2019-11-11
Jakobus 4:7 NLV
Het jy al ooit gekyk hoe iemand weerstandsoefeninge doen? Hulle word elke dag sterker soos hulle met meer en meer gewigte oefen. Satan is daarop uit om drie dinge te doen: ‘…om te steel, dood te maak en te vernietig…’ (Johannes 10:10 NLV). Om wat te vernietig? Alles wat God vir jou in gedagte het! Hy sal jou gedagtes, jou gesondheid, jou huwelik, jou kinders, jou finansies en jou karakter met ‘n hele arsenaal wapens aanval. As jy ‘n geestelike swakkeling is, sal hy jou vermorsel! Satan bestudeer jou. Hy weet hoe om jou te laat tou opgooi en hy sal jou met elke kans wat hy kry in daardie rigting druk. Wat moet jy dus doen? Druk terug – en hou aan druk! Gebruik elke geestelike wapen wat God vir jou gegee het – gebed, lofprysing, sy Woord en broederskap. Dis tyd om die situasie op sy kop te keer en die Vyand as jou persoonlike gym te begin gebruik. Die Bybel sê: ‘…Die boodskap van God is soos ‘n swaard wat die Heilige Gees vir jou gee om die stryd mee te voer’ (Efesiërs 6:17 DB). Wanneer jy met God se Gees vervul is, sal Hy in jou, deur jou en vir jou veg. Wanneer dit gebeur, bereik Satan die plek waar hy weet dat hy jou nie op ‘n spesifieke front kan oorwin nie, so wat doen hy? Hy val jou op ‘n ander front aan! Soos jy egter oorwinning op oorwinning behaal, ontwikkel jy die vrymoedighed en krag om hom ook op daardie front te verslaan. Met genoeg weerstandsoefeninge onder jou belt, sal jy die vreugde om in die waarheid van hierdie wonderlike belofte te wandel, ervaar: ‘Die God van vrede sal die Satan binnekort onder julle voete verpletter…’ (Romeine 16:20 NLV).
Sielskos: 1 Kro 26:20-29:30; Joh 10:11-21; Ps 133; Spr 26:7-12
2019-09-05
Johannes 18:37 NLV
Toe Jesus voor Pilates gestaan het, het Hy gesê: ‘…Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek na die wêreld gekom, met die doel om vir die waarheid getuienis af te lê…’ Jesus het geweet waarvoor Hy gebore is en wat Hy geroep is om te doen en Hy het soos ‘n laser daarop gefokus. Jy is geroep om in sy voetspore te volg (sien 1 Petrus 2:21). Daar is drie tipes mense: 1) Diegene met geen lewensdoel nie. Die swerwers, wat doelloos deur die lewe gaan. Hulle gaan skool toe, kry ‘n werk, kry ‘n ander werk, vind ‘n eggenoot, kry ‘n nuwe eggenoot, trek van huis tot huis en plek tot plek, tree af en sterf uiteindelik. Hulle lewe nie regtig nie; hulle bestaan net. 2) Diegene wat die verkeerde lewensdoel het. Hulle mag dalk oorpresteerders wees, mense wat die lere van finansiële, politieke en sosiale sukses uitgeklim het, net om uit te vind dat hulle leer teen die verkeerde muur gestaan het. Hulle het dit of te laat agtergekom, of hulle het nooit besef dat hulle ‘n lewe wat ander mense positief kon beïnvloed het, misgeloop het nie. 3) Diegene wat die regte lewensdoel het. Hulle weet hoekom hulle geskep is. Hulle weet hoekom God hulle hier op aarde geplaas het en hulle lewe draai daarom om hierdie doel te vervul. Dit is die lewe wat ‘n glimlag op God se gesig plaas. Dit is sukses wat volhoubaar is. Dit het niks met populariteit, mag of besittings te doen nie. Dit het alles met jou lewensdoel te make, omdat dit die enigste ding is wat ‘n Godgegewe versekering van sukses meebring. Weet jy wat jou lewensdoel is? Indien nie, vra God en Hy sal dit aan jou openbaar.
Sielskos: Eseg 34-36; Matt 23:23-39; Ps 78:1-8; Spr 20:7-10
2019-04-16
Lukas 23:33 NLV
Wat by Golgota gebeur het, het ons lotsbestemming verander. Ten spyte van die mites en misverstande, is die waarheid duidelik en lewensveranderend. Kom ons kyk daarna. Eerstens was Golgota vrywillig. Die toeskouers het gedink dat Jesus ‘n slagoffer van omstandighede buite sy beheer was: die samewerking van Joodse haat en Romeinse mag. Hoe verkeerd was hulle nie! Jesus het Petrus se goedbedoelde maar ondeurdagte verdediging verwerp deur te sê: ‘Besef jy nie dat Ek ‘n ganse leërmag engele van my Vader sou kon vra om ons te beskerm en Hy sal hulle oombliklik stuur nie?’ (Matteus 26:53 NLV). Jesus kon gekies het om sonder swaarkry, pyn of die dood te lewe. Niemand het hom gedwing om na die kruis te gaan nie. Hy het gesê: ‘Niemand ontneem My my lewe nie, maar Ek offer dit uit My eie op. Ek het die volmag om dit op te offer en Ek het die volmag om dit weer op te neem…’ (Johannes 10:18 NLV). Golgota was verseker onregverdig. Dit was egter nie moord nie, maar versoening! Sy vyande het bedoel dat Golgota sy lewe moet beëindig, maar Jesus het bedoel dat dit ons van ‘n verlore ewigheid moet red. Nadat hulle die ergste gedoen het maar Hom nie kon keer nie, het Petrus hulle op die dag van die Pinksterfees met hierdie oorwinnende waarheid gekonfronteer: ‘Maar julle het opgetree soos God dit vooruit bepaal het. Met die hulp van nie-Jode het julle Hom aan die kruis gespyker en vermoor’ (Handelinge 2:23 NLV). Selfs die Vader het Hom nie gedwing nie. Jesus het ‘…sy lewe gegee om vryheid vir elkeen te koop…’ (1 Timoteus 2:6 NLV) – insluitend vir jou!
