slavinne ontbloot soos ‘n skaamtelose mens sou doen!’ (vers 20 NLV). Dawid het haar geantwoord: ‘…Ja, ek het gedans voor die Here… Hy het my aangewys as heerser oor Israel, die volk van die Here. En ek sal myself nog meer verneder: Ek sal myself volgens jou siening nog geringer ag en steeds geëer word deur die slavinne van wie jy praat!’ (verse 21-22 NLV).

Dawid het ons van ‘n illustrasie van ware lofprysing voorsien. Lofprysing is om die dinge waarin ons ons identiteit en sekuriteit buite ons verhouding met Christus vind, uit te trek. Dit is die wete dat ons eie geregtigheid soos vuil lappe in God se oë is. Aanbidding gaan nie oor wat ons vir God kan doen nie, maar oor wat God vir ons gedoen het. Hy het ons liefgehad, ons gered en ons met die geregtigheid van Christus geklee.

Die Bybel sê dat ons God op nege verskillende maniere kan aanbid: deur te praat, uit te roep, te sing, ons hande te klap, musikale instrumente te speel, ons hande voor die Here op te lig, te kniel, op die grond in sy teenwoordigheid te lê en deur voor Hom te dans. Dawid het gesê: ‘Ek sal te alle tye die Here loof. Sy lof sal altyd op my lippe wees… Ek het tot die Here gebid en Hy het my geantwoord. Hy het my bevry van alles waarvoor ek bang is’ (Psalm 34:2; 5 NLV). Die woord vir jou vandag is dus – loof God met volle oorgawe.

Sielskos: Est 1-4; Joh 20:19-31; Ps 105:8-22; Pred 7:1-4

Loof God met oorgawe (1)

2024-12-13
2 Samuel 6:14 NLV

In 2 Samuel 6 is Dawid pas as koning van Israel gekroon. Hy het die Filistyne oorwin en Sion weer ingeneem. Hy is besig om die verbondsark, die grootste simbool van God se teenwoordigheid onder sy volk, terug na Jerusalem te neem. Nadat die volk jare daarsonder gelewe het, het die aanskoue daarvan Dawid met vreugde oorweldig. Hy het sy koninklike klere uitgetrek en met volle oorgawe in net ‘n linneskouerkleed voor die ark gedans.

Tog, wanneer jy oor God opgewonde raak, moenie verwag dat almal saam met jou opgewonde sal raak of jou opgewondenheid sal verstaan nie. Dawid se vrou, Mikal, was so ‘n persoon. Die Bybel vertel ons twee dinge van haar: 1) ‘Terwyl die ark van die Here die Dawidstad binnegekom het, het Mikal, die dogter van Saul, bo uit haar venster gekyk. Toe sy koning Dawid sien spring en dans voor die Here, het sy hom stilweg verafsku’ (vers 16 NLV). 2) ‘Mikal het haar lewe lank kinderloos gebly’ (vers 23 NLV).

Lofprysing lyk soms ‘n bietjie dwaas, nie waar nie? Jy sing vir iemand wat jy nie kan sien nie. Jy lig jou hande op na iemand waaraan jy nie kan raak nie. Of, soos in Dawid se geval, versuim jy om met koninklike waardigheid op te tree. Daar is ‘n ou gesegde wat lui: ‘Diegene wat nie die musiek hoor nie, dink die danser is mal.’ Dis wat in hierdie verhaal gebeur het. Dawid hoor die musiek en loof God met volle oorgawe. Mikal doen nie en verbeur dit waarna sy die meeste smag.

Moenie die punt hier misloop nie. Wanneer jy die kritici ignoreer en besluit om God met jou hele hart te aanbid, begin jy geestelik floreer. As jy dit nie doen nie, word jy geestelik onvrugbaar.

Sielskos: Gen 50; Hag 1-2; Joh 20:1-18; Ps 105:1-7

Wees eerlik in die klein dinge, en alle dinge

2024-12-12
Romeine 12:17 DB

In sy gedig, The Road Not Taken, skryf Robert Frost: ‘Two roads diverged in a wood, and I – I took the one less travelled by, and that has made all the difference.’ Ongelukkig is die pad wat deesdae selde gekies word die pad van eerlikheid in die klein dinge en eerlikheid in alle dinge. Volgens Psychology Today, erken 70 persent van hoërskoolleerlinge en amper die helfte van universiteitstudente dat hulle al in toetse of eksamens gekul het. USA Today sê dat 91 persent van Amerikaners gereeld leuens vertel.

