Wat is jou drywerstok?

2018-06-28
Rigters 3:31 NLV

Omdat die Israeliete ongehoorsaam aan God was, was hulle slawe vir die Filistyne wat met vrees en intimidasie oor hulle geregeer het. Samgar het egter geweier om geïntimideer te wees. Hy het besluit om die status quo omver te gooi en hy het dit met ‘n drywerstok gedoen – ‘n lang stok wat boere gebruik om diere mee aan te por. Hy het geweier dat dit wat hy nie kon doen nie, hom daarvan weerhou om te doen wat hy kon doen. God plus een is immers altyd die meerderheid. As God vir jou is, wie kan teen jou wees (sien Romeine 8:31). Samgar het dus sy drywerstok gegryp en op seshonderd Filistyne afgestorm. Die vyand het seker oor sy vreemde wapenkeuse gelag, totdat hy dit begin rondswaai het. Toe het die kyk in sy oë vrees in hulle harte ingeboesem. Moed beteken nie dat jy wag tot die situasie in jou guns draai nie, of tot die plan perfek is of tot mense se opinies verander nie. Moed wag vir net een ding: ‘n groen lig van God af. Dit gaan daaroor om die probleem aan te val met watter drywerstok God ook al vir jou gegee het. Dis ‘n aanval op die donker magte, deur te besluit om ‘sout en lig’ te wees waar God jou geplaas het. Dis meer as om net die probleme uit te wys, dis om jouself aan die oplossing te verbind. Dis meer as om ‘n hart vir Christus te hê, dis die besluit om aksie te neem en sy hande en voete te word. In plaas daarvan om op die kantlyn te sit omdat jy glo dat ander mense meer gekwalifiseerd is, gebruik dit wat God jou gegee het en vra Hom om dit te seën.

Sielskos: Hoog 5-8; Luk 2:41-52; Ps 21; Spr 16:16-19