2018-05-24
Spreuke 22:29 NLV
Hier is ‘n gebed vir sukses by die werk: ‘Here, ek dank U vir die manier wat U my gemaak het, vir die baie gawes en talente wat U in my geplaas het en ek vertrou dat ek die beste persoon vir die werk is. Ek is dankbaar vir ieder en elke persoonlikheid waarmee ek werk, selfs diegene wat ek nie regtig van hou of verstaan nie. Ek vra dat my fokus gedurende my tyd in hierdie posisie, op die doelwitte wat U vir my gestel het, sal wees. Gee my die wysheid en insig om die werk te kan doen, selfs te midde van ‘n vyandige omgewing. Help my om te verstaan wat U my hier wil leer en gee my geduld soos U my vir die toekoms voorberei. Help my om my beste te lewer en altyd positief en hoopvol te bly. Stil die klagtes en teleurstellings van my hart deur U perfekte vrede en laat my toe om U met my werk te vertrou. Klee my in die kledingstukke van lof en die regverdigheid van Christus sodat ek U by die werk kan verheerlik. Laat my toe om my ware identiteit te ken, om in U guns te wandel en om U, meer as die mense waarmee ek werk, te probeer tevrede stel. Waar daar twis is, laat my ‘n vredemaker wees. Waar daar bedrog is, laat my die waarheid praat. Waar daar wanhoop is, laat my hoop bring. Waar daar vrees is, laat my geloof bring. Waar daar donkerte is, laat my lig bring. Waar daar hartseer is, laat my vreugde bring. Hierdie dinge vra ek in Jesus se Naam. Amen.’
Sielskos: Rig 9:34-11:40; Mark 10:35-52; Ps 129; Spr 20:25; Pred 5:4-6
2018-05-15
Lukas 23:18 NLV
Die Bybel sê: ‘Hulle het dit egter saam met die menigte uitgekreet: ‘Weg met hom! Laat Barabbas vir ons los!’ (Barabbas was in die tronk gegooi oor ‘n oproer in die stad en oor ‘n moord)’ (verse 18-19 NLV). Net soos Barabbas, verdien ons om vir ons sondes te sterf. Vier tronkmure, deur vrees, seer en haat gebou, omring ons. Ons word deur ons verlede, ons verkeerde keuses en ons trots gevange gehou. Ons is skuldig bevind. Ons sit op die vloer van ‘n stowwerige sel en wag vir die finale oomblik. Ons laksman se voetstappe eggo teen die klipmure. Kop tussen die knieë, kyk ons nie op as hy die deur oopmaak nie; ons lig nie ons oë as hy begin praat nie. Ons weet wat hy gaan sê: ‘Tyd om vir jou sondes te betaal.’ Dan hoor ons egter iets anders: ‘Jy is vry om te gaan. Hulle het Jesus in jou plek geneem.’ Die deur swaai oop en die wag skel, ‘Loop!’ en ons bevind onsself in die oggendson, ons boeie is weg, ons misdade is vergewe en ons wonder, ‘Wat het nou net gebeur?’ Genade het gebeur! God het jou sondes weggeneem. Almal van hulle. Waarheen het Hy hulle geneem? Na die bopunt van ‘n heuwel genaamd Golgota. ‘Maar nou spreek God ons in sy onverdiende goedheid vry op grond van die verlossing wat Christus Jesus vir ons verkry het – en dit sonder enige verdienste van ons kant. Want God het Hom gestuur as ‘n offer wat deur sy sterwe versoening bewerk het vir almal wat glo…’ (Romeine 3:24-26 NLV). Jesus het jou lief en vergewe jou, en Hy het ‘n wonderlike plan vir jou lewe. Kom dus vandag na Hom toe.
Sielskos: Deut 30:1-32:28; Mark 8:27-38; Ps 57; Spr 12:15-17
2018-05-02
1 Kronieke 4:10 NLV
Jabes het gebid dat God hom op drie spesifieke maniere moet seën: 1) ‘…vergroot my grond…’ Hy het ‘n droom gehad om meer grond te besit en hy het vir God gevra om daardie droom te seën. Wanneer jy ophou droom, verloor jy rigting. Wanneer jy ophou om doelwitte vir jouself te stel, hou jy op groei. Jy moet iets hê waarna jy reik. Solank as wat jou horison vergroot, sal jy geestelik en emosioneel gesond wees. 2) ‘…Wees asseblief met my in alles wat ek doen…’ Jabes het besef dat hy meer verantwoordelikheid sou hê as sy grond vergroot word. Hy sou meer druk en meer eise ervaar en hy sou God se hulp in sy lewe nodig hê. Dus het hy vir God gevra om by hom te wees. Wanneer jy vir God se teenwoordigheid in jou lewe vra, kan jy seker wees dat Hy sal antwoord. 3) ‘…bewaar my van moeilikheid en pyn…’ Jabes het vir God vir beskerming gevra. Hoekom? In daardie dae was jy ‘n groter teiken hoe meer grond jy besit het, hoe meer invloed jy gehad het en hoe bekender jy was. Dis nog steeds so vandag. Hoe suksesvoller jy is, hoe meer kritiek sal jy kry. Hoe meer grond jy besit, hoe meer sal vyande jou aanval. Hoe nader jy aan God groei en hoe sterker jy as Christen word, hoe meer sal die duiwel jou teister, omdat hy nie wil hê dat jy moet groei nie. Jy kan egter seker wees, soos Jabes was, dat jy met God se beskerming niemand of niks hoef te vrees nie. Wil jy bo middelmatigheid uitstyg? Bid dan die gebed wat Jabes gebid het.
