2018-06-13
2 Kronieke 26:4 NLV
Daar is ‘n grappie wat lui, ‘Maak nie saak wat ons ons kinders leer nie, hulle dring daarop aan om net soos ons op te tree!’ Ons glimlag, maar dis ‘n ernstige saak. Een kundige sê, ‘Ons leer wat ons weet, maar ons herproduseer wat ons is.’ Jou kinders kan dalk soms dit wat jy sê betwyfel, maar hulle glo altyd dit wat jy doen. Dus: 1) As jy wil hê dat hulle stiltetyd met God moet hê, moet jy stiltetyd met God hê. 2) As jy wil hê dat jou kinders moet kerk toe gaan, neem hulle, moenie hulle stuur nie. 3) As jy nie wil hê dat jou kinders moet vloek nie, let dan op wat uit jou mond kom. 4) As jy nie wil hê dat jou kinders moet rook, drink, of dwelms doen nie, moet jy dit ook uitlos. Wanneer jy een ding sê maar ‘n ander ding doen, sal jou kinders jou steeds liefhê, maar hulle sal op die ou einde respek vir jou verloor. Wat erger is, hulle sal dink, ‘As die beginsels wat jy preek nie vir jou werk nie, hoekom moet ek dit probeer?’ Jou voorbeeld sal ‘n groter impak as al jou vermanings hê. Lees die volgende twee Skrifgedeeltes noukeurig deur. Die eerste een word in die Ou Testament gevind: ‘Hy het gedoen wat reg was vir die Here, net soos sy pa… gedoen het.’ Die tweede een word in die Nuwe Testament gevind: ‘Ek weet dat jy die Here opreg vertrou, want jy het dieselfde geloof as jou ma, Eunice, en jou ouma, Loïs’ (2 Timoteus 1:5 NLV). Duisende jare skei hierdie twee Skrifgedeeltes, maar die waarheid wat hulle leer is tydloos: stel dus die regte voorbeeld!
Sielskos: Eseg 24:1-27:24; Mark 15:21-32; Ps 132:11-18; Spr 15:5-7
2018-05-24
Spreuke 22:29 NLV
Hier is ‘n gebed vir sukses by die werk: ‘Here, ek dank U vir die manier wat U my gemaak het, vir die baie gawes en talente wat U in my geplaas het en ek vertrou dat ek die beste persoon vir die werk is. Ek is dankbaar vir ieder en elke persoonlikheid waarmee ek werk, selfs diegene wat ek nie regtig van hou of verstaan nie. Ek vra dat my fokus gedurende my tyd in hierdie posisie, op die doelwitte wat U vir my gestel het, sal wees. Gee my die wysheid en insig om die werk te kan doen, selfs te midde van ‘n vyandige omgewing. Help my om te verstaan wat U my hier wil leer en gee my geduld soos U my vir die toekoms voorberei. Help my om my beste te lewer en altyd positief en hoopvol te bly. Stil die klagtes en teleurstellings van my hart deur U perfekte vrede en laat my toe om U met my werk te vertrou. Klee my in die kledingstukke van lof en die regverdigheid van Christus sodat ek U by die werk kan verheerlik. Laat my toe om my ware identiteit te ken, om in U guns te wandel en om U, meer as die mense waarmee ek werk, te probeer tevrede stel. Waar daar twis is, laat my ‘n vredemaker wees. Waar daar bedrog is, laat my die waarheid praat. Waar daar wanhoop is, laat my hoop bring. Waar daar vrees is, laat my geloof bring. Waar daar donkerte is, laat my lig bring. Waar daar hartseer is, laat my vreugde bring. Hierdie dinge vra ek in Jesus se Naam. Amen.’
Sielskos: Rig 9:34-11:40; Mark 10:35-52; Ps 129; Spr 20:25; Pred 5:4-6
2018-05-05
Prediker 12:13 NLV
In die boek Prediker, praat Salomo van al die dinge wat hy in die lewe probeer het en teleurstellend gevind het: die intellektuele najaging van kennis, die fisiese najaging van plesier en die materiële najaging van rykdom. In die laaste hoofstuk van Prediker kom hy tot die gevolgtrekking: ‘Alles is sinloos…’ (vers 8 NLV). Met ander woorde: ‘Was daar, het dit gesien, het dit gedoen en alles is maar net ewe teleurstellend.’ Met die laaste skrywe van sy goddelik geïnspireerde gedagtes, sluit hy sy lewensboodskap met die volgende woorde af: ‘…dit [is] die finale slotsom…’ Salomo is op die punt om sy evaluasie van ‘n lewe wat goed geleef is, te gee! Wat is dit? ‘…Wees eerbiedig teenoor God en gehoorsaam sy gebooie. Dit word van alle mense gevra. Want God gaan elke daad beoordeel…’ (verse 13-14 NLV). Om eerbiedig teenoor God te wees beteken dat jy Hom sal eer, liefhê en dien, en om jou lewe volgens die voorskrifte in sy Woord te lei. John Mason skryf: ‘Word jou doelwit deur meer geld, groter invloed of ‘n hoër posisie beïnvloed? Dit is nie doelwitte nie; dit is byprodukte van ware doelwitte. Strewe nie na sukses nie, maar na die waarheid en jy sal beide vind. Werk om te word, nie om te besit nie. Meet rykdom aan die dinge wat jy het wat jy nie vir enige geld sal ruil nie.’ Wanneer jy elke oggend wakker word, bid hierdie eenvoudige gebed: ‘Here, help my om bo alles hierdie dag te spandeer deur U lief te hê en u wil uit te voer. In Jesus se naam bid ek dit. Amen.’
