Die finale slotsom

2018-05-05
Prediker 12:13 NLV

In die boek Prediker, praat Salomo van al die dinge wat hy in die lewe probeer het en teleurstellend gevind het: die intellektuele najaging van kennis, die fisiese najaging van plesier en die materiële najaging van rykdom. In die laaste hoofstuk van Prediker kom hy tot die gevolgtrekking: ‘Alles is sinloos…’ (vers 8 NLV). Met ander woorde: ‘Was daar, het dit gesien, het dit gedoen en alles is maar net ewe teleurstellend.’ Met die laaste skrywe van sy goddelik geïnspireerde gedagtes, sluit hy sy lewensboodskap met die volgende woorde af: ‘…dit [is] die finale slotsom…’ Salomo is op die punt om sy evaluasie van ‘n lewe wat goed geleef is, te gee! Wat is dit? ‘…Wees eerbiedig teenoor God en gehoorsaam sy gebooie. Dit word van alle mense gevra. Want God gaan elke daad beoordeel…’ (verse 13-14 NLV). Om eerbiedig teenoor God te wees beteken dat jy Hom sal eer, liefhê en dien, en om jou lewe volgens die voorskrifte in sy Woord te lei. John Mason skryf: ‘Word jou doelwit deur meer geld, groter invloed of ‘n hoër posisie beïnvloed? Dit is nie doelwitte nie; dit is byprodukte van ware doelwitte. Strewe nie na sukses nie, maar na die waarheid en jy sal beide vind. Werk om te word, nie om te besit nie. Meet rykdom aan die dinge wat jy het wat jy nie vir enige geld sal ruil nie.’ Wanneer jy elke oggend wakker word, bid hierdie eenvoudige gebed: ‘Here, help my om bo alles hierdie dag te spandeer deur U lief te hê en u wil uit te voer. In Jesus se naam bid ek dit. Amen.’

Sielskos: Deut 8-10; Mark 6:30-44; Ps 37:8-15; Spr 11:27-29