2018-10-23
Efesiërs 6:7 NLV
Dienaars: Dienaars is mal daaroor om benodig te word. Hulle is natuurlike versorgers wat jou kussing sal oppof selfs wanneer dit nie nodig is nie! Hulle onthou verjaarsdae en huweliksherdenkings en is dikwels die eerste een om van die tafel af op te staan om die skottelgoed te was. Hulle is die meeste op hulle gemak wanneer hulle iets het om te doen. Alhoewel hulle aangetrokke daartoe is om ander mense te help, spruit dit egter dikwels uit hulle eie behoeftigheid uit. Net onder hulle diensbaarheid loer daar soms ‘n swak selfbeeld uit wat gevoed moet word. Omdat dit nooit ten volle bevredig kan word nie, dreineer hulle op die ou einde ander mense. Marta is ‘n goeie illustrasie hiervan. Terwyl sy besig was om te bedien, het haar suster Maria by Jesus se voete gesit (sien Lukas 10:38-42). Aan die positiewe kant, demonstreer dienaars liefde in aksie en laat ander mense versorg voel. Aan die negatiewe kant, gebruik hulle dikwels hulle bediening om ander mense te manipuleer. Die probleem kom in wanneer jy hulle las wil verlig en hulle jou nie wil toelaat nie. Hulle ingebore vrees om nie benodig te word nie maak dit vir hulle onmoontlik om gesonde grense daar te stel. Wat is dus die antwoord? a) Maak seker dat jou eerste prioriteit is om God, nie mense nie, te dien. ‘Doen julle werk entoesiasties, asof julle dit vir die Here doen en nie vir mense nie.’ b) Verstaan dat jou beloning van God kom, nie van ander mense nie. ‘Julle weet mos dat die Here elke mens wat sy werk goed doen, sal beloon…’ (Efesiërs 6:8 NLV). c) Moenie kla nie. ‘Doen alles sonder kla of teëpraat. Dan sal julle as onberispelike kinders van God bo verdenking staan…’ (Filippense 2:14-15 NLV).
Sielskos: Jes 1-3; Joh 5:16-30; Ps 15; Spr 27:10-12
2018-10-19
Genesis 19:17 NLV
Een keer was daar vyf skepe, waarvan een Brits was, in die Wes-Indies in ‘n hawe geanker toe ‘n groot storm losgebars het. Die Britse kaptein het onmiddellik die anker opgetrek en uitgevaar om die storm te gaan ontmoet. Twee dae later, stukkend maar darem steeds in een stuk, het hy na die hawe toe teruggekeer en ontdek dat die skepe wat uit vrees vir die storm nie uitgevaar het nie, almal tot op die strand gedryf en vernietig is. Oor die algemeen, is die beste pad as leier vorentoe om die uitdagings kop eerste aan te durf en nie om te kyk nie. Die skrywer Jon Gordon wys ses belangrike dinge uit: 1) Wie jy is maak ‘n verskil. Mense volg die leier eerstens en sy visie tweedens. 2) Dit gaan alles oor verhoudings. Pastoor Andy Stanley het gesê, ‘Reëls sonder ‘n verhouding lei tot rebellie.’ Jy kan al die reëls in die wêreld implementeer, maar as jy nie ‘n verhouding met die mense wie jy lei ontwikkel nie, sal hulle rebelleer. 3) Dis gaan nie oor wat jy doen nie, maar wat jy ander kan inspireer, aanmoedig en bemagtig om te doen. Jy bring die beste in ander uit wanneer jy die beste in jouself met hulle deel. 4) Lei met optimisme, entoesiasme en positiewe energie. Vermy negatiwiteit en leer mense om op oplossings, nie klagtes nie, te fokus. 5) Erken dat jy nie al die antwoorde het nie en bou ‘n span mense wat of die antwoorde het, of die antwoorde sal vind. 6) Aanvaar dat sukses ‘n proses, nie ‘n bestemming nie, is. John Wooden, die legendariese basketbalafrigter, het besef dat oorwinning die gevolg van goeie leierskap, spanwerk, fokus, toewyding en die implementering van die basiese elemente, is.
Sielskos: Eks 33-35; Joh 4:27-38; Ps 32; Spr 27:1-3
2018-10-08
Jesaja 40:31 NLV
‘n Gerespekteerde skrywer beskryf die emosies wat mens ondervind wanneer mens voor ‘n gehoor moet praat, so: ‘Om in die openbaar te praat word as ons nommer een vrees beskryf, voor die dood by nommer vyf en eensaamheid wat nommer sewe is. Dit beteken dat die meeste van ons minder bang is om dood te gaan as om ‘n gek van onsself voor ander mense te maak. Vrees is ‘n kragtige motiveerder. Daar is die vrees dat jy as vreemd en anders gesien kan word; die vrees vir die onbekende; die vrees dat jy as bedrieglik gesien kan word; die vrees dat jy sal vergeet wat jy wou sê; die vrees om ‘n risiko in die publiek te neem; en die vrees om alleen te wees. Al hierdie vrese word vir die meeste van ons saamgevat wanneer ons in die openbaar moet praat.’ In The Bible on Leadership, skryf Lorin Woolfe: ‘Leierskap benodig ‘n amper bodemlose voorraad van verbale energie. Jy moet oproepe kan maak, op jou boodskap gefokus kan bly, dieselfde mantra oor en oor kan herhaal totdat jy nie meer die geluid van jou eie stem kan verdra nie – en dit dan nog weer en weer herhaal, want net wanneer jy tot dodens toe verveeld met die boodskap is, sal dit heelwaarskynlik begin insink.’ As jy baie onderwys, prediking of openbare spreking doen, glimlag jy waarskynlik en sê ‘Amen!’ Die feit is dat jy nie ‘n leë emmer uit ‘n droë put kan vul nie. Jy moet jou batterye geestelik, emosioneel en fisies gelaai hou om te kan aanhou gee. Die Bybel sê vir jou hoe om dit te doen: ‘Maar dié wat hulle hoop op die Here stel, sal hulle krag terugkry. Hulle vlieg soos arende. Hulle sal hardloop en nie moeg word nie. Hulle sal loop en nooit vermoeid word nie.’