Ons samelewing sê: ‘As jy sukses wil behaal, moet jy ‘n paar reëls breek.’ Die Bybel waarsku ons egter: ‘…Dit is die klein jakkalsies wat die wingerd verniel…’ (Hooglied 2:15 NLV). Salomo verwys hier na klein sondes wat ons eetlus aanwakker, ons waardes verdraai en tot groter sondes lei. Matthew Henry skryf: ‘Adam wat die verbode vrug eet lyk dalk na ‘n klein sonde, maar dit het die deur na die grootste sonde oopgemaak.’

Word jy in die versoeking gebring om jou karakter in gevaar te stel? Word jy versoek om klasmaats te mislei? Word jy onder druk geplaas om oneerlik by die werk te wees? Is jy vasgevang in ‘n ‘onskuldige klein verhouding’? Die evangelis Charles Finney het gesê: ‘Iemand wat oneerlik in die klein dinge is, is nie regtig in enigiets eerlik nie.’ Een van die grootste beloftes wat in die Skrif gemaak word, is aan diegene wat in klein dingetjies getrou is: ‘…Uitstekend!.. In die kleine het jy jou betroubaar bewys. Daarom gaan ek nog baie groter verantwoordelikhede aan jou toevertrou…’ (Matteus 25:21 NLV).

Pas jou gedagtes op; hulle word jou dade. Pas jou dade op; hulle vorm jou karakter. Pas jou karakter op; dit bepaal jou lotsbestemming.

Sielskos: Gen 47-49; Joh 19:25-42; Ps 150; Pred 5:10-12

Die invloed van ‘n goddelike grootouer

2024-12-11
Psalm 145:4 NLV

Fanny het op ses weke oud aan die hand van ‘n onbekwame dokter blind geword. Haar ouma Eunice het egter besluit dat Fanny nooit gestremd of ontneem sou voel nie. Eunice het jare daaraan toegewy om Fanny in allerhande dinge op te lei – sy het haar uit die Bybel geleer, haar gehelp om die natuur te verken en haar bygestaan om ‘n ongelooflike geheue te ontwikkel. Fanny het groot gedeeltes van die Bybel gememoriseer. Uit daardie skatkis van die Skrif het sy later van die mees geliefde gesange wat ons vandag sing, gekomponeer. ‘Blessed Assurance,’ ‘To God Be the Glory,’ ‘All the Way My Saviour Leads Me,’ en ‘He Hideth My Soul.’

Timoteus het ‘n ouma, genaamd Loïs, gehad, wie se gebede en voorbeeld gehelp het om hom te vorm om as die apostel Paulus se opvolger op te tree. Paulus skryf: ‘Ek weet dat jy die Here opreg vertrou, want jy het dieselfde geloof as jou ma, Eunice, en jou ouma Loïs’ (2 Timoteus 1:5 NLV).

Moet nooit die invloed wat jy as grootouer het, onderskat nie. Soos jy jouself aan jou kleinkinders toewy, mag jy dalk besig wees om dienaars van die Here te vorm. Indien jy ‘n grootouer is, eis hierdie belofte uit die Skrif op: ‘Geslag na geslag sal u dade prys en van u magtige werke vertel.’ Miskien het jou kinders jou teleurgestel en maak nie jou kleinkinders in die Here se weë groot nie. Moenie moedeloos word nie en moenie tou opgooi nie. ‘Ek het gesoek na iemand… wat voor My in die gaping in die muur kon staan…’ (Esegiël 22:30 NLV). Jou gebede is God se uitnodiging en ingangspunt in beide jou kinders en jou kleinkinders se lewens. Staan dus in die gaping en glo God vir jou familie se verlossing.

