Die waarheid van die skepping (1)
2021-02-12Genesis 1:1 NLV
‘n Groeiende aantal opvoeders en wetenskaplikes rondom die wêreld glo die Bybelse weergawe van die skepping en verwys ons terug na die waarheid van hierdie woorde: ‘In die begin het God die ganse heelal gemaak, die hemel daarbo en die aarde hieronder.’ Die vraag: ‘Evolusie of skepping?’ word duideliker wanneer jy dit herfraseer as ‘Ongeluk of ontwerp?’
Sir Fred Hoyle, professor in astronomie aan die Cambridge Universiteit, het gesê: ‘Die kans dat ‘n hoër lewensvorm dalk op hierdie manier (deur evolusie) gevorm is, kan vergelyk word met die kans dat ‘n tornado deur ‘n rommelwerf swiep en ‘n Boeing 747 uit die materiale aanmekaar sit.’ Hy gaan voort: ‘Die waarskynlikheid van die vorming van lewe uit lewelose materie is een uit 1040,000. Dit is groot genoeg om Darwin en die hele evolusieteorie te begrawe. Daar was geen oersop, op hierdie of ‘n ander planeet nie en as die begin van lewe nie toevallig was nie, moet dit dus die produk van doelgerigte intelligensie wees.’
Selfs die evolusionis Stephen Hawking, een van die mees gerespekteerde wetenskaplikes sedert Albert Einstein, het erken: ‘Die heelal en die wette van fisika kom voor asof dit spesifiek vir ons ontwerp is. As enigeen van ongeveer 40 fisise wette effense ander waardes gehad het, sou die lewe soos ons dit ken, nie kon bestaan nie. Atome sou of nie stabiel gewees het nie, of hulle sou nie in molekules saamgevoeg kon word nie, of die sterre sou nie die swaarder elemente kon vorm nie, of die heelal sou ineengestort het voordat lewe kon ontwikkel.’
As iemand wat in die Bybel glo, moet jy nooit verskoning maak of toegee wanneer dit by die waarheid kom wat sê: ‘In die begin het God die ganse heelal gemaak, die hemel daarbo en die aarde hieronder’ nie.
Sielskos: Rom 15-16; Matt 14:1-12; Ps 145:1-13; Spr 4:20-22