Dis ‘n keuse

2018-12-06
Habakuk 3:18 NLV

Pastoor Jim Penner sê: ‘Ek sal nooit vergeet waar ek as agtjarige op die trap sit toe my ma die deur vir twee mans oopmaak wat aan haar papiere oorhandig het nie. Geld was skaars, die bank is nie betaal nie en hulle het ons kar kom terugvat. Ek dra ook ‘n ander beeld van my ma wat in haar kamer bid, met my saam, wat ek tot vandag toe koester. In die aangesig van vrees het twee woorde deurgeskemer: ‘Dankie! Dankie!’ Ek het gedink, ‘Dankie? Jy het jou kar verloor; ons het nie geld nie; wat gaan met ons gebeur?’ Haar gebed het voortgegaan, ‘Dankie, Here, vir dit wat U voorsien het en dat ons vanaand iets het om te eet.’ As ek nou terugkyk, het ek ‘n leeftyd se wysheid in daardie kosbare minute gekry. My ma het vir my ‘n houding van dankbaarheid te midde van teenspoed geleer wat ek nooit sal vergeet nie. Die moeilike tye het nie oornag geëindig nie, maar in die jare daarna het God my ma vir haar standvastige geloof geseën.’ Dankbaarheid is nie ‘n natuurlike reaksie op teenspoed nie; dis ‘n dissipline wat jy ontwikkel. Te midde van teenspoed, wanneer jy dink dat God jou nie geseën het nie, gaan sit, onthou sy getrouheid en jy sal met vreugde vervul word. Habakuk het gesê, ‘Selfs al sal die vyebome nie bot nie en die wingerd sonder druiwe staan, al het die olyfoes misluk, en lewer die landerye niks op nie, al vergaan die kleinvee in die veld en is die beeskrale leeg, tog, ten spyte van alles, sal ek my verbly in die Here!..’ (Habakuk 3:17-18 NLV). Wanneer jy die tyd neem om dankie te sê vir die seëninge in jou lewe, sal dit jou uitkyk en jou houding verander.

Sielskos: Gen 35-36; Joh 16:19-33; Ps 2; Pred 3:1-4

Verstaan jou kind

2018-11-14
Psalm 139:15 DB

Die Psalmdigter het geskryf: ‘Daar is nie ‘n been in my wat uit sy plek is nie. U ken my totaal. Alles is soos U dit wil hê. U het my gemaak. Toe ek grootgeword het, het U vir my gesorg. U beheer ook my hele lewe. Nog voordat ek mens geword het, het U my al beplan. U het my lewe toe al in u hand gehou. En U het besluit wat met my sou gebeur’ (verse 15-16 DB). God het reeds jou kind se potensiaal bepaal, dit is nou jou werk om hom of haar te help om dit te ontdek en te ontwikkel. Jy sal dit in hulle temperament, hulle gawes en hulle belangstellings sien. Weerstaan die versoeking om al jou kinders op dieselfde manier te behandel; hulle verskil van mekaar! Kaïn was ‘n boer en Abel was ‘n skaapwagter. Jakob en Esau was ‘n tweeling, maar hulle kon nie meer verskillend gewees het nie. Jy moet elkeen van jou kinders onvoorwaardelik liefhê, maar hulle individueel ontwikkel. Wie is hulle? Waarvan hou hulle? Waarin behaal hulle sukses? Hoe hanteer hulle verandering? Hoe tree hulle op wanneer hulle alleen is? Begin om te luister na dit wat jou kinders kosbaar vind, dit wat hulle vrees en dit wat hulle benodig. Maak seker dat hulle geestelik in God se Woord geanker is. Moet hulle nie op die pad forseer wat jy gewens het hulle moet stap nie. As dit beteken dat jy vir ‘n tydperk jou eie drome op ys moet sit, doen dit. Jy sal nooit daaroor spyt wees nie. Die bome wat ons vandag plant produseer die vrugte wat ons môre sal eet. Bid dus en vra vir God om jou te help om jou kind te verstaan.

Sielskos: Rom 7:1-9:16; Joh 10:11-21; Ps 83:1-8; Spr 29:19-22

Om God se wil te ken is kragtig!

2018-11-02
Efesiërs 1:9 NLV

Wat ‘n vreugde is dit nie wanneer die wil van God nie meer ‘n geheim is nie, omdat Hy dit aan ons bekend gemaak het! Skielik is jou uitkyk anders, jou houding verander en vrees kan nie meer speletjies met jou gedagtes speel nie. Nou weet jy – kennis is mag! Die Bybel sê, ‘…Dié wat in hulle God glo, sal… sterk staan en doen wat reg is’ (Daniël 11:32 NLV). Daar is tye wat jy dinge in jou gees weet wat jy nie in jou kop kan uitpluis nie. Dit kan veroorsaak dat jy verkeerd verstaan word. Jy kan die kennis van ‘n deurbraak of ‘n seëning lank voor dit gebeur, in jou gees saamdra. Die Bybel sê, ‘maar ons ken hierdie geheim omdat God dit deur sy Gees aan ons bekend gemaak het…’ (1 Korintiërs 2:10 NLV). Wanneer God wysheid met jou deel, plaas dit jou in ‘n posisie om suksesvol te wees. Wat onderskei die president van die bank van die skoonmaker? Dit wat hy of sy weet! Hulle mag dalk gelykes in alle ander sin van die woord wees, maar een het ‘n prys betaal om dinge te leer wat hom of haar in ‘n ander posisie geplaas het, wat ander belonings meebring. God kan veroorsaak dat jy iets weet wat die koers van jou lewe verander. Hy kan jou iets in die nag wys wat jou gevoel in die oggend kan beïnvloed. In sy teenwoordigheid ontvang jy insigte wat jou ‘n doelwit, hoop, waardigheid, rigting en die krag om op te staan en te baklei vir dit wat Hy jou in sy Woord beloof het, gee. Kom dus vandag in sy teenwoordigheid – en bly daar totdat Hy sy wil in die saak aan jou geopenbaar het.

