Die waarheid van die skepping (1)

2021-02-12
Genesis 1:1 NLV

‘n Groeiende aantal opvoeders en wetenskaplikes rondom die wêreld glo die Bybelse weergawe van die skepping en verwys ons terug na die waarheid van hierdie woorde: ‘In die begin het God die ganse heelal gemaak, die hemel daarbo en die aarde hieronder.’ Die vraag: ‘Evolusie of skepping?’ word duideliker wanneer jy dit herfraseer as ‘Ongeluk of ontwerp?’

Sir Fred Hoyle, professor in astronomie aan die Cambridge Universiteit, het gesê: ‘Die kans dat ‘n hoër lewensvorm dalk op hierdie manier (deur evolusie) gevorm is, kan vergelyk word met die kans dat ‘n tornado deur ‘n rommelwerf swiep en ‘n Boeing 747 uit die materiale aanmekaar sit.’ Hy gaan voort: ‘Die waarskynlikheid van die vorming van lewe uit lewelose materie is een uit 1040,000. Dit is groot genoeg om Darwin en die hele evolusieteorie te begrawe. Daar was geen oersop, op hierdie of ‘n ander planeet nie en as die begin van lewe nie toevallig was nie, moet dit dus die produk van doelgerigte intelligensie wees.’

Selfs die evolusionis Stephen Hawking, een van die mees gerespekteerde wetenskaplikes sedert Albert Einstein, het erken: ‘Die heelal en die wette van fisika kom voor asof dit spesifiek vir ons ontwerp is. As enigeen van ongeveer 40 fisise wette effense ander waardes gehad het, sou die lewe soos ons dit ken, nie kon bestaan nie. Atome sou of nie stabiel gewees het nie, of hulle sou nie in molekules saamgevoeg kon word nie, of die sterre sou nie die swaarder elemente kon vorm nie, of die heelal sou ineengestort het voordat lewe kon ontwikkel.’

As iemand wat in die Bybel glo, moet jy nooit verskoning maak of toegee wanneer dit by die waarheid kom wat sê: ‘In die begin het God die ganse heelal gemaak, die hemel daarbo en die aarde hieronder’ nie.

Sielskos: Rom 15-16; Matt 14:1-12; Ps 145:1-13; Spr 4:20-22

Sê die regte ding

2020-10-30
Spreuke 15:23 NLV

William Penn, die stigter van die Britse kolonie in Pennsylvania in 1677 (die Amerikaanse staat van Pennsylvania is na hom vernoem), het ses beginsels vir gesprekke geformuleer:

‘1) Vermy geselskap waar dit nie winsgewend of noodsaaklik is nie, maar wanneer jy jou in so ‘n gesprek bevind, praat min en praat laaste.

2) Stilte is wysheid, waar om te praat dwaasheid sal wees. Stilte is altyd veilig.

3) Sommige mense is so dwaas dat hulle die gesprek onderbreek en aanneem wat die een wat praat wil sê, in plaas daarvan om te luister en te dink voor hulle antwoord. Dis nie net ongeskik nie, maar dom.

4) As jy twee keer dink voor jy praat, sal jy twee keer beter praat.

5) Dis beter om niks te sê as om nie tot die punt te kom nie. 6) Laat die waarheid altyd jou doelwit in alle gesprekke wees, nie oorwinning of onregverdige selfbelang, winsbejag of om jou kritici te ontbloot nie.’

In kort: Dink voor jy praat! Gee jouself tyd om wysheid in jou woorde te inkorporeer en vermy woorde wat ander mense minderwaardig laat voel of wat hulle sal intimideer.

Een van die beste manier om ander mense te oortuig, is om na hulle te luister. ‘n Skinderbek praat oor ander mense en ‘n vervelige mens praat oor homself, maar ‘n goeie gesprekvoerder praat oor dit wat jou interesseer en luister aandagtig na wat jy te sê het.

Die waarheid is dat mense soms minder onthou hoe meer jy praat. Hulle is meer geneig om jou woorde te onthou as hulle voel dat jy genoeg omgee om na hulle gedagtes en bekommernisse te luister. Die Bybel sê: ‘Daar is vreugde daarin om die regte antwoord te hê; wat is beter as die regte woord op die regte tyd?’

