Hou op verskonings maak
2019-03-10Romeine 12:2 NLV
Soms bemark ons kultuur verkeerde inligting en halwe waarhede. Gevolglik kan ons dalk tot hierdie drie verkeerde gevolgtrekkings kom: 1) Daar is ‘n spesiale persoon daar buite wat my gelukkig sal maak. Net God kan dit doen! Mense wat seer het, maak net ander mense seer. ‘…Wat ook al in jou hart leef, bepaal wat jy sê’ (Lukas 6:45 NLV). 2) Wanneer ek ‘n sekere posisie beklee of ‘n sekere hoeveelheid geld bymekaar maak, sal ek gelukkig wees. Dis die ou ‘sodra-dit-gebeur’ mite, wat ‘n lewe van ontevredenheid teel (sien Lukas 12:15). 3) Ek kan dit nie help nie; dis maar net hoe ek is. Dis die ‘dis-nie-my-verantwoordelikheid-nie’ leuen, wat jou in jou spore sal stuit. As jy gelukkig wil wees, moet jy die verskonings waarmee jy vorendag kom om jou gedrag te regverdig, ondersoek. Hier is ‘n paar van hulle: ‘Ek’s nie die enigste een nie!’ Wat daarvan? As almal dit doen, beteken dit dat God dit nie ernstig opneem nie? ‘Ek sien nie die skade daarin nie.’ Wie het jou die outoriteit gegee om die reëls te maak en God te speel? ‘Ek sal dit net een keer probeer.’ So as jy dit net een keer probeer, beteken dit dat daar geen nagevolge sal wees nie? Wat is die leuens agter jou verskonings? Ondersoek hulle. Hulle hou jou in geestelike slawerny en moet ontbloot en verwyder word! Jy moet volgens die Bybel jou ‘denkpatrone vernuwe.’ Jesus het eenmaal gesê dat sodra jy die waarheid ken, jou ou geloofsisteme ontbloot sal word en jy vrygemaak sal word (sien Johannes 8:32). Dink net hoe wonderlik dit sal wees om vry te wees om alles te word wat God wil hê jy moet word! Is dit nie die moeite werd om na te streef nie?
Sielskos: Ps 51; Mark 8:34-38