2019-03-02
3 Johannes 1:12 NLV
Wanneer mense goed van jou praat, beteken dit dat jy aanvaarding het. Wanneer die waarheid egter goed van jou praat, beteken dit dat jy klas het! Demetrius het dit gehad. Het jy dit? Paulus het vir Timoteus gesê: ‘…Wees ‘n voorbeeld vir alle gelowiges deur wat jy leer, in die manier waarop jy lewe, in jou liefde, jou geloof en jou integriteit… Werp jouself in jou werksaamhede sodat almal jou vordering kan sien’ (1 Timoteus 4:12-15 NLV). Ons het besluit om hierdie tydlose woorde oor ‘klas’ deur die rubriekskrywer Ann Landers, weer te gee: ‘Klas is net selfvertroue wat in nederigheid geklee is. Dit hou sy woord, sy humeur en sy vriende. Dit het ‘n standvastige oog, standvastige senuwees, ‘n standvastige tong en standvastige gewoontes. Dis stil wanneer dit niks het om te sê nie, deurdag wanneer dit oordeel en altyd eerste om vrede te maak wanneer dit verkeerd is. Klas hardloop nie weg nie. Dit is selfversekerd, toegewyd en hanteer alles wat oor sy pad kom. Klas het ‘n sin vir humor. Dit weet dat ‘n goeie lagbui dikwels die beste smeermiddel is om die masjien van menseverhoudings te olie. Klas maak nooit verskonings nie. Dit vat sy slae, leer uit sy foute en word wyser. Klas weet dat hoflikheid en goeie maniere niks meer as ‘n reeks klein opofferings is nie. Dit dui op ‘n aristokrasie wat nie van voorvaders of geld afhang nie. Iemand met blou bloed kan geheel en al sonder klas wees, terwyl die seun van ‘n steenkoolmyner dit in oorgawe kan hê. Almal is gemaklik met ‘n persoon wat klas het – omdat hulle gemaklik met hulself is.’ Wys vandag ‘n bietjie ‘klas!’
Sielskos: Eks 22-24; Luk 13:1-17; Ps 77; Spr 6:29
2018-11-13
Klaagliedere 3:40 NLV
Wanneer jy bid, ‘Here, maak my ‘n beter persoon,’ in watter spesifieke areas wil jy verander, groei en volwasse word? Om eerlik met God te wees, moet jy hierdie twaalf vrae versigtig en met gebed beantwoord: 1) Is ek eerlik en bo verdenking in al my finansiële sake? Dit sluit die gee van jou tiende aan God in. 2) Plaas ek myself in seksuele onvanpaste situasies, of stel ek myself bloot aan skadelike materiaal? 3) Spandeer ek genoeg tyd saam met my familie en sal hulle sê dat ek dit doen? 4) Praat ek die waarheid, selfs wanneer dit my seermaak of kritiek meebring? 5) Vind ek dit maklik om te sê, ‘Ek was verkeerd, ek is regtig jammer,’ of hou ek wrokke? 6) Bring ek enige deel van my lewe willens en wetends onder verdenking, of weier ek om die nagevolge van my aksies te aanvaar? 7) Het ek gewoontes gevorm wat nadelig vir my gesondheid, my familie of my pad met Christus is? 8) Is ek trots, selfsugtig of arrogant? 9) Het ek krediet geneem vir dinge wat ander mense gedoen het en waarvoor hulle beloon moes word? 10) Het ek gefaal daarin om iets aan iemand te bely wat van my verkeerde dade moet weet? 11) Was ek al onsensitief of beledigend teenoor my geliefdes? En as ek was, wat is ek gewillig om daaraan te doen? 12) Spandeer ek genoeg tyd in gebed en met die Skrif? ‘Laat ons eerder gaan kyk na wat ons gedoen het en daaroor nadink sodat ons kan omdraai na die Here toe.’ Die woord vir jou vandag is: Raak eerlik met God!
Sielskos: Rom 3:21-6:23; Joh 10:1-10; Ps 133; Spr 29:15-18
2018-10-01
Johannes 8:31-32 NLV
Probeer jy ‘n slegte gewoonte afsweer? Jesus wil jou daarvan vrymaak. ‘…As julle in ‘n noue verbintenis aan my boodskap leef, is julle my egte navolgers; en julle sal begryp wat die waarheid beteken, en die waarheid sal julle vrymaak.’ Jy vra, ‘Wat is hierdie ‘waarheid’ wat my sal vrymaak?’ Jesus antwoord: ‘As [jy] in ‘n noue verbintenis aan my boodskap leef.’ Oorwinning word in jou gedagtes bewerkstellig en onderhou. Een dame het gegrap, ‘Dis maklik om op te hou rook; ek het dit al duisend keer gedoen.’ Op ‘n ernstiger noot, hoe kan jy ophou om na ou gewoontes terug te keer? Deur jou van hulle te bekeer, hulle te verwerp en die ou gedagtes wat jou na die gewoonte teruglei met nuwe gedagtes te vervang. Waar kom hierdie nuwe gedagtes vandaan? Jesus antwoord, ‘As jy in noue verbintenis aan my boodskap leef.’ Dit beteken dat jy moet wegbly van plekke wat verkeerde gedagtes kweek en wegbly van mense wat verkeerde gedagtes aanmoedig. Dit mag dalk beteken dat jy dit wat jy op televisie kyk moet verander. Jy sal agterkom dat voordat jy voor ‘n slegte gewoonte swig, jy die gedagtes dink wat daartoe lei. Die Bybel sê, ‘Moenie julle leefstyl aanpas by die gedragspatrone van hierdie wêreld nie, maar laat God julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe…’ (Romeine 12:2 NLV). In die vroeë stadiums van herstel van enige verslawing is dit krities om jou gedagtes daagliks met die Skrif te versadig, te bid en gewillig te wees om uit te reik na ‘n vriend se ondersteuning (sien Prediker 4:9-10). Sal jy soms op die pad na sukses misluk? Ja. Oorwinning begin egter wanneer jy besluit om vry te wees en glo dat God jou sal vrymaak.