Sielskos: Esra 3-5; Joh 7:25-44; Ps 108; Spr 24:29

Die leeu en die lam

2020-07-20
Efesiërs 4:2 NLV

Een dag het ‘n leeu ‘n tier in die oerwoud raakgeloop. Hy het die tier se stert gegryp en gevra: ‘Wie is die koning van die oerwoud?’ Die tier het gedwee geantwoord: ‘Jy is, o magtige leeu.’ Volgende het die leeu ‘n apie gegryp en gevra: ‘En wie sê jy is die koning van die oerwoud?’ Die apie het nederig geantwoord: ‘Jy is, o magtige leeu.’ Toe het die leeu ‘n olifant raakgeloop en gevra: ‘Wie is die koning van die oerwoud?’ Die olifant het hom met sy slurp opgetel, in die lug rondgeswaai en hom teen ‘n boom vasgegooi, waar hy bloeiend en gebroke in ‘n hopie neergeval het. Die leeu het stadig opgestaan, sy wonde gelek en vir die olifant gesê: ‘Dis nie nodig om so rof te raak net omdat jy nie die antwoord ken nie.’ Die les uit hierdie verhaal is: Hoe groter jou gesag is, hoe genadiger moet jy teenoor ander mense wees. In die Skrif word daar na Jesus as die leeu en die lam verwys; Hy is die Leeu van die stam Juda en die Lam van God. Hierin wys Hy vir ons die kern van ware krag en leierskap. Wanneer jy vir die waarheid opstaan, moet jy soos ‘n leeu brul, maar wanneer jy met mense te doen kry, moet jy so sag soos ‘n lammetjie wees. Paulus spel dit duidelik in hierdie Skrifgedeelte uit: ‘Met totale beskeidenheid en sagmoedigheid, ja, met geduld, moet julle mekaar in liefde verdra.’ Weer skryf hy: ‘Verdra mekaar en as enigeen ‘n klagte teen iemand anders het, vergewe mekaar. Vergewe mekaar soos die Here julle vergewe het’ (Kolossense 3:13 NLV).

Sielskos: Hand 8-9; Luk 8:26-39; Ps 146; Spr 16:4-5

Hoekom God met jou stoei

2020-07-14
Genesis 32:24 ABA

Hoekom sal God toelaat dat iemand met Hom stoei? Omdat stoei nabye kontak vereis. Jakob was ‘n suksesvolle man met ‘n onafhanklike houding wat gesê het: ‘Ek het niemand behalwe myself nodig nie.’ Hoe lank sal God met jou stoei? Net vir ‘n beperkte tyd. In Jakob se geval was dit tot dagbreek toe. God het geweet dat indien Jakob nie daardie nag homself aan Hom onderwerp nie, die res van sy lewe verkeerd sou geloop het. Daar is ‘n les wat ons almal hieruit kan leer. Moenie uitstel nie; jou tyd kan dalk onherroeplik verby gaan. Voor jy jou integriteit of jou familie en jou toekoms prysgee, stop eers en besef dat God dinge weet wat jy nie weet nie. Hy weet wanneer die Vyand sy volgende aanval gaan loods, of wanneer die dood jou gaan kom haal. Wanneer Hy met jou stoei, gebeur dit om jou te laat besef dat jy jou lewe vermors, of jou familie afskeep, of om jou te wys dat jy nie die middelpunt van die heelal is nie. Dit kan gebeur om jou aan te moedig om hierdie werk te hou sonder om te bedank, of om by hierdie kerk betrokke te bly, of om in hierdie huwelik te belê eerder as om tou op te gooi. God sal met jou stoei tot jy ophou verskonings maak en die waarheid in die gesig staar. God gee dit vir jou direk, Hy sal jou nie heuning om die mond smeer nie. Hy sal jou ook nie laat wegkom met sommige van die dinge wat jy in die verlede gedoen het nie! Die feit dat God bereid is om met jou te stoei sodat jy jouself aan Hom onderwerp, beteken dat Hy groot planne vir jou het. Planne wat groter is as wat jy ooit kon uitdink of verbeel. Dis hoekom God met jou stoei.

Sielskos: Jer 51-52; Luk 7:11-23; Ps 118:10-18; Spr 15:31-32

God sal reg aan jou laat geskied

2020-02-24
Jesaja 54:17 NLV

Is jy vals beskuldig? Jesus was ook. Hulle het hom gulsig, ‘n dronkaard en ‘n vriend van sondaars genoem. Hulle het die apostel Paulus daarvan beskuldig dat hy ‘n dwaas, ‘n praatjiesmaker en mal is. Die Bybel het Satan die vader van leuens genoem (sien Johannes 8:44). Wanneer jy toegewyd daaraan is om God se wil te doen, sal hy jou aanval – en mense gebruik om dit te doen. Moenie moedeloos en wanhopig word nie. God sal reg aan jou laat geskied. Sy Woord sê: ‘Maar geen wapen wat teen jou gemik word, sal iets teen jou kan uitrig nie. Elke aanklag teen jou, sal jy weerlê. Dit is die erflating van die dienaars van die Here. Aan hulle laat Ek reg geskied…’ As jy daarop aandring om weerwraak te neem, sal God terugtree en jou toelaat om dit te doen. As jy egter die situasie in sy hande plaas, kan die toets in ‘n getuienis van sy goedheid en genade in jou lewe, verander. In plaas daarvan om dus tyd te mors deur te kla, bid: ‘Laat u guns oor u dienaar skyn, red my deur u troue liefde. Moenie dat ek in skande kom nie, Here, want ek roep tot U om hulp. Laat die goddeloses in die skande kom… Laat die leuenaars stilgemaak word, dié wat vol hoogmoed en veragting teen regverdiges praat. Hoe groot is die goedheid wat U weggebêre het vir hulle wat U dien, wat U voor die oë van die mense gee aan hulle wat op U vertrou. U verberg hulle veilig in u teenwoordigheid teen komplotte van mense. U bedek hulle in u skuilplek, veilig van dié wat hulle beskuldig (Psalm 31:17-21 NLV). Bid eenvoudig: ‘Here, ek plaas vandag hierdie situasie in u hande. Laat reg aan my geskied.’

Sielskos: Gen 1-3; Matt 17:1-13; Ps 40:1-8; Spr 6:1-5