Bid vir God se seën en guns
2018-04-11Psalm 5:13 NLV
Die Bybel sê dat God die vromes seën. Die woord ‘vroom’ beteken nie foutloos nie, anders sou niemand van ons vir God se seën gekwalifiseer het nie! Nee, dit beteken dat ons in die vroomheid van Christus geklee kan wees, om sodoende aanvaarbaar vir Hom te kan wees en vir sy seën en guns te kan kwalifiseer (2 Korintiërs 5:21). Dit is ‘n waarheid waaraan jy moet vashou, want wanneer jy God se seën en guns ervaar, begin ander mense ook gunstig teenoor jou optree – dikwels vir redes wat hulle self nie kan verduidelik nie! Die guns en seën van God het dit vir mense in die Bybel, wat andersins nie veel sou bereik het nie, moontlik gemaak om groot dinge te doen. God het ‘n tiener genaamd Ester geroep om die Joodse nasie te red. Sy het in geloof opgetree en die koning ongenooid genader, selfs al was dit teen die reëls. ‘Die koning was bly toe hy koningin Ester daar in die voorhof sien staan…’ (Ester 5:2 NLV). God het die weg vir haar gebaan om die werk te doen waarvoor Hy haar geroep het. Sonder die guns en seën van God, sou Rut, ‘n nie-Jood, nie aanvaarbaar vir die Jode gewees het nie. Maar omdat God ‘n plan vir haar lewe gehad het en haar hart oop was vir Hom, het sy met Boas getrou, ‘…’n welgestelde, invloedryke man…’ (Rut 2:1 NLV). Uit hulle huwelik het koning Dawid afgestam en uiteindelik ook ons Here Jesus. Die Bybel sê, ‘Die Here hou van ‘n mens wat goeddoen…’ (Spreuke 12:2 NLV). ‘n Enkele oomblik van God se seën en guns kan meer vir jou doen as ‘n leeftyd se wedywering. Bid dus vandag vir God se seën en guns – en wees op die uitkyk daarvoor!
Sielskos: Jer 41-44; Mark 2:1-12; Ps 25:8-15; Spr 10:1-3