Wees buigbaar

2021-02-26
Filippense 2:4 NLV

Wanneer dit by die waarheid kom, moet jy onbuigsaam wees. Wanneer dit egter by verhoudings kom, moet jy leer om buigbaar te wees. As jy altyd ‘reg’ moet wees en die ander persoon ‘verkeerd’ moet bewys, sal jy nooit stabiele, langdurige verhoudings geniet nie.

Een skrywer merk op: ‘Die rede hoekom ons verhoudings hou is nie omdat ons nooit verkeerd is nie. Dit hou omdat wanneer ons verkeerd was, ons die wil vind om die verkeerde te korrigeer en die genade vind om dit wat nodig is om saam te oorleef, te verduur. Ons families is nie perfek nie, maar dit beteken nie dat ons nie ‘n weg kan vind om dit oor die onstuimige see tot by die strande van liefde en lewe te maak nie. Omdat ons uit agtergronde met verskillende tradisies en teenstrydige idees kom, bring ons bagasie en onrealistiese verwagtinge in ons verhouding in, of ons nou daarvan bewus is of nie.’

Wat staan jou dus te doen? Hy gaan voort: ‘Skep in jouself ‘n gewilligheid om te verander en verstaan dat daar baie korreksies gemaak sal word wat nodig is vir dit waarvoor julle te staan kom. Maak hierdie houding die bloudruk vir hoe julle as paartjie gaan funksioneer. Wees altyd gewillig om julle verhouding te herkalibreer om te verseker dat besluite wat op een stadium van die lewe gemaak is, nog steeds by die groei en volwassenheid van die hede pas.’

Weet jy wat die grootste probleem in ons verhoudings is? Selfsugtigheid! Ons wil dinge volgens ons manier hê. Dis egter nie die skriftuurlike manier nie. Die Bybel sê: ‘Julle moenie net elkeen na sy eie belange omsien nie, maar ook na mekaar se belange.’ Wanneer jy met hierdie lewensuitkyk lewe, sal jy ryk, lonende verhoudings geniet.

Sielskos: Gen 25:19-27:46; Matt 18:21-35; Ps 61; Spr 6:16-19

Die waarheid van die skepping (5)

2021-02-16
Genesis 1:24 NLV

Die teorie van evolusie is onversoenbaar met die Bybel. God het gesê: ‘Laat die aarde allerlei soorte diere oplewer… almal na eie aard.’ Ook, ‘…Toe God mense geskep het, het Hy hulle na sy beeld gemaak… Toe Adam 130 jaar oud was, is sy seun Set gebore. Hy was die ewebeeld van sy pa’ (Genesis 5:1,3 NLV). Met ander woorde, die mens is nie net nog ‘n dier op die evolusionêre ketting nie. ‘Mikro-evolusie’ leer mens dat daar variasies binne spesies is. Daar is byvoorbeeld verskillende soorte honde, ens. Daar is egter geen wetenskaplike bewyse om ‘makro-evolusie’ – een spesie wat in ‘n ander spesie ontwikkel – te staaf nie.

Met betrekking tot die skepping, het dr Derek Prince geskryf: ‘Ek is eenvoudig genoeg om te glo dat dit gebeur het soos die Bybel dit beskryf. Ek was vir nege jaar lank ‘n professor aan Brittanje se grootste universiteit (Cambridge). Ek het verskeie grade en akademiese onderskeidings ontvang en ek voel dat ek op baie vlakke intellektueel gesofistikeerd is. Ek voel egter op geen manier intellektueel minderwaardig wanneer ek sê dat ek die Bybelse weergawe van die skepping glo nie. Voordat ek die Bybel geglo het, het ek baie ander pogings om die mens se oorsprong te verduidelik, bestudeer, maar ek het hulle almal onbevredigend en in baie gevalle selfs teenstrydig gevind. Ek het die Bybel as professionele filosoof – nie as ‘n gelowige nie – begin bestudeer en vir myself gesê: ‘Ten minste kan dit nie dwaser as van die ander dinge wat ek gehoor het, wees nie,’ maar tot my verbasing het ek ontdek dat dit die antwoord bevat het.’

Is jy opsoek na antwoorde vir jou lewensprobleme? Of rigting vir jou toekoms? Lees die Bybel en lewe volgens sy voorskrifte!

Sielskos: Pred 9-12; Matt 15:1-14; Ps 5; Spr 5:1-2

Die waarheid van die skepping (4)

2021-02-15
1 Korintiërs 15:39 NLV

Die Bybel sê: ‘…so is daar ook verskillende soorte vleis – dié van mense en diere en voëls en visse is almal verskillend.’ Een skrywer skryf: ‘Die Bybel sê vir ons dat diere sonder insig is (sien Psalm 49:21 NLV). Ons is na God se beeld gemaak. Ons is nie net ‘n hoër spesie op die evolusieleer nie. As menslike wesens, is ons bewus van ons ‘wese.’ God is ‘EK IS,’ en ons weet dat ‘ons is.’ Ons begryp dat ons bestaan.