Sielskos: Gen 44-46; Joh 19:1-24; Ps 148:7-14; Pred 5:4-6

Die aanval gaan oor jou toekoms

2024-12-10
1 Petrus 5:8 NLV

Petrus skryf: ‘Wees versigtig! Pas op vir die duiwel se aanvalle. Hy is julle groot vyand. Hy loop rond soos ‘n brullende leeu, op soek na iets om te verslind. Hóm moet julle teenstaan deur standvastig in julle geloof te bly…’ (verse 8-9 NLV). Die woord Christus beteken: ‘die Gesalfde Een.’ As Christen, is jy deur dieselfde Gees wat op Christus gerus het, gesalf. Satan het vir Christus versoek en hy sal jou ook versoek. Wanneer hy jou aan die mislukkings in jou verlede herinner, is dit om jou te ontmoedig en jou te keer om na die toekoms wat God vir jou ingedagte het, uit te reik.

Paulus het geskryf: ‘Deur wat Christus gedoen het, het ons ook deel van God se eie volk geword. Ons was vooraf daartoe bestem! Dit was God se doel! Hy het alles laat uitwerk soos Hy dit beplan en wou gehad het’ (Efesiërs 1:11 NLV). Dit beteken dat God jou gekies het om ‘n sekere doel te vervul, dat Hy ‘n spesifieke plan vir jou lewe het en dat Hy alles volgens daardie plan laat saamwerk. Satan weet dit ook; dis hoekom sy aanvalle nooit sal ophou nie.

C.S. Lewis het gesê: ‘Daar is geen neutrale grond in die heelal nie; elke vierkante duim, elke breukdeel van ‘n sekonde, word deur God geëis en deur Satan teengeëis.’ Daar is nie ‘n middeweg nie. Dis net ‘n kwessie van tyd voor jy kant moet kies. Dis verkieslik dat jy vooraf jou posisie beslissend bepaal, eerder as wat jou posisie by verstek vir jou gekies word. Dus, wanneer jy elke dag wakker word, trek vir oorlog aan en berei jou vir die geveg voor, met die wete dat jy in God se krag sal wen.

Sielskos: Gen 42-43; Joh 18:19-40; Ps 148:1-6; Pred 5:1-3

Weet wie om te vertrou

2024-12-09
Johannes 2:25 NLV

Ons word in die Skrif beveel om almal lief te hê, nie om almal te vertrou nie. Jesus is ons voorbeeld hierin. ‘…baie mense [het] in Hom begin glo toe hulle die wondertekens sien wat Hy gedoen het. Jesus self het egter nie op hulle staatgemaak nie omdat Hy alle mense ken… Hy het self kennis gedra van wat in ‘n mens aangaan’ (verse 23-25 NLV). Alhoewel Jesus Homself aan hulle gegee het en saam met hulle gelewe het, het Hy geweet dat hulle nie volmaak was nie. Hy het die menslike natuur verstaan en Hy het Homself nie op ‘n ongebalanseerde manier aan hulle toevertrou nie.

Wanneer jy vertroue in mense plaas wat slegs in God geplaas behoort te word, stel jy jouself vir teleurstelling oop. Dis maklik om in die strik te trap om te dink dat sekere mense ons nooit sal seermaak nie, net om teleurgesteld te wees wanneer hulle nie aan daardie standaarde voldoen nie. Daar is basies twee tipes mense. Die eerste groep is die gebruikers. Solank as wat jou belange in lyn met hulle s’n is, is hulle betroubaar. Die tweede groep is die ware vriende. ‘Op ‘n vriend se lojaliteit kan jy altyd reken. Jou broer is gebore om jou te help wanneer daar probleme is’ (Spreuke 17:17 NLV).

As gevolg van menslike swakhede, kan selfs ware vriende jou egter teleurstel. Hier is dus twee goeie reëls om volgens te lewe: 1) Vertrou, maar verifieer wanneer dit by mense kom. 2) Wanneer dit by God kom, ‘Vertrou op die Here met alles wat jy het. Moenie staatmaak op jou eie insigte nie. Vra na die wil van God in alles wat jy doen. Hy sal die regte pad vir jou wys’ (Spreuke 3:5-6 NLV).

Sielskos: Gen 40-41; Joh 18:1-18; Ps 147:12-20; Pred 4:9-12