Sielskos: 1 Kor 4-6; Luk 23:44-56; Ps 13; Spr 25:4-8
2018-06-23
Johannes 13:17 NLV
Om God se Woord te lees, te ontvang, te onthou en daaroor te reflekteer is belangrik, maar ons moet daarop reageer en ‘…mense word wat dóén wat die woord sê…’ (Jakobus 1:22 NLV). Jy kan so besig wees om na die volgende kerkvergadering te gaan, dat jy vergeet om dit wat jy by die laaste een geleer het, uit te oefen. Jesus het gesê, ‘Elkeen wat na my woorde luister en daarvolgens handel, is soos ‘n verstandige persoon wie se huis op soliede rots gebou is’ (Matteus 7:24 NLV). God sal jou nie seën omdat jy die waarheid weet nie, maar omdat jy dit gehoorsaam. ‘As julle hierdie dinge insien en julle eie maak, sal julle gelukkig wees as julle dit ook doen.’ Ons is geneig om persoonlike toepassing te vermy, omdat dit nie net moeilik is nie – in sommige gevalle is dit ronduit pynlik! Jesus het gesê, ‘…die waarheid sal julle vrymaak’ (Johannes 8:32 NLV), maar dit mag jou dalk aan die begin ongemaklik maak. God se Woord openbaar ons beweegredes, stel ons foute bloot, wys ons sondes tereg en eis verandering. Dis hoekom dit goed is om jou persoonlike insigte met ander mense te bespreek. Ons leer waarhede van ander mense wat ons nooit op ons eie sou leer nie. Hulle help ons om dit wat ons miskyk te sien en toe te pas. Hulle hou ons aanspreeklik. Een van die beste maniere om iemand wat die Woord dóén te word, is om ‘n aksieplan neer te skryf. Dit moet persoonlik wees (met betrekking op jou); prakties wees (iets wat jy kan doen) en bewysbaar wees (met ‘n maatstaf of sperpunt). In die woorde van D.L Moody: ‘Die Bybel is nie aan ons gegee om ons kennis te vermeerder nie, maar om ons lewens te verander.’
Sielskos: 2 Kor 5-8; Luk 2:1-7; Ps 144:1-8; Spr 16:1-3
2018-06-19
Job 23:12 NLV
Die Gees van God maak ons soos die Seun van God, deur die Woord van God! Dis hoekom Satan honderde padversperrings in jou pad sal plaas om te keer dat jy jou Bybel lees. Paulus skryf, ‘…[God se] boodskap kan julle geloof sterk maak en dit kan julle help om te weet dat God vir julle die dinge sal gee wat Hy belowe het om vir al die gelowiges te gee’ (Handelinge 20:32 ABA). God se Woord is soos ‘n saadjie; dis met potensiaal gevul. Jesus het gesê, ‘…Die woorde wat Ek aan julle gerig het, is Gees en lewe’ (Johannes 6:63 NLV). ‘n Wonderbaarlike ding gebeur wanneer jy die Skrif bestudeer. Jou verstand verhelder, jou hart resoneer en die waarheid begin in jou lewe. Die Bybel is meer as net ‘n doktrinale handboek. Dit skep geloof, produseer verandering, veroorsaak wonderwerke, genees seer, bou karakter, transformeer omstandighede, dra vreugde oor, oorkom teenstand, verslaan versoeking, bou hoop, stel krag vry, reinig gedagtes, bring dinge tot stand en waarborg jou toekoms. Jy kan nie daarsonder oorleef nie. Dis so noodsaaklik soos kos vir jou lewe. Dis hoekom Job gesê het, ‘…Wat Hy sê, het ek in my hart bewaar.’ God se Woord is die geestelike voedsel wat jy nodig het om jou lewensdoelwit te vervul. Die Bybel word as melk, brood, vaste kos en soeter as heuning beskryf (sien 1 Petrus 2:2; Matteus 4:4; 1 Korintiërs 3:2; Psalm 119:103). Hierdie viergang maaltyd is die Gees se spyskaart vir daaglikse krag en groei. Paulus skryf, ‘Hiervoor moet julle genoeg geestelike melk inkry. Smag daarom daarna… sodat julle daardeur kan groei tot volwasse gereddenes’ (1 Petrus 2:2 NLV). Maak dus ‘n verbintenis om elke dag tyd te spandeer om God se Woord te lees.
Sielskos: Eseg 40:10-42:20; Luk 1:26-38; Ps 73:17-28; Spr 15:22-24