Tesame met ander unieke karaktereienskappe, het ons die ingebore vermoë om God se skepping te waardeer. Watter ander dier staar met verwondering na die Grand Canyon? Watter dier verkry vreugde uit die klanke van musiek of neem die tyd om ‘n orkes te vorm om musiek te skep en te harmoniseer? Watter dier stel howe daar om geregtigheid aan sy mede-skepsels uit te meet? Ons is morele wesens. Terwyl voëls en ander diere die instink het om te skep (nessies, ens.), het ons die vermoë om die verborge wette van elektrisiteit te ontdek. Ons kan die wet van aerodinamika gebruik om onsself rondom die aarde te vervoer. Ons het ook die Godgegewe vermoë om die waarde van skepping te waardeer. Ons ontdek die verborge skatte van goud, silwer, diamante en olie en gebruik dit tot ons eie voordeel. Net mense het die unieke vermoë om hierdie wonderbaarlike skepping van God te waardeer en op sy liefde te reageer.’

Ja, God het ons geskep, ons verlos, ‘n spesiale doel vir ons en is so lief vir ons dat wanneer ons sterf, Hy ons na die hemel toe wil neem om vir ewig daar saam met Hom te woon.

Sielskos: Pred 5-8; Matt 14:22-36; Ps 149; Spr 4:25-27

Die waarheid van die skepping (3)

2021-02-14
Genesis 1:2 NLV

Die wetenskap definieer die heelal deur middel van vyf komponente waaruit dit bestaan: tyd, ruimte, materie, krag en beweging. Met dit in gedagte, lees die volgende: ‘In die begin [tyd] het God die ganse heelal gemaak [krag], die hemel [ruimte] daarbo en die aarde [materie] hieronder. Maar die aarde was ‘n vormlose, onbewoonbare massa, en die diep waters was toegevou in duisternis. Tog het die kragtige, skeppende Gees van God oor die oppervlakte van die water gesweef [beweging]. Toe beveel God: ‘Laat daar lig wees!’ en dit was so’ (verse 1-3 NLV).

Dink nou oor hierdie aanhalings na: 1) ‘Die meeste kosmoloë (wetenskaplikes wat die strukture en evolusie van die heelal bestudeer), stem saam dat die Genesis weergawe van die skepping, in die idee van ‘n aanvanklike leemte, ongelooflik naby aan die waarheid kan wees’ (die tydskrif Time).

2) ‘Die heelal het skielik in bestaan in ontplof. Die ‘Big Bang’ teorie het ‘n ongelooflike ooreenkoms met die bevel in Genesis’ (Jim Holt, wetenskaplike skrywer: The Wall Street Journal).

3) ‘Nuwe wetenskaplike openbarings oor supernovas, swart gate, kwarke en selfs die ‘big bang’ stel aan sommige wetenskaplikes voor dat daar ‘n ‘meestersplan’ vir die heelal is’ (U.S. News & World Report).

Jou oog se retina bevat 137 miljoen lig-sensitiewe selle, terwyl die spiere wat jou oë fokus ongeveer 100,000 keer ‘n dag beweeg. Raai wat? Charles Darwin het in sy boek, On the Origin of the Species by Means of Natural Selection, die volgende geskryf: ‘Ek moet bieg dat om te veronderstel dat die oog deur natuurlike seleksie (evolusie) gevorm kon word, absurd in die hoogste graad lyk.’

Die waarheid is as volg: God het jou gemaak en Hy het ‘n plan vir jou lewe.

Sielskos: Ef 5:21-33; Hoogl 2:1-7; Ps 45; Spr 5:15-19

Die waarheid van die skepping (2)

2021-02-13
Matteus 19:4 NLV

‘n Fassinerende aanhaling uit ‘n 1995 uitgawe van die U.S. News & World Report lees as volg: ‘Navorsers stel voor dat amper alle moderne mans – 99 persent van hulle, sê een wetenskaplike – geneties nou verwant is of gene deel met een manlike voorsaat wat ‘Y-chomosoom Adam’ genoem word. Ons is besig om uit te vind dat mense baie, baie vlak genetiese wortels het wat na een onlangse voorsaat nagespeur kan word. Dit beteken dat daar ‘n oorsprong op ‘n spesifieke plek op die aarbol was en dat dit van daar af uitgesprei het.’

Verder weet ons dat die man die vrou nodig het om voort te plant, en andersom. Geeneen van die twee kan lewe sonder die ander een voortbring nie. Jesus het dit uitgewys deur te sê: ‘…die Skepper [het] die mens van die begin af man en vrou gemaak…’

Wie het dus volgens die evolusieteorie eerste gekom: die man of die vrou? Soos een skrywer opmerk: ‘As ‘n man sonder ‘n vrou begin bestaan het, hoe het die manlike van elke spesie sonder vrouens voortgeplant? Hoe is dit moontlik dat ‘n man en vrou elk spontaan begin bestaan het, maar tog komplekse, komplementêre voortplantingstelsels het? As elke geslag in staat was om sonder die ander een voort te plant, hoekom (en hoe) sou hulle voortplantingstelsels ontwikkel het wat beide geslagte benodig vir die spesie om te oorleef?’

Net omdat ‘n akademikus iets sê, maak dit dit nie waar nie! Christene moet begin antwoorde eis by diegene wat onbewese teorieë in die naam van hoër onderrig aanbied. Jesus het gesê dat ons die waarheid sal ken en dat die waarheid ons sal vrymaak (sien Johannes 8:32). Vry waarvan? Vry van foute!

Sielskos: Pred 1-4; Matt 14:13-21; Ps 145:14-21; Spr 4:23-24