Wat is in ‘n naam? Alles! (3)

2018-09-05
Eksodus 14:13 NLV

Kom ons gaan voort met Jehova Nissi: Die Here is my banier. Net omdat God jou gevegte veg, beteken nie dat jy nie betrokke is nie. Dis nie maklik om beheer aan die Here oor te gee en Hom toe te laat om namens jou te veg nie. Jy mag dalk voel dat jy opgee en onverantwoordelik is. Jy is geprogrammeer om te dink, ‘Moenie net daar sit nie – doen iets!’ Jy is soos ‘n drenkeling wat nie kan ophou om na die persoon wat jou red te gryp nie en sodoende sy taak amper onmoontlik maak. In wese het jy jou redder se ergste nagmerrie geword. Die moeilikste deel van die bevel om net daar te staan waar jy is en te kyk hoe die Here jou red, is dat die meeste van ons stilstaan met niksdoen verwar. Vrees sê vir ons, ‘Doen iets – enigiets!’ Geloof sê, ‘Staan in geloof. Laat God dit doen!’ ‘Hoekom het ek gevegstoerusting nodig as ek nie veg nie? Paulus sê, ‘Daarom moet julle God se gevegstoerusting aantrek. Dan, wanneer die Bose julle aanval, sal julle weerstand kan bied…’ (Efesiërs 6:11 NLV). Jy moet God se gevegstoerusting aantrek – nie jou eie nie. Jy moet staan – nie veg nie. ‘Die wapens van ons stryd is nie mensgemaak nie…’ (2 Korintiërs 10:4 NLV). Ons menslike metodes is in God se pad. Natuurlike kragte is nutteloos teenoor bonatuurlike kragte. Die larwe van die naaldekoker wat op die bodem van die dammetjie bly, mag dalk ‘n lewenskragtige larwe wees. Wanneer dit egter ‘n naaldekoker word, sal al die krag en vaardighede van sy lewe as larwe hom nie help om ‘n lewe in die lug te leef nie. Eens op ‘n tyd het jy deur jou eie inspanning geleef, nou lewe jy deur op Jehova Nissi te vertrou en staat te maak!

Sielskos: Jos 11-13; Luk 19:41-48; Ps 111; Spr 23:4-6

Hoe om vrees te oorkom (5)

2018-08-09
Romeine 10:17 DB

Iemand het geskryf: ‘Two natures beat within my breast; the one is foul, the other blessed. The one I love, the other I hate; the one I feed will dominate.’ Vrees en geloof sal altyd in jou lewe teenwoordig wees en die een wat jy voed, sal bo uitkom. Jy kan nie verwag dat vrees eenvoudig sal verdwyn nie. As jy op jou vrese fokus, aandag aan hulle gee en tot hulle ingee, sal hulle vermeerder. Die manier om hulle te oorkom is om hulle uit te honger. Moet hulle nie jou tyd en energie gee nie. Moenie hulle met skinderstories, negatiewe nuus of bangmaak rolprente voed nie. Fokus op jou geloof en voed dit elke dag met God se Woord (sien Romeine 10:17). Hoe meer tyd en energie jy aan jou geloof wy, hoe sterker sal dit word. Enige tyd wat jy vir iets bang voel maar dit steeds doen, herprogrammeer jy jou houding. Met ander woorde, wanneer jy bang voel, beteken dit ‘gaan’ in plaas van ‘stop’; dit beteken ‘baklei harder’ eerder as ‘gee op.’ Die belangrikste tree wat jy kan neem om jou vrees te oorkom is om God te vertrou om die ding wat jy dink jy nie kan doen nie, te doen. Maak nie saak hoe sterk die houvas is wat die vrees op jou het nie, dit kan oorkom word, omdat die vrees in jou gedagtes is en jou gedagtes deur die Woord van God vernuwe kan word. Hier is die sleutel daartoe: ‘Moenie julle leefstyl aanpas by die gedragspatrone van hierdie wêreld nie, maar laat God julle omvorm deurdat Hy julle gedenkpatrone vernuwe. Dan sal julle goed kan onderskei wat Hý wil hê dat julle moet doen, naamlik dit wat werklik goed en aanvaarbaar en volmaak is’ (Romeine 12:2 NLV).

Sielskos: 1 Kro 6:1-7:19; Luk 12:1-12; Ps 119:9-16; Spr 20:19-21

Hoe om vrees te oorkom (2)