Sielskos: Deut 1-2; Mark 6:1-6; Ps 35; Spr 11:19-21
2018-04-19
Deuteronomium 31:6 NLV
Enige tyd wanneer jy iets vir die eerste keer probeer, of iets waarin jy voorheen misluk het, of iets wat jy dink te groot vir jou is, sal jy beide vrees en geloof ervaar. Hulle gaan hand aan hand. Een sal die ander een oorwin, maar hulle gaan nooit weg nie. Omdat Israel geen idee gehad het watter uitdagings vir hulle voorgelê het nie of hoe die lewe in die Beloofde Land sou wees nie, het God vir hulle gesê, ‘Wees sterk en hou moed!.. Die Here julle God sal met julle wees. Hy sal julle nie in die steek laat nie en julle nie verlaat nie.’ Dis vandag ook sy belofte aan jou! Dis die vrees vir mislukking wat ons die meeste van die tyd terughou. Tog besef jy wanneer jy terugkyk dat mislukking glad nie permanente skade aanrig nie; jy groei inteendeel as gevolg daarvan. Dr Joan Borysenko skryf: ‘Toe ek by Harvard toegelaat is, was ek seker dat dit as gevolg van ‘n rekenaarfout was. ‘n Prokureursvriend van my raak elke keer angsbevange net voor sy die slotargument voor ‘n jurie moet gee. Selfs wanneer jy ‘n kenner is, verdwyn vrees nie noodwendig nie. Dit is wanneer jy vrees as deel van die reis aanvaar, eerder as om daarvan af weg te hardloop, wat dit jou help om dit te oorwin.’ Om enige plek te kom, moet jy êrens begin, anders gaan jy nêrens nie. Die Amerikaanse essayis Hamilton Wright Mabie het gesê, ‘Die vraag wat elke mens moet beantwoord is nie wat hy sal doen as hy die inkomste, tyd, invloed en opvoedkundige voordele gehad het nie, maar wat hy sal doen met die dinge wat hy het.’ Konfronteer dus jou vrees, neem ‘n tree in geloof en vertrou God vir jou sukses.
Sielskos: Hand 6-7; Mark 3:20-27; Ps 75; Spr 10:22-23
2018-01-01
Jesaja 41:10 NLV
Twee van ons grootste vrese is mislukking en kritiek. Hierdie vrese verdwyn nooit heeltemal nie. Jy kan hulle oorkom, maar hulle sal weer hul verskyning maak sodra jy voor jou volgende uitdaging te staan kom. Dis eers wanneer jy vrees as deel van die lewensreis aanvaar dat jy leer om dit te oorkom. As jy terugkyk na wat jy reeds oorkom het, sal jy besef dat mislukking die meeste van die tyd nie permanente skade doen nie – jy word inderwaarheid sterker. As jy dus vandag angstig is, sê God vir jou, ‘Moenie bang wees nie, want Ek is by jou…’ Vertrou dus op Hom! ‘n Onbekende digter het geskryf: ‘Ek het ‘n gemaksone gehad waar ek geweet het dat ek nie kan misluk nie; dieselfde vier mure was meer soos ‘n tronk. Ek wou so graag die dinge doen wat ek nooit vantevore gedoen het nie, maar het eerder in my gemaksone gebly. Ek het vir myself gesê dat dit nie saakmaak dat ek nie veel doen nie; ek het gesê dat ek nie oor dinge soos drome en doelwitte omgee nie. Ek het vir myself gesê dat ek vreeslik besig is met dinge in my sone, maar diep binne in my het ek na iets spesiaals van my eie verlang. Ek kon nie my lewe laat verbygaan deur net toe te kyk hoe ander mense wen nie; ek het my asem opgehou, uit my sone getree en die verandering laat begin. Ek het ‘n tree geneem en met nuwe krag, wat ek nog nooit gevoel het nie, my gemaksone totsiens gesoen en toe die deur toegemaak en gesluit. As jy in ‘n gemaksone is, bang om daaruit te klim, onthou dat alle wenners eens op ‘n tyd met twyfel gevul was.’
Sielskos: Rom 13:12-14:19; Joh 1:1-14