Die transformerende waarheid van Golgota (1)
2019-04-16Lukas 23:33 NLV
Wat by Golgota gebeur het, het ons lotsbestemming verander. Ten spyte van die mites en misverstande, is die waarheid duidelik en lewensveranderend. Kom ons kyk daarna. Eerstens was Golgota vrywillig. Die toeskouers het gedink dat Jesus ‘n slagoffer van omstandighede buite sy beheer was: die samewerking van Joodse haat en Romeinse mag. Hoe verkeerd was hulle nie! Jesus het Petrus se goedbedoelde maar ondeurdagte verdediging verwerp deur te sê: ‘Besef jy nie dat Ek ‘n ganse leërmag engele van my Vader sou kon vra om ons te beskerm en Hy sal hulle oombliklik stuur nie?’ (Matteus 26:53 NLV). Jesus kon gekies het om sonder swaarkry, pyn of die dood te lewe. Niemand het hom gedwing om na die kruis te gaan nie. Hy het gesê: ‘Niemand ontneem My my lewe nie, maar Ek offer dit uit My eie op. Ek het die volmag om dit op te offer en Ek het die volmag om dit weer op te neem…’ (Johannes 10:18 NLV). Golgota was verseker onregverdig. Dit was egter nie moord nie, maar versoening! Sy vyande het bedoel dat Golgota sy lewe moet beëindig, maar Jesus het bedoel dat dit ons van ‘n verlore ewigheid moet red. Nadat hulle die ergste gedoen het maar Hom nie kon keer nie, het Petrus hulle op die dag van die Pinksterfees met hierdie oorwinnende waarheid gekonfronteer: ‘Maar julle het opgetree soos God dit vooruit bepaal het. Met die hulp van nie-Jode het julle Hom aan die kruis gespyker en vermoor’ (Handelinge 2:23 NLV). Selfs die Vader het Hom nie gedwing nie. Jesus het ‘…sy lewe gegee om vryheid vir elkeen te koop…’ (1 Timoteus 2:6 NLV) – insluitend vir jou!
Sielskos: Dan 11-12; Luk 22:63-71; Ps 16; Spr 10:15