2017-10-15
Efesiërs 4:24 NLV
Wanneer jy verkeerde denke in die privaatheid van jou gedagtes vermaak, mag jy dalk in die versoeking kom om jouself te verskoon deur te sê, ‘Watter skade kan dit doen?’ Meer skade as wat jy dink! Jy word dit waaraan jy dink. Die Bybel sê, ‘Ja, trek die nuwe mens soos skoon klere aan…’ Jy mag dit dalk nie wil erken dat jy steeds sommige van die ‘ou’ klere aanhet nie (houdings, tydsverdrywe en gewoontes), maar die waarheid is dat jy nie die skoon klere kan aantrek totdat jy die oues uitgetrek het nie. Jy kan verder ook nie die ou klere in die kas hang vir ‘n reëndag nie, of hulle op die vloer los waar jy oor hulle kan struikel nie. Jy moet van hulle ontslae raak. ‘…dat julle, wat julle vroeëre leefstyl betref, die ou, sondige mens soos vuil klere moet uittrek… Ja, trek die nuwe mens soos skoon klere aan, die mens wat na God se beeld geskape is… Daarom moet julle die leuen aflê en die waarheid teenoor mekaar praat… Moenie tot die aand toe kwaad bly, en die duiwel so ‘n houvas gee nie. Die dief moet ophou steel en eerder hard werk. Hy moet sy eie hande vir eerlike werk gebruik sodat hy iets kan hê om met mense in nood te deel. Moenie enige vuil taal gebruik nie. Gebruik eerder die regte, opbouende woorde wat nodig is om dié wat luister, te bevoordeel. Ja, moenie God se Heilige Gees hartseer maak nie… Raak saam met alle ander slegte dinge ontslae van alle bitterheid, woede, wraak, geskel en gevloek. Wees eerder vriendelik met mekaar… Vergewe mekaar soos God julle vergewe het op grond van wat Christus gedoen het’ (verse 22-32 NLV). Trek vandag jou skoon klere aan.
Sielskos: Joel 2:23-32; Hand 2:1-21
2017-10-10
Spreuke 27:6 ABA
Hier is twee kwaliteite wat enige vriendskap permanent kan vestig: eerlikheid en lojaliteit. Die Bybel sê, ‘Wanneer ‘n vriend jou seermaak, dan doen hy dit omdat hy jou vriend wil bly. Wanneer iemand jou die hele dag wil aanhou soen, dan haat hy jou.’ ‘n Ware vriend mag jou dalk ontstel deur vir jou die waarheid te vertel, maar hy of sy sal dit nietemin vir jou vertel. Hulle mag dalk nie altyd vir jou vertel wat jy wil hoor nie, maar as hulle jou waarlik liefhet, sal hulle jou vertel wat jy nodig het om te hoor. Dit mag dalk in die korttermyn seermaak, maar dit sal jou op die lange duur help. Wanneer jy ‘n verhouding wil meet om te bepaal of dit as ware vriendskap kwalifiseer, is daar twee vrae wat jy die ander persoon moet vra: 1) Kan ek jou vertrou om heeltemal eerlik met my te wees? 2) Kan ek jou genoeg vertrou om heeltemal eerlik met jou te wees? Net ‘n ware vriendskap verwag en oorleef sulke wedersydse eerlikheid. ‘Daar kan ook ‘n vriend wees vir wie jy liewer is as vir jou eie broer’ (Spreuke 18:24 NLV). Lojaliteit is die een ding wat ‘n persoon nooit van sy of haar vriend moet bevraagteken nie. ‘n Ware vriend sal jou verdedig voor hy of sy jou oordeel. Daar is nie iets soos ‘n ‘mooiweers’ vriend nie. Jy het nie vriende nodig wanneer dit goed gaan nie, jy het vriende nodig wanneer dinge sleg lyk. ‘n Mooiweers vriend is glad nie ‘n vriend nie.
Sielskos: Eks 16-18; Joh 1:43-51; PSA.1; Spr 26:13-16
2017-07-03
Kolossense 3:14 NLV
As jy die tipe persoon is wat wrokke koester en aan foute van die verlede vashou – selfs jou eie – weet jy hoe dit voel om deur geestelike gemors afgerem te word. Dit is moeilik vir verhoudings om te oorleef wanneer die partye dit wat in die verlede gebeur het, nie verwerk het nie. Soos blaam, bind geestelike gemors jou vas. As ‘n ou geliefde jou byvoorbeeld seergemaak het en jy dit nooit laat gaan het nie, sal jy elke keer wanneer jou huidige maat soortgelyk optree, verwoed reageer, asof hy of sy die oorspronklike persoon is wat jou seergemaak het. Wanneer dit gebeur, kan jou buitensporige reaksie op ‘n oënskynlike klein foutjie jou maat ontstel en verwar. Net soos jy jou huis van ongewensde gemors skoonmaak, moet jy jou geestelike en emosionele huis skoon en in orde hou. Gebed, leesstof, berading, meditasie en oefening is goeie maniere om te help dat kwessies van die verlede nie na jou huidige verhouding oorloop nie. Wanneer hierdie kwessies egter van tyd tot tyd opduik, is dit die beste dat jy met jou maat daaroor praat. Maak net seker dat jy dit met deernis, waarheid en eerlikheid doen. Liefde beteken nie dat jy nooit jammer hoef te sê nie! ‘n Skriftuurlike motto om geestelike en emosionele gemors in die asblik, waar dit hoort, te hou, is die volgende: ‘…Moenie tot die aand toe kwaad bly… nie’ (Efesiërs 4:26 NLV). Die Bybel sê, ‘…Daarom moet julle die volgende soos klere aantrek: deernis, vriendelikheid, nederigheid, sagmoedigheid, geduld. Verdra mekaar… Vergewe mekaar soos die Here julle vergewe het…Die liefde bind alles volmaak saam’ (Kolossense 3:12-14 NLV).
Sielskos: 1 Sam 16-17; Mat 23:1-12; Ps 102:12-17; Spr 17:7-10