Sielskos: Jes 34-37; Joh 7:25-44; Ps 104:24-35; Spr 28:9-12

Jou sondepatroon (9)

2018-10-29
1 Tessalonisense 2:7 DB

Bevelvoerders: Bevelvoerders is geskape om mag en leierskap te verstaan, om te weet hoe dit werk en om natuurlik daartoe aangetrokke te wees. As dit jou beskryf, is ‘n beeld van krag vir jou belangrik. Jy het ‘n behoefte daaraan om te lei. Opposisie gee jou energie. Winston Churchill was ‘n bevelvoerder wat vinnig met ooreenstemming verveeld geraak het en wie se grootste oomblike deur opposisie geïnspireer is. Hy het ‘n deurlopende stryd met Dame Nancy Astor gehad, wat een keer vir hom gesê het, ‘Winston, as jy my man was, het ek gif in jou tee gegooi.’ Churchill se antwoord is beroemd, ‘Nancy, as ek jou man was, het ek daai tee gedrink!’ Toe Adolf Hitler in Duitsland tot maghebber verkies is, het Churchill die formidabele vyand waarvoor hy sy hele lewe lank gewag het, gekry. Hy het die uitdaging kop eerste aangedurf. Sonder goeie leierskap word niks bereik nie. Mag kan egter ‘n uitkoms self word en jy kan gefrustreerd word wanneer jy nie jou sin kry nie. Mense kan inderwaarheid geïntimideer voel om hulle opinie te lug wanneer hulle nie met jou saamstem nie. Wanneer dit gebeur mag jy dalk inskiklikheid hê, maar jy sal nie liefde, lojaliteit of respek hê nie. Verantwoordelikheid sonder aanspreeklikheid produseer onstabiliteit. Slegs wanneer jy jouself met mense wat 20/20 visie het, omring om vir jou blinde kolle te kompenseer, sal jy jou neiging om ander mense te gebruik en om vrees en intimidasie te gebruik om jou eie sin te kry, kan raaksien. Paulus, ‘n groot leier, het geskryf, ‘…Ek het julle vertroetel en mooi versorg…’ Wanneer dit by goeie leierskap kom, moet jy mense kan koester en goed behandel.

Sielskos: Jes 22-25; Joh 6:52-71; Ps 127; Spr 27:25-27

Jou sondepatroon (7)

2018-10-27
Jesaja 41:10 NLV

Lojaliste: Lojaliste is mal daaroor om deel van ‘n goeie span te wees. Wanneer dit nodig is, kan jy op hulle staatmaak. Hulle begeer ‘n saak waaraan hulle hulself kan oorgee en wil deel wees van ‘n groep waarin hulle kan glo. Op hulle beste, help lojaliste almal anders om beter te word. Hulle is gewoonlik heel slim en welsprekend, alhoewel hulle nie altyd sommer hulle gedagtes sal deel nie. Hulle kan sinies word wanneer hulle teleurgesteld word – wat soms onvermydelik is. Dis hoekom die Bybel so baie vir ons sê om genade en vergifnis aan ander te bewys. Elkeen van ons het ‘n persoonlike persepsie van God; die manier wat ons God verstaan. Lojaliste sien God dikwels as moeilik om tevrede te stel, dus is hulle kenmerk dat hulle sonde vrees. Jesus het vertel van drie slawe wat elkeen ‘n som geld gegee is om te belê. Die eerste twee slawe het goeie beleggings gemaak wat ‘n goeie opbrengs vir hulle eienaar gebring het en hom tevrede gestel het. Die derde slaaf was egter bang om te misluk en dat sy eienaar vir hom sou kwaad wees en het dus sy talent in die grond begrawe (sien Matteus 25:14-30). Die betekenis van Christus se vergelyking is dat God sy hardste oordeel nie vir diegene wat probeer en misluk hou nie, maar vir diegene wat nie eers probeer nie, omdat hulle tot hulle vrees ingee. Iemand het geskat dat daar 365 ‘moenie bang wees nie’ teksverse in die Skrif is; een vir elke dag van die jaar. As God ‘n leuse kon gehad het, sou dit dalk gelees het, ‘Moenie bang wees nie.’ Moet dus nie bang wees nie – Hy is by jou vandag!

Sielskos: Jes 17-21; Joh 6:35-51; Ps 98; Spr 27:23-24