Sielskos: Eks 4-6; Joh 1:1-13; Ps 63; Spr 25:26-28
2018-09-28
Lukas 6:38 NLV
Baie van ons wil vir mense wie ons liefhet en sake waarin ons glo, gee. Vrees weerhou ons egter daarvan om dit te doen. Ons is bang dat as ons dit doen, ons dalk nie genoeg vir onsself sal oorhê nie. In plaas van om te saai, gaar ons dus ons saad op en loop die oes wat God ons beloof het mis. Hoekom? Omdat ons op ‘n sekere vlak wonder of God regtig iemand soos ons sal seën. Jesus het gesê, ‘As julle gee, sal julle ontvang. Julle gawe sal na julle terugkom in volle maat, ingestamp, geskud om plek vir meer te maak, tot oorlopens toe vol…’ As ‘n bank sulke rente op jou belegging belowe het, sou jy nie vinnig genoeg daar kon uitkom nie! Banke misluk egter en bankiers kan nie altyd vertrou word nie, maar God het nog nooit ‘n belofte verbreek nie! Hier is ‘n belangrike Skriftuurlike waarheid: Wanneer jy jou hand vir God oopmaak, maak Hy sy hand vir jou oop. God se hand is groter as joune! Net soos wat jy moet leer om te gee, moet jy ook leer om te ontvang. Wanneer God aan jou teruggee, doen Hy dit dikwels deur ander mense. Moenie dat trots en vooroordeling jou keer om van ander mense te ontvang nie, omdat God hulle ‘n oes wil gee op die sade wat hulle in jou lewe saai. Moet nooit huiwer om vir ‘n opregte dienaar van God te gee nie. ‘…Glo in die Here, en julle sal vas staan. Glo in die profete, en julle sal suksesvol wees’ (2 Kronieke 20:20 NLV). Wanneer God jou aanmoedig om ‘n saad te saai, is dit omdat Hy ‘n oes vir jou in gedagte het. Moenie dit misloop nie!
Sielskos: Sag 12-14; Luk 23:26-34; Ps 52; Spr 24:32-34
2018-09-08
Esegiël 48:35 NLV
Gedurende Israel se vyf-en-twintigste jaar van gevangenskap, het Esegiël die profeet van God, sy Naam Jehova Shammah: Die Here is daar, ontvang. God het Israel se toekomstige huis, Jerusalem beskryf deur te sê, ‘…Van daardie dag af sal die stad se naam wees: ‘Die Here is daar [Jehova Shammah].” Dit was nie net op die Here van die ou verbond toepaslik nie, maar ewe veel op Jesus, die Here van die nuwe verbond. Sy Naam, ‘Immanuel,’ beteken, soos Jehova-Shammah, ‘God met ons’ (sien Jesaja 7:14). Dit beteken dat God te alle tye, op alle plekke, onder alle omstandighede en vir almal van ons, altyd beskikbaar en teenwoordig is! Dawid het aangekondig: ‘Waarheen sou ek kon gaan om u Gees te ontwyk? Of waarheen sou ek kon uitwyk om u teenwoordigheid te ontvlug? Gaan ek op na die hemel toe, is U daar; gaan lê ek in die doderyk, dan is U ook daar! Vlieg ek met die daeraad na die ooste, of gaan woon ek in die verre weste, selfs daar sal u hand my lei, en u regterhand my ondersteun’ (Psalm 139:7-10 NLV). Onthou jy hoe vrees, eensaamheid en hulpeloosheid verdwyn het wanneer jy in jou ma of pa se teenwoordigheid was? In Israel se diepste wanhoop was God se reaksie altyd, ‘Ek is by jou.’ Daardie woorde het gewaarborg dat daar altyd aan hulle behoeftes voldoen sou word! Vandag sê God ook vir jou, ‘Ek is by jou,’ en ‘…Nie dood of lewe of engele of duiwelse magte nie; nie ons vrees vir vandag of ons kommer oor môre nie… Ja, hoegenaamd niks… sal ons ooit kan skei van die liefde wat God in Christus Jesus ons Here vir ons het nie’ (Romeine 8:38-39 NLV). Hierdie belofte is vir al God se verloste kinders – reik net uit en gryp dit aan.
Sielskos: Jos 19:24-21:45; Luk 20:20-26; Ps 112; Spr 23:13-15