Sielskos: Dan 11-12; Luk 22:63-71; Ps 16; Spr 10:15
2019-03-10
Romeine 12:2 NLV
Soms bemark ons kultuur verkeerde inligting en halwe waarhede. Gevolglik kan ons dalk tot hierdie drie verkeerde gevolgtrekkings kom: 1) Daar is ‘n spesiale persoon daar buite wat my gelukkig sal maak. Net God kan dit doen! Mense wat seer het, maak net ander mense seer. ‘…Wat ook al in jou hart leef, bepaal wat jy sê’ (Lukas 6:45 NLV). 2) Wanneer ek ‘n sekere posisie beklee of ‘n sekere hoeveelheid geld bymekaar maak, sal ek gelukkig wees. Dis die ou ‘sodra-dit-gebeur’ mite, wat ‘n lewe van ontevredenheid teel (sien Lukas 12:15). 3) Ek kan dit nie help nie; dis maar net hoe ek is. Dis die ‘dis-nie-my-verantwoordelikheid-nie’ leuen, wat jou in jou spore sal stuit. As jy gelukkig wil wees, moet jy die verskonings waarmee jy vorendag kom om jou gedrag te regverdig, ondersoek. Hier is ‘n paar van hulle: ‘Ek’s nie die enigste een nie!’ Wat daarvan? As almal dit doen, beteken dit dat God dit nie ernstig opneem nie? ‘Ek sien nie die skade daarin nie.’ Wie het jou die outoriteit gegee om die reëls te maak en God te speel? ‘Ek sal dit net een keer probeer.’ So as jy dit net een keer probeer, beteken dit dat daar geen nagevolge sal wees nie? Wat is die leuens agter jou verskonings? Ondersoek hulle. Hulle hou jou in geestelike slawerny en moet ontbloot en verwyder word! Jy moet volgens die Bybel jou ‘denkpatrone vernuwe.’ Jesus het eenmaal gesê dat sodra jy die waarheid ken, jou ou geloofsisteme ontbloot sal word en jy vrygemaak sal word (sien Johannes 8:32). Dink net hoe wonderlik dit sal wees om vry te wees om alles te word wat God wil hê jy moet word! Is dit nie die moeite werd om na te streef nie?
Sielskos: Ps 51; Mark 8:34-38
2019-03-07
Hebreërs 10:20 NLV
In die Ou Testament was daar meer godsdienstige wette as wat enigiemand moontlik kon onderhou: meer as seshonderd van hulle. Elke keer wat jy daarin misluk het, moes jy ‘n offerdier as versoening bring. Dit het veroorsaak dat mense probeer en misluk het; skuldig gevoel het en harder probeer het; weer misluk het en meer opofferings gemaak het. Dit was ‘n nimmereindigende siklus. Toe het Jesus gekom en ‘n ‘nuwe, lewegewende pad… vir ons oopgemaak…’ om ‘n verhouding met God te hê. Sy pad het vergifnis van sonde sowel as die vervanging van offergawes deur geloof in Hom, ingesluit. Vir baie mense was dit te goed om waar te wees, dus het hulle aanhou werk en probeer om God met hulle goedheid te beïndruk. Doen jy dit? ‘n Christelike skrywer sê: ‘Ek het vir baie jare so gelewe. Dit beteken dat ek alles perfek moes doen; anders was ek by God in die moeilikheid. Omdat dit ‘n onmoontlike standaard was om te onderhou, het dit al my vrede en vreugde gesteel. Ek kon nie aan ander mense gee wat ek nie self geweet het hoe om te ontvang nie! Ek het nie God se genade vir my mislukkings ontvang nie, dus kon ek dit nie aan enigiemand anders bied nie. Ek het probeer om al die reëls na te kom, baie wat nie eers Skriftuurlik was nie – net dinge om oor skuldig te voel. Dank God dat ek egter nie meer so moet leef nie. Nou werk ek nie om gered te word nie, ek werk omdat ek gered is! My verlossing is nie gebaseer op dit wat ek doen nie, maar alleenlik op dit wat Jesus vir my gedoen het.’ Wanneer jy hierdie waarheid verstaan, is jou verhouding met God nie meer ‘n werk nie – dis ‘n vreugde.
Sielskos: Eks 33-35; Luk 14:25-35; Ps 112; Spr 7:6-9