2018-08-06
Klaagliedere 3:23 NLV

Kardinaal J.H. Newman, ‘n Katolieke filosoof, het gesê: ‘Moenie bang wees dat jou lewe tot ‘n einde sal kom nie, maar eerder dat dit nooit ‘n begin sal hê nie.’ Dit is wat kan gebeur as jy toelaat dat vrees ‘n houvas op jou lewe kry. Die meeste van ons vrese is werklik ongegrond. Navorsing het selfs al getoon dat vyf-en-negentig persent van dit wat ons vrees, ongegrond is. Ons moet eenvoudig leer om met die res saam te lewe. Miskien het Gertrude Stein die beste benadering gehad. Sy het gesê: ‘As jy dink hoe gevaarlik alles is, is niks eintlik vreesaanjaend nie.’ Die lewe het geen waarborge nie. Mense probeer hulself met baie dinge beskerm: alarms, reisigertjeks, aspirien, sambrele, ‘n GPS-stelsel, lugsakke. Die waarheid is egter dat die lewe gevaarlik is, dat dit jou gesondheid benadeel en jou uiteindelik sal doodmaak. Jy kan dus net sowel met oorgawe lewe. Shakespeare het gesê, ‘He is not worthy of the honeycomb who shuns the hive because the bees have stings.’ Moenie dat vrees jou daarvan weerhou om klein treë in jou ontwikkeling te gee nie. Jy weet nooit waarheen hulle mag lei nie. Daar is twee dinge wat altyd saam met ons in die lewe teenwoordig is: vrees en geloof. Elke dag wat jy leef, kies jy die een of die ander. Jeremia het geloof gekies. Hy het geskryf: ‘Deur die Here se troue liefde is ons nie doodgemaak nie. Hy hou nooit op om vir ons om te gee nie. Sy liefde het geen einde nie. Op u ontferming kan ‘n mens altyd vertrou. Dit is elke oggend nuut… My lewe behoort aan die Here, Ek kan op Hom vertrou. Die Here is goed vir hulle wat hoop op Hom en vra wat Hy wil hê’ (verse 22-25 NLV).

Sielskos: 1 Kro 1-2; Luk 11:14-28; Ps 78:56-64; Spr 20:7-10

Wat is jou drywerstok?

2018-06-28
Rigters 3:31 NLV

Omdat die Israeliete ongehoorsaam aan God was, was hulle slawe vir die Filistyne wat met vrees en intimidasie oor hulle geregeer het. Samgar het egter geweier om geïntimideer te wees. Hy het besluit om die status quo omver te gooi en hy het dit met ‘n drywerstok gedoen – ‘n lang stok wat boere gebruik om diere mee aan te por. Hy het geweier dat dit wat hy nie kon doen nie, hom daarvan weerhou om te doen wat hy kon doen. God plus een is immers altyd die meerderheid. As God vir jou is, wie kan teen jou wees (sien Romeine 8:31). Samgar het dus sy drywerstok gegryp en op seshonderd Filistyne afgestorm. Die vyand het seker oor sy vreemde wapenkeuse gelag, totdat hy dit begin rondswaai het. Toe het die kyk in sy oë vrees in hulle harte ingeboesem. Moed beteken nie dat jy wag tot die situasie in jou guns draai nie, of tot die plan perfek is of tot mense se opinies verander nie. Moed wag vir net een ding: ‘n groen lig van God af. Dit gaan daaroor om die probleem aan te val met watter drywerstok God ook al vir jou gegee het. Dis ‘n aanval op die donker magte, deur te besluit om ‘sout en lig’ te wees waar God jou geplaas het. Dis meer as om net die probleme uit te wys, dis om jouself aan die oplossing te verbind. Dis meer as om ‘n hart vir Christus te hê, dis die besluit om aksie te neem en sy hande en voete te word. In plaas daarvan om op die kantlyn te sit omdat jy glo dat ander mense meer gekwalifiseerd is, gebruik dit wat God jou gegee het en vra Hom om dit te seën.

Sielskos: Hoog 5-8; Luk 2:41-52; Ps 21; Spr 16:16-19

Hartseer en hartsiek (1)

2018-06-11
Spreuke 13:12 NLV

Depressie kan jou laat opgee. Toe die werk te groot vir Moses geword het, het hy vir God gesê, ‘As U dit van my verwag, maak my dan asseblief maar liewer dood as wat ek na hierdie ellende moet sit en kyk’ (Numeri 11:15 NLV). Elia was seker dat Isebel haar dreigemente teen hom sou uitvoer en het vir God gevra om sy lewe te neem. Daar word gesê dat die boek Job oor ‘n tydperk van slegs nege maande strek, maar Job se verliese was so verwoestend dat hy gesê het, ‘Ek haat my lewe!..’ (Job 10:1 NLV). In plaas daarvan om te stry of ‘n Christen wat sy of haar eie lewe neem hemel toe gaan of nie, moet ons eerder vir God vir wysheid vra om te weet wanneer ‘n geliefde so hooploos of emosioneel siek geword het dat hulle dit nie meer langer kan verduur nie. Wie is hierdie mense? Jong mense wat hulself sny as ‘n uitroep om hulp. Oorlogsveterane wat aan post-traumatiese stres ly en nie van die demone van oorlog kan ontsnap nie. Slagoffers van seksuele mishandeling wat hulself tot die dood toe ooreet, drink en dwelms gebruik. Goeie mense wat met seksuele kwessies sukkel maar te vreesbevange is om daaroor te praat. Agt-en-vyftig miljoen Amerikaners stry daagliks met depressie. Hulle slaap in herehuise en onder brûe. Sommige van hulle is Christene met selfdoodgedagtes, wat dit vrees om te hoor dat hulle swak is en nie genoeg geloof het nie. As jy hulle met ‘n vinnige Skrifgedeelte, ‘n kort gebed en ‘n ‘God seën jou’ op hulle pad stuur, gooi jy hulle vir die wolwe. Jesus het jou gestuur, want jy het die Woord, die Gees en die krag om hulle te help.

Sielskos: Eseg 20-21; Mark 14:66-72; Ps 48; Spr 14:33-35