Sielskos: Deut 8-10; Mark 6:30-44; Ps 37:8-15; Spr 11:27-29
2018-04-28
Spreuke 17:27 NLV
Dis nie genoeg om die regte antwoorde te hê nie; jy het die regte benadering nodig. Goeie idees en raad word gemors wanneer jy dit by mense se kele afdruk. Wysheid beteken om die regte ding, op die regte tyd, op die regte manier te sê. ‘Iemand wat kennis het, praat nie baie nie. Iemand met insig bly kalm.’ Jou pogings om iemand te help verander sal misluk, of erger, hulle wegstoot, tensy jy hulle met liefde en nederigheid benader. Die meeste mense weet reeds wat hulle probleem is. Die kans is goed dat hulle al ‘n rukkie daarmee worstel en diep binne-in hulle wil hulle beter doen. ‘Mooi woorde is soos heuning; dit is goed vir die gees en bevorderlik vir sy lewe’ (Spreuke 16:24 NLV). Jesus het gesê, ‘en julle sal begryp wat die waarheid beteken, en die waarheid sal julle vrymaak’ (Johannes 8:32 NLV). As mense dus nie die waarheid op die manier wat jy dit deel wil aanvaar nie, is die probleem dalk deels joune. Die voormalige Amerikaanse Senaat Kapelaan, Richard Halverson, skryf: ‘Jy kan jou idees aan mense as koeëls of as sade aanbied. Jy kan hulle skiet of hulle saai. Idees wat as koeëls gebruik word maak inspirasie en motivering dood. Idees wat as sade gebruik word skiet wortel, groei en dra vrugte in die lewe waarin hulle geplant is. Daar is egter ‘n risiko hieraan verbonde: Sodra dit deel word van die persoon waarin dit geplant is, sal jy waarskynlik geen krediet vir jou oorspronklike idee kry nie. As jy egter gewillig is om sonder die krediet klaar te kom, sal jy ‘n groot oes hê.’ Die woord vir jou vandag is dus: Kies die regte benadering.
Sielskos: Hand 22-23; Mark 5:11-20; Ps 144:9-15; Spr 11:12-13
2018-04-11
Psalm 5:13 NLV
Die Bybel sê dat God die vromes seën. Die woord ‘vroom’ beteken nie foutloos nie, anders sou niemand van ons vir God se seën gekwalifiseer het nie! Nee, dit beteken dat ons in die vroomheid van Christus geklee kan wees, om sodoende aanvaarbaar vir Hom te kan wees en vir sy seën en guns te kan kwalifiseer (2 Korintiërs 5:21). Dit is ‘n waarheid waaraan jy moet vashou, want wanneer jy God se seën en guns ervaar, begin ander mense ook gunstig teenoor jou optree – dikwels vir redes wat hulle self nie kan verduidelik nie! Die guns en seën van God het dit vir mense in die Bybel, wat andersins nie veel sou bereik het nie, moontlik gemaak om groot dinge te doen. God het ‘n tiener genaamd Ester geroep om die Joodse nasie te red. Sy het in geloof opgetree en die koning ongenooid genader, selfs al was dit teen die reëls. ‘Die koning was bly toe hy koningin Ester daar in die voorhof sien staan…’ (Ester 5:2 NLV). God het die weg vir haar gebaan om die werk te doen waarvoor Hy haar geroep het. Sonder die guns en seën van God, sou Rut, ‘n nie-Jood, nie aanvaarbaar vir die Jode gewees het nie. Maar omdat God ‘n plan vir haar lewe gehad het en haar hart oop was vir Hom, het sy met Boas getrou, ‘…’n welgestelde, invloedryke man…’ (Rut 2:1 NLV). Uit hulle huwelik het koning Dawid afgestam en uiteindelik ook ons Here Jesus. Die Bybel sê, ‘Die Here hou van ‘n mens wat goeddoen…’ (Spreuke 12:2 NLV). ‘n Enkele oomblik van God se seën en guns kan meer vir jou doen as ‘n leeftyd se wedywering. Bid dus vandag vir God se seën en guns – en wees op die uitkyk daarvoor!
Sielskos: Jer 41-44; Mark 2:1-12; Ps 25:8-15; Spr 10:1-3